Weermag sonder spierkrag, want geld is tot op die been gesny

SWAK VERMOËNS, OU TOERUSTING

Weermag sonder spierkrag, want geld is tot op die been gesny

Suid-Afrika se weermag is in tamatiestraat. Dis tyd dat die regering sy sake hier in orde begin kry – en gou ook, sê HELMOED-RÖMER HEITMAN.

DIE Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in groot moeilikheid en het vinnig dringende aandag nodig om te keer dat die land sonder ’n doeltreffende krygsmag sit.

Sommige sal redeneer dit gaan nie saak maak nie, maar ons bevind onsself in ’n onstabiele streek in ’n tyd van groot magsmededinging en toenemende militêre aktiwiteit deur niestaatsgroepe. Dis nie ’n tyd om nie gebeure te kan monitor of nie vyandige avonture te kan ontmoedig nie. Maar die weermag het reeds ’n baie beperkte vermoë om enige hiervan te doen en gaan binnekort selfs meer vermoëns verloor.

Die leër het nie die nodige infanterie-eenhede om enige ernstige gebeurlikhede verder as sy ontplooiing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en aan die grens te hanteer nie. Die leër het goeie maar meestal uitgediende toerusting uit 1980 tot 1990, en sommige uit die 1970’s en selfs 1950’s. Dit het geen kernvermoëns soos moderne lugverdedigingstelsels nie.

Die lugmag het die Gripen-vegvliegtuig, maar nie die noodsaaklike wapens daarvoor nie. Dit het voortreflike helikopters – die Rooivalk (te min, en met geen presisiewapens nie), Super Lynx (ditto) en Oryx (uit die 1990’s) – maar nie vervoerkapasiteit nie. Dit het net ’n halfdosyn C-130 Hercules-vliegtuie uit 1963, ’n paar 1943-Dakotas met nuwe enjins en ’n paar ligte Casa 212-vervoervliegtuie uit die 1980’s. Dit het nie seevaart-bewakingsvermoëns nie (die 1943-Dakotas het net weerradar en geen optroniese stelsel nie) en ook nie die nodige radar om die land se luggrense doeltreffend te dek nie.

Gebrekkige befondsing

Die vloot het vier moderne lugfregatte (maar net een helikopter elk) en drie moderne patrolleringsduikbote, maar nie die nodige befondsing vir opgradering en opknapping soos beplan nie. Sy ander skepe is drie voormalige aanvalsvaartuie en een ondersteuningskip (almal uit die 1980’s), drie mynjagters (uit die 1970’s) en ’n paar klein vaartuie. Vier nuwe skepe word tans gebou – ’n nuwe opmetingskip om die ou SAS Protea uit die 1970’s te vervang, en drie aanlandige patrolleringsvaartuie – te klein om regtig nuttig te wees.

Die weermag het boonop nie die befondsing ontvang om die belangrike gapings in vermoëns te oorbrug wat in die Verdedigingsoorsig van 2015 geïdentifiseer en goedgekeur is nie, soos monitering van lugruimte en seevaartbewaking, maar het ook nie die nodige befondsing om sy huidige toerusting te onderhou nie. Net een fregat en een duikboot is byvoorbeeld opgeknap, en dan slegs die skip se stelsels, nie die gevegstelsels nie. En nog erger: Die weermag het nie befondsing wat vlieëniers in staat stel om genoeg te vlieg nie, sy skepe om genoeg op die see te vaar en die leër se eenhede en brigades om intensiewe opleiding te ontvang nie.

Selfs operasionele befondsing is onvoldoende. Hier’s een voorbeeld: Die vloot het befondsing vir 417 seedae. Dit kom neer op een skip ter see die hele jaar lank, plus nog ’n skip vir 52 dae. Dit is vir ’n land wat van seevervoerhandel afhanklik is en met ’n kuslyn van 2,800 km.

Baie is reeds gesê oor die hoë en stygende personeelrekening wat net meer as 60% van die begroting is, en daar word ook dikwels na die 40:30:30-formule verwys (40% personeel, 30% elk vir operasionale bedrywighede en kapitaal). Ongelukkig hou hierdie formule nie eintlik verband met die werklikheid nie, want die proporsie personeelkoste sal afhang van hoeveel personeel vereis word en beskikbare befondsing.

Die groot probleem is dat die regering skynbaar nie weet watter vlak van verdedigingsvermoë hy wil hê nie.

Die SANW het ’n swaar leërgewig, en die leër het weer ’n swaar infanteriegewig, albei om goeie redes, maar dit beteken baie mense. Wat in werklikheid gebeur het, is dat die personeelvlakke bestendig gebly het terwyl operasionele verbintenisse toegeneem het. In reële terme het die verdedigingsbegroting egter gekrimp. Daar is beslis potensiaal om personeelgetalle te verminder, met die veronderstelling dat daar geen bykomende missies en take sal wees nie, en te hoë range is plek-plek toegeken. Maar dit alles sal nie ’n noemenswaardige verskil maak nie. Om dinge in konteks te plaas: Selfs magte met minder infanterie bestee meer as 40% aan personeel (soos in Frankryk en Duitsland), en sommige bestee meer as 70% (in België en Portugal).

Die groot probleem is dat die regering skynbaar nie weet watter vlak van verdedigingsvermoë hy wil hê nie. Die Witskrif oor Verdediging van 1996 en die Verdedigingsoorsig van 1998 is albei gegrond op die veronderstelling dat Suid-Afrika hoogstens een bataljon vir een jaar se aksies vir vredesondersteuning sou verskaf. Maar teen 2004 is drie bataljons vir uitgebreide missies in Burundi, die DRK en Darfoer ontplooi; en in 2006 vir ’n kort ruk op die Comoro-eilande. Dit het die leër ooreis.

Weermag is sy eie grootste vyand

Intussen het die lugmag, met die veronderstelling dat hy geen streekverpligtinge buiten daardie enkele bataljon sou hê nie, van byna die helfte van sy vervoervliegtuie en al sy tenkervliegtuie ontslae geraak. Die vloot het van sy enigste seevervoerskip ontslae geraak en net vier fregatte bestel toe die vloot klaarblyklik ses nodig gehad het. Dit blyk uit die behoefte sedert 2011 om patrollering in die Mosambiekkanaal te doen om seerowery te voorkom, en te min skepe beskikbaar was.

En die weermag is sy eie grootste vyand. Hoewel die weermag onderbefonds is, kry hy dit op die een of ander manier reg om elke nuwe missie in die algemeen goed te hanteer. Die vloede in Mosambiek in 2000 waartydens 14,700 mense gered is, die ondersteuning met die verkiesing in 2011 in die DRK, en die vinnige ontplooiing van troepe in Sentraal-Afrika in 2013 is net drie voorbeelde. Die tesourie kan dus aanvoer dat hy duidelik nie meer geld nodig het nie, maar die werklikheid is elke keer wanneer die weermag by hierdie soort aktiwiteite betrokke raak, besnoei dit die begroting verder in murg en been.

Die gebeure in Bangui in Maart 2013 is ’n goeie voorbeeld van waarheen dinge op pad is: Die leër het ’n infanterietekort en geen lugvervoerbare gevegsvoertuie nie, en die lugmag het nie vervoervliegtuie met die betalingsladingvermoë om suksesvol in ’n streek gebruik te word nie. Dit het die krag en samestelling van die ontplooide mag aangedui, wat klaarblyklik te klein en te lig bewapen was. Die gebrek aan lugvervoervermoë het boonop vinnige versterking verhoed. Die weermag het nogmaals dinge uit die mou geskud met ’n indrukwekkende ontplooiing van mag vir ’n teenaanval, indien nodig – spesiale magte, paratroepe, Gripens, Rooivalke en Oryx. Maar dit sou te laat gewees het as die troepe op grondvlak in Bangui nie so uitsonderlik goed geveg het nie.

Ons is volgende keer dalk nie so gelukkig nie. Dit is dus hoog tyd dat die regering besluit wat hy wil hê en om dan die weermag dienooreenkomstig te befonds.

Die artikel word gepubliseer met vergunning van Business Day.


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


X