Bose Brasiliane sny plaaslike markte se keel af, sê SA se...

DIE HOENDERS IN

Bose Brasiliane sny plaaslike markte se keel af, sê SA se pluimveeboere

Meer as 'n biljoen hoenders word elke jaar in Suid-Afrika geslag, maar plaaslike boere en invoerders is nou in 'n fel stryd gewikkel om koning te kraai in hierdie massiewe mark. Goedkoop invoere verwoes die plaaslike bedryf, sê boere. YOLANDI GROENEWALD probeer agter die kap van die byl kom.


INVOERDERS en produsente is behoorlik die hoenders in vir mekaar en voer 'n fel stryd oor wie gaan koning kraai in Suid-Afrika se groot hoendermark.
Die afgelope maand het 'n duidelike handelsoorlog uitgebreek wat kritiese gevolge kan hê vir arm Suid-Afrikaners wat die meeste van hulle proteïen van hoendervleis kry.
Produsente het vir 'n 82%-heffing op ingevoerde hoender gevra, om hoenderboere van ondergang te red. Maar dit kom neer op proteksionistiese maatreëls, sê die invoerders, 'n vloekwoord in die vryemarkstelsel.
Storting
Die afgelope dekade het die wêreldmarkte al hoe meer met proteksionisme begin flankeer, met globalisering wat baie plaaslike markte se keel afsny.  Suid Afrika se minister van nuwerheid en handel, Rob Davies, is self simpatiek teenoor proteksionistiese maatreëls om bedrywe in Suid-Afrika te beskerm.
In Amerika se handelsoorlog met China het pres. Donald Trump onder groot kritiek byvoorbeeld kwaai tariewe gehef op Chinese karre om Amerika se eie motorbedryf weer aan die gang te kry en te beskerm.
Suid-Afrikaanse produsente gebruik weer 'n ander handelsvloekwoord: storting.
Tradisioneel beskou handelsvennote die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf as baie proteksionisties van aard, met die Internasionale Pluimveeraad se president, James Sumner, wat in 2017 gesê het Suid Afrika gebruik storting as verskoning om enige oorsese kompetisie uit die land te hou.
Bose Brasiliane
Ekonome beskryf storting as om 'n produk teen minder as sy produksiekoste te verkoop om sodoende markaandeel vir groter uitbuiting te verseker, maar vir baie wek dit beelde op van nare produkte wat sommer net in jou land gegooi word omdat niemand anders dit wil hê nie en só 'n gehalte- plaaslike bedryf in die kiem smoor.
Die produsente se argument is dat invoerders, veral die “bose Brasiliane", besig is om Suid-Afrika se hoenderbedryf nek om te draai met die storting van goedkoop hoenders.
Duisende werksgeleenthede is in die gedrang, en opkomende boere moet hulle deure sluit omdat hulle net nie kan meeding nie.
In die ander hoek sê die invoerders die plaaslike hoenderbedryf is net nie internasionaal mededingend genoeg nie, met ondoeltreffende praktyke wat die plaaslike bedryf ondermyn. Hulle gebruik storting as verskoning om kompetisie te verminder. 
Die voorsitter van die organisasie vir opkomende swart in- en uitvoerders van Suid-Afrika (EBieSA), Unati Spiers, sê enige proteksionistiese maatreëls gaan nie die ander kreukels van onvoldoende sakebeplanning en -bestuur uitstryk nie, en is net 'n tydelike oplossing.
Gelyke speelveld?
Enige invoertariewe sal op die ou einde ook net die verbruiker belas, sê dr. Clif Johnston, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (Sancu), wat ook nie glo dat daar storting in die Suid-Afrikaanse mark is nie.  
Die verbruikersunie is sterk gekant teen enige handelsingryping. Hy sê dat invoerbeperkings, tariewe en ander proteksionistiese maatreëls “onvermydelik” prysstygings tot gevolg het.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het verlede jaar by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) aansoek gedoen dat die tarief op hoenderstukke aan die been en ontbeende hoenderstukke van onderskeidelik 37% en 12% tot 82% verhoog moet word. Veral Brasilië, van waar die grootste hoeveelheid ingevoerde hoendervleis tans kom, sal hierdeur geraak word. Brasilië is die wêreld se groot hoenderuitvoerder.
Die tarief van 82% is die maksimum wat die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) toelaat, om die speelveld tussen handelsvennote met ongelyke produksie-omgewings, weens byvoorbeeld subsidies, gelyk te maak.
Donker prentjie
Dis egter nie die eerste keer dat Suid-Afrika en Brasilië 'n geskil oor hoenders het nie. In 2013 het dié Suid-Amerikaanse land daarin geslaag dat die WHO Suid-Afrika se anti-stortingsmaatreëls vir hul hoender afskaf.
Sapa se aansoek word hierdie keer gestaaf met statistieke van hoenderboerderye wat moes sluit en werkers wat uit diens gestel is. Dit skets 'n donker prentjie van 'n bedryf wat besig is om onder te gaan omdat hulle nie met “stortingshoenders” kan meeding nie.
Maar die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) sê die hoenderboere is besig om die waarheid te verdraai, en het  in April 'n dringende aansoek by die Johannesburgse Hooggeregshof ingedien om toegang tot vertroulike dokumente van Sapa te verkry om die statistieke te kan analiseer. Die hof gaan egter eers die aansoek in Oktober aanhoor.
Vandeesweek het die twee partye egter geskik, en die prokureurs en ekonome van al twee partye sal nou mekaar se skade in die handelsoorlog kan ontleed – terwyl die publiek sal kan sien wie verdraai wat. 
Suid-Afrikaanse verbruikers wat gaande is oor 'n hoenderbeentjie, sit in die middel van die stryd. 
Elke week eet die land se bevolking 20 miljoen hoenders, of 'n derde van 'n hoender per persoon elke dag. 'n Biljoen hoenders word elke jaar geslag sodat die volk se lus na 'n sappige stukkie gebraaide hoender versadig kan word.
Maar Suid-Afrika se pluimveebedryf het net in 70% van die aanbod voorsien, sê Johnston. Die res moet ingevoer word. En dis waar die gort nou behoorlik gaar is, want die invoerders bring meer hoender in as wat die volk eet, en baie Suid-Afrikaners kies die goedkoper opsie van ingevoerde hoender.
“Jare gelede was daar hoë invoertariewe, maar die bedryf was erg ondoeltreffend en die keuse vir verbruikers was klein,” sê Johnston. “Die hoenderbedryf het agteruitgegaan en hoender het duur geraak. Dis 'n baie gesonder situasie waarin ons nou is, waar daar kompetisie is wat produsente dwing om beter praktyke in werking te stel.”
Hoewel goedkoop ingevoerde hoender nie soseer 'n slegte ding vir verbruikers is nie, flikker daar gevaarligte: As hulle Suid-Afrikaanse boere uit besigheid dwing, kan hulle die mark oorneem en enige prys vra wat hulle wil. Die invoerders sê egter daar is plek vir gesonde kompetisie, en ruimte vir albei. Daar word selfs vinger gewys na Suid-Afrikaanse hoenderboere wat nie genoeg maak om self uit te voer na markte in byvoorbeeld Afrika nie.
Rekord-invoer
Hoenderinvoer in Suid-Afrika is op 'n rekordsterkte. Vanjaar het daar 539,297 ton hoender die land ingestroom, teenoor 2013, toe 354,877 ton hoenders ingevoer is. Ongeveer R6,03 biljoen se braaikuikenprodukte is in 2018 ingevoer, 'n toename van 1,9% van 2017.
Sapa se hoofbestuurder, Izaak Breitenbach, skat omtrent 61% van die invoer kom van Brasilië, en is meer as wat enige plaaslike hoenderprodusent vermag.  
“Ons het die laaste paar jaar eerstehands die verwoestende uitwerking van onbeheerde storting op veral opkomende swart boere gesien,” sê hy. “Die afgelope ses maande het Sapa met ontsteltenis toegekyk hoe byna die helfte van die kleinboere met wie ons gereeld kontak het, hul deure moes sluit omdat hulle markte deur gestorte hoendervleis oorstroom is. Honderde werkers sluit hulle nou aan by die geledere van die werkloses.”
Die finansiële uitslae van Astral Foods, een van Suid-Afrika se grootste hoenderprodusente, het hierdie week gewys dat hulle sukkel in die mark nadat hulle bedryfswins met 69% afgeneem het.  
Astral se uitvoerende hoof,  Chris Schutte, sê langtermyn-beleggings in plaaslike hoenderproduksie sal belemmer word indien die invoer van pluimvee en storting voortduur. Hy glo “die ondeurdagte en onkundige benadering tot Suid-Afrika se liberale handelsbelemmerings” benadeel Suid-Afrikaners, en werkskepping lei daaronder.
Maar Paul Matthews, uitvoerende hoof van die AMIE, sê die dokumentasie wat hulle nou gaan bekom, is in openbare belang sodat die publiek self kan sien wat die waarheid is.
Hy glo die dokument wat hulle van Sapa gaan bekom, gaan wys dat die hoenderboere die pap te dik aanmaak.  Volgens hom het die hoenderbedryf in 2018 rekordwinste behaal nadat die mark in 2016 'n afswaai beleef het.
Roofhandelaars
Francois Baird, stigter van die Fair Play Movement, die organisasie wat die voortou neem in die geveg teen die storting van ingevoerde hoenderprodukte, sê Brasilië is ’n moderne vyand en skynvennoot wat “stelselmatig voortgaan met die meedoënlose vernietiging van een van ons land se belangrikste landbousektore”.
Die hoenderbedryf gaan deur roofhandelaars opgevreet word, soos wat in Ghana en Senegal gebeur het en byna ook in Kameroen, waar dit net-net afgeweer is, sê hy.  
“As daar nie 'n besliste ingryping en samewerking is tussen die gemeenskap en die regering nie, is die skrif aan die muur,” sê Baird.
“Die bedryf sal nie bloot gewond wees nie, dit sal verwoes wees, oorgeneem deur Brasilië, die Europese Unie en die sulkes wat met markdominansie totale beheer oor hoenderpryse sal hê.”
’n Paar rand goedkoper vandag is bloot aas vir môre se totale prysbeheer, sê Baird, wat glo dat EBieSA net 'n front vir die Brasiliane is.
Spiers is weer bekommerd dat die tariewe die invoermark sal smoor.
“Hoekom moet sekere werke voorkeur kry bo ander? Behalwe vir die 365 werksgeleentheide wat EBieSA onderhou, is daar tussen 10,000 en 12,000 werke in die invoerderbedryf. Hierdie werke word deur die tariewe bedreig.”  
Veiligheid bevraagteken
Dis egter nie net die invoer wat 'n doring in die vlees vir FairPlay is nie. Hulle bevraagteken veral hoe veilig die hoender aan die been is wat in bevrore massas hier aankom.  
Volgens Fairplay voer Brasilië die hoender uit teen watter prys ook al, totaal onverwant aan ware produksiekoste, omdat hulle net daarvan wil ontslae raak nadat hulle hul wins gemaak het deur die borsvleis aan veral die VSA en die Europese Unie te verkoop.
Die skeepshouers vol solied bevrore hompe word dan hier ontvries, herverpak en soms weer gevries. Voedselveiligheid kom só in die gedrang, en die ingevoerde hoender word nie aan dieselfde veiligheidstandaarde onderwerp as plaaslike hoender nie.
Nonsens, sê Matthews.  Die toetsing van ingevoerde vleis is van die hoogste standaarde en geen vleis kom in Suid-Afrika in wat van 'n swak gehalte is nie. Johnston stem ook saam dat die regering die hoenders behoorlik toets.
“Daar was nog nooit ‘n probleem nie,” sê hy.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.