Jaypee Malherbe: Ma Grieta se legendariese seun

BYE MA, JAYPEE

Jaypee Malherbe: Ma Grieta se legendariese seun

Onthou jy Jaypee Malherbe se briewe aan sy ma? Die bekende haarkapper wat nou op Robertson woon, vertel sy storie aan sy agter-agterkleinniggie ANNELIZE VISSER – ’n uitsonderlike verhaal met kameeverskynings deur Liza Minnelli en Brigitte Bardot.

DIS Saterdag 25 Januarie 2002, die dag ná Grieta Malherbe sterf. Haar oudste seun, Jaypee, haas hom na Die Burger se kantoor om ’n doodsberig te plaas. Die vrou agter die toonbank wil weet of hy al een geskryf het. Jaypee sê nee. Hy sê: “Tik jy, dan sal ek dit uit my kop sê.”

Jaypee sê die eerste ding wat in sy kop opkom, en die vrou tik. Die berig wat op Dinsdag 29 Januarie verskyn, lui só:

MALHERBE
Grieta, 92 jaar
’n Ma met ’n besonderse gawe wat van een blomkool drie kon maak: “As jou blomkool te min is, sit net blokkies witbrood by, my kind, en gaar rys by koolslaai.”
“Ma, die kinders sê ek is skeef.”
“Dis okay, my kind, dis Engels.”
Bye, Ma. Jaypee.

Mense lees dit en wil lag en huil. Hulle vra Jaypee se nommer by die koerant en die foon lui aanmekaar. By party loop die trane só dat hulle skaars kan praat, want Jaypee se doodsberig het iets raak geboor, naamlik die liefde tussen ma en seun.

Elke jaar van toe af wanneer Grieta op 11 Oktober verjaar, skryf Jaypee vir haar ’n lang brief in die koerant en vertel hy haar van alles wat hier onder aangaan. Die briewe verskyn jaar ná jaar onder die opskrif “Jaypee se ma verjaar”, en mense begin al vroeg in Oktober daarna uitsien.

Baie mense het gebel vir haar 96ste verjaardag, skryf hy in 2005. “Marie Zeeman het gebel, tannie Buchner het gebel. Mrs Kosie Marais se dogter het gebel en Maatjie Esterhuizen.

“Die fuchsias begin al te blom. Vroeg, nè?”

Jaypee stuur sy telefoonnommers vir Grieta in die hiernamaals, “net vir die wis en die onwis”.

“Happy Birthday, 97 vandag. Ma’s nou al amper net so oud soos die Kaapse stadsaal,” skryf hy in 2006. Hy het deesdae “email”, vertel hy, en sluit sy e-posadres in vir die wis en die onwis. “Ma sal nie weet wat dit is nie,” gee hy toe, “vra maar vir ’n jonger Engel.”

Jaypee skryf elke jaar tot sy ma 100 jaar oud word. “Dit help my om haar dood te verwerk,” sê hy.

Huisgenoot doen ’n storie, die TV doen ’n onderhoud. In 2011 kom die toneelstuk Bye Ma, Jaypee, en kunstefeesgehore sit vasgenael terwyl Chris van Niekerk en later Gavin van den Berg die storie vertel van ’n ma en seun se liefde vir mekaar.

’n Springbok in die familie

Voordat die storie verder kan vorder, moet ek eers familie uitlê.

Jaypee is die oudste seun van Stefanus (Fanie) en Grieta Malherbe van Robertson. Fanie se ma en pa was ant Nan en oom Jobpie, en ant Nan se suster Frances was my oumagrootjie. Fanie was dus my ouma Dol se neef en Jaypee was haar kleinneef.

Hy is, kom ons sê maar, verlangs familie van my.

Die eerste keer dat ek van dié neef te hore kom, is in 1978 toe my ouma trots vertel dat ons voortaan met ’n Springbok in die familie kan spog. Voor dit het die meeste mense nie geweet dat haarkappers Springbokke kon word nie.

Dié wêreldkampioenskap waaraan hy daardie jaar in Düsseldorf, Duitsland, deelgeneem het, was die groot hoogtepunt in sy lewe, laat Jaypee uit Robertson weet waar hy sedert ’n beroerte-aanval drie jaar gelede in die ouetehuis Huis le Roux woon.

Groter as al die kere wat bruide wat onder sy hande deurgeloop het, met die titel Bruid van die Jaar weggestap het.

Groter as sy werk saam met modespanne vir glanstydskrifte.

Groter as sy loopbaan as haarstilis op internasionale filmproduksies toe hy met sterre soos Jamie Lee Curtis, Meryl Streep, Morgan Freeman en Sienna Miller gemeng het.

Want omtrent die laaste ding wat mense van Grieta Malherbe se oudste seuntjie verwag het, was dat hy eendag Springbok-kleure sou dra.

Jaypee in 1964, die jaar toe hy sy vakmanskap in Kaapstad begin het (links), en in die hoërskool se jaarblad in 1978 toe hy in Springbokkleure aan 'n haarkapperkampioenskap deelgeneem het.
Jaypee in 1964, die jaar toe hy sy vakmanskap in Kaapstad begin het (links), en in die hoërskool se jaarblad in 1978 toe hy in Springbokkleure aan 'n haarkapperkampioenskap deelgeneem het.

Die lewe as kabaret

Hy was ’n alleenkind, onthou Jaypee, “maar dit het my nie gepla nie, ek het alles wat kan hang om my gedrapeer”. Hy het selfs sy eie hoëhakskoene gemaak  van ’n garetolletjie, ’n stuk karton en ’n leë konfytfles.

“Daar is lang gordyne in die sitkamer wat aan ’n swaar pelmet hang. Dan speel ek ek is Liza Minnelli, ruk die gordyne oop en sing hard. Life is a cabaret tot die pelmet afval. Ek kon seker dood gewees het. Nou lê gordyn en pelmet op die vloer. Ek gaan na my ma en sê my verhoog het ingeval. Kalm sê sy, ‘Dis okay, my kind, ons sal dit weer terugsit’.”

Sy vindingrykheid het nie by skoene opgehou nie.

“Toe ek groot word en deur grootmenstydskrifte kan blaai, sien ek ’n foto van Brigitte Bardot, ’n movie-ster, en sy het lang blonde hare tot op haar skouers. Dis my droom om blond te wees. My drome voer my weg, nie na waterstrome nie, maar hoe gaan ek my kop blond kry.

“In Pa se motorhuis lê ’n rol masjientou. Ek maak ’n plan. Soek ’n skêr. Al wat ek kry, is ’n skaapskêr. Ek sny toe lang stukke van die bol masjientou wat gebruik word om kafbale mee vas te maak. Ek soek gou my kakiesonhoedjie. Stuk vir stuk hang ek die lengtes toue oor my kop, een vir een, en toe hoedjie oor die toue. Ek glip gou na die spaarkamer, want daar is ’n lang spieël. En voor my in die spieël staan die ewebeeld van Brigitte Bardot. ’n Hollywood-ster.”

Tikkie tikkie toffie

Op skool was daar boelies en naweke ’n pa wat te veel drink. Maar in die kombuis was daar altyd Ma wat vra: “Wil Ma se kind ’n bietjie koffie en ’n stukkie brood met botter en konfyt hê?” onthou Jaypee in 2005 se verjaardagbrief. “Dankie Ma sonder botter en konfyt want Ma se brood smaak net so lekker droog. Nou maak die bakkersbrood ’n kluitjie in my keel of is dit van verlange, Ma?”

Hy raak bewus van iets wat hy moet verwerk: “Is daar ander mense soos ek?”

Ná 50 jaar hoor hy steeds die getart van die seuns wat sing: “Tikkie tikkie toffie Jaypee is ’n moffie.” Maar by Grieta is daar immer ’n toevlug, soos hy in sy brief op haar 97ste verjaardag onthou: “Eendag sê ek vir Ma, Ma ek dink ek moet ook maar trou. Toe antwoord Ma my en sê: ‘Kind, jy sal mooi lyk in wit.’ Toe weet ek Ma weet.”

Jaypee se vordering op skool is so traag dat hy ná ’n reünie vir die skool se 90ste verjaardag opmerk: “Omtrent almal was by my in die klas omdat ek in standerd een agtergehou is, standerd vier gesak het, standerd ses gedop het en toe loop ek in die helfte van standerd sewe.”

Op 17 besef Jaypee “hier moet ek uit”. Hy word vakleerling by ’n haarsalon in Adderleystraat en trek Kaap toe “met net een taal. En die taal in Kaapstad is Engels”.

Hy het min klere en al wat nuut is, is ’n pak en ’n paar swart skoene wat hy vir sy voorstelling en nagmaal gekry het. “Die pak was te groot, want Pa het gesê jy groei nog. Die broek was te lank. Nou steek dit gelukkig die meeste van die skoene weg.’

Dis die jaar 1964, wit skoene vir mans is hoog in die mode en toe hy na ’n partytjie genooi word, kry Jaypee ’n brainwave.

Jaypee saam met die aktrise Sienna Miller, wie se hare hy vir die rolprent The Girl stileer het.
Jaypee saam met die aktrise Sienna Miller, wie se hare hy vir die rolprent The Girl stileer het.

Ek’s niemand se darling nie

“Ek gaan koop Vrydag ná werk by OK Basaar ’n blik wit Duco spray. Dit kos een rand. Nou het ek R3.05 oor vir die week. Saterdagmiddag maak ek my lang grys skoolbroek nouer, want stovepipes was mode. Met naald en gare wat Ma ingesit het vir as daar ’n knoop afbreek. Saterdagmiddag spray ek die skoene wit. Dit lyk so mooi en die veters staan stokstyf. Ek kan omtrent nie wag om aan te trek nie.

“My broek is ’n sukses net soos die mode nou is. Ek was my lang hare, ek sit in die son en kam en kam tot dit droog is. Die krulle is uit. Ek’s klaar en lyk baie mooi vir myself.

“Die wit skoenveters is moeilik om vas te maak. Ek maak ’n strik en nou sien ek die veters is wit en swart. Ek gryp weer die Duco spray, ek spuit my strikke weer spierwit. Nou loop ek busstop toe om die Kloofstraat-bus stad toe te haal, en van daar Seepunt toe.

“Ek sit in die bus en nou is daar lig. O jinne, my wit skoene het begin kraak. Die veters staan nog stokstyf, maar daar het ’n stuk Duco afgekom en dié is weg.

“Van die stad af kry ek ’n tweede bus. Die skoene lyk beter in die skemerlig.”

Nie te ver van die partytjieplek nie, klim Jaypee af en loop nader aan ’n straatlig om sy skoene te inspekteer.

“Wow, my skoene lyk dan nou na ’n marmergrafsteen. En net ryk mense kon so ’n marmersteen bekostig. Die klam seelug het my hare weer laat krul, ek het dan nou ’n blonde afro op my kop. My dun bene en die nou broek lyk baie goed. Die ou wit hemp lyk ook ok. Ek knoop nog ’n knoop vas en druk die klokkie.

“‘Come in darling you look good.’ Ek’s niemand se darling nie. Ek sê my naam is JAYPEE en nie JP nie. ‘Okay, Jaypee come in, are you Afrikaans?’”

En hoe weet jy dit?

“Die musiek is hard en die ligte is min. Ek kyk weer af en sien nog stukke wit duco om my. My voorstelskoene is omtrent weer swart, maar die strikke staan nog stokstyf.

“Ek bly nie lank nie. Die musiek is te hard en dans kan ek nie, net ’n paar bewegings soos wat ek geleer het in die balletklas op ’n Saterdagoggend in die Voortrekkersaal. By die huis gekom, kos dit die wit strikke afknip om die skoene uit te trek.”

Bellbottoms en ’n windmakerhoed

Byna ’n dekade later wag Grieta-hulle ’n nou wêreldwyse, berese Jaypee op die lughawe in Kaapstad in.

Hy het ’n lang jas en ’n paar platformskoene wat hy in Italië aangeskaf het, en ’n helderkleurige hemp met ’n groot kraag van Carnaby Street in Londen. Bellbottoms met pype so wyd jy kon ’n full-flare skirt daarmee maak, en ’n baie groot sonbril van Christiaan Dior. Hy maak reg vir die afklim.

“Ek is nou ses duim langer vanweë die platformskoene. Ek het die bellbottoms aan, die broek se lyf redelik hoog gesny maar met my dun lyfie lyk dit goed by ’n moulose truitjie. Toe die vliegtuig tot stilstand kom, sit ek my groot sonbril op en nou ook die groot hoed. Ek het vergeet van die suidooswind wat waai ...”

Die suidoos gryp sy hoed, rol dit oor die teer en waai dit tot in Gordonsbaai.

“Met my lang jas, die hemp met die baie groot kraag, Dior-sonbril en nuwe lengte stap ek nader. Pa en Ma en my broers wag my in. Toe ek naderkom, besef ek hulle herken my nie. Toe groet ek. My pa se eerste woorde was: ‘Daardie outfit sal jy nie op Robertson dra nie, wat sal die mense sê?’”

Jaypee was so gewild as haarstilis en grimeerkunstenaar by troues dat bruide wou seker wees hy's beskikbaar voordat hulle die troudatum vasgestel het.
Jaypee was so gewild as haarstilis en grimeerkunstenaar by troues dat bruide wou seker wees hy's beskikbaar voordat hulle die troudatum vasgestel het.

Die mense sê dankie

Veral die bruide. Daar is letterlik honderde bruide wat Jaypee steeds met dankbaarheid onthou.

Bruidskompetisies – gewoonlik met maandelikse wenners waaruit koerant- of tydskriflesers die jaar se wenbruid kies – is vlakwater vir iemand wat die wêreldverhoog in ’n groen baadjie met ’n goue springbok betree het. Jaypee se gewildheid by troues, vir hare én grimering, neem toe nadat een van sy bruide ’n maandwenner in Die Burger-kompetisie is, en uiteindelik as Bruid van die Jaar aangewys word.  

Een jaar is daar by Die Burger agt maandwenners uit Jaypee se stal en kom sy bruide eerste, tweede en derde. Sy bruide is ook wenners in Huisgenoot, Beeld en Rooi Rose se kompetisies, en mettertyd begin voornemende bruide Jaypee raadpleeg voordat hulle die troudatum vasstel.

“Die meester met verfkwas en borsel,” lees die kommentaar wanneer ’n bruid van onlangs of lank gelede haar foto’s op Facebook plaas. “Die maestro in aksie!” sê ’n ander.

“Good morning, maestro,” sê mense ook wanneer Jaypee soggens op die stel van sy eerste internasionale film aankom. “Dan klink ek soos ’n kafee in Seepunt,” skryf hy vir Grieta op haar 100ste verjaardag. “Dan sê ek nee, my naam is Jaypee, tot Trudie my reghelp en sê dit beteken jy’s ’n meester in wat jy doen.”

Jaypee is ook ’n meesterstorieverteller en sy stories hou die bruide kalm.

Die pyn as dit breek

Toe die eeu draai, leer ken ons Jaypee die aktivis. Grieta is nou 90 en woon in ’n tehuis in Kaapstad om naby hom en die dokters te wees, maar sy doen by verskeie geleenthede beserings op wat Jaypee nalatigheid of erger laat vermoed.

Hy nader die koerant, en toe nog mense na vore kom met stories van verwaarlosing en aanranding, begin Jaypee met ’n vyf jaar lange veldtog vir die beter behandeling van bejaardes in tehuise.

Hy loop met plakkate op en af voor die parlement, en die koerante steun sy saak. Daar is optogte, saamtrekke, ’n ondersoek en ’n openbare verhoor, maar Jaypee is skepties of enigiets werklik bereik word. Dis vir hom moeilik om oor dié tydperk te praat. Kom ons praat eerder oor die liefde.

“O, ek was ’n paar keer verlief, het tot in St. James ook gebly met ’n lover,” vertel hy. “Very English, nogal ’n dubbelverdieping reg by St. James-strand.”

Engels is iets wat by Grieta tel. Dit kom uit haar jongdae as kinderoppasser by ’n Engelse gesin. “Daardie dae was alles wat Engels is mos grênd. As sy gesê het iets is Engels, dan het dit beteken dit is grênd,” het hy aan Huisgenoot verduidelik. 

“In 1965 seil ek, Ma en ’n vriendin van Ma op die Windsor Castle na Durban. Daar het ek toe weer ’n Engelse persoon ontmoet.

“Ja, ek was verlief. Dit was lekker, maar daardie pyn as dit breek – vir daardie pyn help niks, net die tyd.”

“Anders nes ek" is hoe Jaypee dié roos uit Huis le Roux se tuin beskryf. Regs is hy by 'n vertoning van die toneelstuk Bye Ma, Jaypee, in 2011.
“Anders nes ek" is hoe Jaypee dié roos uit Huis le Roux se tuin beskryf. Regs is hy by 'n vertoning van die toneelstuk Bye Ma, Jaypee, in 2011.

Die lente is om die draai

In die tuin by Huis le Roux in Barrystraat blom die sierkool soos rose en die rose is skaamteloos oop en mooi. Die sandlelies gloei pienk en ’n stokroos van opslaansaad skiet die hoogte in. Dis nog Augustus, maar die fuchsias blom.

Dis Jaypee wat hier tuinmaak. Dit hou hom besig tydens die inperking, sê hy, maar waar gaan hy plantjies kry, die lente is om die draai.

Inperkingsmaatreëls verg aanpassing, al weet mens dis vir jou eie beswil.

“Die ergste is, jy eet in jou slaapkamer. Jy slaap daar. Die TV is daar. Die radio word jou vriend. Die radio word deel van jou. Tot jou klein battery-transistor-radio’tjie val en nou sit jy met twee stukke.”

Hy het op die 76ste dag van die inperking sy 73ste verjaardag gevier. Heerlike eetgoed, maar mense moes ver van mekaar sit.

Hy het wonderlike mense ontmoet en hy het mooi herinneringe, sê Jaypee. “Ek mis niks, ek het my lewe geniet. Ek vergeet van die nie-so-mooi dae en maak die beste van elke dag.”

Barberton-daisies in vele kleure

In ’n laaste brief aan sy ma skryf Jaypee dat hy nou terug is op hulle tuisdorp.

“En kyk waar sit ek nou!  In Barrystraat in Huis Le Roux, net duskant Ma se ou losieshuis. Ma sou net so lekker hier bly. Die reuk van Wintergreen en Vicks hang in die gange om verligting te gee aan knieë, elmboë en heupe. Dit is lekker om gedagtes, stories en alles wat mooi is met ou kennisse te deel. Hier groei Barberton-daisies in vele kleure. Kom nog van ant Joan Stipp se tuin.

“My knieë is nou baie soos ant Dollie Nadel s’n wat by ma gebly het. Soos wanneer sy Ma geroep het: “Grieta! Kom sit my kniekoppe bymekaar dat ek kan opstaan.” Ek begin nou ook ’n lyf kry soos ’n ou man, maar my hare behou ek, stokstyf geblaas soos die bruid se ma. 

Nou sê ek eers baai, Ma.
Groete, Ma se seun.”


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


X