Die gekonkel teen Cyril: dís wie sy draadjie kan knip

TOPSES 'n MYNVELD VAN WANDELENDE GEWONDES, TEENSTANDERS EN VYANDE

Die gekonkel teen Cyril: dís wie sy draadjie kan knip

In die verloop van 25 jaar kon nog geen Suid-Afrikaanse president twee termyne voltooi nie, tog is Cyril Ramaphosa die eerste een wie se verwydering bespreek word nog voordat sy eerste termyn verby is, skryf PIET CROUCAMP.



GEEN president sedert 1994 was só erg in sistemiese konflik met sy eie party gewikkel as wat Ramaphosa is nie. Dit is dus geldig om te bespiegel hoe Ramaphosa deur sy eie party ondermyn en van die politieke toneel verwyder kan word.Die vraag of Ramaphosa werklik genoegsame steun in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het om hom te beskerm teen die gevolge van al die kommissies wat hy aanstel om sy kamerade vir staatskaping verantwoordelik te hou, het nog altyd 'n gekwalifiseerde antwoord gehad. Die koppe van die staatskapers en die streekspatronate in die NUK wat Ramaphosa se pogings om die staat op te ruim as 'n aanslag op hul eie oorlewing sien, steek prominent bo die water uit in byna elke instelling en struktuur van die regerende party.
Op die mees onlangse NUK-vergadering vandeesmaand was dit moontlik vir Ramaphosa om Ace Magashule af te keer van die trop met 'n vermaning dat hy sy probleme met Pieter-Louis Myburgh se “fiksie”, Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, self moet oplos, maar daarna, op dieselfde vergadering, het verskeie hardebaarde onder aanvoering van Tony Yengeni duidelik en luidkeels hul argwaan gewys jeens die president se “Mr Fixit", die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan.
Die geblaf was oor Eskom en privatisering en vir die rekening van Gordhan, maar die tande het geflits in Ramaphosa se rigting. Wanneer grondhervorming en Eskom ter sprake is, is daar beduidende steun in die NUK vir beleid wat met die EFF geassosieer word. Ramaphosa weet hy moet verkieslik nie in 'n posisie beland waar die NUK oor sy lot moet besluit nie.
Só kan hulle teen Ramaphosa draai
Daar is verskeie maniere waarop die ANC of Ramaphosa se opponente binne die party sy politieke ambisies kan kortknip. Die nuwe koukus ná vanjaar se verkiesing kan teen hom draai en hom nie verkies as die sesde president nie.
’n Tweede moontlikheid is dat die NUK  hom herroep of selfs dissiplinêr aankla omdat hy nie die nasionale konferensie van Desember 2017 se besluite uitvoer nie. Die NUK kan 'n nasionale algemene vergadering (National General Council) byeen roep wat die president beoordeel in terme van die uitvoering van sy pligte.
Met ander woorde, indien Ramaphosa nie daarin slaag om die Grondwet te verander wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak nie, of om watter rede ook al besluit om nie die nasionale konferensie se besluit oor die ontbinding van die Ingonyama-trust uit te voer nie, kan hy inderdaad verwyder word as president van sy party en ook die land.
Die samestelling van so ’n nasionale algemene vergadering (NAV) berus op die instemming van die meerderheid van die provinsies en 50% van die ANC se geouditeerde takke, en dis 'n lang en burokratiese pad met baie ruimte vir konflik en wederstrewigheid.
Dit is daarom meer waarskynlik dat diegene wat Ramaphosa se politieke sanitasie-proses wil stopsit, dit op ander, beproefde wyses sal wil doen. 'n Herroeping van die president deur die NUK was tot op hede die gerieflikste of effektiefste werkswyse vir die ANC om 'n sittende president se stoel onder hom uit te trek.
Magashule en sy ondersteuners dreig van tyd tot tyd dat hulle 'n NAV ná vanjaar se verkiesing sal uitroep om Ramaphosa te verwyder as president van die ANC. Die feit is egter dat slegs die NUK 'n NAV kan uitroep en nié die topses of die sekretaris-generaal nie.
Mynveld van die topses
Die topses van die party is net so 'n mynveld. Gwede Mantashe is gekontamineer deur sy opportunisme. 'n Oudit van sy verlede sal nie net Bosasa se veiligheidskameras by sy huise vind nie, maar sal waarskynlik ook vrae kan vra oor die brandpaaie om sy plaas en stoetdiere in sy krale.
In die aanloop na die nasionale konferensie in Desember 2017 was dit uiters moeilik om met sekerheid te sê na watter kamp Mantashe sou spring. As beloning vir sy tentatiewe steun aan Ramaphosa het hy minister van mineraalbronne geword, maar hy het eenvoudig nie die nodige begrip van dié komplekse portefeulje om daarvan 'n sukses te maak nie.
Tydens die vyf maande lange bloedvete tussen Sibanye Stillwater se stryd met die vakbond Amcu, wat die afgelope week besleg is, het Mantashe dit nie gewaag om sy gesig te wys nie. Hy sal waarskynlik na 'n ander portefeulje geskuif moet word ná die verkiesing, maar die gerugte loop reeds dat hy die voorsitter van die nasionale raad van provinsies gaan word. Soos Baleka Mbete is hy nie bruikbaar as kabinetsminister nie, maar as voorsitter van die party is hy belangrik genoeg vir 'n seremoniële pos.
Dit is nou ás hy die aanbevelings van die ANC se integriteitskomitee oorleef dat hy van die partylys verwyder moet word. Die punt is: Ramaphosa sal 'n hoërisiko-spel speel indien hy sy politieke lewe van Mantashe laat afhang. Mantashe was juis een van die swaargewig-kaders wat die klok vir Mbeki by sy huis gaan lui het. Indien Mantashe draadspring na die kamp van die staatskapers, het Ramaphosa net die moedelose steun van die weerlose Paul Mashatile in die topses.
David Mabuza kon die afgelope jaar nie daarin slaag om 'n braai te reël waarby Ramaphosa sou opdaag nie, en hy is toenemend onseker of Ramaphosa hom ná die verkiesing as sy adjunk gaan aanwys. Mabuza het nie veel steun in die NUK nie en die leierskap in KwaZulu-Natal (KZN) laat geen twyfel nie dat hulle hom as 'n tsotsi-krygsheer beskou. Hy het baie meer vyande as Ramaphosa en sy politieke val kan net 'n kwessie van tyd wees.
Die grondwet van die ANC maak voorsiening vir die verwydering van die president of enige lid van die topses deur middel van bepaalde prosedures. In die geval van sowel presidente Thabo Mbeki as Jacob Zuma het die NUK hulle “herroep” deur te dreig dat die party se steun in die nasionale vergadering (NV) nie meer gewaarborg kan word nie.
'n Mosie van wantroue in die NV kan dus Ramaphosa se politieke loopbaan in vernedering tot stilstand bring. Vir die ANC is “herroeping deur die NUK” normaalweg ʼn logiese opsie omdat 'n dissiplinêre proses te uitgerek is en boonop aan Mbeki – en veral Zuma – 'n platform sou verleen het om terug te veg, en sodoende die middelpuntvlietende kragte binne die party te stook in 'n poging om polities te oorleef. Mbeki sou nie maklik tot op daardie vlak daal nie, maar Zuma sou beslis indien die geleentheid aan hom gegun is.
Met sy huidige kwesbaarheid wat steun in die NUK betref, moet Ramaphosa bewus wees daarvan dat hy op een of ander wyse ná die verkiesing nie net die lojaliteit van die meerderheid van die 86 lede van die NUK sal moet oorwen nie, maar ook dat hy belangrike individue soos Nkosazana Dlamini-Zuma en Ronald Lamola se guns sal moet wen.
Sowel Mbeki as Zuma het oënskynlik sterk steun in die NUK gehad toe hulle nege maande voor die einde van hul termyn gevra is om die tuig neer te lê. Vir Ramaphosa is die topses 'n mynveld van wandelende gewondes, teenstanders en vyande.
Hoewel dit die NUK was wat uiteindelik vir Mbeki en Zuma gevra het om te loop, het die inisiatief vir dié drastiese stap in albei gevalle gekom vanuit die topses, spesifiek die sekretaris-generaal. Die president het goeie beheer oor die nasionale werkskomitee (NWK) se dertig lede, maar hy behoort onrustig te slaap oor die NUK, en hy weet die topses het hom in hul visier.
Magashule met rug teen muurRamaphosa sal dus sy nuwe kabinet ná 8 Mei baie versigtig moet kies. Van Zuma se vrot hout kan hy redelik maklik ontslae raak, maar sommige van sy mededingers en opponente kan nie sonder meer met staatskaping verbind word nie; en juis hulle kan die NUK oortuig dat Ramaphosa dalk goed is vir die land, maar nie noodwendig vir die ANC nie.
Mantashe, Mabuza, Jesse Duarte, Baleka Mbete en verskeie ander kan die NUK beïnvloed, selfs al is hulle nie noodwendig lede van dié komitee nie.
Magashule neem tans die geveg in die ope na Ramaphosa toe. Hy maak 'n punt daarvan om Ramaphosa te weerspreek deur in die media daarop aan te dring dat die Reserwebank genasionaliseer moet word. Wanneer hy dus 'n voortydige beroep op ANC-LP’s doen om ná die verkiesing die Reserwebank te nasionaliseer, druk hy eintlik vir Ramaphosa 'n pit.
Magashule het 'n groot invloed gehad op die finale samestelling van die nasionale partylys –  té groot, as ons die minister van staatsveiligheid, Dipuo Letsatsi-Duba, kan glo. En omdat sy rug teen die muur is, het hy geen ander keuse as om sy kruit droog te hou nie.
'n Ander moontlike manier om van Ramaphosa ontslae te raak, is indien die nuwe koukus van die ANC hom eenvoudig nie in die nasionale vergadering vir die presidentskap nomineer nie.  Dit is 'n onwaarskynlike scenario, maar in sy desperaatheid is dit 'n moontlikheid waaraan Magashule sou dink met die samestelling van die partylys vir die NV.
Dit is egter waarskynliker dat Shamila Batoi, nasionale direkteur van openbare vervolging, uiteindelik 'n klagstaat teen Magashule uit Pieter-Louis Myburgh se boek sal spoeg en plak, in welke geval hy teen Kersfees heel moontlik 'n geskorste lid van die ANC en verhoorafwagtend sal wees.
Die ‘krygsheer' van Mpumalanga
Mabuza gaan aansienlik moeiliker wees om te kastreer. Mabuza is ook net 'n borspyn ver van die Uniegebou af, want indien Ramaphosa nie meer sy pligte kan uitvoer nie, is Mabuza die sesde president van Suid-Afrika. Dié “krygsheer” van Mpumalanga sal nie maklik die president word van 'n bestendige ANC nie, maar te midde van die heersende wanorde het hy wel 'n kans om oor te neem en homself in te grawe.
Die probleem vir Mabuza en Magashule het by die beleidskonferensie van Desember 2017 ontstaan, toe KZN nie die verteenwoordiging gekry het wat die provinsiale leierskap geglo het dié provinsie toekom nie. Sowel Mabuza as Magashule wys vir goeie redes nie dikwels gesig in KZN nie.
Die KZN-leierskap het nooit ingekoop op die premierliga-konsep nie, en Nkosazana Dlamini-Zuma se wrewel in Mabuza het 'n lang geskiedenis. Die beskuldigings van Mabuza en politieke moorde is 'n lastigheid vir KZN se leiers wat net nie wil wyk nie. Met dít gesê, selfs Ramaphosa se kantoor moet baie politieke spitwerk doen om die terrein voor te berei voordat hy dit sou oorweeg om Durban toe te vlieg.
Ramaphosa is wel die geleentheid gebied om die Mabuza-vraagstuk sowel as die probleem van 'n vervreemde KZN op te los. Indien hy Nkosazana Dlamini Zuma ná die verkiesing in Mabuza se plek as sy adjunk aanwys, kan hy sy posisie versterk in die party asook in verskeie strukture wat hom nie noodwendig tans goedgesind is nie.Mabuza is baie bewus van hierdie moontlikheid – en ander onderstrominge – en sal uiteindelik enige muitery teen Ramaphosa steun indien dit 'n meetbare voordeel vir homself inhou.Mabuza se nuutste strategie is om voorbrand te maak vir Julius Malema se terugkeer na die ANC. Malema is tans die enigste politikus wat Ramaphosa kan verslaan in enige leierskapsverkiesing.Dit is 'n skoot in die donker, maar Malema het waarskynlik meer steun in die NUK as Ramaphosa, en indien Malema deel van die politieke opsies by die 2017-beleidskonferensie was, was hy nou die president van die land.Wanneer Ramaphosa dus uiteindelik sy posisie binne die ANC gekonsolideer het en die verkiesing met'n gesonde meerderheid gewen het, is daar steeds die septiese sweer van 'n Julius Malema wat hom by die volgende ANC-leierskapskonferensie aan die hakskeen kan beetkry.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.