Hell Pottinger: die heks van spin is terug

Onkruid vergaan nie

Hell Pottinger: die heks van spin is terug

Victoria Geoghegan, die voormalige Bell Pottinger-baasbrein, is terug op die toneel met 'n nuwe – en ewe aanstootlike – baas. CHRIS VICK waarsku: Suid-Afrikaners moet wakker slaap.


DAAR was meer as net ’n paar verbaasde gesigte toe dit aan die lig kom dat Victoria Geoghegan weer in die wêreld van openbare betrekkinge  opgeduik het.
Sy wás immers die dryfkrag agter Bell Pottinger se berugte haatveldtogte in Suid-Afrika in 2017, toe Gupta-agente ’n stryd gevoer het teen die waarheid – asook enigiemand wat ’n teenstander van Jacob Zuma was – sonder om hulle enigsins oor die gevolge te bekommer.
Ná ’n verwoede teenveldtog deur die Save South Africa-veldtog, die DA en selfs AfriForum, gevolg deur strafstappe deur die Britse owerheid vir  openbare betrekkinge (ja, hulle het so iets) was Bell Pottinger in sy maai – en skynbaar almal wat met dié maatskappy geassosieer was.
Hoewel Bell Pottinger daarmee heen is, is dit nou, twee jaar later, maklik om te verstaan hoekom Geoghegan uit die as herrys het as jy kyk na waar sy weer opgeduik het (en haar eer en goeie naam spoedig herstel is). En só het sy nogal die Carl Niehaus van haatveldtogte in die konteks van internasionale openbare betrekkinge geword.
Dis waar wat hulle sê: Onkruid vergaan nie.
Geoghegan werk nou vir Thoburns, ’n internasionale maatskappy in Brittanje wat in “reputasiebestuur” spesialiseer. Een van haar medewerkers is nóg ’n voormalige Bell Pottinger-kollega, Nick Lambert, wat hom in Oktober 2017 by Thoburns aangesluit het. Lambert het ook met die Gupta-rekening gewerk.
Die beste manier om insig te kry in Thoburns – onder wie se kliënte al HSBC, Citibank, Banco Santander en die Russiese goudmynmaatskappy Petropavlovsk was – is waarskynlik om hul eienaar, Richard Thoburn, te probeer verstaan. Sy publieke persona wissel klaarblyklik tussen eienaardig eksentriek en heeltemal aanstootlik.
Hy het byvoorbeeld al twee boekies gepubliseer: The 60 Most Appalling Lefties en An A to Z of Why Lefties Are Bastards, met ’n voorbladfoto van Tony Blair wat ’n baba langs ’n stootwaentjie vashou.
Die boekies is deur Thoburns se eie uitgewersmaatskappy, Appalling Lefty Publishing, uitgegee om “terug te kap na politici, aandagsoekers en regulasiebeheptes wat ellende saai waar hulle ook al gaan,” luidens ’n berig in die Britse koerant The Telegraph.
Volgens Thoburn “dink lefties hulle weet als”. “Hulle meng in. Hulle laat ons in rompslomp verstrengel raak. Hulle vat ons geld deur belasting. Linkses is neerbuigend. Hulle wil ons beskerm wanneer mense van óns ’n grap maak," het hy, na berig word, gesê.
“Hul leidingsbeginsels is: As dit roer, hef belasting daarop. As dit steeds roer, reguleer dit. As dit ophou beweeg, nasionaliseer dit.”
Thoburn het selfs twee webwerwe begin – MostAppallingLefties.com en TopLeftyBaiters.com – waarop mense kon stem vir “wie die malste linkse is” en “wie die grootste las onder die sosialiste is”. Hy het later selfs ’n “Champagne without The Socialists”-dinee gehou om “pryse aan lefties en lefty-uittarters toe te ken”.
Dit klink alles na onskuldige, selfs kinderagtige pret, of hoe?
Dit raak egter ernstig wanneer jy kyk na die werk wat Thoburn as deel van ’n “dinkskrum” genaamd Policy Defusion gedoen het. Hy het dit in 2010 saam met drie ander sakemanne begin om die Liberaal-Demokratiese Party te probeer ondermyn en só te keer dat hulle die Konserwatiewe Party se stemme werf.
Voorbeelde van hul werk kan hiér gesien word.
Thoburns self bestaan al jare. Die maatskappy is in 1986 gestig en volgens die maatskappy se webwerf het hulle aanvanklik daarop gefokus om “finansiële instellings in die Midde-Ooste te help om hulle profiel in die internasionale finansiële gemeenskap te verbeter deur kreatiewe reklame, media-aankope en openbare betrekkinge wat geleenthede soos vergaderings van die IMF/Wêreldbank en Davos bevorder.”
 As jy dus deel is van wêreldkapitalisme (nie wit monopolie-kapitalisme nie), is Thoburns jou vriend.
Honde
Die stigter, Richard Thoburn, het ’n besondere voorliefde daarvoor “om honde van Roemenië te red”, soos wat sy maatskappy se webwerf dit beskryf.
Dis reg. Roemeense honde.
Dié passie het hom só aangevuur dat hy in 2013 advertensies aanlyn geplaas het wat Britse werkgewers aanmoedig om nie Roemene in diens te neem nie.  Hulle land van herkoms is as “die mees vervalle land op aarde" beskryf.
Dit was nie al nie: Die advertensie het mense afgeraai om in Roemenië te gaan vakansie hou of Roemeense produkte te koop. Boonop het dit antagonisme teen immigrante aangeblaas deur  die uitlokkende vraag: “Hoe voel jy daaroor om … Roemene in diens te neem wanneer hulle in Brittanje aankom?”
Hy het Borat en die mense van Kazakstan soos dik pelle laat lyk.
Brittanje se gesag vir advertensiestandaarde het die advertensie verbied en gesê dit “sou waarskynlik as xenofobies beskou word en ernstige en omvattende aanstoot gee aan diegene wat dit gesien het”.
Die vlugtelingadviseur
’n Kykie na Thoburns se “leierskap” werp nóg lig op die onderwerp. Die adviserende raad bestaan uit onder andere Roger Bootle, wat beskryf word as “een van die min hoëprofiel-ekonome wat Brexit ondersteun het”, en Reg Valin, wat ’n indrukwekkende skakelmaatskappy-ryk opgebou het toe Margaret Thatcher staatsentiteite geprivatiseer het.
En dan is daar Shaukat Aziz.
As sy naam bekend klink, is dit dalk omdat die Pakistanse regering onlangs ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik het weens 'n aanklag van magsmisbruik toe hy eerste minister was en vir “verliese aan die staatskas”.
Die lasbriewe is uitgereik nadat Shaukat in 2018 “aanhoudend" nie by die hof opgedaag het nie.
Terloops: Shaukat was die eerste minister onder die presidentskap van Pervez Musharraf, wat in 2008 bedank het om vervolging vry te spring. Hy word tans vir verraad verhoor.
Kan jy sien wat hier aangaan?
As jy steeds oor Thoburn se korporatiewe kultuur twyfel, hou hierdie brokkie in gedagte in die Suid-Afrikaanse aanlyn nuusblad Business Insider se berig verlede week oor Geoghegan se terugkeer: In 2016 het Thoburn gespog oor sy vermoë om regerings, joernaliste en andere te “beïnvloed” deur ’n foto te plaas van Donald Trump, toe pas aangewys as Amerikaanse president, en die regse Britse politikus Nigel Farage.  Die opskrif was: “Influence. Creativity. Relationships.”
’n Bell Pottinger-herlewing?
So wat is die kans dat Bell Pottinger se gemene streke weer sal kop uitsteek? Veral met die kombinasie van Geoghegan en Lambert by Thoburns, en die maatskappy se openlike najaging van “invloed, kreatiwiteit en verhoudinge"?
Een werklikheid is dat daar party mense is – ek inkluis – wat glo dat die wortels van Bell Pottinger se projek nog nie in Suid-Afrika uitgeroei is nie. As iemand wat al twee dekades in openbare betrekkinge werk en beleef het hoe buitelandse firmas sukkel om die Suid-Afrikaanse dinamiek te verstaan, kan ek om die dood nie insien hoe Bell Pottinger destyds sonder Suid-Afrikaanse ondersteuning kon funksioneer nie. En as iemand ’n dik genoeg tjekboek in hul gesig sou waai, sou hulle waarskynlik vinnig weer aan die werk spring.
Nog ’n werklikheid is dat Duduzane Zuma die een is wat Bell Pottinger destyds op eie bodem verwelkom het. En as daar enigiemand is wat nóú ’n bietjie positiewe mediadekking nodig het, is dit hy. Van hofsake tot die Zondo-kommissie – daar’s geen manier hoe hy openbare platforms en die hof van openbare mening kan vermy nie.
’n Derde werklikheid, en die kommerwekkendste van die lot, is dat die Zuma-projek – wat met sy  mantra van “radikale ekonomiese transformasie” steeds weergalm in sommige ANC-takke en selfs in Luthuli-huis – steeds bestaan. Dit het dalk nie meer Gupta-geld om mee te speel nie (of dalk het dit), maar dit het sonder twyfel steeds toegang tot vuil geld, en hulle besef beslis die waarde van sosiale media (vra maar vir @PresJGZuma, selfs as is hy nie meer “pres” nie).
Wat staan Suid-Afrikaners dus te doen?
Ons moet eenvoudig op ons hoede wees. En glo dat wanneer iets soos ’n sameswering voel, dit dikwels een is.
 Dit was juis gemeenskapsbewustheid en mobilisering wat Bell Pottinger se haatprojek in 2017 gekortwiek het en ’n maatskappy gekelder het wat die hele wêreld ’n rat voor die oë wou draai. Ons het ’n besonderse oorwinning behaal deur ’n kombinasie van formele en informele protes, saam met goeie ondersoekwerk deur joernaliste en aanlyn aktiviste.
Ons behoort dus vir Victoria te laat weet dat ons haar dophou. En die oomblik dat ons die geringste teken van haar, haar agentskap of haar trawante in Suid-Afrika bespeur, sal ons die spreekwoordelike fluitjie blaas.
Luid en aanhoudend.
Maar probeer om liefs nie ’n Roemeense hondefluitjie te gebruik nie …

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.