Is jy lus vir Vrye Weekblad III?

WAAR'S DIE MEMO, STEVE?

Is jy lus vir Vrye Weekblad III?

MAX DU PREEZ skryf versigtig optimisties oor die kanse dat Vrye Weekblad gaan oorleef/herleef en gee sy visie oor wat dit kan beteken.

Image: ANGELA TUCK

AS ek nog getwyfel het of Vrye Weekblad steeds ’n plek in die mediamark en die Afrikaanssprekende samelewing het, het die baie sterk reaksie op ons huidige uitgewers se aankondiging dat hulle onttrek, my oortuig: Ons moet berge versit en sorg dat ons aangaan.

Wie weet, dalk gaan ons binnekort terugkyk en sê Arena Holdings se onttrekking van geldelike bystand was ’n bedekte seën, net wat Vrye Weekblad nodig gehad het.

Ek was oorweldig deur die reaksie op my aankondiging Maandag dat ons op 30 September sal moet sluit: via e-posse, WhatsApp-boodskappe, telefoonoproepe, sosiale media en kommentare onderaan ons eie en ander media se beriggewing oor die saak. Gewone mense, belangrike mense, jongeres en oueres, stedelinge en plattelanders, mense in die Afrikaanssprekende diaspora. En, iets wat ek baie waardeer, kollegas in die media, veral Afrikaanssprekendes.

En byna almal het gevra: Kry tog ’n manier om te oorleef, ons gaan julle te veel mis.

Ons hoor julle, dankie.

Die ratte knars, die wiele draai, die foonlyne gons, my rekenaar zoem soos ’n swerm bye.

Maar wanneer/as Vrye Weekblad terugkom, dié keer op sy eie bene, sal dit ’n nuwe, groter, beter, meer innoverende en ambisieuse projek wees, ’n meer betekenisvolle en invloedryke teenwoordigheid in die mediawêreld en die breër gemeenskap. Dit kan ek vandag plegtig belowe.

Daar was darem ook, voorspelbaar, ’n klompie wat hulle in ons teenspoed verkneukel het. Die een ou skryf byvoorbeeld: “Publiseer afgeleefde, politiek-korrekte linkse skulddweping en die mark gaan jou eenvoudig ignoreer.”

’n Ander tipiese reaksie: “Ek stel voor Du Preez geniet sy aftrede in die ANC-paradys waarvoor hy hom beywer het.”

Nog een (ek moes maar self die ergste spel- en tikfoute regmaak): “Mooi man. Max du Preez se tyd is verby. Hy’s ’n ou regte manteldraaier. Hy was sooo pro-ANC en nou??? Regte ou draadsitter. Nee wat, wie koop so ’n koerant? Nie ek nie.  Ou Max moet maar gaan bakhand staan by sy vroeëre broers kaders ANC.”

En so aan, duidelik van mense wat nog nooit Vrye Weekblad gelees het nie.

Die bekende filosoof en openbare intellektueel Steve Hofmeyr skryf: “Vrye Weekblad sluit. Vir die tweede keer. Ek sien Max het nie die memo die eerste keer gekry nie.”

Ek het nie, Steve. Dié memo is dalk nog in die pos. Jy weet hoe is die poskantoor deesdae.

’n Goue draad deur al die reaksies was dat mense gesukkel het om op Vrye Weekblad in te teken. Ek het letterlik honderde sulke boodskappe gesien. Die tegnologie het vir baie net nie goed genoeg gewerk nie. Wat my laat wonder: As die tegnologie meer verbruikersvriendelik was, sou ons nie dalk genoeg betalende intekenare gehad het om ons uitgawes te dek nie?

As/wanneer Vrye Weekblad III verskyn, sal ons sorg dat dit makliker is om in te teken en met ons te kommunikeer. (Ons waardevolle kommentaarseksie werk juis nie op die oomblik vlot nie.)

Werk solank aan julle tegniese vaardighede, want Vrye Weekblad III gaan dalk, soos die tendensie internasionaal is, heelwat meer van oudio-visuele elemente gebruik maak. Tegnologie is ons vriend.

Die ander kommentaar wat vele gelewer het, is dat ons sinergie met Daily Maverick (DM) moet soek. Dit lyk asof heelwat van ons lesersmark van DM hou, wat nogal insiggewend is. DM is ook ’n onafhanklike uitgewer, ook ’n ontwrigter, en ’n baie suksesvolle een.

Ek en DM se hoofredakteur, Branko Brkic, het al vele gesprekke hieroor gehad en praat nou weer – om die waarheid te sê, die idee van samewerking tussen ons en hulle het twee jaar gelede al van hulle af gekom.

Die probleem is dat DM ’n filantropiese finansieringsmodel het. Hulle kry groot geld by trusts, stigtings en maatskappye wat dit vir hulle moontlik maak om hulle produk gratis aan te bied, en dan vra hulle dat lojale lesers vrywillige bydraes maak.

Ons sukkel nou om uit te werk of en hoe ons by so ’n model kan inpas. Geen filantrope val oor hulle voete om ’n Afrikaanse produk te steun nie, en DM het elke sent nodig wat hulle van hulle skenkers kry.

Maar ons sal aanhou om met die moontlikhede te stoei.

Ek bly glo, en duidelik stem baie met my saam, dat daar ’n behoefte en ’n ruimte is vir ’n ander stem in Afrikaans as Media24 se publikasies en Maroela Media.

My eie instinkte, en ek glo dié van my kollegas, is progressief en sosiaal-demokraties. Maar ons is nie ideologies of gatvas of eenogig nie, eerder oopkop en pragmaties.

Ons bied Vrye Weekblad aan as ’n ope markplein vir idees.

Ons is Afrikaanssprekende Afrikane. En konstitusionaliste. Ons glo as Afrikaanssprekendes hóórt ons hier aan die suidpunt.

Ons wil help om positiewe en verantwoordelike burgerskap te bevorder en tot ’n ingeligte, intelligente openbare mening by te dra – dít is die hoeksteen van ’n demokrasie en ’n oop gemeenskap.

Maar ons gaan nie verdraagsaam wees jeens vrotsige regering, korrupsie, magsmisbruik, rentseeking of rassisme/seksisme/homofobie nie.

Ons wil help om positiewe en verantwoordelike burgerskap te bevorder en tot 'n ingeligte, intelligente openbare mening by te dra – dít is die hoeksteen van 'n demokrasie en 'n oop gemeenskap.

Ons wil ’n produk aanbied wat lesers laat voel dat dit hulle lewe verryk, dat hulle armer daarsonder sal wees, dat dit hulle help om hulle gemeenskap en hulle wêreld beter te verstaan.

Soos met die oorspronklike Vrye Weekblad (1988–1994) het ons ’n soepel, lewenslustige, soms loslittige aanslag en is dit vir ons belangrik dat wat ook al in die publikasie verskyn, uitstekend geskryf moet wees. Die lewe is te kort vir vaal en vervelig.

Daar was die afgelope 40 maande absolute juwele in ons koerant. Ons was ’n piepklein redaksie, maar ons is deur ’n groep talentvolle, intelligente en interessante bydraers bygestaan. Ek hoop hulle bly by ons en nóg kom by wanneer/as Vrye Weekblad III die lig sien.

’n Hele paar mense het in hulle reaksie ook genoem dat Vrye Weekblad meer ondersoekende joernalistiek moet aanbied.

Ek stem saam, maar dit is nie so eenvoudig nie. Ondersoekende joernalistiek is tydrowend, riskant en dúúr. ’n Goeie ondersoekende joernalis kos in die koers van R2 miljoen per jaar, salaris en onkostes ingesluit, en lewer dalk vier of vyf ondersoeke in dié tyd.

Wanneer/as ons voortgaan, gaan ek probeer om afsonderlike en onafhanklike finansiële ondersteuning vir ’n ondersoek- en opleidingseenheid te soek. ’n Trust, dus, en dan kan ons met ander instellings saamwerk.

Vrye Weekblad III se horisonne en mark sal natuurlik aansienlik uitbrei as ons ons artikels ook in Engels beskikbaar stel. Ons kyk daarna ook.

Hoe lyk dit alles, is julle aan boord met Vrye Weekblad III?

Soos ek Maandag aangedui het, sal Arena Holdings jou uitbetaal vir die uitstaande tydperk waarvoor jy ingeteken het.

Ons sal dus van voor af moet intekenare werf. Ek hoop julle wat hier lees, die Vrye Weekblad-gemeenskap, gaan ons daarmee help.

Daar is ’n moontlikheid dat Arena nie die e-posadresse en besonderhede van intekenare en geregistreerde lesers, ook vir ons daaglikse nuusbriewe, aan ons gaan oorhandig nie.

In dié uitgawe plaas ons ’n blokkie waar jy kan kliek om weer as leser te registreer, natuurlik sonder enige geldelike implikasies.

As ons ná 30 September in die eter moet verdwyn, sal ons dan op ’n daaglikse basis steeds met jou kommunikeer met nuusbriewe, dalk met artikels daarby, en met nuus oor die moontlikhede van ’n herlewing. Klik hier om jou kontakbesonderhede met ons te deel.

Hou goeie hoop. Die dame met gewigsuitdagings het nog lank nie gesing nie.

Ek vermoed hier kom ’n ding.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.