Nou’s dit oorlog in die ANC

Maak vas die sitplekgordels

Nou’s dit oorlog in die ANC

Met net 25 dae oor voor die algemene verkiesing van 8 Mei lyk die ANC meer verskeurd as ooit tevore soos die faksiegevegte in die openbaar na die oppervlak borrel. Die kanse dat die party met die volgende verkiesing nog in een stuk gaan wees, raak al skraler, skryf MAX DU PREEZ.


DIT lyk asof die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, nou só kwaai onder druk is dat hy openlik 'n guerrilla-oorlog teen president Cyril Ramaphosa verklaar het. Wil hy soos Simson van ouds uit desperaatheid die pilare om hom plattrek?
Die skerp verdeeldheid tussen die Ramaphosa-ANC en die terugvegbende van die Zuma-era het dié week onder meer rondom Gangster State, Pieter-Louis Myburgh se onthullende boek oor Magashule, gemanifesteer. Luthulihuis het eerste gereageer en in 'n woedende verklaring gesê die boek is deel van 'n goed-beplande “stratcom-veldtog” van karaktermoord teen Magashule. Lede van die Ramaphosa-faksie het teen die bewoording van die verklaring beswaar gemaak en beweer dit was deur Magashule self opgestel. Hulle het gesê die verklaring suggereer dat die aanslag op Magashule van binne die ANC kom.
Dinsdagaand het 'n klomp ANC-lede die bekendstelling van Myburgh se boek in 'n boekwinkel in Johannesburg gewelddadig ontwrig en die winkel gevandaliseer. Die ANC se Jeugliga in die Vrystaat, Magashule se tuisprovinsie, het verklaar hulle gaan stapels van die boek by 'n seremonie verbrand. Mense binne die ANC wat jare lank Magashule se styl dophou, glo daar kan hoegenaamd geen twyfel wees nie dat dié optredes vooraf deur Magashule goedgekeur, indien nie geïnisieër is nie.
Dié keer was dit nie Luthulihuis nie, maar NUK-lid en uitgaande hoofsweep van die ANC in die parlement en Ramaphosa-lojalis, Jackson Mthembu, wat eerste skerp gereageer het. Hy het die boekwinkel-geweldenaars “boewe” genoem en gesê hy sal sorg dat hulle geïdentifiseer en gedissiplineer word. Vise-president David Mabuza het ook sterk teen die optrede beswaar gemaak.
Woensdag het die Congress of Students (Cosas) in die Wes-Kaap uit die bloute met 'n verklaring gekom wat eis dat die ANC vóór die verkiesing 'n vergadering van sy nasionale algemene raad (national general council of NGC) hou “anders gaan ons hiënas tot magsposisies verkies wat die revolusie aan die hoogste bieër gaan verkoop”.
Daar word al baie maande lank in die rookgevulde kamers waar Ramaphosa se vyande konkel, van só 'n vergadering van die NGC gepraat. Die idee is dat ‘n mosie van wantroue in hom daar aanvaar word en dat hy dan verplig sal wees om te bedank. Maar dit is die heel eerste keer dat dié moontlikheid in die openbaar deur ‘n ANC-struktuur genoem word. Die kanse dat die jongeliede van Cosas sonder enige aanstigting van ander in die geledere van Ramaphosa se vyande dié stelling gemaak het, is erg skraal.
Woensdag het Magashule in 'n koerantonderhoud die suggestie dat hy van binne die ANC aangeval word, herhaal en gesê daar is 'n “intensiewe poging om die sekretaris-generaal te ondermyn en leed aan te doen”.
Hy het gesê sy adjunk, Jesse Duarte, se sosiale media is as deel van dié veldtog ingedring en twee van sy kantoorpersoneel is vergiftig. “Dit is nie toeval nie, veral met al die leuens wat nou oor my in die media versprei word. Daar is ‘n masjien wat teen ons ingespan word.”
Kort ná Myburgh se boek uitgekom het, het 'n gewese lid van die uitvoerende komitee van Magashule se administrasie in die Vrystaat, Mxolisi Dukwana, voor regter Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat die Gupta-broers in Magashule se teenwoordigheid hom groot bedrae omkoopgeld aangebied het. Dukwana se verskyning voor die kommissie is geskeduleer lank voordat dit bekend geword het dat die Myburgh-boek dan op die rakke sou wees.
Die Magashule-faksie het die stryd om die kandidatelys vir die verkiesing finaal gewen nadat niemand ná 'n verdere ondersoek gevra is om van die lys te onttrek nie. Maar die bekgevegte daaroor is hewig. Twee struggle-helde en ANC-veterane, Cheryl Carolus en Barbara Hogan, het die samestelling van die lys gekritiseer en na “tsotsi’s” daarop verwys. Die ANC se vroueliga, wat onder Bathabile Dlamini stewig in die terugveg-kamp is, het dié twee toe daarvan beskuldig dat hulle “laag gedaal en in verdelende teen-revolusionêre elemente ontaard het”.
Maar nie alles loop volgens plan vir Magashule nie. Hy het sterk teenstand van binne die ANC se magtige nasionale uitvoerende komitee gekry. Hulle het Luthulihuis se aanvanklike verklaring oor die Myburgh-boek gekritiseer en hom aangesê om sy eie gevegte te veg. Dit was ook onder dié druk dat die Vrystaatse Jeugliga hul boekbrand-planne moes laat vaar en dat Magashule self in 'n verklaring moes sê dié soort gewelddadige optredes geskied nie in sy naam nie.
Magashule se probleem is dat die getuienis van sy korrupsie, magsmisbruik en wanbestuur nou tot só 'n mate aan die opstapel is dat niemand meer kan wegkyk nie, en hy dus binne sy eie faksie geïsoleer begin word.
Elke dag bring nuwe skandes voor die Zondo-kommissie, en omtrent al die geïmpliseerdes is voorbokke van die ou Zuma-faksie. Die gewese hoof van die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat, Robert McBride, het juis gister met sy maraton-voorlegging begin en hy gaan oor die volgende week heelwat bomme laat ontplof.
Ramaphosa se probleem is dat die openlike oorlog in die ANC nie sy party se kanse in volgende maand se verkiesing verbeter nie, en sy eie magsposisie hang nogal af van hoe sterk die party vaar.
Boonop het 'n vlaag van plaaslike opstand dié week landwyd uitgebreek, in byna alle gevalle gepaardgaande met geweld: Soshanguve en Hammanskraal, Orange Farm, Alexandra, Kroonstad, Vanderbijlpark, Nelson Mandelabaai en Somerset-Wes.
Daar lê drie rowwe weke vir Ramaphosa - en vir die res van Suid-Afrika – voor.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.