Watter Cyril gaan dié proses dryf?

POLITIEKE TAMELETJIE

Watter Cyril gaan dié proses dryf?

Die gesloer om klarigheid oor die onteiening van grond te kry, het meer te doen met wanbestuur en wanbegrip as met werklike tekortkominge in die Grondwet, skryf ELMIEN DU PLESSIS.

DIE ANC het reeds op sy Polokwane-konferensie in 2007 'n resolusie aanvaar om die markgedrewe grondhervormingsproses te laat vaar wat gebou was op die beleidsbesluit van die 1990’s om die benadering van die sogenaamde “gewillige koper, gewillige verkoper” te volg. In 2008 het 'n onteieningswetsontwerp gevolg wat nooit gepromulgeer is nie.
Daar is erken dat die staat die reg het om grond te onteien vir grondhervormingsdoeleindes, en dat vergoeding betaal moet word in lyn met die Grondwet, wat regverdige en billike vergoeding vereis.
In 2012 by die ANC se Mangaung-konferensie is dit weer duidelik gemaak dat “gewillige koper, gewillige verkoper” vervang moet word met onteiening teen regverdige en billike vergoeding, en daar is selfs toe al die moontlikheid genoem van onteiening sonder vergoeding in gevalle waar grond onregmatig bekom is of gebruik word vir onwettige doeleindes, binne die raamwerk van artikel 25 van die Grondwet. 'n Onteieningswet moet dringend gepromulgeer word, is besluit.
Daar wás toe 'n onteieningswetsontwerp in 2013, maar dis nooit aanvaar nie. En in 2015 was daar viér weergawes wat aanvaar was, maar nie onderteken is nie en deur pres. Jacob Zuma na die nasionale vergadering teruggestuur is. In 2018 is die 2015-onteieningswetsontwerp weer met klein veranderinge ter tafel gelê. Hopelik sal die nuwe parlement dit laat herleef, die nodige veranderinge aanbring en dit promulgeer.
Terwyl die parlement gesloer het om onteieningswetgewing te promulgeer, het die EFF in 2017 twee mosies vir die verandering van die Grondwet ter tafel gelê wat nié aanvaar is nie. By 2018 se Nasrec-konferensie is die kwessie wéér ter tafel gelê. Die ANC het besluit dat onteiening sonder vergoeding 'n meganisme moet wees wat beskikbaar is vir die staat om grond te verkry, maar het nie genoem dat dit moet geskied deur die Grondwet te wysig nie.
Narratief deur EFF gedryf
Die EFF het 'n grondwetlike kwessie daarvan gemaak deur in Februarie verlede jaar wéér 'n mosie voor te lê om die Grondwet te verander. Ná 'n taamlik drastiese wysiging deur die ANC is dié mosie deur die nasionale vergadering aanvaar. Die narratief is egter deur die EFF gedryf.
Die 2018-mosie het daarop aangedring dat 'n komitee aangestel word om ondersoek in te stel of die Grondwet verander hoef te word om die onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat (met die caveat dat dit nie voedselsekerheid mag skaad of die landbou en ander dele van die ekonomie mag ondermyn nie).
Dié grondwetlike hersieningskomitee het in die loop van 2018 openbare verhore gehou en na voorleggings in die parlement geluister, en uiteindelik 'n verslag voor die nasionale vergadering geplaas wat op 6 Desember 2018 aanvaar is. Wat beteken dít, noudat ons 'n nuwe (sesde) parlement het?

In terme van die reëls van die nasionale vergadering is 'n ad hoc-komitee saamgestel wat gebind is deur die mandaat soos uiteengesit in die verslag wat hulle self opgestel het – hulle is hul eie mandaat.
Die mandaat was “om artikel 25 te wysig om uitdruklik te maak wat implisiet is met verwysing na onteiening van grond sonder vergoeding”, as 'n manier om die historiese wandade van arbitrêre ontneming te hanteer, en ook om seker te maak dat die meerderheid van Suid-Afrikaners produktiewe deelnemers kan wees in eiendomsreg, voedselsekerheid en landbouhervormingsprogramme.
Dit moes dringend geskied, en die komitee moes 'n grondwetlike wysigingswet voorlê, verwerk én verseker dat dit deurgevoer word, alles voor die einde van die vyfde parlement. Die opdrag was dus tweevoudig: Wysig die Grondwet om te wys dat ons verbind is om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, maar doen dit deur vorentoe te kyk.
Politieke tameletjie
Vergeet vir eers die ongemak van regsgeleerdes (soos ek) daarin dat die Grondwet nié die plek is om “eksplisiet te maak wat implisiet is” nie. Ons weet hierdie is nie 'n regsprobleem nie, maar 'n politieke tameletjie.
Die taal van 'n Grondwet is doelbewus vaag en oop vir interpretasie sodat dit 'n ewigdurende (of minstens langdurige) dokument sal wees, en dit word aan wetgewing oorgelaat om die alledaagse en veranderende samelewing se behoeftes te hanteer.

Dit is ook die parlement se taak om kwessies deur wetgewing “eksplisiet” te maak, soos die Onteieningswysigingswet van 2018 probeer doen. Dit vereis slegs 'n meerderheid om aanvaar te word, terwyl 'n wysiging van die Grondwet 'n tweederdemeerderheid vereis.
Die gesloer met onteieningswetgewing wat met die Grondwet belyn is, en die grootskaalse mislukking van grondhervorming, het dit nodig gemaak om iets drasties te doen, en dit is dié tier wat nou gery moet word.
Die ad hoc-komitee vir die wysiging van artikel 25 het onder leiding van Thoko Didiza voorleggings van verskeie kenners oorweeg met die oog daarop om 'n beleidsdokument op te stel wat die wysiging kan onderlê. Nie een van die kenners was van mening dat 'n wysiging aan die Grondwet nodig is nie, maar hulle het wel wysigings voorgestel om “eksplisiet te maak wat implisiet is” weens die politieke behoefte aan so 'n wysiging.
Dit is tegnies moontlik, hoewel onwaarskynlik, dat die komitee sou kon terugvoering gee aan die nasionale vergadering dat, ná deeglike oorweging, dit nié nodig is om die Grondwet te verander nie.
Halftydfluitjie blaas net betyds
Die ad hoc-komitee het nie 'n wysigingswet opgestel nie, en te kenne gegee dat dié proses nie in die vyfde parlement afgehandel kon word nie. Die sesde parlement sal nou moet besluit wat om te doen. Sou die parlement kies om met 'n wysiging voort te gaan, kan dit of deur die departement van justisie gedoen word, of deur 'n komitee...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.