Spoegwolf: pyn en trane in die Bosch

WIE IS KWAAD?

Spoegwolf: pyn en trane in die Bosch

Spoegwolf se voorsanger, Danie du Toit, verteenwoordig die jong-Afrikaner-teenstrydigheid. KARL KEMP vertel hy het dit in lewende lywe by Kirstenbosch aanskou, waar dinge handuit geruk het.


NÁ Park Acoustics in September verlede jaar het Danie du Toit van Spoegwolf ’n week in sy bed op Stellenbosch deurgebring.
Die groep was laaste op die program in die binnehof van Fort Schanskop, die ou fort van die Zuid-Afrikaansche Republiek u‘it 1897 op Voortrekkerhoogte, waar ’n standbeeld van die Boerekryger Danie Theron jou begroet en ’n groot doringboom sy takke soos ’n genadige koel koepel oor die skare uitsprei. Soos gewoonlik het konsertgangers ook in die takke gaan sit om beter te kon sien.
Sosialemedia-bloggers onthou die aand as nog warm, vroegsomers, die opwinding voelbaar en die skare die grootste nóg by dié maandelikse diverse musiekfees vir jongmense in Pretoria.
Bianca Nieuwenhuis van Running Wolf’s Rant skryf: “There aren’t really any words to describe Spoegwolf on stage, it’s just something to experience first-hand. The passion and energy of Danie resonates through the crowd.”
Maar die bekende musiekblogger Tecla Ciolfi, ’n Kaapse meningvormer wat nou met die Kaapse MK89-toneel verbind was, skryf pront op Texx And The City: “Even though they have strong following (sic) and there were tons of excitement around Spoegwolf, the closing act of the day, I was the most disappointed by them. Front man Danie du Toit is somewhat intimidating with his almost aggressive and animated style on stage. But these antics are at times distracting and become the focal point instead of the music.” Snakehead, die tromspeler van Fokofpolisiekar – ’n herinnering aan instellings-wat-was, plaas later ’n foto op sy Instagram-rekening: die agterkant van Danie se kop en ’n uitfokus-skare van fanatiese aanhangers wat kennelik sy sweet en woorde opslurp ...
Almal was daardie dag kwaad, sê Danie. Die skare was kwaad. Sy band mates was kwaad. Die Here was kwaad. Hyself was woedend. Hy’t die klankingenieur gedreig en sy band mates moes hom tot bedaring bring. Spoegwolf se aanhangers het die luidsprekers van die verhoog afgeruk. Hy het die skare ingevaar; hulle het sy klere van hom gestroop.
Maar Danie was reeds verniel, sy persoonlike lewe in chaos, al het niemand behalwe sy binnekring dit geweet nie.
Spoegwolf se musiek beeld nie sy woede uit nie. Maar daardie aand het sy optrede dit wel gedoen. Hy’t sy pyn en lyding gewys. En die mense het daarop gereageer. “Lenie Blou” en “Winter” het die trane laat loop; woorde is hardop saamgesing in ’n soort gemeenskaplike katarsis.
Voor dit was Spoegwolf groot. In net een jaar het hulle 150 uitverkoopte konserte landwyd gehad. Nou skiet hulle die stratosfeer in.
Die beelde bereik my in die buiteland waar ek ’n paar jaar lank vir Suid-Afrikaners wegkruip. Ons hoor van Bird Island en lees van staatskaping. Ons hoor van nog ’n familievriend wat vermoor is en ons sluimer ál dieper in – rigtingloos.
Oorlewing is op die spel. Enige Afrikaner-sukses of vertoning van emosies wat nie met ons vooropgestelde idees verband hou nie, raak ons nie. Ek moes drie keer na foto’s kyk van ’n natgeswete Danie waar hy soos ’n Jesus voor duisende blinkende gesigte staan voordat ek besef het daar’s iets aan die gang.
Duskant ’n oseaan vol vlugtelinglyke, op 'n vasteland gekenmerk deur al hoe minder verdraagsaamheid was Danie aan ’t worstel met sy eie demone. Sy droom van ’n troue in Stellenbosch se Moederkerk – jonk, soos sy ouers (pa Johan, ’n wynprodusent van die Paarl, en ma Tertia, ’n bekende kunstenaar, is op 18 getroud), was aan skerwe. Die meisie wat hy in April in die straat voor Basic Bistro op sy knie om haar hand gevra het en wat in verskeie van Spoegwolf se video’s uit hulle album Die donker toring is, was nie meer aan sy sy nie. Op Facebook verander die 25-jarige rock-ster sy status, sonder kommentaar, na “single”.
Uiteindelik, tussen Park Acoustics en die begin van die nuwe jaar, sonder hy hom af en komponeer die album Koma; “Blou”, die song wat eerste as video bekendgestel word, alleen langs die Eersterivier. Dié keer hang die liedjies saam; vertel dit één verhaal. Van trauma, van swáárkry, maar ook van tweede kanse.
“Dit volg iemand wat deur iets verskrikliks gaan – opstaan, val ... opstaan, val, net om te besef daar is niks meer oor nie behalwe die noodsaaklike droom van liefde en die lig in jou,” beskryf hy die tema keer op keer aan joernaliste. Wat dié album anders maak, sê Danie, is dat dit – anders as die voriges – “in één tydperk” geskryf is. “Dis ’n dagboek van ’n moeilike ses maande.” Daarom wou die groep ook hê die luisterervaring moet een wees soos “om in ’n diep slaap te verkeer – in ’n koma”.
Dit het hulle reggekry deur baie meer te repeteer, dag in en dag uit, en elke Maandag by tromspeler Moskou (Danie se jonger broer en die sjef by hulle gesamentlike fynproewersrestaurant, Drum, op Stellenbosch) in ’n klein kamertjie bymekaar te kom om weer deur alles te luister en verwerkings te doen.
Vir Rooi Rose sê die klavier- en kitaarspeler Chris von Wielligh die klank op die nuwe album is “’n bietjie harder, meer eksperimenteel” as die vorige drie, Swaartekrag, Somer en Die donker toring, en met “meer van ’n rock-vibe”. Dis ook meer van ’n volledige konsep-album, met temas wat herhaal, stukkies werklike WhatsApp-boodskappe van die groep tussen-in en grafiese kunswerke deur Willem Samuel wat bydra tot die storie soos dit in die albumboekie, en in ’n kortverhaal daarin deur Danie vertel word.
Sewe jaar nadat hulle Spoegwolf in 2012 gestig het, word die viertal, Danie, Chris, Moskou en die baskitaarspeler, sanger en kletsrymer Albert van der Merwe, se Koma op Valentynsdag uitgereik. Twee dae later is dit nommer een op Apple Music se album-trefferlys – ’n eerste vir ’n Afrikaanse groep, met 11 van die 14 liedjies in die top 100. Einde April speel hulle voor 5 000 mense by Kirstenbosch in die Kaap ...
Ek en Danie het saam Frans 171 geneem in ons eerste jaar op Stellenbosch. Vroeër vanjaar vertel hy vir Francois Malherbe se Chronicles of Curiosity-podcast hoedat die besluit om ’n B.A. op Stellenbosch te gaan studeer sy lewe verander het en hoe wat hy daar geleer het in ’n groot mate bygedra het tot Spoegwolf se vestiging as ’n band vir mense wat hou van lees. Later sou hy ’n meestersgraad in wyngeskiedenis klaarmaak en vandag is hy besig met sy doktorsgraad in filmgeskiedenis.
Gedurende ons studentedae het ek ’n resensie vir ’n plaaslike musiekblog geskryf oor hulle optrede op ’n Woensdagaand in Klein Libertas.
Ek’t Spoegwolf beskryf as “melktertmusiek” wat nooit buite Potch en Skouspel sukses sal vind nie – deels omdat hulle die aand tydens die vertoning Paarl Boishaai-uniforms aangehad het. (Die ander rede was waarskynlik omdat Fokofpolisiekar reeds ’n grap was, maar niemand wou dit nog weet nie.)
Spoegwolf se musiek was veilig, op die oog af niksseggend, aangenaam en met ongelooflike vakmanskap uitgevoer. Dit was ’n natuurlike uitvloeisel nadat groepe soos Fokofpolisiekar, New Holland en The Pretty Blue Guns uitmekaar is of onbelangrik geword het.
Destyds het ons almal nog probeer uitfigure hoe om die MK-generasie ter graf te lê sonder om die gees daarvan te vervreem óf die destydse musiekhelde se beeld te skend. Vandag is alles anders. Afrikaanse musiek behoort nie meer tot ’n sekere generasie nie. Dit is nou terug hoofstroom toe, terwyl my Kaapse pelle in kleiner kringe van smaakmakers beweeg.
Tussen toe en nou het ek Danie misgekyk. Sy en Spoegwolf se wêreld lê in die Paarl en Stellenbosch – daardie klein, afgesonderde enklawe wat van buite lyk soos een van skinder, geld en grusame moorde, maar waarvan Danie deel is – of hy nou wil, of nie. Hulle storie is sonder die Kaapse cool kids se toestemming geskryf, stilweg geformuleer, maar buite daardie arrogante klein wêreld. Terwyl ons nog gewonder het waarheen ons op pad was, het Spoegwolf geweet wat hulle wil hê.
Die vier was almal in Paarl Boys High op skool: Danie en Albert in matriek in 2010, Chris in 2011 en Moskou in 2012. Danie het vir Albert in Graad 3 ontmoet toe hy op sy eerste dag in sy nuwe skool na die outjie “met die rooi hare” gestap en hom gevra het om sy beste vriend te wees. By sy huis is hy ’n hot dog gegee en “ons het nooit weer teruggekyk nie”.
“Ons het saam grootgeword, saam Harry Potter gelees.”
Albert vertel verlede jaar vir Anja van der Merwe van die BloemFunTown-blog: “Ek het vir Danie-hulle ontmoet toe ons agt jaar oud was – daar was niemand anders in Paarl Boys High wat kon lees, of na musiek geluister het nie behalwe ek en Danie. Ek onthou hoe Danie se pa vir ons plate gespeel het, en ons daar en dan besluit ons gaan rock stars  wees. Ons het onderstebo gelê op ’n bank en na Jackson Browne en Pink Floyd geluister.”
In einste dié onderhoud vertel Danie hoe Moskou op so “nege, tien” saam met hom in ’n groot opname-ateljee was waarheen sy oupa hulle geneem het. Daar was ’n tromstel en Moskou het daaragter gaan sit – “hy het nog nooit aan ’n tromstel in sy hele lewe geraak nie. Soos ek speel, begin Moskou saamjam … en toe is Moskou daar en dan ’n trommer”. 
Vir Chris, wat met ’n meestersgraad in ingenieurswese besig is, beskryf die ander as die ou “wat daarvan hou om goedjies maak”. Chris is glo ook die sakebrein agter die groep en verantwoordelik vir die handelsmerk, handelsware en die man “wat die knoppies druk en en ja en nee antwoord”.
In 2017 doen Danie ’n onderhoud met Willim Welsyn in sy garage en vertel in Episode 119 van dié gewilde podcast hoe hy, Moskou en Albert gereeld na sy pa se swaardvegterstories geluister het toe hulle kinders was.
Sy ouers se hegte verhouding is vir hom ’n groot bron van inspirasie. “My pa het als gedoen, van koffie verkoop op treine, tot onderwys gee. My ma was soms die broodwinner met haar kuns.” Sy ma het al Spoegwolf se albumvoorblaaie ontwerp en beeld sy pa op haar werftuiste uit as ’n vreeslose swaardvegter. “Ek onthou veral sy storie van die swaardvegter met die pers gesig!”
Danie en Moskou (hulle het nog ’n jonger broer, Wadda en ’n sussie, Bella) het al van Graad 3, 4 af saam musiek gemaak en saam met Albert sou hulle met klank eksperimenteer op sy pa se rekenaar. Dié eksperimente het ernstiger geword toe Albert en Danie elk ’n elektriese kitaar kry. Hulle het saam in skole bands gespeel, Moskou het bygekom op tromme en ’n ander pel, “Frits”, en die band Ysterkoei is gevorm.
Die onderwerpe waaroor hulle gesing het, onthou hy as “dood – a lot of death!”, en die repetisielokaal die Du Toits se garage wat sy pa klankdig gemaak het.
Op hoërskool het Chris by hulle aangesluit op klawerbord, en toe Danie in Graad 10 is, kom die deurbraak: Hulle wen Die Burger se Jip Rockspaaider-kompetisie van 2008. Danie vertel vir Willim hoe groot hy geskrik het toe hy backstage kom en die vorige band – ouer manne – se klomp Vampire-ondersteuners sien. “Ek het nog so ’n turkoois corduroy baadjie aangehad en ’n blokkieshemp, en wou net daar opgooi. Toe bid ek maar; ‘Liewe Jesus, help ons net ...’ ”
Die prys was ’n professionele opname in ’n klankateljee, Paris Recording Studios, vir hulle eerste album, “waarvan omtrent net twee verkoop is”, maar ook “báie blootstelling” en ’n eerste video, “Somersoene”, wat op Paarl-rots geskiet is.
In 2012 sou Spoegwolf Ysterkoei opvolg. In dieselfde Chronicles of Curiosity-podcast van vroeër vanjaar vertel hy vir Francois hoe hy nooit ’n student met baie geld was nie en musiekmaak in restaurante en gigs moes sorg vir daaglikse uitgawes. In hulle tweede jaar het hy en Albert besluit om dié spelery meer professioneel aan te pak.
Hulle het ’n sakeplan geskryf, baadjies en dasse aangetrek en ’n afspraak gemaak om Willem Breytenbach, toe uitgewer van die weeklikse tydskrifte by Media24, te gaan sien. Hulle visie – en met Danie se nuutgevonde insigte te danke aan sy taal- en kultuurvakke verkry in die rekenaarlokaal waar hy saans na ete gaan werk het – was om ’n band te skep vir mense wat lief is vir literatuur. “Ons wou ’n Afrikaanse band wees wat dink.” Hy noem dan ook sy literêre en musiekinspirasie as onderskeidelik Ernest Hemingway, J.D. Salinger en Bruce Springsteen.
“Baie aande laat hier by Moskou se restaurant hang ons ’n teken voor die deur buite wat sê as jy nie lief is vir Bruce nie, dan is jy nie welkom nie. As ek Bruce luister, kom die trane sommer.”
Die afskop van Spoegwolf is gevolg deur “die ses hardste jare van my lewe” – “’n vuurdoop,” noem Danie dit.
“Van my verhoudings en my vriende – daarvan is niks oor nie. Net my neef André van my lewe vóór Spoegwolf. Jy’s heeltyd op die pad. Jy het glád nie persoonlike tyd nie.” Is die deurbraak, die resultaat van al die harde werk, die skade werd, wonder hy teenoor Francois. En tog vind Danie en Moskou steeds die tyd om die Stellenbosse restaurant te bestuur wat hulle met die hulp van ’n belegging van ’n familiemaatskappy, Dachstein, begin het en waar Moskou (wat in 2016 sy opleiding aan die Institute of Culinary Arts voltooi het) sjef is en Danie die bestuurder.
“Jy weet my broer se naam is Moskou. Soos in Rusland. En tog het niemand nog óóit vir hom oor sy naam gespot nie. Dís die soort ou wat hy is. My naam is Danie en mense spot my hééltyd oor my naam ... Ons het besigheid en ’n band saam ... Dis amper soos ’n controlled fall ... Maar hel, ek is lief vir hom.”
Dis in juis in Dorpstraat waar ek hom ontmoet, oorkant sy en Moskou se restaurant Drum en direk ná ’n onderhoud met prof. Hermann Giliomee wat ek vir ’n ander projek gevoer het.
Danie het dit vreemd en snaaks gevind dat ek met Prof. Giliomee gepraat het. Hy noem Giliomee het sy bydrae vir ’n doccie oor die Afrikaner uitgelaat aangesien hy Danie se opmerkings “onvanpas” gevind het. Danie se antwoord hierop is as mense hom die see in wil dryf hy die eerste sal wees om te gaan, “want ons volg tog ’n ou daar doer wat op die water loop”.
Danie beskou homself as radikaal. As jy sy naam google, duik voorstelle op soos “Danie du Toit Spoegwolf age”, of “Danie du Toit Spoegwolf geloof”.
Met sy geskiedenis-agtergrond (die res van die groep noem hom die “time-travelling detective”), bemoei hy hom met die diskoers wanneer hy tyd kan maak. Ons bespreek post-moderne teorieë van ’n objektiewe geskiedenis. Sy oplossing vir die land se huidige moleste is om te vergeet. Vergeet ongeag wie “reg” of “verkeerd” was.
Daar is mense wat meen Danie is verslaaf aan dwelms. Dit is dalk weens sy rustelose oë, die spanning in sy stem, die konstante stroom van gedagtes. Maar almal weet ál stimulante wat jy op Stellenbosch kry is, is cat en speed – en om vir Jan Blohm aan te haal: Cat is te vieslik vir enigiemand om aan verslaaf te raak. Mense behoort boonop te weet Danie is nie die drugs-tipe nie. En dié wat so dink, het in elk geval nog nooit ’n aand in die Kaap deurgebring of met regte verslaafdes om ’n tafel gesit nie.
Dit is maar net die stereotiepe idee wat die konserwatiewe Afrikaner van musikante het. Hy is, in sy eie woorde, eintlik net “mal” ...
Telkens terwyl ons ’n tyd en plek vir ons onderhoud probeer reël, stuur hy vir my WhatsApps waarin hy verduidelik hoe “mal kak” sy lewe is. Ek glo hom later.
Die aantal mense wat hy op Stellenbosch se strate moet groet, die aantal oproepe wat hy moet hanteer, die aantal gedagtes wat almal baklei om by sy mond uit te kom ...
Die Afrikaanse media teister hom konstant oor verhoudings, bewerings van wangedrag. Groot dele van die vermaakbedryf in die Kaap het teen hom gedraai, sê hy. Ek kry die gevoel hy is desperaat om afstand te neem van die wêreld wat hom so koester. Maar om te skryf en te bespreek is niks sonder ’n gehoor nie.
Hy is immers besig om saam met die filmregisseur Niel van Deventer, met wie hy in 2017 twee TV-programme vir die DStv-kanaal VIA gemaak het, Moskou se kombuis en Spoegwolf soek nuwe bloed, aan ’n fliek te werk, terwyl ’n digbundel glo ook in wording is.
Maar wie is die aanhangers wat kwansuis so woedend is vir hom? Is dit dieselfde mense wat Karen Zoid en Francois van Coke se samewerking so aanprys? Spoegwolf se aanhangers is tog die jonger generasie wat nie voor 2010 by 'n Fokofpolisiekar-show was nie. Ek kon die uiteenlopende beelde nie vereenselwig nie.
Ek vra Danie of hy kan onthou wat ek in 2012 oor hulle geskryf het. Hy antwoord hy kan dit nie net onthou nie, hy kan dit verbatim vir my voordra. “Die artikel is teen ons ateljeemuur opgeplak.” Tog nooi hy my om saam met die groep die beroemde Sondag-sonsondergangkonsert by Kirstenbosch by te woon. Hy wil my wys presies hoe verkeerd ek was.
Mense stry steeds oor wat presies gebeur het op dieselfde verhoog by Kirstenbosch tydens Fokofpolisiekar se optrede daar in 2007. Waaroor wel saamgestem word, is dat Fokof halfpad deur die konsert hulle akoestiese instrumente neergesmyt en elektriese instrumente opgetel het ter wille van die juigende skare wat voor die verhoog gevorm het.
Almal stem ook saam die optrede het handuit geruk, dat mense van die verhoog af begin spring het. Maar niemand is dit eens hoe groot die polisiemag was wat opgedaag het nie. Niemand is dit eens of hulle wel op die verhoog was, of net buite die hekke nie.
Belangrikste is dat mense vandag nog stry oor wanneer Fokof hulle anthem, “Fokofpolisiekar", met sy koor, “poes off polisieman”, gespeel het. Ek hou vol dit was ’n goeie song of twee nádat die polisie op die verhoog geklim het, en dat die héle Kirstenbosch saamgesing het. Die waarheid verander van kroeg tot kroeg, van mens tot mens. Danie sou dit waarskynlik goedkeur.
Wat wel waar is, is dat dié konsert een van die mees bepalende oomblikke van die MK89-era was. Uiteraard sal elke jongmens sy eie oomblik onthou, maar dié een was myne.
Die energie was gewelddadig, afbrekend. Die musiek het dit gekomplementeer. Fokof het gesing oor afstand doen van die kerk, van selfmoordgedagtes, van verwyte en verkramptes en die fokken land. En dit was heeltemal anders as ons ouers se musiek, as Voëlvry en Kerkorrel. Dit was eie aan óns generasie Afrikaners en kon net in ons era plaasvind.
Dís hoekom Fokofpolisiekar soos ’n kerk was en hulle aanhangers so fanaties.
Vandag word Afrikaners nie meer toegelaat om introspektief te wees nie. As ons is, moet ons kritiseer, of onsself verwyt, haat of verneder. Tree terug, bly stil, geniet die voorregte van apartheid en vrek of trek net so gou moontlik.
Maar Spoegwolf skryf ballades. Spoegwolf maak goeie musiek, professionele musiek, onskuldige musiek. Dit behoort tog nie die reaksie te ontlok wat daar by Park Acoustics verlede jaar was nie?
En toe gebeur Kirstenbosch 2019.
Met die eerste song al vaar Danie tussen die skare in. Toe sit die meeste van hulle nog. Teen die tweede klim hy by die pale in die middel van die skare op en van tien meter bo die grond af begin hy vir hulle sing. (In Maart het hy by hulle volgende Park Acoustics-optrede in Pretoria in die mikke van die doringboom geklim.)
Word wakker, preek hy. Kry rigting. Kyk vir my. Volg my.
Sy stem sny deur die helder herfslig. En soos hy lei, smeek hy om hulp; sing hy: “Ek ruik die reën/dit hang weer swaar/ek hoor die skare sing:/ek sal jou dra.”
Voor die show het die band uitdruklik besluit om die pouses tussen liedjies so kort as moontlik te hou. Hulle het net 45 minute om te speel en wil elke minuut laat geld. Danie ruil sy skoene om. Hy loop rond met gebalde vuiste, sy skouers soms opgetrek, soms vorentoe gebuig. Die maniese energie van die vorige dag se kort gesprek rus nou als in sy nekspiere.
Tien minute voor Jan Blohm klaar is, vorm Spoegwolf ’n sirkel met hulle videograwe, meisies, fotograwe en verskeie ander volgelinge. Eers doen hulle ’n stemoefening wat die name van verskeie Afrikaanse MK-helde insluit. En dan, dan bid hulle.
Ek staan met ’n ongelooflike babelas en vra vir krag om notas te maak. Ek is verras. Anders as Bouwer Bosch maak die groep nie ’n mediafoefie van hulle geloof nie. Tog moet die publiek dit aanvoel. Die woord “God” duik minstens een keer per elke twee songs op in hulle lirieke, veral in Koma. Maar Danie het nog nooit “fok god” op ’n fan se beursie geskryf nie.
Teen die derde lied steier Danie oor die verhoog, nou wild van oog, dan byna histeries van hartseer. Hy vaar weer die skare in, skop tannies se drankies van hulle cooler boxes af, hits mense aan om op te staan. Hy kondig aan: “Hierdie is die grootste oomblik van my lewe. Hierna is daar niks van my oor nie.”
Danie skyn soos ’n lig oor die skare. Van hulle is die jongstes lankal voor die verhoog en hits die groep verder aan. Hulle voel instinktief dieselfde energie as destyds aan, al was hulle te jonk om in 2007 hier te wees en al is Spoegwolf se musiek nie vatbaar vir anargie nie. Danie hou aan sing oor hoe sy hart aan skerwe lê, en hoe hy al vir God op ’n swaai sien sit het, en hoe groot sy verlange is na die eerste eggo’s van liefde tussen die eikebome in Victoriastraat.
Dit is asof die skare sy smart deel. Mense wat nog te jonk om te weet hoe dit voel as jou hart breek, staan tranerig. Hy sing oor verlies. Hy sing oor heling. Die groep teen die verhoog word al hoe groter.
Danie kom terug uit die wildernis. In ’n breukdeel van ’n sekonde vang hy my oog waar ek oopmond staan en kyk. Hy grinnik asof hy wil vra: “Is dit nog melktertmusiek?” Voor ek kan reageer, word hy weer vorentoe geroep. Die afgelope 14 jaar het ek musiekgeleenthede van Berlyn tot Jerusalem bygewoon, en net twee keer het ek hierdie soort energie beleef.  Spoegwolf se musiek is meer Kerkorrel as Polisiekar, meer Gert Vlok Nel as Foto Na Dans, en tog laat dit die skare huilend en oproerig.
Die skemer daal neer. Danie kondig aan hy gaan “Geel” sing. Hy sê dankie vir sy ouers. Hy lyk gebroke. Dis ’n intieme oomblik.
By Park Acoustics verlede jaar was almal kwaad. Maar ek was nie daar nie. Ek is hier. En vir my voel dit meer na ’n kollektiewe angs en pyn as woede. Dalk is hierin iets van die Afrikaner se voorkeur vir dinge wat maklik verteerbaar is; ’n element van individuele verafgoding. Maar die heel belangrikste dimensie is almal hier is deel van een kulturele gebeurtenis, heeltemal in Afrikaans, heeltemal vry van politiek. Suiwer.
Die beelde van Spoegwolf se optredes waarna ek verlede jaar onbetrokke op my skerm in ’n klein, goor apartment in Amsterdam sit en kyk het, speel nou regstreeks voor my af – meer oorweldigend as wat ek ooit kon glo. Die gesigte, die sweet, die energie. Maar ook die samehorigheid en angs en vreugde – dit is alles hier, dis alles lewensgroot.
Daar is geen sprake van Danie se sogenaamde radikalisme in sy lirieke of Spoegwolf se musiek nie. Daar is niks wat die Afrikaner doelbewus uitlok nie. Sy radikale oortuigings hou hy privaat. Of dalk stel die media nie belang nie. Hy is nie Hunter Kennedy nie. Die energie onder die jongmense in die gehoor is op ’n manier presies dieselfde as in 2007. Terselfdertyd verskil dit ook hemelsbreed.
Twaalf jaar later smous Fokofpolisiekar hulle musiek saam met bier. Die hartseer van Spoegwolf is dat hulle optredes ’n dieper energie en gevoel ontlok as wat hulle lirieke verklap. Tog kan almal dit voel. Hulle is die gewildste Afrikaanse groep in die land, ongetwyfeld. Meer as Steve. Maak daarvan wat jy wil.
Danie sluit die vertoning af soos die son sak. Hy staan op ’n cooler box en vra die skare: “Wie hier glo nog in liefde?" Die jubelende antwoord laat hom laat glimlag, terwyl die sweet van hom aftap. Toe vra hy almal om hulle selfone in die lug te hou. Hy sweef deur ’n see van liggies en die wêreld vat vlam, van heel voor tot agter by die oues en die dronkes. Teen dié tyd is almal op hulle voete.
Danie staan in die middel, soos ’n pastoor, ’n dominee, met al die konnotasies wat daarmee saamgaan. ’n Jesus. Gaan hulle vir hom luister? Ek weet nie.
Ná 45 minute skakel die klankingenieur die speakers af. Bo-oor die gejubel en gejuig van die histeriese skare hoor ek hoe Danie swets. Hy hardloop terug en die mense begin harder skreeu. Hy tel sy kitaar op. Sy broer Moskou klim weer agter die tromme in. Maar daar is geen klank nie. Die klankingenieur staan bankvas en skud haar kop. Danie vloek hardop en noem haar 'n bureaucrat, maar dis tevergeefs, of sy hoor nie. Stadig bars die bubble. Ek bly staan.
Agterna vra ek haar hoe sy die klank kon afsit met soveel mense, soveel glansende gesigte, soveel hees stemme wat haar soebat om dit nie te doen nie. Sy kyk na my met ’n hartseer glimlag en beduie na die afdak waar die organiseerder sit. Musiek kan duidelik nie als trotseer nie, ongeag hoe hard ons daarvoor skree.
Was ek verplig om die aand te dokumenteer vir my Fokof-generasie? Dit het so gevoel. April 2019, ’n maand voor die verkiesing, ’n jaar nadat Zuma uitgetree het, ’n jaar wat mense dalk nog gaan vergelyk met die massa-emigrasie van 1993. Hoe kan ’n band iets daarmee te doen hê? Want om so ’n klomp Afrikaners te sien saamsing, om met mekaar te deel op ’n manier wat almal verstaan, is al plaasvervanger wat ons vandag nog het vir nasionale samehorigheid.
’n Meisie wat op De Zalze woon, ry saam met ons terug. Sy sê sy het die afgelope jaar Portugees leer praat, en dat haar hele gesin binnekort na Portugal verhuis. Ons gesels oor Afrikaners in die buiteland en hoe moeilik dit is om aan te pas. Danie is stil, rustiger as ek wat hom nog gesien het. Sy oë is vasgenael op die pad voor ons, die R300. Emigrasie was nog nooit vir hom ’n opsie nie. Hy het al genoem hy weier om ’n groter salaris as die kelners en die kokke by sy restaurant te verdien.
Voor ons lyk die streep remligte soos die blink lem van ’n swaardvegter wat doelgerig vorentoe beur, die donkerte in.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X