Moenie val vir die aas van die Meester van Chaos, Donald Trump, nie

Meer as net Trump

Moenie val vir die aas van die Meester van Chaos, Donald Trump, nie

Die Demokratiese Party kan nie die komende presidentsverkiesing net oor Trump, sy karakter of sy optrede as president maak nie. As hulle dit regkry, het hulle ’n kans, skryf MICHELINE TUSENIUS, ’n Suid-Afrikaner wat deesdae in Washington, DC, woon.


Die meeste Amerikaners het nooit vir Donald Trump as president gesteun nie. Daarom het die Demokrate ’n dekselse goeie kans om volgende jaar se belangrike presidentsverkiesing te wen.Hulle moet die mees verkiesbare kandidaat benoem, en ’n aanloklike beleidsverklaring vir November 2020 opstel; hulle kan eenvoudig nie die kans deur hulle vingers laat glip om van Trump ’n eentermynpresident te maak nie.Onthou ’n bietjie hoe hy in 2016 die populêre stem met byna 3 miljoen stemme verloor maar die presidentskap bekom het weens die vreemde, staatgebaseerde kieskollegestelsel wat op die ou end die deurslag gee in ’n Amerikaanse presidentsverkiesing? Wel, sy steunbasis het nie sedert die 2016-verkiesing groter geword nie.Populêre steun vir Trump wissel tussen 35 persent en 45 persent, afhangend na watter meningspeiling jy kyk. Maar in geeneen het hy al meer as 45 persent steun gekry nie, wat nog te sê 50 persent of meer.In alle onlangse Amerikaanse presidentsverkiesings is meegeding hoofsaaklik om dié 20 persent van kiesers wat van stem kan verander, die sogenaamde “swing vote” of draadsitterstem.Tipies steun sowat 40 persent van Amerikaners die Demokratiese Party, terwyl net soveel lojaal die Republikeinse Party bly steun. Dié indeling van die kieserskorps is veral waar onder die diep verdelende Trump.Trump se kwesbaarheid by stembusDie voortgesette gebrek aan goedkeuring van die meerderheid kiesers wys egter Trump is kwesbaar by die stembus. Daarom is dit so belangrik wíé die Demokrate vir die presidentskap gaan benoem, en watter beleidsverklaring dié ’persoon en sy of haar visepresidentskandidaat gaan steun.
Dié kombinasie sal veral aanklank moet vind by daardie 20 persent van draadsitterkiesers, veral dié in state wat Trump onverwags in 2016 gesteun het. Terselfdertyd sal dit ’n beroep moet doen op  al die onderafdelings van die Demokratiese ondersteunersbasis om te verseker almal gaan stem.
Maar steek jy jou nek te ver uit om die een te akkommodeer, loop jy die gevaar om die ander te verloor. Die groot uitdaging gaan wees om presies die regte balans te vind tussen verkiesbaarheid en aanloklikheid vir sowel die draadsitterkiesers as die Demokratiese ondersteunersbasis wat meer links neig.
Daar is ook ’n paar belangrik swaaistate waar die verkiesing gewen of verloor kan word danksy die kieskollegestelsel en die partydigheid daarvan vir klein, meer landelike state. State wat waarskynlik die uitslag van die volgende presidentsverkiesing sal bepaal, sluit in Arizona, Colorado, Florida, Michigan, Nevada, Noord-Carolina, Ohio, Pennsilvanië en Wisconsin.
Hoe kiesers in dié state op die kandidate reageer, sal moontlik die deurslag gee in wie wen. Wat die ander state betref, is die uitslag redelik voorspelbaar as jy na die kieserspatrone van die twee partye die afgelope paar jaar kyk.
Selde 'n replikaWanneer Amerikaners stem vir verandering in die presidentskap neig hulle om ’n kandidaat te kies wat heeltemal die teenoorgestelde is van dit waarvan hulle die minste hou in die persoon wat op daardie oomblik die pos beklee. David Axelrod, veldtogadviseur in president Barack Obama se grondverskuiwende veldtog in 2008, som dit op met “kiesers soek ‘n oplossing vir wat hulle het; selde ’n replika”.Watter van die kandidate wat hulle vir die Demokratiese benoeming beskikbaar gestel het, bied daarom die beste kombinasie van waardes en karaktertrekke wat kiesers voel by president Trump ontbreek?Waarvoor sal hierdie Demokratiese kandidaat moet staan om aanklank te vind by onafhanklike swaai- of draadsitterkiesers asook die tradisionele Demokratiese steunbasis?Vroue op die kandidatelysSommige mense reken ’n vrou moet weer boaan die Demokratiese kandidatelys wees. Die voormalige minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, was die kandidaat in die onsuksesvolle veldtog teen Trump in 2016.Met soveel meer vroue wat aan die Amerikaanse politieke proses deelneem in reaksie op die skok van Trump se verkiesing, die era van #MeToo, en die aanstelling van Brett Kavanaugh in die Amerikaanse appèlhof voel baie dis noodsaaklik dat ’n vrou op die kandidatelys is – al is sy nie heel boaan nie.
Die drie sterkste vrouekandidate is senatore Kamala Harris van Kalifornië, Amy Klobuchar van Minnesota en Elizabeth Warren van Massachusetts. As enige van dié drie bo-aan die kandidatelys wil verskyn, gaan hulle oor die volgende 15 maande hard moet meeding teen hulle manlike eweknieë. Maar dis heel moontlik dat een van hulle as die Demokratiese kandidaat vir die presidentskap na vore sal tree.
As een van die drie nié bo-aan die lys verskyn nie, is dit egter hoogs waarskynlik dat een van hulle die visepresidensiële spanmaat sal wees van die man wat die Demokratiese benoeming vir die presidentskap beklink.  Die vraag is nou: Wie is die mees waarskynlike man om bo-aan die kandidatelys te verskyn, of die vrou bo-aan die lys sal steun as medekandidaat?
Topgroep wat om benoeming meedingDie topgroep mans wat om die benoeming meeding, sluit in die voormalige visepresident Joe Biden (hy het nog nie aangekondig dat hy staan nie, maar daar word wyd aanvaar hy gaan); senator Bernie Sanders van Vermont; Pete Buttigieg, burgemeester van South Bend, Indiana, en die voormalige kongreslid Beto O’Rourke van Texas.’n Ander kandidaat wat tans onderpresteer, maar moontlik sterk aanklank kan vind by onafhanklikes en gematigdes, is die voormalige goewerneur van Colorado John Hickenlooper.So vroeg in die stryd word Biden deurlopend in meningspeilings beskou as die Demokratiese kandidaat wat Trump in ’n tweestryd sal kan verslaan. Hy het ervaring van binnelandse en buitelandse beleidsake en is ’n gesoute politikus by wie ’n groot verskeidenheid van die kieserskorps hulle tuis voel.
’n Punt van kritiek: Hy is te oud, maar daar is ander uit sy generasie wat ook op benoeming hoop, naamlik Sanders en Warren. Trump self is in sy 70’s.
Belangriker is egter dit lyk of Biden uit voeling is met vandag se sentimente. Die huidige relletjie oor sy onvanpaste gevattery aan vroue laat hom oud voorkom. Maar hy sal dit oorleef, bloot omdat die Demokrate hom nodig het as die beste persoon om Trump te klop en wil hê hy moet hom daarom verkiesbaar stel.
Die mededinging om die Demokratiese benoeming is reeds vuurwarm, met die onderskeie kandidate wat woeker vir geld, personeel op grondvlak, nuusopskrifte en trefslae op sosiale media.
Vars nuwe stemme
Die groot aantal kandidate is opwindend. Die Demokratiese Party het ongetwyfeld ‘n paar verleidelik vars nuwe stemme wat opklink uit die droewe, donker omgewing wat Trump geskep het. Dit is inspirerend om te sien hoe georganiseerd en aktief die party op plaaslike vlak is.
Die geesdrif waarmee plaaslik gemobiliseer word, herinner my aan die 1980’s en die opwinding wat die opwinding wat die Verenigde Demokratiese Front in gemeenskappe geskep het.
Die feit dat die voorsitter van die Demokrate se nasionale komitee, Tom Perez, daarop aandring dat die Demokrate aan alle verkiesings op alle regeringsvlakke deelneem, is in die kol. Dit is hoe nuwe talent en leierskap na vore kom.
Die Meester van ChaosMaar Trump se ondersteuners in die Republikeinse Party is uitgeslape en gretig om sy herverkiesing te verseker. As die Amerikaanse ekonomie sterk bly, en Trump die steun behou van die minderheid van kiesers wat hom tot in die Withuis gekry het én die magsdronk Republikeinse kongreslede wat hom en sy agenda steun, is dit nie onmoontlik dat hy herverkies kan word nie.
Hy en sy ondersteuners moet nooit onderskat word in hulle strewe om die ongekende te herhaal nie. Hulle is vasberade om te wys sy verkiesing in 2016 was geen gelukskoot nie.
Trump self is natuurlik die Meester van Chaos. Hy floreer op die skep van verwarring, verdeling en wanorde. Demokrate moet hulle nie laat manipuleer deur sy aas, dikwels in die vorm van vals Twitter-berigte, nie. Terwyl sy aandagsoekende troepe tot orde geroep moet word, is dié konsternasie doelbewuste pogings om dinge deurmekaar te krap, en verwarring en verdeling te saai in die aanloop tot November 2020.
Impak van 'n derde party
’n Onrusbarende ontwikkeling vir die Demokrate kan die verskyning van ’n kandidaat of kandidate van ’n derde party wees. Kandidate van derde partye vaar nooit goed in die Amerikaanse stelsel wat berus op mededinging tussen twee partye nie.
Die regsgesinde Ross Perot het Bill Clinton in 1992 gehelp om as president verkies te word, terwyl die linksgesinde Ralph Nader in 2000 vir George W. Bush gehelp het. Jill Stein het ongetwyfeld ’n negatiewe impak op Hillary Clinton se kanse in 2016 gehad.
Die Demokrate moet dus gedissiplineerd en doelgerig bly. Hulle moet daarop fokus om ’n boeiende en aanloklike kandidatelys op te stel sodat hulle kan wen.
Die Demokratiese kandidate moet toekomsgerig en positief wees, en moet beleide ontwikkel oor die uiters belangrike “kombuistafel”-kwessies wat Amerikaners gespanne maak of slapeloos laat rondrol.
Hulle kan nie hierdie verkiesing net oor Trump, sy karakter of sy optrede as president maak nie.
Hulle moet sinvolle, realistiese en gematigde beleidsoplossings voorstel vir die voortslepende probleme wat Trump se presidentskap moontlik gemaak het. Dan sal hulle vurige ondersteunersbasis en die onafhanklike, gematigde draadsitterkiesers gretig volg.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.