Só het dwelmbaronne in ‘maklike en veilige’ SA baljaar

DWELMS

Só het dwelmbaronne in ‘maklike en veilige’ SA baljaar

Internasionale sindikate het oor die jare “tonne en tonne" dwelms vervoer na Suid-Afrika, van waar dit oor die wêreld heen versprei is. Dít, asook die beweerde betrokkenheid van verskeie prominente Suid-Afrikaners, het pas in 'n New Yorkse hof aan die lig gekom, berig JACQUES PAUW in die tweede aflewering van 'n spesiale ondersoek.



'n  Dwelmsindikaat van Oos-Afrika het oor 'n tydperk van drie jaar minstens 15 ton dwelms na Suid-Afrika gesmokkel van waar dit weer na die res van die wêreld versprei is.
Volgens getuienis wat pas in 'n opspraakwekkende strafsaak in die federale streekhof in New York aangehoor is, is Suid-Afrika 'n maklike en veilige deurgangsroete vir van die wêreld se grootste dwelmbaronne.
Volgens Amerikaanse ondersoekers het die smokkelaars van Oos-Afrika, bekend as die Akasha-sindikaat, in Suid-Afrika gemoor en sonder enige vrees vir vervolging hier óf in Kenia links en regs amptenare en wetstoepassers omgekoop.
Die Akasha-sindikaat se leiers, die Akasha-broers Ibrahim en Baktash, asook die Indiër Vijay Goswami, is in aanhouding in New York nadat hulle na bewering saamgesweer het om onder meer 99 kg se “diamantgraad”-heroïen na Amerika te smokkel.
Die Akasha-sindikaat se heroïenverskaffer was 'n Pakistani bekend as “Die Sultan” – Mohammed Asif Hafeez. Hy is glo die wêreld se grootste verskaffer van wit heroïen.
Dié heroïen word in Afghanistan gekweek en vervaardig, van waar dit na Pakistan en Oos-Afrika gesmokkel word. Van daar af word dit deur onder meer Kenia, Tanzanië en Mosambiek na Suid-Afrika gebring en van hier weer verskeep na Europa, Asië en Noord-Amerika.
Die Akasha-broers en Goswami is in November 2014 in hul luukse seekus-villa in Mombasa, Kenia, in hegtenis geneem ná 'n gesamentlike operasie deur die Amerikaanse Drug Enforcement Agency (DEA) en die Keniaanse polisie.
Bollywood-sensasie
Goswami se vriendin, die Bollywood-aktrise Mamta Kurkani, is saam met hulle in die vangwaens geboender en vir 'n dag of twee aangehou. Dié stukkie nuus het 'n sensasie in Indië veroorsaak.
Dit het die Amerikaners drie jaar geneem om die sindikaat na Amerika uitgelewer te kry. In dié tydperk het die sindikaat nie net met hul dwelmsmokkelary voortgegaan nie, maar onder meer regters, goewerneurs en polisiebeamptes omgekoop om hul uitlewering in die wiele te probeer ry.
Die uitleweringsaak is menigmaal uitgestel. Een van die beskuldigdes het beweer hy verstaan nie Engels nie en het 'n Farsi-vertaler nodig. Elkeen van die vertalers wat 'n voet in die hof gesit het, is gedreig en het laat spaander.
Uiteindelik het die Amerikaners in samewerking met Keniaanse top-amptenare die beskuldigdes in 'n vliegtuig geboender en na Amerika geneem.
Goswami het tydens ondervraging in New York teen sy makkers gedraai en 'n “samewerkende getuie” geword. Hy het verdoemende getuienis oor die Akasha-broers en Hafeez gelewer en elke dwelmgeheim van die sindikaat uitgeblaker. Hy het onder meer vertel hoe die bende 'n Suid-Afrikaanse dwelmsmokkelaar vol gate geskiet het ten einde ander te laat weet om nie met hulle te sukkel nie.
Goswami het in Oktober verlede jaar in 'n voorverhoor (grand jury) in New York getuig en onder meer vertel hoe 'n topamptenaar in die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap (SSA), Thulani Dlomo, hom aan die Gupta-sakevennoot Salim Essa voorgestel het.
Essa het glo op sy beurt vir Goswami aan die Gupta-broers voorgestel. Hy het hulle aan Hafeez voorgestel wat sakemense gesoek het om sy dwelmgeld van miljoene dollar te “was”.
Goswami het gesê in die volgende paar jaar het die Guptas miljoene dollar se dwelminkomste vir Hafeez “gewas” en as “skoon” geld na bankrekenings in Dubai, Switserland, Spanje en Luxemburg oorgeplaas.
Vrye Weekblad het twee weke gelede hieroor berig. Essa het dié bewerings ten sterkste ontken, terwyl die Amerikaanse departement van justisie gesê het hulle kan nie op getuienis in 'n voorverhoor kommentaar lewer nie. Ingevolge die Amerikaanse regstelsel word sulke getuienis agter geslote deure gehou en verseël.
Nadat Goswami “gedraai” het, het die Akasha-broers besef die skrif is aan die muur en skuld beken op 'n reeks dwelmaanklagte. Hulle word in Julie gevonnis en sal na verwagting lewenslank tronk toe gaan.
Hulle het reeds hul eiendomme in Kenia aan die DEA oorgeteken omdat dit bekom is met die inkomste uit misdaad. Hulle kan benewens hul lang tronkstraf ook elkeen 'n boete van tussen $50,000 en $500,000 kry.
Twee weke gelede het Amerikaanse staatsaanklaers 'n memorandum van verswarende omstandighede by die hof ingedien. Dit is dié memorandum wat besonderhede bevat oor die dwelmverskepings na Suid-Afrika en die moord op ene “Pinky”.
Intussen is Hafeez in Brittanje in hegtenis geneem en is hy die onderwerp van 'n uitleweringsaansoek na Amerika.
Goswami is in “beskermde aanhouding” en is nog nie aangekla nie. Hy sal na verwagting die hoofstaatsgetuie teen Hafeez wees.
Politieke elites in dié handel verstrik
Afrika – en veral Oos- en Suid-Afrika – ondervind tans die grootste toename in heroïengebruik in die wêreld, en 'n reeks misdaadnetwerke en politieke elites in Oos- en Suidelike Afrika is in dié handel verstrik.
Die toenemende verskeping van heroïen van Afghanistan en Pakistan na Oos- en Suider-Afrika staan bekend as die “suidelike roete” en sluit in Kenia, Tanzanië, Mosambiek en Suid-Afrika. Dié toename word onder meer toegeskryf aan die afname in gewildheid van die Balkan-roete in Oos-Europa wat riskanter geword het weens verbeterde polisiëring.
Só sê die Wêreldwye Inisiatief Teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad (GIATOC), wat in 2018 en 2019 in samewerking met die Instituut vir Strategiese Studies en Interpol 'n studie oor dié roete gedoen het.
Hulle noem hul 2018-verslag The heroin coast terwyl Hiding in plain sight: Heroin’s stealthy take-over of South Africa in April vanjaar uitgereik is.
Die navorsers sê dié roete het nou so belangrik geword het dat die verskeping, verspreiding, verkoop en gebruik van heroïen 'n “kriminele ekonomie” geskep het van Kismayo in die suide van Somalië tot in Kaapstad in Suid-Afrika. 
Die heroïen word verskeep in gemotoriseerde hout-dhows wat in Dubai gebou word, vanaf die Makranse kus in die suide van Pakistan na Oos-Afrika. Die dhows anker in internasionale waters, waarna 'n flottielje van kleiner motorbote die dwelms kom haal om land toe te neem.
GIATOC se navorsing wys daar is dosyne der dosyne plekke langs die kus van Oos-Afrika waar die dwelms afgelaai word, en dis bykans onmoontlik om te polisieer.
Mombasa is Kenia se dwelmhoofstad en smokkelaars is sodanig in die politieke en ekonomiese strukture in dié land ingegrawe dat van hulle suksesvol aan verkiesings deelgeneem het.
Mombasa het die grootste hawe in die streek en in 2015 is 'n miljoen skeepskratte deur sy doeane – wat net een elektroniese skandeerder het. Daar is ook geen kuswag in Kenia nie.
Tanzanië se “sterkman-president”, John Magufuli, het beloof om teen die dwelmplaag in sy land op te tree en volgens die navorsers was hy in 'n mate suksesvol. Hulle sê Tanzanië is 'n “ontwrigte kriminele mark”.
Dwelmbase is sterk ingegrawe in Mosambiek, het die polisie in hul sak en dwelmgeld finansier politieke verkiesingsveldtogte en elemente van die politieke elite. Dié land word beskryf as 'n “smokkelaarsparadys”.
Die navorsers reken minstens een dhow doen per week by die Mosambiekse kus aan en dat tussen 200 en 1,000 ton heroïen dan aan wal gebring word.
Daar word ook tonne heroïen padlangs van Kenia en Tanzanië via Mosambiek na Suid-Afrika gebring. Daar was nog nooit 'n groot beslaglegging op heroïen in Mosambiek nie. In 2016 is op net 2 kg beslag gelê. In die vorige jaar was daar geen suksesvolle polisie-optrede teen heroïen nie.
Daar is gereeld beslagleggings in Suid-Afrika, maar met sy 2,500 km lange kuslyn, netwerk van paaie en spoorlyne, 11 lughawens, verskeie diepseehawens, 54 grensposte en 3,500 km landsgrense is dit soos om ʼn wal water met 'n sigaretboks te probeer stop.
GIATOC reken elke Suid-Afrikaanse grenspos, hawe, pad en lughawe word gebruik om heroïen te smokkel. In Junie 2017 het die polisie byvoorbeeld toegeslaan op Villiersdorp in die Wes-Kaap en beslag gelê op 963 kg heroïen wat in kiste wyn versteek was wat na Europa uitgevoer sou word.
Die invloei van heroïen in Suid-Afrika is soos 'n sluipende dood wat oor stede, dorpe en gemeenskappe neergedaal het, dikwels verberg as nyaope, unga en sugars.  
Die toenemende gewildheid van die suidelike roete het 'n katastrofiese uitwerking op veral jong mense in dié streek. Volgens 2017 se Wêreld-dwelmverslag het Afrika die skerpste toename in heroïenverbruik ter wêreld.
Daar is na raming 55,000 mense in Kenia wat heroïen inspuit, teenoor 32,000 in Tanzanië en 110,000 in Suid-Afrika. Dit sluit diegene uit wat heroïen rook.
Heroïengebruikers in Suid-Afrika bestee nagenoeg R3,6 biljoen per jaar aan dié dwelm.
Moord in rooiligdistrik
Ibrahim en Baktash Akasha, die een in sy 30's, die ander in sy laat 20's, het in 'n narkotikahuis in Kenia grootgeword. Hul pa, 'n Pakistanse immigrant, het hulle reeds op 'n vroeë ouderdom oor dwelms en smokkel touwys gemaak.
Hy is in 1998 in Amsterdam se rooiligdistrik doodgeskiet. Die broers het ná sy dood nie net by hom oorgeneem nie, maar sy dwelmryk uitgebrei.
Vijaygiri “Vicky” Goswami is een van 15 kinders, en 'n metakoloon-smokkelaar (Mandrax) van Ahmedabad in Indië. Mail & Guardian het berig dat Goswami in 'n stadium 'n “onderbaas” was vir die Indiese rampokker Dawood Ibrahim, wat steeds een van die wêreld se mees gesoekte misdadigers is.
Ibrahim is die leier van die sogenaamde “D-Company” en word gesoek vir moord, dwelmhandel en terrorisme. Hy skuil glo in Pakistan en was na bewering betrokke by 'n reeks bomaanvalle in Mumbai in 1993. Hy is as 'n internasionale terroris gebrandmerk en in 2011 was hy nommer drie op die FBI se lys van die wêreld se mees gesoekte misdadigers. Daar is 'n beloning van $25 miljoen as hy vasgetrek word.
Goswami het in 1994 na Suid-Afrika gekom waar hy metakoloon van Indië af ingevoer het en Mandrax plaaslik vervaardig het. Volgens Mail & Guardian het 'n Nasionale Intelligensie-verslag hom as ʼn “welbekende internasionale dwelmbaas” beskyf. Hy het luukse huise en karre gekoop en met “politiek verbindes” skouers gevryf.
Twee van sy vennote was na bewering die sokkerbaas Irvin “Iron Duke” Khoza en die flambojante Soweto-sakeman Robert “Rocks” Dlamini. Laasgenoemde het in 1995 spoorloos verdwyn en Goswami het kort hierna die land verlaat.
In April 1996 het 'n veroordeelde dwelmhandelaar, Billy Villa, gesê dat hy, Khoza, Dlamini en Goswami R1,5 miljoen se Mandrax uit Indië wou invoer. Met die aankoms daarvan in Suid-Afrika was van die dwelms weg. Dlamini het glo gedreig om Khoza en Goswami te ontbloot as hy nie sy geld sou terugkry nie. Hy het daarna verdwyn en is waarskynlik vermoor. Khoza het enige betrokkenheid in moord of dwelmhandel ontken en geen teken is sedertdien van Dlamini gevind nie.
Goswami is in 1997 in Dubai op aanklagte van dwelmhandel in hegtenis geneem en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy het 16 jaar van sy vonnis uitgedien voordat hy vrygelaat is – onder meer omdat hy die Islamitiese geloof aangeneem en met 'n Moslemvrou getrou het.
Hy het in 2012 in Mombasa gaan woon en die bestuurder van die Akasha-sindikaat geword. Hy het egter gereeld na Suid-Afrika gekom om na aflewerings en besendings om te sien.
Dis glo in dié tyd wat hy die Guptas ontmoet het.
Aanloklike Amerikaanse mark
In Maart 2014 het die Akasha-broers en Goswami die geleentheid gekry om hul narkotika-ryk na Amerika uit te brei toe twee Colombiaanse smokkelaars 100 kg heroïen by hulle wou koop. Wat die sindikaat nie geweet het nie, is dat dié Colombiane ondergrondse agente van die DEA was.
Die Akashas was lank reeds in die DEA se visier. Amerikaanse ondersoekers het die Akasha-broers en Goswami as “lewenslange misdadigers van epiese proporsies” bestempel wat betrokke was by heroïen-, metakoloon- (Mandrax-), metamfetamien-, kokaïen- en hasjisj-smokkelary wat in tonnemaat gemeet kon word.
Die “Colombiane” het gesê hulle het $10 miljoen in Dubai om vir die eerste besending heroïen van 99 kg te betaal. ʼn Verdere 600 kg heroïen en 45  kg metamfetamien sou later met ʼn spesiale vliegtuig na “die land van Obama” gesmokkel word.
Die Akasha-sindikaat het reeds metamfetamien – bekend as crystal meth en bykans dieselfde as tik – na Amerika gesmokkel, maar wou 'n voet in die winsgewende heroïenmark kry.
Die Akashas was uitgelate oor dié meevaller en het teksboodskappe vir mekaar gestuur oor die “groot land Amerika” wat “groot profyte” gaan lewer.
Die DEA-agente het aangedring op die hoogste gehalte heroïen, en daarvoor het die Akashas net die man gehad: Die Sultan, oftewel Hafeez.
Hafeez, wat in Londen se eksklusiewe Regent’s Park gewoon het, is lank tevore reeds deur die Amerikaners geïdentifiseer as die wêreld se grootste smokkelaar van wit heroïen.
Dié heroïen word onder meer deur die Taliban in Afghanistan gebruik om sy operasies en terreurnetwerke te befonds.
Die sindikaat was tydens hul onderhandelinge met die “Colombiane” by etlike voorvalle van geweld betrokke. Hulle het twee keer 'n mededinger met die naam Armstrong ontvoer en wreed aangerand. Hy is kort daarna aan 'n hartaanval dood.
'n Suid-Afrikaanse assosiaat van Armstrong, ene Pinky, het die Akasha-broers en Goswami gedreig. Die sindikaat het besluit om Pinky “uit te haal” en dit op so manier te doen dat dit 'n boodskap sou uitstuur: Moenie met ons mors nie.
Die Amerikaanse memorandum vir verswarende omstandighede sê Goswami het die moord gekoördineer en dat Pinky “32 keer in die strate van Suid-Afrika” geskiet is. Goswami het blomme vir Pinky se begrafnis gestuur.
Hulle het verskeie ander mense ook ontvoer en aangerand – en video’s daarvan geneem wat hulle vir die “Colombiane” gewys het. Dit is as 'n waarskuwing beskou.
In November 2014 het 99 kg van Hafeez se heroïen in Mombasa aangekom. Die Akasha-broers het 'n kilogram daarvan vir die “Colombiane” in Nairobi gevat om te toets.
Die Keniaanse polisie het op versoek van die Amerikaners toegeslaan en die Akasha-broers, Goswami en nog van hul luitenante in hegtenis geneem en beslag gelê op die heroïen en 'n arsenaal vuurwapens, onder meer 'n masjiengeweer.
Nog 500 kg heroïen was op 'n skip tussen Pakistan en Oos-Afrika onderweg. Die Akasha-broers het waarskynlik via korrupte polisiemanne daarin geslaag om die skip te waarsku om terug te draai na Pakistan.
Ten spyte van die getuienis teen hulle het die beskuldigdes kort ná hul inhegtenisneming borgtog gekry. Vir die volgende meer as twee jaar het hulle die uitleweringsaansoek keer op keer vertraag danksy wat bekend staan as Kenia se “Lys van Skaamte” – 'n groep Keniaanse amptenare, regters en politici wat die Akashas gehelp het. Dit sluit in drie goewerneurs, 'n kabinetsekretaris, twee regters, 'n sittende parlementslid en verskeie gewese en dienende senior polisiebeamptes.
Amerikaanse staatsaanklaers gaan na verwagting aansoek doen dat hulle aan Amerika uitgelewer word, waar hulle tereg sal staan op aanklagte dat hulle dwelmsmokkel ondersteun en aangehelp het.
Terwyl die sindikaatlede op borgtog was, het hulle onverpoos met hul smokkelaktiwiteite voortgegaan en onder meer met Hafeez saamgesweer om 'n metamfetamien-fabriek in Mosambiek op te rig. Hulle het 'n fabriek gehuur, sekuriteit gereël en 18 ton efedrien van 'n Indiese vervaardiger bestel.
Die Amerikaners het egter daarvan te hore gekom. Die Indiese polisie het die efedrienvervaardiger in hegtenis geneem en die Mosambiekse owerhede het die fabriek toegemaak.
Die Amerikaanse aanklaers sê die Akashas en Goswami het in 2015 tussen vyf en ses ton abba (metakoloon of Mandrax) vanuit Indië na Suid-Afrika gesmokkel waarvoor hulle tussen $600,000 en $700,000 per ton betaal is. Dis altesaam bykans R60 miljoen.
DEA-agente het verder ontdek dat die sindikaat tussen 2013 en 2017 'n Chinese vervaardiger gebruik het om 'n verdere 10 tot 11 ton abba na Suid-Afrika te smokkel waarvoor hulle tussen $300,000 en $350,000 betaal is – 'n verdere R50 miljoen.
Saam met die koninklikes
In Augustus 2017 is die 60-jarige Hafeez in sy spogwoonstel in Regent’s Park in Londen in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hy die koningskeël was van 'n internasionale dwelmsindikaat wat tientalle tonne heroïen en metamfetamien tot in die verste uithoeke van die wêreld verskaf en versprei het.
Amerikaanse staatsaanklaers sê hy was jare lank een van hul voorste teikens, en dat sy narkotika-ryk gestrek het van Kenia tot Mosambiek en van Londen tot New York. Hulle het formeel vir sy uitlewering aansoek gedoen en gesê hy word deur lewenslange gevangenisstraf in die gesig gestaar.
Die eerste reaksie in Londen was een van skok oor 'n man wat almal geken het as ʼn skatryk “nyweraar” wat tussen Dubai en Londen beweeg het. Benewens sy woonstel in Regent’s Park het hy ook 'n plaas ter waarde van 'n beraamde R80 miljoen in Berkshire gehad.
“Poloklub-ambassadeur wat [die prinse] William en Harry ontmoet het, was agter 'n massiewe internasionale narkotiese operasie en was bekend as ‘Die Sultan’ onder sindikaatlede,” het die Daily Mail dit uitgebasuin.
Volgens dié poniekoerant was Hafeez 'n bekende in polokringe en bekend vir sy “stille sjarme”. Hulle het 'n foto van hom publiseer waar hy langs prins William staan.
Hy het ook by geleentheid vir prins Charles ontmoet en skouers gevryf met onder andere prinses Beatrice en die sokkerbestuurder Fabio Capello.
Sy oudste seun, Mohammed Tauseef Asif, het 'n span van 'n dosyn mense van Londen, New York, Pakistan en Indië se beste regsbreine bymekaar gemaak en gesê sy pa is die slagoffer van “verkeerde identiteit”.
Die Akasha-broers word in Julie gevonnis en Goswami sal waarskynlik in beskermde aanhouding bly tot tyd en wyl Hafeez na Amerika uitgelewer word.
Daarna sal die aanklaers begin met die tweede golf van strafregtelike vervolgings, onder meer die regters, goewerneurs en polisiemanne wat die sindikaat in Kenia ondersteun het. En, wie weet, dalk ook die broers Ajay en Atul Gupta wat na bewering Hafeez se vuil geld gewas het.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.