BROLLOKS & BITTERGAL | Die Agbare Mannetjie en...

POLITIEKE SKINDERSTORIES

BROLLOKS & BITTERGAL | Die Agbare Mannetjie en Twitter-kaskenades in Luthuli-huis

Oor wie dit is wat nie Helen Zille is nie, moederlose Carl versus die vreeslose Fikile, en Lindiwe wat die verkeerde Trump-kaart speel.


Regterpresident
Wááát? Het hoofregter Mogoeng Mogoeng politieke aspirasies, of het sy ego net in 'n onbewaakte oomblik oorgeneem?
Mogoeng het dié week 'n klompie onderhoude met radio- en televisiekanale gedoen.
Woensdag was hy op die radiostasie PowerFM toe 'n inbeller hom vra of hy eendag president van Suid-Afrika wil word. Die antwoord was mos voor die hand liggend: Nee, swaer, ek is 'n regter, die hoofregter, hoof van die Konstitusionele Hof. Ek is nie in die politiek nie – ek is nie eens lid van 'n politieke party nie. En moenie dat ek jou nou 'n les oor die skeiding tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag gee nie. A nee a.
Maar dís toe nie hoe die man (wag, hy is omtrent vyf voet vier, kan ons hom nie maar met respek 'n mannetjie noem nie? Agbare Mannetjie?) se antwoord lui nie. Lees hier woord vir woord wat hy toe sê, en let daarop dat hy reg teen die einde skynbaar agterkom hy is besig om droog te maak:
“If circumstances permit that I consider such a responsibility, I would have to reflect on the conditions. Why would anybody want me to be president, what are the conditions?
Because I would never want to assume any responsibility where I’m a puppet. I want to be a puppet of the constitution and of the law. But if anybody were to come with money and want to turn me into a tool that can be manipulated from some point so that I don’t do what the responsibility that comes with the office demands me to do, keep your office.
Because all I wanted to do from a tender age was to never seek a position, never gun for a position. Because I believe that, I believe in a job. I believe in service. So it must all be about serving people. So when that stage comes, if it does come, I’ll reflect on it very deeply, which is a responsibility that is irreconcilable with that of a chief justice, by the way, and take a decision at that time.”
Weet die edelagbare Mogoeng dalk iets wat ons (en Cyril) nie weet nie?
Twittersports
As jy nie op Twitter is nie, liewe leser, mis jy baie. Die meeste van ons politieke sports speel daar af.
In die Wes-Kaap is daar iemand (of 'n groepie) in die binnekring van die ANC wat onder die naam @NotPremierZille amok maak op Twitter. By 'n foto van die provinsiale leier, Faiez Jacobs, en pres. Cyril Ramaphosa tweet @NotPremierZille: “@CyrilRamaphosa, watch out for this two-faced snake, he conspired against you with @MKKhalidSayed and @camerondugmore to undermine your good work during the campaign.” (Muhammad Khalid Sayed is leier van die ANC-Jeugliga in die provinsie en Cameron Dugmore is 'n voormalige provinsiale raadslid.)
In nog 'n tweet sê @NotPremierZille: “During @ANCWesternCape_ provincial list debacle business people close to Iqbal [Survé] ran the caucus named ‘Project Zebra’ to outmaneuver the ‘CR caucus’.” 'n Reeks tweets verbind Jacobs met die R1 miljoen wat Survé dae voor die verkiesing aan die ANC in die provinsie betaal het, en blykbaar nog nie teruggegee het nie.
Nou wie kan @NotPremierZille wees? In die Kaap is die jongste skinder dat dit niemand anders is nie as Ebrahim Rasool en/of 'n groepie om hom. Rasool, 'n voormalige premier en ambassadeur in Amerika, was die hoof van die party se verkiesingsveldtog in die provinsie. Die teorie is dat hy vir Jacobs as provinsiale leier wil uitwerk. Rasool se binnekring ontken natuurlik hewiglik dat hulle agter die tweets sit.
Fearfokkol en die fraudster
Maar die rêrige sports is op sentrale vlak. Die begaafde toi-toier Carl Niehaus (wie se ma ná haar begrafnis steeds lewe), Jacob Zuma se persoonlike imbongi en nou Ace Magashule se regterhand, is in die middel van 'n tweetstorm.
Dié week blok NUK-lid en minister Fikile Mbalula vir Carl op Twitter, waarop Niehaus reageer:
“Hmm, so this young chap Mr Fearfokkol @MbalulaFikile, has gone & blocked me. He seems to fear much, especially engagement about his blatant opportunism, careerism and lack of respect for his seniors, such as the SG of the ANC, comrade @MagashuleAce. Talk about real cowardice!”
Waarop Mr Fearfokkol, soos Mbalula himself op Twitter noem, antwoord:
“You are a crook what the hell you doing at Luthuli House is still a mystery to us. Now that we are done with elections we must deal with you.” In 'n latere tweet sê hy: “This guy is a well known crook he is employed at our head office how come njani? Fraudster.”
Waarop minister Derek Hanekom ook inspring met sy tweet: “Carl, let’s rather talk about the money you took from people with your story about having bone marrow cancer. A deputy minister even went to the funeral of your mother, only to discover that she was still alive.”
Niehaus is glo die brein agter Zuma se Twitter-veldtog van die laaste paar maande. Hy gebruik sy eie Twitterrekening deesdae meestal om Ace Magashule aan te prys. Dít is die gehalte van die anti-Ramaphosa- terugvegbende.
Maar Carl is nie heeltemal verkeerd oor Mbalula se “careerism” nie. Hy kruip duidelik gat by Ramaphosa in die hoop dat hy 'n kabinetsposisie gaan losslaan. Hy het selfs al in die openbaar met Magashule gebots. Dié het op 'n vraag van 'n joernalis of Ramaphosa se gewildheid 'n verskil in die verkiesing gemaak het, geantwoord dat mense vir die ANC stem, nie vir individue nie. Mbalula het hom hieroor gekonfronteer en gesê Ramaphosa was ongetwyfeld 'n “game changer”.
Ace se foksterriërs
'n Debat oor Pieter-Louis Myburgh se boek oor Magashule, Gangster State, wat op die Vrystaatse Universiteit se kampus sou plaasvind, is deur die universiteitsowerhede afgelas.
Dít is nie die soort ding wat by universiteite moet gebeur nie. Kampusse behoort die broeiplek van idees en markplein van debatvoering te wees. Om toe te gee aan dreigemente van geweld is om 'n glybaan te betree waar vrye spraak uiteindelik erg ingekort kan word.
Maar bronne op die kampus sê hulle het goeie rede gehad om te verwag dat die ANC-Jeugliga in die provinsie, Magashule se persoonlike foksterriërs, die bespreking geteiken het en vas van plan was om dit gewelddadig te ontwrig. Die besluit is teësinnig in die belang van die veiligheid van studente, dosente en die skrywer geneem, is aan ons gesê.
Dit is darem maar waaragtig tyd dat die Ace-sweer in ons politiek oopgesteek word
Silwertong-Cyril
Die Man met die Silwer Tong, die Hoof-verleier van Sakelui, is titels wat Cyril Ramaphosa agter sy naam kan skryf. Hy was Dinsdag weer op sy stukke by Goldman Sachs se beleggerskonferensie in Westcliff, Johannesburg. Die gryskop-rykgatte het uit sy hand geëet. Nie dat dit 'n slegte ding is nie; die korporatiewe sektor het hoeka 'n bietjie meer positiwiteit nodig.
Dit laat 'n mens terugdink aan Cyril se voorgangers. Nelson Mandela het ook 'n hartlike verhouding met sakebase gehad, maar sy aanslag was eintlik nie veel meer nie as om hulle sakke te skud vir skole en vir sy kinderfonds. Thabo Mbeki kon nie lekker met Groot Kapitaal konnekteer nie; sy eie onsekerhede was te groot. Jacob Zuma het nooit juis die geleentheid gehad nie, want hy is nie genooi nie. Sy idee van skakeling met die private sektor was om ryk skelms soos die Guptas en Roy Moodley na Nkandla te nooi om geskenke af te lewer.
Colin Coleman, Goldman Sachs se plaaslike grootbaas, is Cyril se voorste pryssanger in die korporatiewe sektor, en hy was die een om Cyril voor te stel en vrae aan hom te stel. Ook nie 'n slegte ding nie, want kort daarna het Goldman Sachs aangekondig dat hulle hul aktiwiteite in Suid-Afrika aansienlik gaan uitbrei.
Coleman het Cyril oor Eskom en die betroubaarheid van elektrisiteitslewering uitgevra. Nee, als loop klopdisselboom, sê Cyril toe, selfs met die komende winter. En toe voeg hy by, net ingeval dinge skeefloop: Ten minste, dit is wat die minister van openbare ondernemings vir my sê. Elke oggend om 07:30 kry ek op my selfoon 'n boodskap van hom wat sê watter kragsentrales sukkel en watter goed werk. Hy doen 'n groot job, hy moet 'n bonus kry.
Ten minste weet ons van één minister wat seker van sy posisie in die nuwe kabinet is. Ons dink Pravin Gordhan moet nie net 'n bonus kry nie, dalk moet ons vir hom 'n standbeeld êrens oprig.
Cheryl en Thuli en die kabinet
Dit bring ons by Cyril se eerste groot toets ná die verkiesing: die samestelling van sy kabinet. Hy is self verantwoordelik vir die hoë verwagtinge dat dit 'n kleiner, maar bekwamer en eerliker groep mense gaan wees.
Hier is wat hy by die Goldman Sachs-byeenkoms gesê het: “We're now going to reconfigure our cabinet as part of the reform package our country needs for the economy to move forward and address the needs of our people.”
Dit kan nie te moeilik wees om die getal poste in die kabinet te verminder nie. (Onthou, Mandela het net 16 ministers gehad, toe groei dit tot oor die 30 met baie adjunkte.)
In die ekonomie-klos is daar vyf ministeries: finansies; ekonomiese ontwikkeling; handel en nywerheid; kleinsake; en toerisme. Dit kan tot twee ministeries verminder word.
Daar is 'n hele spul ministeries wat breedweg onder binnelandse sake val: samewerkende regering; kuns en kultuur; sport; vroue; staatsdiens; openbare werke; en sosiale ontwikkeling. Dit kan ook tot twee verminder word.
Polisie en korrektiewe dienste hoort saam, so ook minerale en energiesake. Justisie en staatsekuriteit kan een minister hê.
Daar is vier departemente wat vanweë die belangrike taak wat hulle het, los behoort te staan en baie sterk ministers moet kry: water en omgewingsake; kommunikasie en tegnologie/wetenskap; basiese onderwys; en grondsake en landbou.
En minstens die helfte van die kabinet moet vroue wees. Darem maar jammer mense soos Cheryl Carolus en Thuli Madonsela is nie beskikbaar nie. Maar Cyril sal seker vir Thoko Didiza kan nadertrek.
Lindiwe protesteer te veel
Gepraat van vroue in die kabinet. Lindiwe Sisulu is bekwaam en ervare, maar so nou en dan hang haar venynige, diktatoriale onderrok te ver uit. News24 se Adriaan Basson het 'n paar dae gelede geskryf daar is 'n teorie in ANC-kringe dat Magashule en die terugvegbende op Sisulu se “blinde ambisie” staatmaak om haar te kry om Cyril te help onttroon. Sy wil glo graag die volgende adjunkpresident wees.
Ons weet nie of Basson se teorie steekhoudend is nie. Maar Sisulu se reaksie was heeltemal OTT en sy gaan gryp toe na die oorgebruikte Trumpisme: fopnuus. “The minister finds Basson’s fictitious story offensive and highly unprofessional. His theory is gathered from fake news and rumour meant to spread fear and discord in the ANC.
“The minister finds the comments very malicious and lacking journalistic integrity as Mr Basson did not seek any comment from the minister or offer her a right of reply. The minister is consulting her legal team.”
Ag, asseblief. Watter hof gaan nou politieke bespiegeling as lasterlik aanvaar? Die dame protesteer net 'n bietjie te veel. Skielik lyk dit asof daar wel waarheid aan die skinderstorie kan wees.
Hou dit in die familie
“Black Twitter" is op hol omdat 'n kleinseun van Hendrik Verwoerd, Wynand Boshoff, 'n lid van die parlement gaan word. Hy is die seun van Carel Boshoff en Anna Verwoerd en broer van Klein Carel, hoofseun van Orania. Maar mense vergeet ons eerste demokratiese parlement het ook 'n Verwoerd as lid gehad, Melanie, toe nog getroud met 'n ander Verwoerd-kleinseun, Wilhelm, en sy was 'n ANC-lid. Wilhelm is allesbehalwe 'n Vryheidsfront-ondersteuner, soos sy onlangse boek, Bloedbande: 'n Donker tuiskoms, getuig. Hy was lank 'n vredemaker in Noord-Ierland.
Familie-Plus
Die VF-Plus neem homself duidelik ernstig op as 'n party wat familiewaardes wil bevorder. Die veteraan-LP Corné Mulder (broer van oudleier Pieter) verwelkom sy kleinneef, Jaco Mulder, in die VF-banke; leier Pieter Groenewald sy seun Michal; en sittende LP Wouter Wessels se vrou, Tammy, word ook 'n LP.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.