Op soek na iets wat heel gebly het in ’n tyd van oorlog

GELOOF, HOOP EN LIEFDE

Op soek na iets wat heel gebly het in ’n tyd van oorlog

Vra haar asseblief nie hoe mens leef in ’n tyd van monsters en demone en verwoesting nie, sê die Oekraïner Olga Reka. Sy doen gewoon wat sy moet. Menslike dinge. Sinvolle dinge. Vermenslikende dinge. Singewende dinge. Deur ANASTASIA DE VRIES.

SMÔRENS vyfuur, die uur van demone en monsters en nooit meer slaap nie. Dit het in Februarie begin, op die dag toe die oorlog na haar land gekom het. Toe sy haarself opnuut moes leer ken, die dag toe die slaap haar begin ontwyk het en sy teen dagbreek in die puin rondsoek na iets wat heel gebly het, enigiets. Om haar die reuk van rook en vuur en swael. Daar is nie tyd vir rou oor soveel verlies en verwoesting nie. Die doek om haar mond en neus nog net ’n herinnering aan dae van geloof, bid, verootmoediging, vrede.

Olga Reka van Oekraïne is in Sofia, Bulgarye, verkondig haar Facebook-blad uiteindelik op 23 April. Dis 05:00. Die wolke loer oor die berg waarop haar venster uitkyk, speels, asof dit met die horison flankeer, skryf sy. Sy het hieraan gewoond geraak, hierdie uur van nooit meer slaap nie, van baklei teen die demone en monsters wat sedert Februarie in haar siel kom huis opsit het, van waghou oor die silhoeët van die landskap om haar. Wie weet, dalk is dit môre nie meer daar nie, is alles anders, vreemd. Dalk moet sy môre na ’n ander plek versit, oor ’n ander berg waghou, ’n ander horison.

Maar vir nou wil sy vertel van die kersie-, peer- en selfs appelbome wat al hier in Sofia begin bloei. Van die lig wat hier sag op die mense en die argitektuur val. Hoe die klank van ’n grassnyer herinneringe en hartseer wakker hou. En dan, die onverklaarbare begeerte om aan glas te raak, glas wat die bekendheid van koue vaster hou as die mure van haar nuwe woonplek. Soveel verrinneweerde geboue in haar land, die argitektuur en tekstuur van stede en dorpe verwoes en wat by haar bly spook, is die baie vensters sonder glas. Mens kan jou naam op glas skryf, sê sy, wanneer die vensterruite toegewasem is van die koue. Sy het só geleer skryf, lank, lank gelede, in haar ouerhuis in die Soemi-provinsie...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.