Die medisyne-reguleerder wat Covid én die EFF moes stuit

ONDER DIE MIKROSKOOP

Die medisyne-reguleerder wat Covid én die EFF moes stuit

Covid het ’n geweldige geskarrel veroorsaak vir entstowwe, toetse en behandeling wat alles goedgekeur moes word – en dít te midde van ’n politieke storm. SEAN CHRISTIE praat met Boitumelo Semete-Makokotlela, die Sahpra-baas wat haar oornag midde-in dié maalkolk bevind én dit oorleef het.

  • 09 September 2022
  • Mense & Kultuur
  • 12 min om te lees
  • artikel 7 van 22
  • Sean Christie
Boitumelo Semete-Makokotlela
Boitumelo Semete-Makokotlela
Image: DELWYN VERASAMY/ BHEKISISA

“NOEM my Tumi," sê Boitumelo Semete-Makokotlela ná 'n ongemaklike oomblik van “moet ons deesdae hande skud of nie" in die ingang van haar huis in Centurion. Onverwagse winterreën het die verkeer laat opeenhoop en die daaglikse rit skool toe uitgerek, wat beteken Tumi – gemaklik in 'n grys oefensweetpak – is bietjie agter haar skedule.

“Ek laai die twee van hulle self elke oggend by die skool af, want dis vir my belangrik dat ons dié tyd gebruik om te praat," sê sy en verstel haar stylvolle bril.

Semete-Makokotlela se seun (7) en dogter (11) het halfgepakte sakke in die studeerkamer gelos ter voorbereiding van 'n week by hulle grootouers aan vaderskant. “Ek gaan saam met Khotso [haar man, 'n siviele ingenieur] weg. As ons nie tyd saam weg beplan nie, sal ons vinnig vreemdelinge word. Natuurlik dring die kinders aan dat ons wi-fi by gogo moet laat insit," lag Semete-Makokotlela.

Hulle ma is op 'n kritieke punt aangestel as hoof van die land se medisyne-reguleerder, die SA Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra): drie maande voordat die Covid-pandemie Suid-Afrika in 2020 getref het.

Semete-Makokotlela , toe 39 en aansienlik jonger as baie van haar voorgangers, moes bontstaan terwyl die relatief obskure openbare liggaam waarvan sy die hoof was so te sê oornag 'n huishoudelike naam  in die middel van 'n politieke maalkolk geword het. 

Minder as 'n jaar ná haar aanstelling het SARS-CoV-2, die vinnig-veranderende virus wat Covid veroorsaak, 'n geweldige geskarrel vir Covid-toetse, inentings en behandelings veroorsaak. Die jong wetenskaplike moes nie net Sahpra se goedkeuringsprosesse van jare na maande verminder nie, maar ook die uitermatige politieke druk hanteer van partye soos die EFF om inentings van lande soos China en Rusland goed te keur. Die EFF het geglo dié lande se produkte word doelbewus oor die hoof gesien in ruil vir entstowwe van Westerse lande. 

Geen medisyne of gesondheidsproduk kan in Suid-Afrika gebruik word sonder dat die vervaardigers daarvan data aan Sahpra gee om na te gaan nie. Sahpra bestudeer dan die inligting om te sien of dit 'n akkurate weerspieëling is van hoe doeltreffend (of nie) die produk is, en of dit veilig is om te gebruik.

In Julie verlede jaar het die EFF-leier, Julius Malema, vir Semete-Makokotlela met “militante massa-optrede" gedreig en dat hy 'n oorslaapaand by haar huis sou reël as Sahpra nie die Russiese en Chinese entstowwe binne sewe dae goedkeur nie.

Maar Semete-Makokotlela het allesbehalwe geknak. “Ek was bekommerd oor die veiligheid van my kinders en man, maar ek was nie bang nie. Ek wou opstaan teen onbehoorlike invloed. Vir my was dit duidelik: Ons gaan besluite neem gegrond op die wetenskap, en geen beweging of politieke party gaan dit verander nie."

Hoewel Sahpra daardie Julie voorwaardelike noodgoedkeuring gegee het vir China se Sinovac-entstof, het dit Rusland se Sputnik V vier maande later afgekeur weens 'n gebrek aan data oor die veiligheid daarvan. 

Semete-Makokotlela se hantering van sake was nie onverwags nie.

“[Met Semete-Makokotlela se aanstelling] het mense gevra: ‘Dink jy nie sy is te jonk nie? Is jy nie bang sy gaan misluk nie?'" vertel haar PhD-toesighouer, Antonel Olckers. (Semete-Makokotlela het in 2005 'n doktorsgraad in biochemie aan die Noordwes-universiteit verwerf.)

Olckers het net haar kop geskud en geantwoord: “Gee die vrou die nodige middele en kom net uit haar pad uit."

Benjamin en Sheila Semete se oudste kind

Semete-Makokotlela is in 1979 in Soweto gebore as die oudste kind van Benjamin en Sheila Semete. Sy begin vertel dit was 'n tipiese opvoeding, maar bedink haarself dan. “Wel, Suid-Afrika is 'n interessante plek. Selfs toe was dit." Haar ouers het geleef en gewerk (en meestal gewerk) met die enkele doel om goeie onderrig vir hulle drie kinders te koop.

“Vir hulle om te kon werk is ek na my tannie in Orlando gestuur, waar ek op die kombuisvloer geslaap het omdat die huis klein en baie vol was. Ek en my niggies en nefies lag die hele tyd daaroor, en ons kán lag, want dit was 'n vreugdevolle tyd."

Die frase “vreugdevolle tyd" gaan gereeld 'n vertelling van minder gelukkige tye vooraf, en in Semete-Makokotlela se geval was die gebeurtenis wat die einde van haar sorgvrye kinderjare beteken het 'n skuif na Zone 2, Diepkloof.

“My ma wou ons na 'n beter skool, 'n Katolieke skool, skuif."

Sy het van die skool gehou – “ek was dol op dít waaroor die nonne gegaan het, die orde en die netheid" – maar nie juis van Diepkloof nie,

“Die gebied was hoofsaaklik Tsonga-sprekend, maar ek het nie Tsonga gepraat nie. En omdat ons in hierdie sedige en netjiese skool was, het die kinders in minderbevoorregte skole ons 'n moeilike tyd gegee."

In reaksie het Semete-Makokotlela binnenshuis gebly en daarvan gedroom om weg te kom.

“Die verwerping van 'n mens se omstandighede kan so 'n sterk dryfveer in die lewe wees, en dit kan positief of negatief wees. Ek dink my eie lewe is grootliks bepaal deur 'n begeerte om te ontsnap," sê sy.

Politieke onrus in die 1980’s het tot herhaaldelike wegbly-protesoptrede gelei en skole toegemaak. Dít het Semete-Makokotlela se ouers gedwing om hulle drie kinders in voorstedelike skole naby Sentraal-Johannesburg te sit. Om met sonsopkoms die huis te verlaat en teen sonsondergang terug te kom het die norm geword, en met haar sportsak en in haar Northview High-skoolbaadjie het Semete-Makokotlela ál meer vervreemd geraak.

“Soweto is 'n baie oop en gemeenskaplike plek, en die ongesproke verwagting is dat 'n mens goed sal sosialiseer, maar ek het nie ingepas nie. Selfs nou, wanneer ek teruggaan, is dit net om te gaan kuier vir my ..."

Haar stem raak weg, totdat sy met die vasbeslotenheid van iemand wat oorweeg het om net niks te sê nie, verklaar: “My pa is gister 'n maand gelede oorlede.

“Hy was 'n goeie man. Mense, veral my ma se vriende, hou aan om dit te sê: dat hy so 'n goeie pa was, 'n goeie eggenoot."

In haar grafrede het Semete-Makokotlela gesê sy is wie se is danksy die opofferings wat haar pa gemaak het.

“Ek het geen herinneringe van vakansies saam met my pa nie, want hy het verkies om te werk. Hy het my PhD-gradeplegtigheid gemis. Ek was verpletter. Beteken werk dan vir jou so baie dat jy nie net vandag kan kom nie? Maar dis die man wat hy was; so baie groot oomblikke waartoe hy finansieel bygedra het, maar nooit bygewoon het nie. Dit het 'n leemte geskep, maar jy kom daaroor, want jy besef dis hoe hy liefde gee."

’n Vrou met ‘ongeëwenaarde fokus’

Dis by haar pa wat Semete-Makokotlela die werk-etiek geleer het wat haar so goed laat vaar het aan die Universiteit van Pretoria. Die instelling het haar aansoek aanvaar om biomediese tegnologie te studeer, 'n keuse wat geïnspireer is deur “die mees fantastiese standerd 8-biologie-onderwyser" wat haar aan genetika bekendgestel het. 

Vir die “meisie van Soweto”, soos sy haarself beskryf, het Tukkies vryheid beteken – maar 'n amper rampspoedige dosis daarvan.

“Ek was mal oor die diversiteit van die plek en die feit dat ek reg langs die meisies van (die invloedryke) St. Mary's was wat ek so van 'n afstand op hoërskool bewonder het. Maar ek het ook daarvan gehou om partytjie te hou in Hatfield en het die eerste semester gepluk."

Sy het gevrees oor wat haar ouers sou sê en het 'n ommekeer gemaak.

“Ek was soos, dis dit, ek gaan struktuur skep en ek gaan leer om myself te beheer. En ek het."

Onder diegene wat haar ken, is Semete-Makokotlela se fokus legendaries. “Ongeëwenaar" is hoe Olckers dit beskryf. Met die noem van haar studieleier vir haar meesters- en doktorsgrade grinnik Semete-Makokotlela.  

“Whoo, daai vrou! Sy het ons laat werk, nè. As jy 'n hoofstuk van jou tesis ingehandig het, het jy net geweet dit gaan terugkom met rooi merke oral. Dis hoekom ek nou 'n blou pen gebruik om studente se werk te evalueer."

As dit haar pa se voorbeeld was wat haar harde werk geleer het, was dit in Olckers se laboratorium wat sy onbuigsame standaarde geleer het. 

“Ons sou soms in die laboratorium slaap, in die oggend huis toe jaag om te stort en dan terugkom – enigiets om Antonel nie teleur te stel nie. Sy was baie ferm, maar ons het geweet dit was goed bedoel. Sy wou werklik hê ons moet almal suksesvol wees. En ons was."

Olckers het 'n foto van Semete-Makokotlela se gradeplegtigheid saam met haar medestudente Marco Alessandrini, nou die hoof- tegniese beampte van 'n biowetenskaplike maatskappy in Switserland, en Wayne Towers, nou 'n professor aan die hoof van die etiekkomitee aan die Noordwes-Universiteit. 

“Hulle was 'n uitsonderlike klas, noudat ek daaraan dink," sê Olckers, wat drie dinge van haar studente verg – dat hulle 'n tesis skryf, by 'n konferensie aanbied, en indien moontlik oorsee werk “omdat 'n doktoraat nie 'n Nobelprys is nie, dit nie vir die res van jou lewe gaan hou nie. As 'n wetenskaplike moet jy internasionaal meeding, dis nie genoeg om die beste in Suid-Afrika te wees nie."

‘Net ’n paar het wat dit verg om leiers te wees’

Nadat sy haar doktorsgraad in biochemie verwerf het, het Semete-Makokotlela as navorser by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) begin werk en toe as  navorsingsgenoot by die Switserse Federale Instituut vir Tegnologie in Lausanne.  

“Man, dit het my selfvertroue 'n geweldige hupstoot gegee om te besef ons is op gelyke voet in Suid-Afrika. Die toerusting was dieselfde, hulle het net meer daarvan gehad, en vanuit 'n kennisperspektief het ek gevind ek weet dieselfde goed en sommige dinge het ek beter geken."

Die soms teruggetrokke wetenskaplike het haar eie land se warmte begin waardeer.

“Switserland, met al sy goeie punte, is 'n baie eensame plek – mense hou hulle eenkant. Ek het dit gemis om in 'n taxi te wees met mense wat net praat." 

Semete-Makokotlela het in 2011 na Suid-Afrika teruggekeer. In haar agterkop was 'n gedagte wat Olckers oor en oor herhaal het: Die meeste studente sal altyd volgelinge wees, net 'n paar het wat dit verg om leiers te wees. 

“Ek het nooit gevoel ek is 'n gebore leier nie," sê sy en verduidelik dat haar selfvertroue in dié opsig maar geleidelik en in die werk gegroei het.

“Ek is 'n introspektiewe mens. Soos wat ek ondervinding opgedoen het, het ek besef ek dra 'n paar dinge by tot 'n organisasie, soos 'n vermoë om duidelik te sê wat ek op daardie oomblik gedoen wil hê, en om dan op te volg en dinge gedoen te kry."

Twee jaar as McKinsey se leierskapsgenoot het Semete-Makokotlela blootgestel aan die wêreld van bestuurskonsultasie, waar sy eerstehands gesien het hoe biotegniese ondernemings werk. Dít, saam met haar ondervinding as navorser, het haar onder die aandag van McLean Sibanda gebring. Hy het haar gewerf om aan die hoof te wees van 'n biotegnologie-broeikas binne 'n projek van die Gautengse provinsiale departement genaamd The Innovation Hub. Hier het sy klein en mediumgroot ondernemings gehelp om hulle idees vir biotegniese  vernuwing kommersieel lewensvatbaar te maak. 

Sibanda sê Semete-Makokotlela was “ontvanklik om te leer, 'n uitstekende luisteraar, maar ook iemand met sterk menings – alles goeie eienskappe vir enige leier in 'n vinnig veranderende bedryf." Hy was nie verbaas om te hoor dat die WNNR ná twee jaar vir Semete-Makokotlela wou terug hê nie, dié slag in 'n uitvoerende rol as die hoof van die biowetenskapdepartement. In baie opsigte was dit 'n voorspel tot die mikroskoop waaronder Semete-Makokotlela by Sahpra ondersoek sou word. 

Toe sy by 'n aptekersvriend van die Sahpra-geleentheid hoor, was sy aanvanklik skepties.

“Ek het myself nog nooit in 'n regulatoriese rol gesien nie, maar hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het ek besef ek verstaan iets van die rol en die werkinge van die nasionale gesondheidsprodukte-reguleerder, en dat ek omgee dat dit behoorlik werk."

Sy het aansoek gedoen vir die werk. “Ek weet ek is iemand wat dinge gedoen kry; ten minste kan ek 'n geringe verskil maak."

Volgens Helen Rees, voorsitter van die Sahpra-raad, is Semete-Makokotlela aangestel hoofsaaklik omdat sy haar visie van wat sy wou doen “so duidelik en sterk uitgestippel" het.

Semete-Makokotlela het geweet sy moes “vir myself 'n goeie span kry" – en sy het. Maar, sê sy, “hulle het waarskynlik nie baie van my gehou in die eerste twee jaar nie. Ek meen ons het nie geslaap nie, ons het naweke gewerk, ons het snags gewerk."

En dis daardie soort van vasberadenheid, sê Rees, wat Semete-Makokotlela gebruik om haar deur moeilike tye te kry.

“Jy weet dit dalk nie, maar sy is 'n ernstige driekampatleet – haar man is ook. Wanneer sy by die huis kom, sit sy nie op die bank nie, sy praat met jou op haar fiets. As haar foon af is, is dit omdat sy in een of ander dam aan die swem is." 

Bykomende beriggewing deur Mia Malan.

Hierdie storie is deur die Bhekisisa Centre for Health Journalism gedoen. Teken hier in vir hulle  nuusbrief.​

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.