Game of Thrones: Tolkien met tande

O, DIE ONTNUGTERING

Game of Thrones: Tolkien met tande

Game of Thrones was die hartverskeurendste, opwindendste reis wat hy tot nóg toe op sy rusbank onderneem het, sê DANIE MARAIS. Dit was meer as net ’n storie, en dis hoekom hy en miljoene ander kykers waarskynlik nog jare oor dié reeks, en veral die laaste seisoen, sal tob. Hier is sy objektiewe, en minder objektiewe, mening oor die impak van hierdie absolute fenomeen.


“DIS soos Lord of the Rings – met baie seks,” het my vriendin Anél du Toit gesê toe sy my die eerste twee seisoene van Game of Thrones soos dwelms in die hand druk. Toe ek met dié storie by die huis aankom, het Carine gesê: “Nee, ek is nie lus vir fantasy nie.” Sy’t egter lusteloos ingewillig om te probeer en ná twee episodes was omkeer nooit weer vir een van ons ’n opsie nie.
“As Game of Thrones eers vir jou vat, vat hy jou nie fliek toe nie,” soos Albertus van Wyk dit nou die dag op Facebook gestel het.
Dis dié dat ek vandag sit en tik soos ’n man wat die vorige dag ’n monumentale wêreldbekereindstryd of begrafnis meegemaak het en nou aan posttraumatiese-Westeros-stres ly. Op Maandag 20 Mei het dié HBO-reeks ná agt seisoene ten aanskoue van ’n rekordgetal van 19,3 miljoen kykers in Amerika alleen ten einde geloop. Die internet het net daarna ontplof en die leërskare vurige aanhangers is erg verdeeld.
Ek stem saam met sommige kritici: Hierdie TV-sage, wat op George R.R. Martin se A Song of Ice and Fire-romanreeks gegrond is, het in sy laaste twee of drie seisoene verander van die beste bloedigste drama wat Shakespeare nooit geskryf het nie in ’n soms effe afgerammelde Griekse tragedie, woes versny met meer tradisionele 21ste-eeuse skouspel – “where ignorant [CGI – rekenaargeskepte beelde] armies clash by night”, as ’n mens nou die slot van Matthew Arnold se Dover Beach ’n bietjie mag buig.
Oermag van ’n epiese verhaalMaar die skeptiese kritikus in my is keer op keer oorweldig en ek het tot aan die o, so bittersoet einde verstom gestaan voor die ongekende uiterstes van “suspensions of disbelief” waartoe die reeks my meegesleur het. As daar al ooit ’n fenomeen was wat in ons onttowerde, gefragmenteerde en aandagafleibare era bewys het hoeveel oermag ’n epiese verhaal nog oor die mensdom kan uitoefen, is dit Game of Thrones (GoT).Vir die eerste keer sedert my tienerjare, toe ek saam met The Lord of the Rings (LOTR) volledig in Middle-earth se myne van Moria verdwyn het, het ek weer heeltemal weggeraak in ’n fantasiewêreld met vuurspuwende drake, ’n rooi heks, toorkuns en dié keer zombies en ja, hope seks daarby.Toe ek egter onlangs al drie Peter Jackson se LOTR-flieks weer saam met die kinders kyk, was dit skielik vir my skokkend naïef. Dít terwyl ek daardie flieks beskou het as iets wat die onmoontlike vermag het: om een van my gunstelingboeke basies perfek te verfilm.Terwyl ek weer na Aragorn se laaste groot toespraak daar voor die Black Gate van Mordor gekyk het, moes ek toegee GoT het intussen my verwagtings van die fantasie-genre verander. Dit was, wel, ’n game changer wat die Pulitzer-bekroonde romansier Michael Chabon se punt oor genre-fiksie onderstreep: Literêre kritici bestempel iets beleefd neerbuigend as “genre-fiksie” totdat hulle dit regtig goed vind – dan’s dit skielik ’n allegorie.Hy sê The Road van Cormac McCarthy het byvoorbeeld verskeie literêre pryse gewen, terwyl dit ’n klassieke rillerstorie is.En GoT bied verskeie lekker allegoriese interpretasiemoontlikhede. Die sewe strydende families van Westeros se nodelose, selfvernietigende gekonkel rondom die Iron Throne terwyl die Army of the Dead suid marsjeer om hulle almal te verdelg, herinner treffend aan die ontkenning van klimaatsverandering en politici se onvermoë om die groter prentjie aan die massas te verkoop.’n Mens sou ook die onversetlike Starks van Winterfell in die noorde as die armer Noord-Brittanje kon beskou, terwyl King’s Landing en die Lannisters in die suide die geldmag en aansit van Londen verteenwoordig.
Ontstemmende parallelleDie mees ontstemmende parallelle word egter implisiet getrek tussen die siniese, brutale magspel van ’n feodale Middeleeuse Europa en ons huidige wêreldorde waar weersinwekkende en leuenagtige despote demokraties verkies word. Shakespeare het die geloof en hoop van die Renaissance en Verligting saamgevat in Twelfth Night met: “There is no darkness, but ignorance.” Maar daardie hoop hét beskaam en GoT herinner jou hoe aanwesig die duisternis steeds is.
Wanneer jy dit na Westeros waag, waar sewe ou families ’n burgeroorlog om die Iron Throne voer, hardloop jy jou in die menslike toestand en Machiavelliaanse magspolitiek vas – in ’n besonder wrede House of Cards.
Aan die einde van LOTR wil jy glo daar is tog ’n bietjie Frodo, Samwise en Aragorn in jou. Maar GoT, wat die Oorlog van die Rose om die Britse troon tussen 1455 en 1485 as sentrale verwysingspunt het, bring jou in voeling met ’n baie lewensgetroue Middeleeuse weergawe van jouself.
Aan die einde van GoT moet jy beken jy het jou stomme hart vasgehou vir ’n bloedskandenaar soos Jaime Lannister; jy was aan die kant van die Viper of Dorne – ’n woestaard en bordeelbesoeker van formaat – toe hy The Mountain in ’n epiese stryd gepak het; jy het erg geheg geraak aan die afstootlik moorddadige antiheld Sandor “The Hound” Clegane; jy wou gewelddadig in opstand kom teen die waansin van fanatiese en fundamentalistiese godsdiens toe jy saam met die koelbloedige Cersei Lannister gedwing is om die walk of shame deur die strate van King’s Landing te stap.
Van rabbedoe na sluipmoordenaarDie afgelope agt jaar het jy Arya Stark sien ontwikkel van ’n oulike rabbedoe tot ’n skrikwekkende sluipmoordenaar vir wie jy nietemin altyd witkneukelstyf duim vasgehou het tot die bitter einde van elkeen van haar vyande.Later het jy selfs gevoel Tyrion Lannister moet ophou om so idealisties te probeer om die bloedvergieting van duisende burgerlikes te voorkom, want hierdie is oorlog. Ook hy móét die “game of thrones” speel, en soos die hatige Cersei reeds vroeg verklaar het: “When you play the game of thrones, you win or you die. There is no middle ground.”
Die helde van Middle-earth roei die kakkerlakke van die bose uit; die feilbare helde van Westeros span seks, toordery en drake in soos wapens en tegnologie vandag in die Midde-Ooste ontplooi word. Die hoofrolspelers maak ander verworde mense dood, dikwels in die greep van innerlike verskeurdheid en ysere strukturele kragte.
In Westeros verteer die familie-oorlog tussen goed en kwaad karakters se harte, terwyl jy, die kyker, skrik vir die bloedige wraaklus waartoe jy opgesweep word. Ná die Battle of the Bastards wou selfs ’n ou sissie soos ek vir Ramsay Snow nog ’n keer saam met Sansa Stark aan sy eie honde voer.
Jon Snow, GoT se weergawe van Aragorn, bevind hom gedurig benard tussen die eise van liefde aan die een kant en pligsbesef aan die ander. Hy koester ’n diep wantroue in mag, terwyl sy volgelinge glo die wêreld sal beter wees as hy net sy mag en leierskap wil aanvaar.
Jon steek uiteindelik uit die moed van sy oortuiging ’n dolk in ’n deel van sy eie hart, maar weet later steeds nie of hy die regte ding gedoen het. Wanneer hy Tyrion gefolterd vra wat hy dink, antwoord die gladdebek-drinker-dwerg: “Vra my oor tien jaar.”
Dalk sal ek ook eers oor tien jaar weet hoe ek regtig oor die slot van GoT voel, maar die woorde “You will always be my queen” sal heel moontlik teen daai tyd so ikonies wees soos Casablanca se “Here’s looking at you, kid”.
Baie van die verontwaardiging oor die polarisende laaste seisoen van die reeks is waarskynlik grootliks die gevolg van absurde verwagtings aan ’n storie wat miljoene meegevoer en van bakboord na stuurboord laat steier het saam met karakters van wie hulle nie kon afskeid neem nie.
As die lewe hou, is ek egter taamlik seker ek gaan oor tien jaar steeds elke nou en dan aan GoT dink. Dis die hartverskeurendste, opwindendste reis wat ek en Carine tot nóg toe op ons rusbank onderneem het – saam met soveel miljoene ander wat nou ’n hele ander soort mitologiese verwysingsraamwerk onder die knie het.
Daar was bloed, seks, drake, verraad, humor, kameraadskap, groot tragiese liefdes en soms die teerste, vreemdste skoonheid. Dit het gevoel na meer as net ’n storie.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.