BROLLOKS & BITTERGAL | Rugbykyk deur die bure se venster,...

Politieke skinderstories

BROLLOKS & BITTERGAL | Rugbykyk deur die bure se venster, Oberstormführer Andile en Lynne Brownnose

Ons twee bitterbekke het baie gehad om oor opgewonde te raak dié week...

Rugby-kyk sonder 'n skottel
DIE verkope van verkykers in die noordelike provinsies het die laaste week skerp toegeneem. Voëlkykklubs sê hulle ledetalle het nie onverwags toegeneem nie. Elementêr, my liewe Watson, dis die aanhangers van Steve Hofmeyr wat in ‘n oomblik van oorentoesiasme, waarskynlik aangevuur deur Klipdrift, hul DSTV-skottels van die dak geruk en op die braai gegooi het wat nou verkykers koop – om die naweek se groot stryd tussen die Bulle en die Crusaders van hul voorstoep af op die buurman se televisie te kan volg met radiokommentaar van RSG. ‘n Boer maak mos ‘n plan. Maar hoe gaan hulle Ouboet en Wors sonder klank kyk?
Ouma en die gesteelde diamant
‘n Amerikaanse vrou genaamd Rachel Meghan Markle het Maandag in Brittanje geboorte aan ‘n seun, Archie, geskenk. Die pa is ‘n Engelsman, Henry Charles Albert David Mountbatten-Windsor. Hy is tans werkloos. Die pasgeborene se ouma-grootjie is ‘n Britse celebrity, Elizabeth Windsor, wat soms ‘n groot gesteelde diamant uit Suid-Afrika as deel van haar juwele dra.
Vaalseun hou vir Cyril duimvas
En daar kom niemand anders nie as die Oorspronklike Vaalseun, FW de Klerk, en verklaar aan die media buite die stembus in Seepunt waar hy pas gestem het: “As die ANC wen en President Ramaphosa hou by sy beloftes, sal dinge beter gaan.” Hy het bygevoeg: “Alles is nie donker in Suid-Afrika nie. Daar is lig aan die einde van die tonnel.” Nou ja toe.
Die DA se posduiwe
‘n Meme wat dié week op sosiale media versprei is:

Skakel selfoon af
Gooi simkaart weg
Verlaat SA en gaan bly in die Himalayas
Posduif arriveer met ‘n nota
Maak nota oop
‘n Boodskap van die DA dat ek vir hulle moet stem

Cyril histerie
Opposisiepartye se vrees dat baie kiesers wat goed weet dat die ANC tot in sy kern verrot is, in elk geval ANC sou stem om Cyril Ramaphosa se hand te sterk, het in die laaste paar dae voor die verkiesing tot histeriese vlakke gestyg. Wat as ‘n bus môre vir Cyril doodry, dan word David Mabuza ons president, was die een tema waarmee veral DA-aktiviste sosiale media oorval het. ‘n Ander gunsteling, veral onder EFF-ondersteuners, was dat Ace Magashule en sy nes van adders kort na die verkiesing van Cyril ontslae gaan raak.
Die histerie is te verstane. Die korrupsie en wanbestuur deur die ANC-regerings was die beste rede waarom kiesers vir die opposisie moes stem.
Enige redenasie wat dít ondermyn, was sleg vir die DA en die EFF. Maar dit is darem effe desperaat om te wil redeneer dat Cyril dalk môre die emmer gaan skop.
Dit is sekerlik waar van elkeen van ons. (Saartjie, hoe kan jy Saterdag met Trompie wil trou? Wat as ‘n donkie hom Sondagoggend doodskop en jy is ‘n weduwee?) En as dit gebeur, gaan Mabuza dalk vir ‘n dag of wat president wees, maar die man is só ongewild onder al die ANC se faksies dat hy gou vervang sou word. (Cyril vervang hom dalk al selfs volgende week met Nkosazana.)
En nee, daar is bittermin kans dat die ANC se uitvoerende komitee binnekort vir Cyril gaan uitskop. Dié lot is net oor hul eie mae bekommerd, en hulle weet goed Cyril is die enigste rede waarom die ANC nie Woensdag se verkiesing verloor het nie – hy is baie gewilder onder Suid-Afrikaanse kiesers as die party self.
Mense bespiegel al lankal wat Cyril se eerste naam, Matamela, beteken. Dalk beteken dit “die gans wat die goue eiers lê”.
Wind van voor vir onverdraagsaamheid
Populiste en ekstreme demagoge wat met haat en onverdraagsaamheid smous, begin uiteindelik die wind van voor kry. Die Gelykheidshof het dié week vir Obersturmführer Andile Mngxitama van Black First Land First opdrag gegee om van sy bende se slagkreet, Land or Death, ontslae te raak. Multichoice het besluit om Veldkornet Steve Hofmeyr op al sy platforms te verbied.
Die mediapersoonlikheid (!) Karima Brown het Hoofkommissar Julius Malema hooggeregshof toe gesleep weens sy en sy volgelinge se aanvalle op haar. Facebook en Instagram het ses prominente Amerikaanse ver-regses en die anti-Semitiese Louis Farrakhan onder die gat geskop.
In Nieu-Seeland het die voorste mediahuise ooreengekom om die verhoor van die Christchurch-terroris Brenton Tarrant met groot omsigtigheid te dek om te voorkom dat hy die verhoor as platform gebruik om sy haatlike rassisme te versprei.
Dis omtrent tyd. Handelaars in rassisme, onverdraagsaamheid en vooroordeel het lank genoeg die beginsel van vrye spraak misbruik –ondermyn – om hul haatspraak te versprei. Gematigde, vryheidsliewende demokrate moet dié veldtog verskerp en die haters verder isoleer, beslis ook hier in Suid-Afrika.
Dít is die nuwe struggle. En nie net die haters van die BLF en die EFF nie, ook die wit rassiste en apartheidontkenners. Hofmeyr se uitlokkende uitsprake was duidelik daarop gemik om sy loopbaan as celebrity en musikant te bevorder, en dit is reg en goed dat dit nou boemerang. Die handjievol Afrikaanse sangers in sy vaarwater en sakemense soos die Coleske broers wat gedink het daar is groot geld uit ‘n nuwe, retrogressiewe Afrikaner-nasionalisme te maak, moet nou die boodskap kry.
Ware demokrate en verdraagsames weet deeglik dat dié veldtog ook potensieël gevare inhou en sal ewe hard baklei dat niemand se reg op ‘n standpunt ondermyn word of inligting van die publiek weerhou word nie. Selfs die onsmaaklike, aandagsoekende Hofmeyr se reg om sy sê te sê moet met geesdrif verdedig word terwyl hy sosiaal geïsoleer word en ordentlike openbare platforms ontsê word. Geen teenstrydigheid hier nie.
Homofobie kelder rugby-reus
En dan is daar die geval Israel Folau, een van Australië se mees talentvolle rugbyspelers. Die rugbybase het hom aan ‘n hoë-vlak oortreding skuldig bevind nadat hy (weer) op sosiale media verklaar het gays is boos en gaan hel toe.
Dit gaan waarskynlik die einde van sy belowende sportloopbaan beteken. Rugbyliefhebbers gaan dalk sê dit is ‘n jammerte, maar dit was Rugby Australië se enigste opsie.
Homofobie kan nie meer anders as rassisme, xenofobie of vrouehaat behandel word nie. Daar was ‘n goeie kans dat Folau vanjaar nog in ‘n wedstryd sou speel wat deur die top-skeidsregter Nigel Owens beheer word. Owens hou die rekord as skeidsregter wat die meeste internasionale toetse beheer het. Hy is ook gay en maak geen geheim daarvan nie. Hy is in 2016 as Member of the Order of the British Empire (MBE) aangestel.
ANC gee Iqbal se geld terug
Die Iqbal in die drinkwater, Independent Media grootbaas Iqbal Survé, kan homself net nie help nie. Dié week het hy met groot gebaar ‘n miljoen rand aan die ANC geskenk om hulle met die verkiesingsveldtog te help. Toe die media en die publiek ‘n stank daaroor opskop, het die ANC besluit om die geld terug te gee en die persepsies ná die beweringe oor hom voor die kommissie van ondersoek na die openbare beleggingskorporasie as rede aangevoer.
‘n Koerantbaas wat geld vir die regerende party skenk? Dis darem ook nie die eerste keer nie. Die ou Nasionale Pers was dekades lank hand-om-die-blaas met die Nasionale Party, en meer onlangs was die Gupta-broers se ANN7 en The New Age, albei nou saliger, in die bed saam met die ANC.
Die rubriekskrywer Tom Eaton het getweet: “Sjoe, you know your name is gat when not even the ANC will take your money.” Finansghoeroe Dirk de Vos het weer op Twitter laat weet: “The problem with the Iqbal Survé/ANC donation is that it wasn’t enough money for the hassle. Shows Iqbal is short of cash too. @IndyMediaSA won’t make it to the end of 2019.”
Waar kruip Brownnose weg?
Wat op deesk aarde het van Lynne Brown (ook as Lynnbrownnose bekend) geword? Anders as ander senior ANC skelms en staatskapers wat nog soos kapokhane rondparadeer, het dié kameraad soos ‘n groot speld verdwyn nadat haar rol in die verwoesting van staatsondernemings op die lappe gekom het.
Waar die oud-minister vaan staatsondernemings ook al wegkruip, ons hoop sy volg die verrigtinge by die Zondo-kommissie na staatskaping waar haar sondes elke nou en dan op die lappe kom.
Soos vandeesweek met Popo Molefe se getuienis oor die massiewe korrupsie by Transnet. Popo het die vinger na drie van Lynnbrownnose se maatjies gewys wat met haar dekking die plek op sy knieë gedwing het: Brian Molefe, Anoj Singh en Siyabonga Gama.
Molefe en Singh is natuurlik van Transnet na Eskom, waar hulle hul spoor van verwoesting voortgesit het. Gama, wat in 2009 by Transnet afgedank is weens verskeie ongerymdhede, is ‘n jaar later heraangestel en ‘n R10 miljoen prestasiebonus betaal.
Lynnbrownnose het hom in 2016 tot hoofbestuurder bevorder (met ‘n salaris van R7,5 miljoen per jaar) en het dit destyds só regverdig: “He has logistics, transport experience, and financial experience. He has literate qualities. And those are the qualities were are looking for when I have to take a position to the cabinet."
Hy is twee jaar later weer afgedank en gaan hopelik binnekort ‘n oranje oorpakkie dra. Lynne bly net om die draai van Pollsmoor af, sy sal maar vir Siyabonga KFC moet vat. (Siyabonga beteken “dankie”.)..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.