25 jaar van demokrasie: Vat jou seesiekpil en glimlag

ONTLEDING

25 jaar van demokrasie: Vat jou seesiekpil en glimlag

Suid-Afrika se demokrasie is vandeesweek 25 jaar oud. Dit voel op die oomblik asof die land aan die inplof is. Die kleure in die reënboog is uitgewas en net wit en swart bly oor. MAX DU PREEZ staan 'n paar treë terug en kyk na wat die laaste kwarteeu reg en wat verkeerd geloop het. Was die huidige insinking dalk onafwendbaar, of moet ons Jacob Zuma as die sondaar uitsonder?


SOOS ek hier skryf, kyk ek na 'n foto wat op my kantoormuur hang. Dit is 26 April 1994 en ek, vars van die pas gesneuwelde Vrye Weekblad, sit voor die kameras in 'n SAUK-ateljee en doen verslag oor die vordering met die eerste werklik nasionale verkiesing in ons geskiedenis. Ek sien die opwinding in my oë om deel van só 'n groot dag in die moderne geskiedenis te kon wees; ek onthou die geesdrif en idealisme by die geboorte van 'n nuwe demokrasie wat so baie vir so lank as onmoontlik gesien het.
Die meeste van ons, bruin, swart en wit, was verlei deur die oorweldigende sjarme, charisma en menslikheid van Nelson Mandela in die periode na 26 April 1994. Die Nuwe Suid-Afrika was 'n wonderwerk, dalk selfs goddelike ingryping, en Madiba was ons engel Gabriël. Vir 'n jaar of vyf het ons in dié waas van 'n belofte van harmonie, vryheid en voorspoed gelewe en nie die skeurlyne onder ons voete raakgesien nie.
Kort nadat Thabo Mbeki in 1999 by Mandela oorgeneem het, het ons die eerste hoofpyne van die babelaas ná die partytjie begin voel. Dieselfde man wat by die aanvaarding van ons grondwet in 1996 in die mooiste toespraak ooit só liries oor ons nasie se diversiteit was in sy I am an African-toespraak, het van die twee nasies begin praat; die een arm en swart, die ander ryk en wit.
Die vakbonde, die kommuniste en die heethoofde van die ANC Jeugliga het begin mor oor die gewaande filosoof-koning met sy fragiele ego en sy neo-liberale kapitalistiese idees. (Senior SAKP-leier Jeremy Cronin het in 2002 in ‘n onderhoud verklaar: “There is bullying of the left in the alliance and there are tendencies now of what some of us refer to as the Zanufication of the ANC.”)
Mbeki het hom met waardigheid gedra en nooit geld gesteel of sy familie verryk nie, maar hy het nie 'n sterk genoeg maag gehad om sy magsbasis op grondvlak in stand te hou nie. Sy voete van klei was uiteindelik vir almal sigbaar met sy gevaarlike, irrasionele sienings oor MIV/vigs.
Die seer het uiteindelik by die ANC se kongres in Polokwane in Desember 2007 oopgebars. Mbeki is soos 'n hond weggejaag en waardige veterane soos Terror Lekota is deur kinders verneder. Stemkopery, intimidasie en gekonkel was die norm.
Die Ou ANC, dalk die Ware ANC, was terug.
Mandela was saam met ander wyse gryses van die Universiteit van Robbeneiland; Mbeki was die bevrydingsbeweging se superdiplomaat, ewe tuis in Washington, Londen en Lusaka. Ons eerste twee presidente was nie militêre manne nie en was buite die Sowjet-dampkring; geleerde, gesofistikeerde en moderne leiers. Jacob Zuma was die teenpool: 'n kwalik geletterde etniese tradisionalis, 'n leier van Umkhonto weSizwe (die laaste intelligensiehoof) met bloed aan sy hande wat sy politiek in die ou Oos-Blok geleer het. Mag, eerder as demokrasie, was sy lewensbloed.
Zuma was wel anders as Mandela, Mbeki en die man wat tussen September 2008 en Mei 2009 as president waargeneem het, Kgalema Motlanthe, maar hy was nie 'n aberrasie, 'n vreemde en onverwagse verskynsel nie. Dalk was hy nader aan die hart van die Ware ANC as bogenoemde here – die ANC het hom immers as leier herkies en jare lank hand en tand verdedig, selfs nadat hy wel deeglik sy ware kleure gewys het. Hy het eers regtig ongewild geword toe dit blyk dat hy die ANC by die kiesers ongewild begin maak het.
Die feit is dat daar vir dekades voor 1994 twee (of meer) ANC’s was. Selfs op Robbeneiland het Mandela en Govan Mbeki nie langs dieselfde vuur gesit nie. Van 1967 af het Oliver Tambo sy lewe daaraan gewy om die strydende elemente breedweg in dieselfde kraal te hou.
Daar was werklike demokrate, daar was keiharde sosialiste en Moskou-kommuniste, daar was militariste, daar was doodgewone charlatans en skelms, en daar was elemente wat rondom stamlojaliteit gemobiliseer het.
Binnelands was daar die plaaslike substituut wat Lusaka graag as die B-span wou sien, die UDF, wat werklik nierassig was en 'n heel ander tradisie van interne demokrasie as die ANC self gehad het. Die UDF is tragies in 1990 deur die ballinge ingesluk en hul politieke kultuur is uitgespoeg.
ANC-intellektuele haal graag uit ANC-beleidsdokumente oor die jare aan, maar die waarheid is dat daar nooit werklik ideologiese of filosofiese debat buite die topleierskap en 'n handvol intellektuele was nie.
Die doktriene van die Nasionale Demokratiese Revolusie, wat 'n ortodoks-sosialistiese staat as einddoel het, is sedert die vroeë 1980's die ANC se poolster, maar dit is 'n baie stomp instrument.
Die SAKP het by sy kongres in Kuba in 1989 nog bevestig dat mag met revolusie oorgeneem moet word, 'n siening wat deur MK en die meeste elemente in ballingskap gedeel is. Teen daardie tyd het Mandela al maande lank met die regime van PW Botha oor 'n skikking onderhandel. FW de Klerk se aankondiging in Februarie 1990 was 'n skok vir die meeste in die ANC.
Die aanpassing van gewapende stryd en 'n strategie om die staat onregeerbaar te maak ná vreedsame deelname aan 'n oop demokrasie was te moeilik om in so 'n kort tyd te maak. Ná drie dekades as 'n verbode organisasie, en vir baie ballingskap, was die sprong net te groot. Die inhuldiging van Mandela as eerste swart president was nie 'n genoegsame sielkundige verlossingsoomblik wat 'n MK-oorwinningsparade in Pretoria se strate sou gewees het nie.
Mandela het dit as sy enigste taak gesien om die oorgang vreedsaam te hou, om swart en wit te laat glo dit was die beste uitweg, en dat die kompromieë noodsaaklik was.
Hy en sy kernspan het nie veel energie daaraan bestee om ANC-strukture, take en lede polities te onderrig nie, en Mbeki het dit ook nie gedoen nie. Hulle het aanhou praat van 'n beter lewe vir almal en van groter swart deelname aan die ekonomie, maar eintlik maar net die status quo laat voortduur, gods water oor gods akker laat loop.
Die ou ANC-ortodoksie, dat dit die enigste, ware en outentieke verteenwoordiger van die mense van Suid-Afrika is, het bly voortsleep. Kader-ontplooiing, om partylojaliste in alle posisies van mag te kry, het nooit opgehou nie. Die gevolg was dat die skeidslyn tussen staat en party al hoe vaer geword en eindelik byna verdwyn het.
Dit was as gevolg van dié intellektuele en filosofiese bankrotskap dat Zuma gedy het, dat hy homself, sy familie, sy clan en sy weldoeners verryk het, dat hy groot stukke van die staat verkwansel het, dat hy staatsinstellings uitgehol en die strafregstelsel lamgelê het sodat hy nie verantwoordbaar gehou kon word nie. Sy uitgebreide stelsel van patronaatskap, van nasionale en streeks- tot plaaslike vlak, gaan moeilik heeltemal vernietig word.
Soos hy onder druk gekom het, het Zuma op 'n ander ou ANC-tradisie teruggeval: Word meer radikaal, blameer die minderhede vir alles, verheerlik die swart geskiedenis en die stryd teen apartheid – bevraagteken selfs die skikkingsooreenkoms van 1994. Onteiening sonder vergoeding, witmonopoliekapitaal en radikale ekonomiese transformasie het só hoofstroom geword. En niemand kon 'n ANC-boek na hom gegooi het nie, want al dié twak is deel van die nasionale demokratiese revolusie-doktriene.
'n Mens sou kon sê die één figuur wat nooit die suiwerheid van die ou ballingskap-ANC afgewater het nie en nooit 'n Mandela-draai gegooi het nie, is Julius Malema, toe hy ANC-jeugligaleier was en EFF-leier daarna. Dalk ís die EFF die ou Ware ANC.
Kaderontplooiing, die uitwis van die skeidslyn tussen party en staat en 'n kultuur van geregtigdheid (entitlement) het tydens die Zuma-jare hoogty gevier, maar dit was eintlik van 1994 af al deel van die ANC. Hoe anders verklaar 'n mens die groteske afskeep van swart kinders se onderwys oor 25 jaar, myns insiens gelyk aan 'n misdaad teen die mensdom? Die afskaf van kolleges wat onderwysers opgelei het, van die stelsel van skoolinspekteurs en van die vakleerlingskapstelsel was katastrofies, maar die manier waarop die ANC-gesinde onderwysersvakbond se lede opgetree het, was erger.
Dit was dieselfde “outentieke verteenwoordiger van die massas” wat toegelaat het dat hospitale en klinieke wat hoofsaaklik arm swart en bruin mense bedien, plekke van vernedering en dood geword het. In die ANC self was die Life Esidimeni-ramp kwalik 'n skandaal, want die skuldiges is nog welkom in eie geledere. Dit is dieselfde “revolusionêre beweging” wat toegesien het hoe mense in plakkerskampe krepeer en hoe munisipaliteite mense se leefruimtes toenemend meer onleefbaar gemaak het.
Ek moet hier walgooi as ek die indruk skep dat ek dink almal in die ANC was verrot. Daar was sedert 1994 goeie, hardwerkende, morele mense in elke administrasie op al drie vlakke en oral in die gemeenskap – van die heel beste mense in Suid-Afrika. Individue het tog 'n daadwerklike verskil gemaak, mense soos hoofregters Pius Langa en nou Mogoeng Mogoeng, die gewese openbare beskermer, Thuli Madonsela, en veteraan-kabinetslid Pravin Gordhan.
Dit was goeie mense soos dié binne en buite die ANC wat die kern gevorm het van een van die mees skouspelagtige terugvegpogings van die burgerlike samelewing in die geskiedenis, 'n stryd wat in 2017 uiteindelik die Zuma-tsunami begin stuit het.Ons gaan seker nog verskeie sensasionele boeke oor staatskaping lees in die maande wat kom, maar 'n dokumentering van die rol van die burgerlike samelewing, ondersoekende joernaliste, die geloofsgemeenskappe, fluitjieblasers en veral die regbank is die boek wat nou geskryf moet word.Maar is die ommekeer te laat? Kan Suid-Afrika nog uit die afwaartse spiraal breek?Die Grondwet was die een konstante die laaste 25 jaar. Die ANC was nooit regtig in harmonie met die Grondwet se letter en gees nie, maar hulle het minstens gesê hulle is en dit was die rots waaraan ons elke nou en dan as dit begin wild raak het, kon vasklou. Vir 'n kwarteeu het die Konstitusionele Hof soos 'n leeu oor die Grondwet gewaak. En vir 'n kwarteeu is daar nie een keer aan die Grondwet getorring nie (buiten 'n klompie onbelangrike klein verstellinkies).Tot Zumaïsme oorgeneem het. Dit was sy kamp wat 'n besluit dat die Grondwet verander moet word om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, deur die ANC se Nasrec-konferensie in Desember 2017 gestoomroller het. En dit terwyl elke grondwetkenner vir hulle gesê het billike onteiening is reeds ingevolge die huidige Grondwet moontlik.
Ek het steeds goeie hoop dat die grondhervormingsproses verantwoordelik en billik gaan verloop sonder om die ekonomie of eiendomsreg erg te ondermyn. Maar 'n verandering aan 'n wesenlike artikel aan die Grondwet het 'n baie wyer betekenis. Skielik voel die rots onder ons voete nie meer so stewig nie. Baie voel die rug word nou op ons historiese skikking van 1994 gedraai.
Ek het in my eie gemoed geen twyfel nie dat Cyril Ramaphosa die beste beskikbare leier is om ons uit die huidige stormwaters te navigeer. Maar die ANC ly aan 'n terminale siekte. Dit is moeilik om te kan sien dat dit 2024, wanneer die volgende algemene verkiesing gehou moet word, in sy huidige vorm gaan oorleef.
Ramaphosa se historiese taak is nie om die ANC te red nie, maar om só te regeer dat Suid-Afrika sy stabiliteit behou en ekonomies oorleef sodat 'n oorgang na 'n nuwe politieke bedeling met nuwe partye en alliansies ons verder eerder as nader aan 'n Zimbabwe- of Venezuela-situasie sal neem. Die middel moet sterker gemaak word om die radikale se invloed te beperk, en daarvoor sal die gematigdes, die werklike sosiaal-demokrate in die ANC en die DA, in een party moet saamkom.
Sit dit in Ramaphosa se broek om dit reg te kry? Soos die Joodse oom gesê het toe hy die mense sien aanstap kerk toe om vir reën te bid: Julle kan maar bid, maar die wind waai wes.
Tensy ons 'n nuwe weergawe van Cyril ná volgende week se verkiesing sien, moet ek sê ek dink nie hy het die geneigdheid om in die loopgrawe te wil gaan veg en teenstanders trompop te loop nie. En dan gaan die populiste oor hom loop, veral as die EFF volgende week 10% of meer steun kry en hul invloed op die ANC versterk.
As Ramaphosa in 2009 of selfs 2014 president geword het, sou Suid-Afrika waarskynlik vandag 'n duisend keer beter daaraan toe gewees het. Maar hy het in 2018 'n Suid-Afrika geërf wat in die waakeenheid gelê het. Staatskaping, korrupsie en wanbestuur het ons die laaste paar jaar van Zuma meer as R1 triljoen gekos.
Die populisme-djin is uit die bottel. Ons almal skreeu op mekaar. Opgeleide mense verlaat steeds die land. Die proses om die strafregstelsel, SARS, die staatsondernemings (Eskom!), staatsdepartemente en plaaslike regering skoon te maak en reg te ruk, vat baie langer en is baie moeiliker as wat die Ramaphosa-span aanvanklik gedink het.
Dit is die kaarte wat aan ons uitgedeel is en waarmee ons nou sit terwyl ons 25 jaar van demokrasie vier.
Maar nadat ons 25 jaar lank met ons Grondwet saamgeleef het, is ons 'n ware oop gemeenskap. Oop gemeenskappe word nooit mislukte state nie. Dieselfde goeie mense wat teen staatskaping en Zumaïsme geveg het, sal sorg dat ons 'n oop gemeenskap bly.
Ramaphosa gaan volgende week weer ons president wees, en hopelik al die pad tot met ons volgende verkiesing in 2024. Ons sal hom aan die een kant fyn moet dophou en onder druk moet plaas om ruggraat te wys, maar ons besorgde Suid-Afrikaners, veral die sakesektor en georganiseerde landbou, sal hom ook meer proaktief moet bystaan om die regte goed te doen as wat met vorige presidente die geval was.
Maak vas jou veiligheidsgordel, sluk 'n pil teen seesiekte en glimlag. Ons land was al in dieper gate en ons het anderkant uitgekom.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.