Quo vadis, DA?

KRUISPAD

Quo vadis, DA?

... oftewel, die pad vorentoe is lank en swaar vir die DA, wat ’n lang geskiedenis van interne probleme het. Die party se post mortem ná die verkiesing kan ’n betekenisvolle invloed op die Suid-Afrikaanse politiek hê, skryf JASON ROBINSON.

  • 24 Mei 2019
  • Nuus & Politiek
  • 6 min om te lees
  • artikel 2 van 30
  • Jason Robinson



DIE DA se post mortem ná die verkiesing gaan uitgerek en pynlik wees en die uiteindelike eindresultaat kan ’n betekenisvolle invloed op Suid-Afrika se politieke landskap hê. Die party en sy voorgangers het tevore al bestaanskrisisse beleef en dit oorleef, maar daar was nog nooit so baie op die spel nie.
Van die party se vier kerndoelwitte –  landwye groei, bring die ANC onder 50% in Gauteng en in die Noord-Kaap en behou sy meerderheid in die Wes-Kaap – het hy net een bereik. Om skande by die skade te voeg het hy in twee provinsies sy posisie as amptelike opposisie aan die EFF afgestaan.
Die byna twee jaar van verbete interne verdeeldheid, en gemengde boodskappe het sy tol geëis. Die belangrikste hiervan was die Patricia de Lille-debakel, beleidsdebatte oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en voortslepende identiteitsprobleme.
Onrus agter die skerms
Die beleërde DA-leier, Mmusi Maimane, het verlede week ’n mosie van vertroue ontvang van sy party se federale uitvoerende raad, maar agter die skerms broei die onrus en dis te verstane. Ondanks die slagting by die stembus sal Maimane amptelik leier bly tot ’n federale kongres in 2021. En net soos die ANC is daar ’n gebrek aan oortuigende alternatiewe.
As Maimane sou moes loop, sal dit onvermydelik lei tot beskuldigings dat die DA ontslae raak van ’n swart leier oor wie hy in die eerste plek nooit baie seker was nie. Dit sal die wydverspreide persepsies bevestig dat ’n wit leierskapkliek agter die skerms doenig is.
DA-leiers het volgehou die verlies van die sogenaamde rassenasionaliste kon voorspel word omdat die party hom begin herposisioneer het in die rigting van die swart meerderheid. Die getalle klop egter nie en hulle weet dit sekerlik.
Nie ’n nuwe penarie
Sonder inagneming van pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid is die verlies van meer as 470,000 stemme ná die “nege verlore jare” van Zuma se presidentskap ’n reuse-aanklag, veral ná die suksesse wat die DA in 2016 se plaaslike verkiesing behaal het.
Die DA se penarie is nie heeltemal nuut nie: Sy voorganger, die Demokratiese Party (DP), het in die 1990’s soortgelyke bestaanskrisisse beleef. Vanaf sy stigting was daar verskeurdheid en faksiegevegte tussen die groepe waaruit die party bestaan het.
Gereelde oorlopery na die beter toegeruste Nasionale Party (NP) en ANC het die vrees laat ontstaan dat die DP in duie sou stort. Uiteindelik het die meer tradisionele en ekonomies liberale faksie die oorhand gekry.
In die aanloop tot die 1994-verkiesing was die DP se ambisieuse verwagting dat hy sowat 6% van die stemme op hom kan verenig en só homself kon vestig as die beskermer tussen ’n hartelose NP en ’n ANC wat deur kommuniste oorheers word.
Onder die leierskap van die goed bedoelende maar ondoeltreffende Zach de Beer het die DP net so ’n verwarrende en negatiewe veldtog gevoer soos die DA se pas afgelope een. En die DP het net so ’n verpletterende nederlaag gely met net 1,7% van die stemme en sewe parlementslede.
Toe oproepe begin opgaan dat die party ontbind word, het die nuwe leier, Tony Leon, en sleutelstrateë in die party, veral James Selfe, die proses begin om vas te stel of die DP hoegenaamd ’n toekoms het. Hulle het leiding gaan soek by hul lede, sakeleiers en dinkskrums.
In ’n interne strategiedokument, Growing For Growth (wat vermoedelik deur Selfe geskryf is), is die party gewaarsku dat ’n “bloody depressing” toekoms voorlê as die DP voortgaan op sy huidige koers wat “hoofsaaklik gerig is op die wit, Engelssprekende middelklas”.
Die aandag het verskuif na potensiële alliansies en strategiese vennootskappe en die skepping van ’n party met groter aantrekkingskrag. Prof. Bill Johnson het Leon gewaarsku dat ’n koalisie met die IFP en sy ongewilde leier, prins Mangosuthu Buthelezi, ’n “onheilige alliansie” tot gevolg sou hê en die party in ’n “regsgesinde ghetto” kon laat beland.
Verower wit, Afrikaanssprekende stem
’n Siniese, maar berekende strategie het uiteindelik die lig gesien: Verower die wit, Afrikaanssprekende stem deur die verwoesting van die NP. Eers dan, het die leierskap geglo, kan die party swart kieserskorps begin indring.
Die kontroversiële maar suksesvolle “Veg terug"-veldtog van 1999 was die beliggaming van dié benadering. Dié uitstelbenadering kon egter net so lank duur en onder Helen Zille het die party gekapitaliseer op ’n groter minderheidsbasis en verder gegaan as Leon se stuksgewyse transformasiepogings.
Mense soos Maimane en Lindiwe Mazibuko is mettertyd bevorder, en landwyd bekende leiers soos De Lille is ingebring vir ’n toenemend veelrassige politieke projek. Die rampspoedige opgang van Mamphela Ramphele as toekomstige presidensiële kandidaat was ’n sprekende herinnering dat daar perke was aan die party se aanloklikheid vir die swart kieserskorps. Net so het Mazibuko se geswoeg en uiteindelike vertrek persepsies bevestig dat swart partyleiers beperkte beweegruimte sou hê.
Die liberale “brand” het nog altyd ’n onseker en brose plek in die Suid-Afrikaanse politiek gehad. Soos sy voorgangers sukkel die DA om politieke gewin te balanseer terwyl hy sy lank bestaande dog bestrede beginsels uitspel aan sy eie “breë kerk”. Ná sy loesing in 1994 het die DP-leiers bepaal dat hulle “liberalisme ’n werklikheid moet maak vir die armes” en “ons uitgeken moet word aan ons ekonomiese kundigheid”.
Met die staatskaping in die Zuma-era wat ’n skandvlek op die ANC geword het, het die DA gegroei sonder dat sy eertydse doelwitte sodanig bereik is. Hy het aan bewind gekom in die sleutel- metropolitaanse gebiede hoofsaaklik met sy belofte van “good governance”. Ramaphosa se opgang tesame met die voortslepende De Lille-debakel en ander skadelike partygeskille het meegebring dat sulke ambiguïteit dié slag dubbel en dwars gestraf is.
Balanstoertjie wankel
Die DA het nou te doen met ’n sameloop van omstandighede wat ooreenstem met dié van die 1990’s: Die een kant druk vir ’n opheffing van die party se “ANC-lite”-benadering en ’n terugkeer na sy kern- liberale beskouing en die ander kant is oortuig dat ’n nuwe, meer progressiewe of sosiaal-demokratiese rigting ingeslaan moet word. Albei opsies het beduidende risiko’s, maar dis duidelik Maimane en die DA-leierskap se balanstoertjie wankel. Iets sal móét verander.
Die DA het ’n noodsaaklike interne hersiening van sy strukture aangekondig – debatte oor SEB en identiteit sal noodwendig opduik. Versigtige, moeilike besluite sal geneem moet word as die party swart middelklas-kiesers wil teruglok. Die afgelope verkiesing het gewys die kieserskorps is meer vloeibaar as ooit en ook meer ontgogeld: stembriewe is bederf; kiesers het nie gaan stem nie; of nie eens as kiesers geregistreer nie.
Ramaphosa en die ANC se mandaat is duidelik broos. Die EFF het gegroei, maar sy stemme het nie verdubbel of selfs meer as dit soos die meningspeilers voorspel het nie. Dié party moet ook in die komende maande sleutel- strategiese besluite neem.
Diegene wat hulle verlekker in die DA se huidige verdeeldheid kyk die steeds onseker politieke klimaat mis wat vir alle partye voorlê: Ramaphosa se hervormingsagenda gaan tyd in beslag neem, en in die tussentyd bly die ANC grootliks onhervormd en onder druk van die EFF wat ywerig is om sy eie kiesers tevrede te stel.
Intussen groei die nasie se ontnugtering.
 

Dr. Jason Robinson is ’n SA ontleder by Oxford Analytica. Sy doktorale navorsing het die rol van klein politieke partye (ook die DP) in SA se demokratiese oorgang ondersoek. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.
Hierdie artikel is aanvanklik in ons susterspublikasie Business Day gepubliseer.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.