- 14 Maart 2025
- Nuus & Politiek
- 11 min om te lees
- artikel 2 van 24
-
Piet CroucampBydraende redakteur
“The fundamental weakness of Western Civilisation is empathy.” – Elon Musk
“They never cared about us.” – 'n Treffende reaksie van 'n swart Suid-Afrikaner op X, in reaksie op die Solidariteit Beweging se besoek aan die Withuis.
IN 'n onlangse onderhoud op die podsending The Joe Rogan Experience het Elon Musk sy siening van empatie binne die sogenaamde Westerse beskawing bespreek. Hy verwys na wat hy noem die “uitbuiting van empatie" en kwalifiseer sy standpunt met: “Hoewel empatie inherent goed is, kan dit gemanipuleer of bewapen word.” Hy maak ook die filosofiese argument dat hierdie bewapening nie net die individu van persoonlike agentskap en verantwoordbaarheid stroop nie, maar ook ontmoedig om krities te wees. Sy mantra dat “vryheid van spraak alle spraak insluit wat nié onwettig is nie”, is sy morele rebellie teen hierdie “gewapende empatie”.
Laat ek my kaarte vroeg speel. Musk se oordeel oor wat goed is vir die mensdom, is in stryd met die liberaal-demokratiese en erbarmlike maatskaplike waardes van Europa, en sy verstaan van empatie kom volledig ooreen met die gemilitariseerde politieke kultuur van Amerika. En vir die meeste van ons het Musk se opinie oor empatie heeltemal tereg 'n skeut fascisme in.
Maar strydig met ons instinkte, dink ek, het hy beslis 'n punt beet wat empatie betref. Empatie is ’n gewaande moralisme met twyfelagtige motiverings en drastiese gevolge vir samelewings wat afhanklik geraak het van die finansiële ondersteuning en ekonomiese hulppakkette van liberaal-demokratiese politieke ekonomieë. Eweneens is die idee van “safe spaces” vir minderhede aan Amerikaanse universiteite ’n vervloekte empatie, soos ook die reg om gevrywaar te word teen aanstoot (the right not to be offended). Hierdie is alles verskynsels wat aanspraak maak op die kodifisering van empatie, maar waarvoor dit eerder geweier moet word.
As dit klink of ek tog ’n mate van regverdiging vir die “DOGE butcher" probeer vind, kom ek gee eers konteks. Musk verwys na homself as “on the spectrum”. Die term is nie 'n mediese diagnose op sigself nie, maar word dikwels informeel gebruik om iemand se sogenaamde neurodivergensie aan te dui.
Die term word veral gebruik om aan te dui dat 'n individu outismespektrumversteuring (ASD) het, 'n neurologiese toestand wat sosiale interaksie, kommunikasie en gedrag beïnvloed. Sommige mense op die spektrum toon intense fokusvermoëns op spesifieke onderwerpe, soos tegnologie, musiek, kuns of wiskunde. Sommige het verbale uitdagings, terwyl ander uiters woordryk kan wees, maar moeite ondervind om hulself behoorlik uit te druk.
Sarkasme en salute
Letterlike interpretasie kom dikwels vir hulle makliker en hulle het moeite om sarkasme of ironie te snap. Terwyl die term of uitdrukking “on the spectrum” algemeen gebruik word, is dit belangrik om sensitief te wees vir die komplekse wêreld waarbinne dié mense hulle bevind. Soms verkies hulle om as “outisties" beskryf te word, terwyl ander “persoon met outisme" verkies. Soos met persoonlike voornaamwoorde vir transmense, is die beste benadering om te vra hoe die persoon self-identifiseer.
Vir Musk het hierdie kompleksiteit, waarmee hy bekend behoort te wees, oneindige hartseer gebring. Sy seun, Xavier Alexander Musk, het sy naam en geslagsidentiteit wettig verander na Vivian Jenna Wilson (haar ma se van). Met die amptelike versoek om die naam te verander het sy verklaar dat sy nie meer “op enige manier, vorm of wyse" met haar pa wil assosieer nie.
Maar terwyl ek simpatieke ruimte laat vir Musk se verstaan van homself as “on the spectrum”, wil ek hom steeds verantwoordelik hou vir sy menings en optredes. Musk word daarvan beskuldig dat hy op 20 Januarie 2025, tydens 'n byeenkoms ter viering van Donald Trump se tweede inhuldiging as Amerikaanse president, 'n gebaar gemaak het wat as 'n Nazi- of fascistiese Romeinse saluut geïnterpreteer kon word. In reaksie op die beskuldigings het Musk dit as gepolitiseerde aanvalle afgemaak en op X, sy sosialemedia-platform, gesê: “The ‘everyone is Hitler' attack is sooo tired." Vir baie kommentators was die feit dat hy nooit die bewerings uitdruklik ontken het nie, ’n soort bevestiging van hul vermoedens dat hy aangetrokke voel tot verregse interpretasies van empatie, geregtigheid en politieke mag.
Dog, Musk se saluut het ook konteks, soos sy kritiek op “empatie". En dié konteks gee ons ’n aanduiding van sy eie begrip van die verhouding tussen mense en die mensdom, asook die reikwydte van politieke mag. Dié opperbevelvoerder van die Departement van Regeringseffektiwiteit (DOGE) het reeds by verskeie geleenthede sy steun vir verregse drukgroepe en politieke partye in Europa uitgespreek. In Januarie 2025 het hy tydens ’n AfD-veldtog 'n virtuele toespraak gelewer en Duitsers aangemoedig om die “skuldgevoel van die verlede” agter hulle te laat. Die AfD (Alternative für Deutschland) het as 'n Euroskeptiese party begin, maar ná die 2015-migrantekrisis het dié party na verregse populisme geskuif.
Van Duitse krisis tot internasionale skade
Dié 2015-krisis het voortgespruit uit die Duitse kanselier, Angela Merkel, se omstrede besluit om die Dublin-regulasie vir Siriese vlugtelinge op te skort. Dié regulasie het vereis dat asielsoekers in die eerste EU-land waar hulle aankom reeds aansoek moet doen om beskermende verblyf. Die skrapping daarvan het migrante aangemoedig om na Duitsland te vlug met die verwagting dat hulle daar makliker aanvaar sou word. Die skielike instroming van migrante het baie Duitsers met werklike en ook verbeelde vrese gelaat.
Die AfD se leiers is bekend vir hul anti-Islam-, anti-immigrasie-, en Duits-nasionalistiese retoriek. Sekere faksies binne die AfD, veral Der Flügel (Die Vleuel), is deur die Duitse intelligensiedienste as ekstremiste geklassifiseer. Gegewe Musk se ideologiese voorkeur vir die AfD is dit vir sommige van sy kritici nie moeilik om die drif te verstaan waarmee hy USAid (die United States Agency for International Development) afgetakel het nie. Die skeptiese behoudendheid van die Duitse middelklas en die vreemdelingehaat van die Trump-administrasie is emotief verwant.
Die 6 miljoen Jode wat Heinrich Himmler (1900–1945), Reichsführer van die Schutzstaffel, onder Adolf Hitler na hul grafte gelei het, vind ’n vergelyking in wat besig is om in Soedan, Suider-Afrika en Suid-Amerika te gebeur. Des te meer noudat Musk besluit het om die miljoene mense wat afhanklik was van USAid vir voeding en gesondheidsorg af te skryf as kollaterale skade in die Weste se misplaaste pogings tot empatie.
Musk het ook 'n regstreekse aanlyn onderhoud met Alice Weidel, medeleier van die AfD, gevoer en haar na afloop daarvan as “baie redelik" beskryf. Daar is niks vreemds aan die feit dat Musk Duitsers aangemoedig het om vir die AfD te stem nie. So terloops, in Februarie 2025, tydens die Internasionale Veiligheidskonferensie in München, Duitsland, het die Amerikaanse visepresident, JD Vance, ook met Weidel vergader.
Die vermoede dat die Trump-administrasie deurspek is met regse, klimaatsverandering- en entstofskeptici, is nié ongegrond nie, en ons weet hulle is nydig jeens “inkommers", want hulle vertel ons daarvan. Persepsies dat Musk en die Trump-administrasie besig is om ’n regs-konserwatiewe lewens- en wêreldbeskouing op die wêreld af te dwing, is nié ongegrond nie.
Erbarming vs empatie
In die lente van 2024 lewer ’n intelligente jong honneurs-student ’n akademiese referaat (“Artificial Intelligence: Encoding the Philosophy of Empathy into Business Models") hier ter plaatse by die Noordwes-Universiteit. Iemand in die gehoor vra die baie geldige vraag: “Wat is die verskil tussen empatie en erbarming (compassion, deernis)?” Tydens ’n latere gesprek tussen my en die student is ons dit eens dat die onderskeid tussen dié konsepte ’n fundamentele impak sal hê op sy teorie.
Ek verwys hom na die boek Against Empathy: The Case for Rational Compassion (2016). Die outeur is Paul Bloom, bekende sielkundige en professor aan Yale-universiteit. Ek het destyds met die lees van die boek gedink Bloom se standpunt dat die konsep “empatie" intellektuele en operasionele wortels het wat skadelik vir verhoudings tussen mense (en die mensdom) kan wees, ’n baie goeie argument is. En ek dink dit steeds. Op ’n naïewe wyse herinner empatie aan ’n besorgdheid oor jou medemens, maar as bindingsmateriaal tussen gemeenskappe manifesteer empatie dikwels in patronaatskap en paternalisme.
Bloom definieer empatie as “emosionele weerspieëling" (emotional mirroring) eerder as ’n strewe na objektiewe begrip. Sy primêre bekommernis oor empatie is die fokus op “onmiddellike lyding” eerder as die strewe om te verstaan. Hy breek ’n lansie vir wat hy noem “doeltreffende deernis” (compassion) en argumenteer dat empatie té dikwels tot irrasionele en selfs skadelike morele besluite lei. Bloom voer aan dat empatie, hoewel algemeen beskou as 'n positiewe en noodsaaklike menslike eienskap, ’n “problematiese emotiewe disposisie” is, ’n “ongeregverdigde moralisme". En, wanneer die konsep verpolitiseer word, lei dit dikwels tot polities, maar veral ekonomies sinlose besluite.
In teenstelling met empatie behels deernis dat jy die ander se lyding verstaan vanuit ’n meer afstandelike perspektief, wat dit moontlik maak om doeltreffend hulp te verleen. Bloom argumenteer dat deernis, of dan erbarming (compassion), mense in staat stel om beter morele besluite te neem. Besluite wat gegrond is op ’n kombinasie van omgee en rasionele denke, eerder as op patroniserende emosionele weerspieëling. Bloom maak voorspraak vir “rasionele deernis” as ’n alternatief vir “politieke empatie” omdat dit “proaktiewe, doeltreffende hulp aanmoedig, eerder as die vooroordeel van politieke en ekonomiese besluite wat empatie veronderstel”.
Wat USAid dus betref, die hulp aan arm lande moet rasioneel sinvol wees vir beide partye en die uitkomste moet geverifieer word rondom die impak en verskil wat dit maak. Bloom omskryf deernis as ’n meer rasionele, doelbewuste en volhoubare vorm van sorg wat klem lê op omgee vir ander se welstand sonder om emosioneel oorweldig te word deur die benardheid van hulpbehoewendes se omstandighede.
Opsie van rasionele deernis
USAid het onder meer aanvanklik die doel gehad om empatie te misbruik (om Musk se begrip van empatie te gebruik) en Amerika se invloedsfeer te verwortel op onbestendige kontinente. Bloom sou argumenteer dat indien die motivering vir USAid erbarming was, eerder as empatie, die Trump-administrasie en Musk se DOGE nie by die punt sou gekom het om die instansie in Maart 2025 argeloos en sonder behoorlike bepeinsing op te skort nie. USAid is ’n klassieke voorbeeld van ’n diplomatieke beleid gegrond op empatie in die afwesigheid van rasionele erbarming.
Bloom sou argumenteer dat hoewel die bedoeling van USAid se opskorting is om die doeltreffendheid van buitelandse hulp te herevalueer en te verbeter, die onmiddellike beëindiging van empatie aan kwesbare bevolkingsgroepe oneindige skade berokken. ’n Meer deernisvolle en rasionele benadering sou ’n gefaseerde hersieningsproses ingesluit het, met die instandhouding van noodsaaklike dienste gedurende die evaluasie om nadelige gevolge vir dié wat afhanklik is van Amerikaanse hulpprogramme te versag. Bloom se teorie bepleit besluite wat gegrond is op rede, bewyse en onpartydige sorg eerder as politieke belange verpak as empatie.
Musk is reg, empatie as bindingsmateriaal tussen ryk en arm lande sal altyd die waarskynlikheid inhou van eensydige optrede, soos met DOGE, maar ek wonder of die gemilitariseerde politieke kultuur van Amerika in staat is tot Bloom se rasionele erbarming.
Menseregte en Afrikaner-slagoffers
Indien Bloom sy boek in 2025 gepubliseer het, sou hy byvoorbeeld kon verwys na Trump en Musk se empatie met Suid-Afrika se landbouers en Afrikaners. ’n Misplaaste empatie wat ook beslag gevind het in AfriForum en Solidariteit se erbarming met Afrikaners, dog gekwalifiseerde empatie met swart Suid-Afrikaners. Die skeidslyn tussen “insiders en outsiders” is baie pertinent in Suid-Afrika se maatskaplike en politieke verhoudinge.
Die Trump-administrasie se reaksie word waarskynlik hoofsaaklik gedryf deur gelaaide narratiewe van “wit slagofferskap” wat ’n bevooroordeelde empatie-reaksie bevorder eerder as ’n gebalanseerde beoordeling van die breër sosiale realiteite in Suid-Afrika. Rasionele deernis sou vereis dat die strukturele ongelykhede wat gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika ervaar (bv. swart Suid-Afrikaners) saam met Afrikaner-bekommernisse ondersoek word. Alle Suid-Afrikaners ly onder die ANC se onbeholpe en korrupte bestuur, nié net die wittes nie.
AfriForum en Solidariteit beweer dikwels dat hul simpatie en empatie swart Suid-Afrikaners insluit, maar Bloom sal argumenteer dat dit juis die afwesigheid van rasionele erbarming is wat daartoe lei dat Kallie Kriel en Jaco Kleynhans verkies om die drastiese nagevolge van hul oordrywing (Afrikaners as slagoffers van menseregteskendings) oor te laat aan Trump se onvoorspelbare magsbesef en Musk se gebrek aan erbarming.
Maar noudat empatie ontbloot is vir die gebrek aan medemenslikheid wat dit is, waar gaan ons erbarming met mekaar vandaan kom? Die wêreld en die mensdom swaai na die onverdraagsaamheid van ’n regse en wantrouige verstaan van mekaar.
Die ironie is dat Thomas Matthew Crooks (die man wat Trump se oor raakgeskiet het) een mens se lewe wou neem, wat dalk duisende mense se lewens kon gered het. Dit vereis empatie om die vraag te vra en deernis om te verseg om die antwoord te bepeins.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.