‘As Cyril nie nou do or die nie, is hy gone’

Waar is die leiers?

‘As Cyril nie nou do or die nie, is hy gone’

Dis do or die-tyd vir Cyril Ramaphosa, sê Franklin Sonn. Tyd dat hy “iets Madibas” doen, of miskien moet hy maar sneuwel. MAX DU PREEZ het by dié voormalige ambassadeur, sakeleier, skoolhoof en rektor by sy huis in Kaapstad se noordelike voorstede gaan koffie drink.


OP 79 is Franklin Sonn amper net so kersregop en die vonkel in sy oog nog net soos toe ek en hy in 1987 in Wes-Afrika vriende geword het (ons was lede van Van Zyl Slabbert se Dakar-safari wat met die verbode ANC se leiers gaan gesels het). Hy het sedertdien iets van ’n senior staatsman geword, al het hy nooit ’n politieke posisie beklee nie; hy was ’n vertroueling van Nelson Mandela en nog later invloedryk in die sakewêreld. En alewig tussenganger, boodskapper en raadgewer. Darem nou rustig afgetree en bestee baie tyd by sy huis in die Fancourt-landgoed buite George.
Franklin is diep bekommerd oor die stand van sake in die land, maar kort-kort bestraf hy homself en sê “ons was al hier as ’n nasie”, en “ons het al uit dieper gate geklim, dis wat ons spesiaal maak. Suid-Afrika het  ’n ongewone vermoë om uit krisisse te kom”. Maar dan kyk hy by die venster uit en voeg by: “Ek weet nie mooi hóé dié keer nie.”
By die sitslag, net nadat Joan, sy elegante vrou van baie jare en ma van sy kinders Crispin en Heather, vir ons koffie bring, spring hy weg: “Kyk, daar is eintlik nie ’n staanplek vir Cyril nie. Hy moet die ekonomie red, hy moet vertroue herstel en hy moet die ANC agter hom kry. Al daai bewegings skreeu teen mekaar. En intussen word daar verwagtinge geskep. Die kultuur van patronaatskap het baie sterk geword.”
Ek en Franklin hou ewe veel van nostalgie en stories uit die verlede. Hy vertel met smaak van die dag met die skolekrisis in 1980 toe hy vir PW Botha in sy kantoor gaan sien het. “Meneer, ek wil vir jou iets sê, maar ek gaan dit liewer nie sê nie,” het hy vir PW gesê. “Die mense sê jy word maklik kwaad as jy iets hoor waarvan jy nie hou nie.”
Nee, sê PW, sê maar jou sê. “Toe sê ek vir hom: Meneer, dis die einde dié. Suid-Afrika gaan nie weer regkom nie. Die kinders lag vir hulle ouers. Ons land het ’n punt oorgesteek.”
Franklin sê dit was vir hom duidelik dat PW geweet het sy mag is gereduseer. PW vra toe wat hy dink gedoen moet word, “en toe sê ek vir hom, wel, ons moet van voor af begin. Skoonmaak en oor begin. Toe vra hy of ek vir Pieter de Lange (toe leier van die Broederbond) sal help om ’n plan op te stel. En ek sê nee, ek is die vyand. Maar toe het ek daarna baie keer met De Lange en met Gerrit Viljoen gepraat.”
Terug by Dakar en die geskiedenis. “Elke keer oor al my jare het ek gesien daar was Suid-Afrikaners wat met die vyand praat. As jy nie met die vyand praat nie, en simpatiek met hom praat nie, word niks opgelos nie. Kyk na Jan Smuts, daar is ’n baie eendimensionele beeld van hom, maar hy het gewéét: Ons kan nie die Engelse wen nie. Genl. Piet de Wet het dit ook vir sy broer Christiaan gesê: Kyk hier, hulle verbrand ons plase, hulle doen met ons vroue net wat hulle wil, ons kinders loop in die veld rond. Ons kan nie hierdie oorlog wen nie.” Franklin kyk my in die oë. “Nou ja, ons is weer daar.”
Die gesprek loop kort-kort terug na Cyril Ramaphosa. “As hy maar net ’n goeie meerderheid steun in die uitvoerende komitee gehad het, sou hy seker meer beweegruimte hê. Maar wie staan langs Cyril?” Pravin Gordhan, sê ek. “Ja, eintlik net Pravin. Die man is so ’n helder denker, ’n held. Maar ek dink hy is moedeloos met sy vennote. Hy het baie druk gevat, en hy’s nie gesond nie.”
Steeds by die president. “Cyril kan ons verbaas deur iets Madibas te doen. Hy moet nou met die punt kom waar hy sê do or die. Hy het destyds vir my gesê hy wil nie president wees nie, maar ek het vir hom gesê hy lieg, hy’s ’n politikus. As hy nie do or die nie, is hy missing. Gone.”
Franklin sê hy onthou hoe PW Botha destyds vir Andries Treurnicht “gebreek” het. “Ons het nou so ’n oomblik nodig.” Hy herinner my daaraan dat ons met ons destydse besoek aan Wes-Afrika twee ander kragdadige leiers ontmoet het, Jerry Rawlings van Ghana en Thomas Sankara van Burkina Faso. “Ons het nou ’n sterk Cyril nodig. Kan jy dink wat is moontlik as hy sy rubberruggraat vir ’n ysterruggraat verruil en sê: Hier is nou my oomblik!”
Franklin sê sy ervaring sê die meeste Suid-Afrikaners wil hê die land moet ’n sukses wees. Maar waar is die leiers? “Daar gaan ’n tipping point kom waar Cyril leierskap sal moet toon. Hy moet ophou campaign en in treine ry en rondstap. Hy moet ’n slag op televisie kom en mense in die oë kyk en sê: This is the game. ’n 1990 De Klerk-oomblik. Daarvoor het jy guts nodig.”
Nou wat moet Cyril sê, vra ek. “Die Grondwet. Hy moet die nasie in die oë kyk en sê: Hier is die Grondwet. Dít is wat die Grondwet wil hê. Ek staan daarby. Niks anders nie.
“As hy niks doen nie en die verkiesing is verby, op watter grond gaan hy staan om sy kabinet te suiwer? Alles gaan ten gronde as daar nie vertroue is nie. Motlanthe sê dit openlik: Daar is nie vertroue in Cyril nie. Maar ná die verkiesing kan dit so ’n shambles wees.”
Crispin, ’n suksesvolle jong entrepreneur en leier in eie reg, sluit by ons aan. Franklin noem hom Kip. Die twee praat met mekaar oor Cyril se besoek aan Alexandra dié week. Crispin sê Cyril het met 14 swart BMWs die township in gery, tussen die mense in wat woedend protesteer oor hulle arm is en nie dienste kry nie. “En daar wen Herman Mashaba sommer die rondte,” sê Franklin.
Crispin praat van Nissan en China se onlangse groot beleggings en wys daarop dat Brasilië se ekonomie veel slegter daaraan toe is. Franklin sê hy het in sy tyd as ambassadeur in Amerika geleer die sakemense soek eintlik net stabiliteit, sterk instellings en beleidsekerheid, dan belê hulle.
Crispin stem saam met sy pa dat dit hoog tyd is dat Cyril ’n sterk posisie inneem. “Ek ken die ou ANC- en UDF-kamerade hier in Kaapstad. Hulle het laas met die plaaslike verkiesing DA gestem omdat die DA beter dienste lewer. Baie van hulle gaan nie op 8 Mei vir die ANC stem nie. Cyril doen niks om hulle terug te lok nie. Die mense wil nou sterk en besliste leierskap sien,” sê hy.
“Ja,” sê Franklin, “maar dis Cyril vir jou. Enigiemand wat hom lank ken, sal vir jou sê hy soek nooit ’n fight nie.”
Crispin glo daar is ’n wesenlike kans dat Cyril binne ’n jaar of twee as leier herroep gaan word as die ANC swak vaar in die verkiesing.
Franklin kyk weer ver by die venster uit na die Tygerbergheuwels. “Wie weet, dalk moet Ramaphosa maar sneuwel voor iets gaan skuif.”
Pa en seun praat oor die swak toestande in die Kaapse townships. Crispin sê die bendes in Manenberg, Bonteheuwel en Philippi-Oos is die grootste werkskeppers. Franklin skud sy kop moedeloos. “Korrupsie is ook ’n groot werkskepper. Ek wonder of dit swart Suid-Afrikaners genoeg kwaad maak.”
Die twee giggel oor Ramaphosa se besoek aan 'n groep wit wynboere en sakemanne in die Boland verlede week. “Dink hy regtig dis waar sy heil lê?” vra Franklin. “En daai manne sê vir hom hy is deur die Skepper gestuur. Hy’s net ’n politikus, man. En jy kan nie vir hom alleen stem nie, jou kruisie is ook ’n kruisie vir Ace Magashule en David Mabuza.”
Ons drie verwonder ons aan hoe erg korrup die stelsel in Suid-Afrika geword het. Franklin sê: “In my hart is ek ’n klein mannetjie van die Vlakte. Ek wéét, die oomblik as jy steel, is jy bang. Want ander weet jy het gesteel.”
Tyd om te loop. “Ek klink seker baie negatief,” sê Franklin. “Maar daar is nie twyfel nie dat ons hieruit ook sal kom. Daai Dakar-dae was net so donker, jy kon die sprinkane sien opspring. En ons is daardeur. Ons sal dit weer doen. Ek weet regtig net nie hoe nie.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X