Gee ons ’n blêrrie better life for all

NOU IS ALMAL GELYK

Gee ons ’n blêrrie better life for all

Die koudgeit is met ons, en so ook duisternis oor die land. A better life for all is ons belowe, nie ’n blêrrie slegte lewe for all nie, skryf ANASTASIA DE VRIES, en vertel van ’n goewerment wat blou-ôl omgee dat mense aan die genade van nou’t-jy-krag-nou’t-jy-nie uitgelewer word.

DIS een van daai los gelukkies wat mens soms hier in die winter kry. ’n Droogwarm dag, by die 30 grade. Windstil. Soos Krismis by die see. Kinders hol die strand vol. Op die naat van hul rug lê mense in die son lê en blaak, van hulle halflyf onder die warm sand ingebak. Doer ver op die rotse hurk twee mans, visstok in die hand. Seesand laat haar vaal trek, sê ’n vrou van onder haar sandkombers uit, maar vandag maak dit nie saak nie, nee vandag, die Here weet, vandag het sy dit so nodig soos ’n stukkie brood. Die koudgeit is al in haar murg ingetrek.

Maak jou maar klaar, voorspel een langs haar. Die koudgeit is met ons. Duisternis oor die land. En die winter is nog jonk. Soggens staan jy op en die krag is af. Saans kom jy by die huis en die krag is af. Jy vat jou kosbare kospotte waarvoor jy maande lank gespaar het buitentoe, na ’n blikvuur onder ’n afdakkie wat die reën nie van jou lyf weghou nie. Jy bid dat die hout hou sodat julle darem in warm water kan bad. Snags lê jou kinders en bibber in koue kooiens. Die verwarmers wat jy dié keer nogals kon bekostig, staan soos verwyte in hul kamer. Jy bly wakker om jou universiteitkind se kers uit te blaas. Of die olielamp, as daar paraffien is. Of ’n lamppit, want dié raak soms net so skaars soos kerse. Jy staan moeg op, maar jy moet by die werk uitkom, die kinders by die skool. As daar krag is, is daar warm pap en warm melk. Anders. Jy hou jou doof vir hulle hoekom, hoekom, Mammie. Jy bou innerlik woede op omdat alles nie só vir hulle moes uitgedraai het nie. Jy raak al hoe kwater omdat jy hulle die beste wou gee, maar jy kan nie. Jy voel of jou hanne agter jou rug vasgemaak is.

Hoe verduidelik jy vir jou sewejarige dat sy ma se kom en gaan, haar sit en staan, haar hele blêrrie lewe beheer word deur ’n goewerment wat blou-ôl omgee dat mense aan die genade van nou’t-jy-krag-nou’t-jy-nie uitgelewer word, vra sy. Hoe verduidelik jy vir hom dat onse goewerment nie sien hoe ons bloei nie, die klompe plekke sien waaruit die bloed vloei nie? Met haar man, die blêrrie fool, kan sy nie praat nie. Ten minste is almal nou gelyk, sê hy ewe gelate, almal kry nou swaar. Herder, julle! A better life for all is ons belowe, nie ’n blêrrie slegte lewe for all nie, skel sy hom tot in sy sewende voorgeslag. Dié klas gelykheid hou nie haar kinders warm of droog of vol hoop vir beter nie. Wat doen hy? Kap gedienstig hout, vóór werk, ná werk, elke ou tydjie vry. Sy is moeg van beheer word deur iets so noodsaaklik soos krag!..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.