Oor Pik Botha se spin, Filistyne en ‘toordokters’

Die ware verhaal oor PW en die Rubicon ontbloot

Oor Pik Botha se spin, Filistyne en ‘toordokters’

FANIE CLOETE se speurwerk en ontdekking van oorspronklike dokumente oor die aanloop tot PW Botha se Rubicon-toespraak draai die propaganda daaroor op sy kop.


Augustus 1985 was ’n keerpunt in die Suid-Afrikaanse politiek.
Die regering van staatspresident PW Botha was onder sterk druk van die Britse premier, Margaret Thatcher, die Amerikaanse president, Ronald Reagan, en die Wes-Duitse kanselier, Helmut Kohl, om Nelson Mandela vry te laat, met die ANC te begin onderhandel en apartheid van die wetboek te skrap.
Binnelands het die weerstand teen apartheid ál beter georganiseer en militant begin raak, terwyl ekonomiese sanksies erg gebyt het. Vroeg in Augustus het die minister van buitelandse sake, Pik Botha, en sy span begin vertel PW sou binnekort ’n gans nuwe bedeling aankondig en die eerste tree op pad na ’n demokrasie in ’n eenheidstaat gee.
Die wêreld het met groot optimisme asem opgehou vir PW se toespraak op 15 Augustus by die Natalse kongres van die Nasionale Party – die Rubicon-toespraak.
Daar is tot nou algemeen aanvaar dat ’n weerbarstige PW die toespraak wat die nuwe rigting sou aankondig, selfs swart lede van die kabinet, op die laaste oomblik eenkant gesmyt en toe sy eie gelewer het wat meer dreig en blaas en vingerswaai as hervorming was.
Maar PW was nooit van plan om die Rubicon oor te steek nie, het Fanie Cloete se navorsing bevind. Dit lyk nou asof Pik se propaganda óf wensdenkery was, óf ’n poging om PW onder druk te plaas. Nou weet ons. Hier is Fanie se relaas.
OP 15 Augustus 1985 het PW Botha, destydse president van Suid-Afrika, seker een van die mees verreikende toesprake in die land se geskiedenis in Durban gehou.
Die toespraak was veronderstel om die politieke en militêre dooiepunt wat in daardie stadium tussen die apartheidsregering en die verbanne ANC bestaan het te verbreek deur nuwe beleidsrigtings aan te kondig wat potensieel tot die einde van die politieke konflik in die land sou kon lei.
Dit het egter nie gebeur nie.
Die toespraak was ’n totale fiasko, binnelands sowel as buitelands. Die verwagting wat in die aanloop tot PW se Rubicon-toespraak in die openbare media geskep is, was dat hy toe al minstens die beginsel van politieke magsdeling tussen al die rassegroepe in die land, asook die vrylating van Nelson Mandela, sou aankondig.
Hierdie verwikkelinge is uiteindelik eers byna vyf jaar later verwesenlik toe sy opvolger, FW de Klerk, op 2 Februarie 1990 die begin van die einde van apartheid aangekondig het.
Dis ingelui deur die ontbanning van die ANC en ander vryheidsbewegings, en die vrylating van Mandela.
Die verwagtings dat PW dit soveel jare vroeër reeds sou aankondig, blyk nou met die voordeel van terugskouing totaal onrealisties te gewees het. Die redes hiervoor het tot nou toe grootliks op bespiegeling berus.
Die afgelope drie maande het nuwe bewyse egter na vore gekom wat dit nou moontlik maak om grootliks die belangrikste raaisels op te los oor presies wat gebeur het rondom die Rubicon-toespraak en waarom dit gebeur het.
Verskeie noodwendige aannames oor wat moontlik gebeur het, kan nou ook deur harde feite vervang word.
Nuwe dokumente ontdek
Oorspronklike interne dokumentasie oor daardie gebeure is naamlik herontdek. Dit sluit in die oorspronklike tekste van die toespraakinsette deur ministers Chris Heunis en Pik Botha ter voorbereiding van PW se 1985-toespraak by die Natalse Kongres van die Nasionale Party.
Die nuutgevonde dokumentasie behels verder ook oorspronklike korrespondensie tussen Heunis en PW oor die beweerde redes vir die politieke dooiepunt wat in daardie stadium bestaan het oor swart mense se politieke deelname en moontlike oplossings.
 ’n Selfs belangriker vonds was egter die onverwagte ontdekking van ’n verbatim transkripsie van ’n daglange dinkskrumvergadering van die uitgebreide kabinet van PW wat op 2 Augustus 1985 in die Ou Sterrewag in Pretoria gehou is.
Die bestaan van hierdie opspraakwekkende ongeredigeerde dokument is toevallig ontdek nadat dit in ’n obskure, ongetitelde omslag gevind is met ’n handgeskrewe instruksie van PW daarin dat die dokument nie versprei mag word nie. Selfs sy toespraakskrywers en biograaf was onbewus van die bestaan daarvan.
Die vergadering is spesiaal deur PW belê om eenstemmigheid te probeer kry tussen senior leiers van die regerende NP oor watter rigting die party en die regering met swart politieke hervorming moet inslaan.
Die doel van die dinkskrum was dus om die destydse verlammende politieke en militêre dooiepunte te probeer deurbreek tussen die NP-regering en sy swart politieke opponente in die land wat toe steeds van enige substantiewe politieke regte uitgesluit was.
Dit was ’n poging deur PW om die ernstige verdeeldheid op daardie tydstip in regeringsgeledere oor ’n politieke oplossing vir swart mense in Suid-Afrika te probeer besweer deur konsensus te soek oor wat om te doen. Hierdie gesprek het direk aanleiding gegee tot die Rubicon-toespraak twee weke daarna.
In die transkripsie stel elke minister eenmalig sy gemotiveerde standpunt oor die verskillende opsies wat hulle meen oorweeg behoort te word om die nodige politieke deurbraak te maak om swart politieke leiers se samewerking vir verdere politieke hervorming te probeer kry.
Hierdie belangwekkende dokumente bevestig onder meer verskeie nuwe gevolgtrekkings oor hierdie strategies belangrike gebeurtenis in Suid-Afrika se geskiedenis.
Die verrigtinge het begin met ’n voordrag deur dr. Jonas Savimbi, leier van die Angolese weerstandsbeweging Unita, waarna hy die groep verlaat het.
Daarna was daar ’n losse, formalistiese standpuntstelling in die vorm van ’n politieke inkopie-wenslys, eers deur PW en daarna deur die een minister ná die ander.
Dit het in tipiese PW-kabinetsbesprekingstyl geskied in streng volgorde van senioriteit in die kabinet. Daar was geen werklike debattering van standpunte nie.
PW het van die begin af die gesprek in ’n bepaalde rigting gestuur. Hy het as inleiding tot die verrigtinge eksplisiet gesê: “... ek is nie ten gunste van ’n uniale staat of van wat ons gewoonlik verstaan van ’n federasie nie ... ek is nie ten gunste van ’n vierde kamer nie.” Verder: “... magsdeling met kleurlinge en Indiërs (is) anders as magsdeling met swart volkere en swart kultuurgroepe ... daarom het ek van die begin af gepleit vir ’n konfederasie.”
‘Die Filistyne is op ons’ 
Hy het die belangrikheid van eie sake vir alle bevolkingsgroepe beklemtoon. Hy het vervolg: “... vir ons om te verwag dat die nasionale state sal ophou om te bestaan, ... dat die onafhanklike state hulle onafhanklikheid sal prysgee, kan ons vergeet ... hierdie strukture ... gaan nie deur ons afgetakel word nie. Ons sal die beste moet doen om hulle te bevorder ... Ons gaan ’n beslissende tydperk tegemoet. In die Bybelse woorde: ‘Die Filistyne is op ons.’ ”
In die geval van swart gemeenskappe buite die selfregerende en onafhanklike state sou hulle eie sakebeheer veral op swart plaaslike regeringsvlak wees wat op ’n manier aan daardie state gekoppel moes wees.
Wat verkose plaaslike regering vir swart mense betref, het hy egter selfs eksplisiet gevra: “Dring ons nie ’n vorm van plaaslike bestuur aan hom op waarvoor hy nie gemaak is nie?” Die implikasie hier was dat swart tradisonele leierstrukture, wat nie op demokratiese verkiesings berus nie, moontlik die grondslag van swart plaaslike regerings moes wees.
Hy beweer verder die “... meeste swart gemeenskappe is verbonde aan toordokters”. Hy haal een sangoma aan wat verduidelik dat “... one-man-one-vote is one of the biggest delusions in the world. It does not exist, has never existed and will never exist. Every country in Africa, since independence, has always become a one-party state with hundreds of intimidated people becoming just voting cattle ...” PW vra dan: “Het ons dit al (die invloed van die sangomas) ge-eksploreer en ge-eksploiteer om vrede te kry?”
PW het die buiteland verder beskou as “oningelig, onbillik en ... dwaas ... Die Here alleen weet hoe gaan ons in hierdie wêreld leef ... Ons sal ons weermag en ons polisie so sterk as moontlik moet maak, want uiteindelik as hulle ons wil onderdruk, sal ons moet veg soos ’n selfrespekterende nasie doen”.
Teen hierdie agtergrond, en waarskynlik welwetende hoe kort PW se humeur is, het geen minister ’n strydige standpunt geopper nie.
Finale wit beheer
Min van die sprekers het enige aanduiding gegee dat hulle in daardie stadium bereid was om finale wit beheer oor die land prys te gee. Inteendeel, ernstige pleidooie is deur sowel meer konserwatiewe as meer progressiewe ministers gelewer vir die beskerming van “beskaafde Westerse waardes” deur die behoud van finale wit beheer in Suid-Afrika.
Dit het retoriese vrae ingesluit soos of dit moontlik is om swart mense polities te akkommodeer sodat beskaafde wit beheer behoue bly. Ook dat geen vorm van staatkundige hervorming aanvaarbaar sal wees as dit Christelike en Westerse waardes en standaarde bedreig nie.
Daarom kan ’n mens nie wit eindkontrole prysgee nie. Tog het enkele sprekers dit gewaag om te beweer dat swart mense nie met so ’n situasie tevrede sou wees nie.
Met die uitsondering van Heunis en De Klerk, wat duidelik die beste insig geopenbaar het oor die verreikende implikasies wat toekomstige staatkundige verandering sou noodsaak, het ander sprekers soms baie inkonsekwente standpunte ingeneem.
Kabinetslede het wyd uiteenlopende idees gehad oor wat gedoen kon en moes word. Die vergadering het uiteindelik geen eenstemmigheid bereik oor wat hulle wou doen nie.
PW het ook nie teen die einde sy opsomming van die verrigtinge gegee en hoe hy die grootste gemene delers in die gesprek vertolk soos gewoonlik in kabinetsvergaderings gebeur nie.
Hy het dit aan Heunis oorgelaat, wat in sy repliek die belangrikheid van beperkte magsdeling op uitvoerende vlak in ’n raad van kabinette beklemtoon het.
Hy het egter nie die dilemma aangeraak van direkte swart deelname op wetgewende vlak slegs in plaaslike regering buite die swart state, en nie op provinsiale en nasionale vlakke nie.
Geen verwysing na Mandela
Strydig met die verwagtinge wat in die media geskep is dat Mandela moontlik vrygelaat sou word, is daar verder geen verwysing na Mandela in die 133 bladsye transkripsie van die Sterrewag-verrigtinge nie.
Die kabinet was by hierdie geleentheid dus heeltemal onvoorbereid op die uiters belangrike standpuntstelling wat PW daarna self persoonlik laat voorberei het vir sy Rubicon-toespraak. Sy behoudende en aggressiewe gemoed tydens die Sterrewag-gesprek is duidelik in die finale teks van sy toespraak weerspieël.
In die week voor die lewering van die toespraak het Pik Botha, die minister van buitelandse sake, redelik geesdriftige verwagtings by diplomatieke sendings in die buiteland geskep oor die moontlike aankondiging van magsdeling met swart Suid-Afrikaners en die vrylating van Mandela.
Dit was gegrond op ’n ooridealistiese aanname dat Heunis se meer verligte voorstelle tydens sy inleiding tot die verrigtinge wel deur die groep en deur PW aanvaar is.
Ná sy aanvanklike toonsettende inleiding het PW het egter geen mening gelug oor die besonderhede van hierdie voorstelle en die wisselende grade van aanvaarding daarvan deur die ander ministers nie. Dit is baie betekenisvol.
Die buitelandse inligtingsessies het verder gebeur terwyl PW nog besig was om self sy toespraak te laat finaliseer.
Sy handgeskrewe notas waarop sy inleiding tot die Sterrewag-dinkskrum gegrond was, en wat die basis van sy toespraak uitgemaak het, is ook in dieselfde omslag as die transkripsie van die verrigtinge gevind.
Pik se bespiegeling oor Mandela se vrylating was ook totaal ongegrond, soos blyk uit daardie transkripsie.
Daar was dus geen eerste (nie-gelewerde) en tweede (gelewerde) Rubicon-toesprake deur PW Botha in 1985 soos wyd aangeneem en beweer is nie. In die lig van hierdie transkripsie is dit twyfelagtig of die buitelandse en binnelandse media lekkasies en bespiegelings oor wat PW na bewering sou sê, hom laat afwyk het van die inhoud van die toespraak wat hy besig was om te skryf.
PW was duidelik van die begin af nooit van plan om meer aan te kondig as wat hy uiteindelik gedoen het nie, soos die aanhalings hier bo illustreer. Die lekkasies en bespiegelings het waarskynlik net die toon van sy oordrag meer negatief beïnvloed.
PW het die dag voor die toespraak die volledige teks wat hy uiteindelik gelewer het woordeliks aan sy kabinet voorgelees, en het geen openlike teenstand van die aanwesiges gekry vir sy finale bewoording nie. Dit was nie vreemd nie, sy legendariese intimiderende interaksie met sy kollegas in ag genome.
Rubicon-ramp onvermydelik
PW en Suid-Afrika se Rubicon-ramp van 1985 was dus onvermydelik. Die regering van die dag was nie op daardie tydstip gereed om sekere waterskeidingsbesluite te neem wat almal erken het geneem moes word nie.
PW het uiteindelik in sy toesprake gedurende die daaropvolgende NP-kongresse laat daardie jaar in die Kaap, Vrystaat en Transvaal feitlik al Heunis se voorstelle vir ’n nuwe staatkundige struktuur aanvaar wat beperkte uitvoerende magsdeling met swart Suid-Afrikaanse burgers op nasionale vlak ingehou het.
Dit het egter geen deelname van swart burgers aan provinsiale en nasionale wetgewende strukture buite die selfregerende en onafhanklike state ingehou nie, en ook nie die verbanne politieke bewegings polities gerehabiliteer nie. Dit was dus waarskynlik in daardie stadium tot mislukking gedoem.
FW het, met die instemming van sy kabinet, hierdie knoop eers in 1990 deurgehaak.
Die aanloop tot die Rubicon-toespraak in 1985 het dus ’n betekenisvolle negatiewe impak op die vertraging van die uiteindelike politieke skikking gehad.
Eers vyf jaar later het die NP onder intense toenemende druk die rasionaal vir sy bestaan prysgegee toe FW die swart bevrydingsorganisasies ontban en onderhandelinge oor ’n nuwe inklusiewe politieke bedeling aanvaar het.
Dit was ’n formele erkenning dat dit nie meer moontlik is om finale wit eindbeheer verder te probeer behou nie.
Die nuwe feite rondom Rubicon bied dus beter verklarings vir baie van die gebeure van daardie tyd en vir baie van die resultate en gevolge van daardie oorgangsproses.
Dit illustreer verder die deurmekaar proses van politieke transformasie in Suid-Afrika wat onbedoelde gevolge gehad het en nie volledig beheer kon word soos die NP in gedagte gehad het nie. Dit hou belangrike lesse in vir transformasie in die Suid-Afrika van vandag.
Hierdie en ander nuwe bevindings oor dié strategies belangrike tydperk in die land se geskiedenis word in nader besonderhede behandel in my finale navorsingsmanuskrip wat tans voorberei word.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.