Die Khoi-San en genetika: Waar kom jou velkleur, uitspraak en...

In jou gene

Die Khoi-San en genetika: Waar kom jou velkleur, uitspraak en vatbaarheid vir siektes vandaan?

Die Khoi-San van Suider-Afrika dra ʼn unieke geen wat hulle vel ligter gemaak het. ELSABÉ BRITS vertel meer oor hoe die geen van die noorde af hier beland en vir vinnige evolusionêre verandering gesorg het.


DIT neem gewoonlik ʼn lang tyd vir beduidende evolusionêre veranderings om te gebeur. Die Khoi-San het egter op ʼn besonderse manier ʼn geen ontvang wat binne ʼn kort tydperk van 2,000 jaar hulle velkleur ligter gemaak het. Dit is ʼn skaars voorbeeld van vinnige en intense evolusionêre aanpassing in die mens se onlangse geskiedenis.
Die geen wat hiervoor verantwoordelik is, SLC24A5, speel ʼn sleutelrol in die ligte vel van Europese mense. Maar die Khoi-San het nie dié geen van Jan van Riebeeck en sy kolonialiste ontvang nie. Nee, dié verhaal is veel interessanter en is nou vir die eerste keer ontrafel.
Die Khoi-San was reeds lig van kleur toe skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in 1652 hier aangekom het.
Gene en velpigmentasieProf. Eileen Hoal en prof. Marlo Möller van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir molekulêre biologie en menslike genetika was deel van ʼn internasionale navorsingspan wat dié werk in die vakjoernaal PNAS gepubliseer het.Hoal vertel dié betrokke geen het sy ontstaan 30,000 jaar gelede in Europa gehad. Daarom kom die geen deesdae voor in almal wat van Europese afkoms is. Dit is egter net een van die vele gene wat vir velpigmentasie verantwoordelik is.
Nadat mense uit Afrika tussen 80,000 en 60,000 jaar gelede uit Afrika gemigreer het, het hulle ook weer terugbeweeg, en toe wéér uit Afrika. “Die migrasie was nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie; groepies mense het die hele tyd heen en weer beweeg.”
So ʼn groep of groepies het weer in ʼn stadium met die veeboere van Oos-Afrika kontak gehad en die einste geen aan hulle oorgedra. Dit was mense wat skape en bokke aangehou het, mense wat nie meer jagterversamelaars was nie.
Hierdie mense van Oos-Afrika het die geen dus eerste by mense gekry wat derduisende jare gelede terug na Afrika gemigreer het, tegnies gesproke mense van die hedendaagse Europa.
Migrasie“Baie bewyse is in Suider-Afrika gevind van die aanhou van veral skape en bokke. Mense van Oos-Afrika het na Suider-Afrika gemigreer met hulle skape en bokke, en natuurlik die geen,” vertel sy.
“Om een of ander rede het die geen hier in die suide baie sterk geselekteer. Hoekom weet ons nog nie. Van die Khoi-San-groepe het toe ook begin vee aanhou,” sê Hoal. Dit is ook moontlik dat hulle met die koms van die skape en bokke van die see wegbeweeg het en minder seekos geëet het, wat ryk is aan vitamien D. Dit sou positiewe seleksie van die geen aangehelp het.
Dié genetiese verhaal kon die wetenskaplikes teruglei tot 2,000 jaar gelede omdat dit op die menslike genoom (jou volledige genetiese samestelling) gesien kan word. Genetici kan veranderings aan genetika van duisende jare gelede opspoor. Dit is amper soos Hansie en Grietjie se verhaal met die stukkies brood (wat nie wegraak nie): Genetici kan omdraai en op ʼn genetiese spoor terugstap.
Möller vertel die invloed van die geen was beduidend. Hulle het 450 mense by die studie betrek en ʼn genoomwye analise gedoen deur op die spore van hulle herkoms te stap, in sowel die Kalahari as die Richtersveld, onder die Nama en Khomani-San, soos die mense self identifiseer.
Die geen kom voor in 55,5% van die Nama en 32,5% van die Khomani. In die hedendaagse Khoi-San as ʼn groep is dit 40%.
Omdat dit nie die enigste geen is wat velpigmentansie bepaal nie, beteken dit 15% van die Khoi-San se ligte velkleur kan aan dié geen toegeskryf word. “In genetika is 15% baie; net ʼn paar persent kan ʼn verskil maak,” sê Hoal.
Die Khoi-San was destyds oor die hele land heen, vertel sy, nie net in die woestyn nie. Dit het hulle in aanraking met ander groepe gebring.
KlikklankeTeen 1,500 jaar gelede het die Bantoe-sprekende mense, soos die wetenskap na die groepe verwys, van die noorde af hierheen gemigreer. Hulle het met die Khoi-San in aanraking gekom. Dit is waar die Xhosa-mense die klikklanke in hulle taal vandaan kry.Die derde migrasie na Suid-Afrika was die kolonialiste, wat ook slawe van Wes- en Oos-Afrika en veral Suidoos-Asië ingevoer het. Hieruit het ook aansienlike vermenging plaasvind.
“Almal in Suid-Afrika is vermeng,” sê Hoal. In ander werk wat die span doen, het hulle gevind om ʼn Khoi-San-voorgeslag te hê maak mense meer vatbaar vir tuberkulose. Van die gene wat ’n mens vir die siekte vatbaar maak, word meer geredelik gevind in mense wat dié unieke verwantskap het. Die navorsing duur voort.
“Wat ons moet doen, is om die genetika van bevolkings in Afrika meer en beter te verstaan omdat die samestelling en diversiteit nie dieselfde as elders is nie. Die meeste van die werk word steeds onder Amerikaanse en Europese bevolkings gedoen,” sê Möller.
Baie bevolkings het in die verlede ʼn genetiese bottelnek ondergaan, waar daar redelik min mense daarna oor was. Dit veroorsaak dat genetiese diversiteit verlore gaan, maar in Afrika-bevolkings het dit nie gebeur nie, verduidelik Hoal.
Die gebrek aan etniese diversiteit in genetika het ernstige gevolge vir die wetenskap en geneeskunde omdat die data nie almal insluit nie. Om swart Amerikaners in ʼn studie te betrek, is wel van toepassing op hulle gesondheid en genetiese diversiteit, maar nie op die verskeie bevolkingsgroepe van Afrika nie.
Prof. Sarah Tishkoff, verbonde aan die departement biologie en genetika aan die Universiteit van Pennsilvanië, het gesê om bevolkingsgroepe uit te laat is wetenskaplik skadelik, onregverdig en dit is moontlik dat studies genetiese variante mis wat belangrik in geneeskunde is.
Sy het in ʼn studie wat in die vakjoernaal Cell gepubliseer is, bevind mense wat in genoomwye studies betrek word, is 78% Europeër, 10% Asiaat, 2% Afrikaan, 1% Spaans-Amerikaner en 1% van ander groepe. Dit berus te swaar op Europese genetika.
In genoomwye studies word daar gesoek na klein geenvariasies wat meer gereeld voorkom in mense mét ʼn spesifieke siekte, eienskap of toestand as in mense daarsónder. Menslike genetiese variasie word verduidelik deur verskille in die evolusionêre geskiedenis van bevolkings.
Net deur almal te verstaan en hulle verhouding met siekte, kan die landskap van menslike variasie volledig ingekleur word.
 

Bronne: PNAS; Cell

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.