Die staatsaanklaers was die hart van die hoer

KABAAL SPEEL VERDELENDE EN DESTRUKTIEWE ROL

Die staatsaanklaers was die hart van die hoer

'n Verstommende verhaal van senior staatsaanklaers wat uit hul pad gegaan het om aartsskelms van eerlike polisiemanne te red, ontvou voor die Zondo-kommissie, skryf JACQUES PAUW



DAAR is 'n kabaal staatsaanklaers by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wat nie skroom nie om meineed en regsverydeling te pleeg ten einde korrupsievegters te vervolg – maar terselfdertyd klagtes teen “gekonnekteerde” swendelaars en staatskapers terugtrek.
Dít was die kern van die getuienis van die gewese hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, genl-maj. Johan Booysen, voor die Zondo-kommissie in Johannesburg.    
Die generaal het aan regter Raymond Zondo vertel hoe hy self die slagoffer is van staatsaanklaers wat gelieg het om hom in die beskuldigdebank te kry omdat hy 'n sakevennoot van die Zuma-familie, Toshan Panday, vir R40 miljoen se bedrog ondersoek het. Panday en 'n polisie-kolonel het hom ook met R20 miljoen probeer omkoop.
Booysen moes in die laaste vyf jaar van sy polisieloopbaan skorsing na skorsing beveg voordat hy in vroeg 2017 op vervroegde pensioen is.
Hy staan tans tereg op aanklagte van rampokkery omdat hy in bevel was van die Cato Manor georganiseerde misdaadeenheid wat glo niks anders was nie as 'n “moordbende”.
Booysen en lede van die eenheid het die afgelope sewe jaar 20 keer in die hof verskyn terwyl van die “gekaapte” staatsaanklaers desperaat rondgeskarrel het om genoeg rede te soek om die generaal in die beskuldigdebank te hou. In die proses het etlike van hulle meineed gepleeg.
En is dit nou nie interessant nie, het Booysen gesê, dat van dieselfde aanklaers wat by sy vervolging betrokke was ook die aanklagte teen Panday teruggetrek het.
Die gekaapte staatsaanklaers
Die name van die gekaapte staatsaanklaers het van Booysen se lippe afgerol: Shaun Abrahams, Nomgcobo Jiba, Moipone Noko, Sibongile Mzinyathi, Lawrence Mrwebi, Sello Maema, Torie Pretorius, Raymond Mathenjwa, JJ Mlotshwa en Andre Mosing.
Abrahams, Jiba and Mrwebi is weg by die NVG maar die ander is steeds in hul posisies en speel 'n verdelende en destruktiewe rol in die vervolgingsgesag. 
Booysen het aan Zondo die voorbeeld genoem van Noko, die vervolgingshoof in KZN, wat saam met Jiba alles in haar vermoë gedoen het om hom en sy manne aan te kla.
Die generaal glo dat Noko as provinsiale hoof aangestel is omdat haar voorganger, Simpiwe Mlotshwa (nie dieselfde persoon as JJ nie) geweier het om Booysen te vervolg.
Noko is deur die gewese president, Jacob Zuma, aangestel op aanbeveling van Jiba, wat toe die waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging (NDPP) was.
Noko het kort na haar aanstelling die klagstaat teen Booysen en sy manne onderteken – en blatant gelieg oor die getuienis teen die beskuldigdes. Booysen het in 2016 aanklagte van regsverydeling teen haar gelê, maar daar het niks van gekom nie.
Noko het hierna die korrupsie-klagtes teen Panday en 'n korrupte polisiekolonel terugetrek omdat daar glo nie genoeg getuienis was nie.
Booysen het vir Zondo die getuienis teen Panday uiteengesit wat hy gesê het “oorweldigend en oortuigend” was.
Noko was op die kortlys van aanklaers vir die pos van NDPP – wat Shamila Batohi toe gekry het. Noko is tydens die onderhoude gevra oor die klagtes teen Booysen waarop sy gesê het dat sy die klagstaat “so gevind het” toe sy aangestel is.
“Dis 'n infame leuen,” het Booysen gesê. “Sy het dit geteken.”
Dis GrieksHy het vertel dat een van die getuies teen die Cato Manor-polisiemanne, 'n Griek met die naam Danikas, 'n ongetekende “beëdigde verklaring” gemaak het.Abrahams het twee advokate – onder andere Maema – Griekeland toe gestuur om die verklaring te laat teken en het daarna onder eed gesê dat daar nou nuwe getuienis teen die polisiemanne was. Die beskuldigdes het Maema vir 'n afskrif van die verklaring gevra – waarop hulle wetlik geregtig was – maar hy het gesê dat die dokument “nog uit Grieks vertaal word”.Hoe het Abrahams geweet wat in die verklaring staan en of dat daar nuwe getuienis teen die polisiemanne was?“Wie weet, miskien kan hy Grieks praat,” het Zondo gesê.
Jiba die "hart van opskuddings"
Booysen het getuig dat Jiba aan die hart van die opskuddings en die onstabiliteit in die NVG oor die laaste dekade was.
Sy het 'n noue band met die skandbevlekte gewese hoof van die polisie se misdaad-intelligensiediens, luit-genl. Richard Mdluli, gehad.
Nadat Mdluli in 2011 geskors is omdat hy en sy polisiemakkers na bewering die geheime fonds gestroop het, het sy en Mrwebi geweier om hom te vervolg.
Sy het 'n stap verder gegaan en die aanklaer wat vasbeslote was om Mdluli aan die pen te laat ry, Glynnis Breytenbach, geskors en dissiplinêr laat vervolg.
Breytenbach het haar saak gewen – net om daarna krimineel vervolg te word op vals klagtes. Sy is onlangs eers onskuldig bevind.
Die "weerligafleier"
Booysen het spesifiek verwys na die NVG se litigasie-eenheid vir prioriteitsmisdaad met Torie Pretorius aan die stuur. Booysen het hom as 'n “weerlig-afleier” beskryf terwyl die res van sy eenheid, met Sello Maema aan die voorpunt, in die voorste linie veg.
Booysen het gesê dat die eenheid veronderstel is om oortreders van staatsveiligheid, terrorisme, volksmoord en oortredings van die kernwet te vervolg.
Dié eenheid is deur Pretorius en Abrahams misbruik om Pravin Gordhan te vervolg op belaglike klagtes wat 'n eerstejaar-regstudent sou weet nie 'n kat se kans in die hof het nie.
Benewens Gordhan het die litigasie-eenheid vir prioriteitsmisdaad ook besluit om die gewese hoof van die Valke in Gauteng, genl-maj. Shadrack Sibiya, die gewese nasionale hoof van die Valke, luit-genl. Anwa Dramat, die gewese hoof van die polisie se onafhanklike ondersoek-eenheid, Robert McBride, die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan, Breytenbach en Booysen te vervolg.
Pretorius en Maema is verantwoordelik vir die huidige vervolging van die gewese kommissaris van SARS, Ivan Pillay, en die gewese ondersoek-hoof van SARS, Johann van Loggerenberg.
"Go-to man"
Booysen sê dat toe hy Maema die eerste keer ontmoet het, het hy soos 'n “wyse ou man” voorgekom. Hy het egter gou besef dat Maema die “go-to” man is wanneer 'n korrupsie-vegter gestop moet word.
Booysen sê Maema het by minstens twee geleenthede meineed gepleeg. Die gewese Hawks-baas het ook aanklagte van meineed teen Maema gelê.
Raymond Mathenjwa het Breytenbach vervolg en was die staatsadvokaat tydens die eerste verskying van Booysen en die Cato Manner-polisiemanne.
In die loop van die laaste paar jaar het die korrupsie-vegters 'n magdom kriminele klagte teen die “gekaapte” staatsaanklaers aanhangig gemaak – teen Abrahams, Jiba, Maema, Noko en meeste van die ander – sonder enige sukses.
Die sake word doodeenvoudig net nie ondersoek nie.
Booysen het in sy getuienis gesê dat die opdrag om hom te vervolg van “heel bo” gekom het en nie op regsoorwegings berus het nie.
Hy het gesê dat die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, opdrag gegee het dat daar teen hom opgetree moet word.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.