Jou ma se masels

Inteendeel, inenting versterk kinders se immuniteitstelsel

Jou ma se masels

Vals anekdotes oor inenting en emosionele pseudowetenskap kan geweldige skade aanrig. Helaas is daar steeds mense wat glo dat entstowwe outisme kan veroorsaak. Dit is nie in Suid-Afrika verpligtend om ʼn kind te laat immuniseer nie – maar hoe sal jy voel as jou kind vir ʼn uitbreking verantwoordelik is en iemand sterf? Mense wat die wetenskaplike feite oor entstowwe ontken of ignoreer, stel álmal se gesondheid in gevaar, meen kenners. ELSABÉ BRITS stel ondersoek in.

DEKADES se vooruitgang wat gemaak is om ’n hoë immuniseringsdekking vir die algemeenste kindersiektes wêreldwyd op te bou, kan verlore gaan omdat sogenaamde “alternatiewe feite” geneeskunde probeer troef.
Die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer (CDC) het pas sy jongste syfers bekendstel. Daar is nou reeds 465 bevestigde maselsgevalle in 19 state, die meeste sedert masels in 2000 daar geëlimineer is. Intussen het New York hierdie week 'n gesondheidsnoodtoestand in Brooklyn verklaar en masels-immunisering daar verpligtend vir almal gemaak. Inwoners moet hulself binne 48 uur laat immuniseer of hulle staar 'n boete van $1 000 in die gesig.
Verlede jaar het 80 000 mense in Europa masels gekry, van wie 61% in die hospitaal beland het, volgens die jongste beskikbare data wat in Februarie in die British Medical Journal-vakjoernaal gepubliseer is. Daar is nou uitbrekings in onder meer Amerika, die Filippyne, Madagaskar, Ukraïne.
Dr. Melinda Suchard, die hoof van die sentrum vir entstowwe en immunologie aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, sê: “Masels kan vir 10 tot 15 jaar in die brein bly, weer aktief raak en ensefalitis veroorsaak. Masels maak mý bang.
“Dit maak kinders dood. Dit is baie riskant vir hulle omdat dit ’n onvoorspelbare siekte is. Dit kan enige iemand wat dit infekteer, doodmaak; dit kan tot blindheid lei . . . Masels is ’n baie ernstiger siekte as van die ander kindersiektes, soos waterpokkies, en soms besef ouers nie die verskil nie. Dit is algemeen om ernstige komplikasies soos breinvliesontsteking daarvan te ontwikkel,” sê Suchard.
Breinskade en lewenslange gestremdheid is nog ’n werklikheid van ’n siekte wat sekere mense dink skadeloos is.
Prof. Shabir Madhi, ’n kenner van entstowwe aan die Universiteit van die Witwatersrand en die direkteur van die Mediese Navorsingsraad se navorsingseenheid vir respiratoriese en meningeale patogene, sê daar is verskillende groepe mense wat daartoe bydra dat kinders nie immuniserings ontvang nie.
“Die anti-entstofdrukgroepe bemark aktief vals inligting omdat hulle ’n eie agenda het. Selfs al het studies oor en oor bewys entstowwe is veilig en doeltreffend, aanvaar hulle dit nie. Ek verstaan nie hoekom hulle lewens in gevaar wil stel nie.
“Mense raak minder sensitief vir inligting en waninligting. Voorheen sou die tradisionele media nie die boodskappe van die anti-entstofdrukgroepe versprei het nie, maar nou kan enigeen dit in die sosiale media versprei,” sê Madhi.
Intussen het YouTube, Facebook en Twitter onder kritiek deurgeloop omdat hulle dié vals inligting toelaat. Facebook het gesê hy sal sulke advertensies stop, maar nog nie dat hy die inhoud andersins gaan afhaal nie.
Binne dié groepe is daar mense wat godsdienstige oortuigings het wat glo “alles moet aan die wil van God oorgelaat word”, sê Madhi. “Of hulle dink die kind moet ‘natuurlik’ grootword (wat medies nie sin maak nie omdat die kind se immuniteitstelsel te swak is om daarteen te veg); of hule glo die vals inligting daaroor. Dié groepe is nie homogeen nie.”
In Suid-Afrika is die groepe wat botweg weier om hul kinders te laat immuniseer “in sekere gemeenskappe en gebiede gelokaliseer”, sê hy. “Sommige weens geloofsredes, ander omdat hulle die anti-entstofgroepe steun.”
Dan is daar mense wat oorgerus raak of huiwerig is. Dit is byvoorbeeld ’n ma wat haar kind na die kliniek neem en wanneer sy daar kom, is die entstof nie beskikbaar nie of sy wag te lank en dan gaan sy nie weer terug nie.
Die anti-entstofdrukgroepe het in die 1970’s al ontstaan, maar het die afgelope 20 jaar meer traksie gekry weens die onetiese werk van Andrew Wakefield, ’n voormalige Britse dokter. Die skade wat hy aangerig het, word steeds gevoel.
In 1998 het hy navorsing in die vakjoernaal The Lancet gepubliseer en ’n verband getref tussen die entstof (MMR) teen masels, Duitse masels en pampoentjies, en outisme.
Sy “navorsing” is amptelik herroep en hy mag nie nie meer praktiseer nie. Die raad wat hom ondersoek het, het gesê sy werk was ’n “fatale konflik van belange, oneties en oneerlik”. (Hy het bloed van kinders wat sy seun se verjaardagpartytjie bygewoon het, getrek en hulle £5 “vergoeding” aangebied en boonop tydens ’n lesing daaroor gespot. Daarna het hy outistiese kinders onderwerp aan ’n kolonoskopie, lumbale punksie en ander toetse sonder enige etiese goedkeuring.)
Tientalle wetenskaplike studies het al gewys: Entstowwe is nie die oorsaak van outisme nie. Die jongste een was in die vakjoernaal Annals of Internal Medicine.
In dié studie is 657 461 Deense kinders van 1999 tot 2013 gemonitor en daar is bevind: “Die studie steun dit sterk dat die MMR-entstof nie die risiko vir outisme verhoog nie; dit veroorsaak nie outisme in kinders wat daarvoor vatbaar is nie; en dit word nie met die saamgroepering van outismegevalle ná immunisering geassosieer nie.”
Prof. Helen Rees, die uitvoerende direkteur van die instituut vir reproduktiewe gesondheid en MIV aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê in Suid-Afrika het hulle met die menslike papilloomvirus-entstof, wat ook teen servikale kanker beskerm, gesien dat ouers propaganda deur sosiale media ontvang en dan weier hulle die entstof. Die entstof is die doeltreffendste indien dit vir meisies tussen nege en 12 jaar oud gegee word.
Rees, wat in vele internasionale entstofkomitees dien, sê: “Mense word werklike vals inligting oor immunisering gevoer. Dan word kenners se feite weergegee, in die sosiale media en elders, as gelyk aan dié inligting wat 100% vals is. Dit is werklik problematies vir wetenskaplikes. Dit is net soos destyds met vigsontkenning toe beide kante van die saak gelyk aan mekaar gestel is, terwyl dit nie gelyk is nie.”
Rees sê daar is baie mense wat ophou om kinders te immuniseer omdat hulle “nie meer die siektes sien nie”. Maar dit is juis die punt van tropimmuniteit – om soveel as moontlik dekking te kry en te behou.
Tydens die Sokkerwêreldbeker in 2010 het Suid-Afrika ’n uitbreking van masels gehad en dit het oor die hele wêreld heen van hier af versprei. “Almal van ons is verbind. Wat hier gebeur, het ’n effek op die res van die wêreld en omgekeerd,” sê Madhi.Dit neem net een persoon wat nie die entstof ontvang het nie om tussen nege en 11 ander mense aan te steek. Van 1 November 2009 tot 31 Julie 2010 was daar meer as 18 000 laboratoriumbevestigde gevalle van masels in Suid-Afrika, meestal onder kinders. Daar word gereken die ware getal was aansienlik meer.Om masels te keer moet 95% van alle mense geïmmuniseer wees omdat dit so hoogs aansteeklik is. “Indien die dekking minder as 95% is, kan een mens wat nie die entstof ontvang het nie dit maklik versprei.”
Madhi sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat ons maselsdekking is 75% en die Department van Gesondheid dink dit is 85% tot 95%. “Wat ons wel weet, is dat dit nie 95% is nie, en dit is hoekom ons gereelde uitbrekings het.”
Vir die ander entstowwe skat die WGO ons dekking is 75% en die Departement van Gesondheid reken dit is 90%.
Suid-Afrika se nasionale Departement van Gesondheid het in Maart begin met ’n landwye opname van drie maande om vas te stel wat die immunisasiedekking werklik is. Kinkhoes kom nou ook al hoe meer voor.
Die realiteit is dat ’n mens se immuniteitstelsel oor die jare verswak. “Indien jy ’n chroniese siekte of ander mediese probleme ontwikkel, kan jy later in jou lewe steeds siek word selfs al het jy al die entstowwe gekry, want jou immuniteitstelsel word deur siekte verander.
“Die masels (of ander siekte waarteen jy die entstof ontvang het) sal dan net matig wees indien jy dit aansteek,” verduidelik Madhi. In Suid-Afrika is 15% tot 20% van mense gedurende ’n uitbreking in gevaar weens hul verswakte immuniteitstelsel.Rees sê sy voel persoonlik daar behoort regulasies te wees wat immunisering verpligtend maak. “Dit is regverdig dat die ouers ’n sekere uitkyk het, maar is dit regverdig dat kinders breinskade kry? Dít terwyl ons bewyse het dat entstowwe kinders ’n gesonde immuniteitstelsel gee vergeleke met dié wat dit nie ontvang nie. Kinders wat immuniserings ontvang, is oor die algemeen gesonder. Is dit regverdig dat daar ’n kind wat nie immuniserings ontvang het nie in ’n skool is? Ek dink nie so nie.”
Daar is wel ’n wet oor geelkoors, sê sy. Daar is internasionale regulasies daaroor. “Ons het klaar die regulasies oor geelkoors aanvaar omdat dit so ’n gevaarlike siekte is. Hoekom nie ook regulasies oor ander immuniserings instel nie?” vra Rees.
Suchard sê entstowwe is die mediese produkte wat die meeste toetsing vir veiligheid van enige produkte in geneeskunde ondergaan. Dit is nie in Suid-Afrika verpligtend om ’n kind te immuniseer nie. ’n Kind mag ook nie toelating tot ’n skool geweier word indien dit nie die geval is nie, maar die meeste skole beveel dit aan.
Tog, vra sy, hoe sal ’n ouer voel as sy of haar kind wat nie sy entstowwe ontvang het nie, vir ’n uitbreking verantwoordelik is en iemand sterf?

Vir nog inligting oor entstowwe, skakel die Amayeza-entstofhulplyn by 0860 160 160 of kliek hier.
Bykomende bronne: Annals of Internal Medicine (10.7326/M18-2101), 5 Maart 2019; British Medical Journal, 7 Februarie 2019; South African Medical Journal (Vol 102, No 9 (2012)

HOOFFOTO: 123RF/LURRI GOLUB..

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X