Bonobo’s: Ouma help mannetjies met seks by die opsitkers

SO ’N MA VERDIEN ’N PIESANG

Bonobo’s: Ouma help mannetjies met seks by die opsitkers

Daar is min dinge so erg soos ’n helikopterma, maar hoe sal jy voel as sy jou vrou kies en dan waghou terwyl julle seks het? Net om seker te maak sy kry die kleinkind waarna sy so smag. Wel, as jy ’n bonobo is, sal jy maar moet vrede maak met so ’n ma, skryf ELSABÉ BRITS.


WAAR diere in groepe leef, kan die ma’s baie keer help dat hulle dogters suksesvol voortplant. Kenners aan die Max Planck-instituut vir Evolusionêre Antropologie in Leipzig, Duitsland het pas waarnemings van wilde bonobo’s in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gepubliseer.
Bonobo-mannetjies moet baie keer droëbek sit en toekyk hoe net een ander kêrel al die babas maak. Daardie een mannetjie, ram of bul is nou maar eenmaal baas en om hom weg te kry, verg ’n gevaarlike geveg.
Ma’s staan hulle seuns by die opsitkers by en verseker só kleinkinders. In so ’n mate dat dié seuns se kans op ouerskap drie keer groter is wanneer sy ma op haar beste is.
Bonobo’s (Pan paniscus) is baie naby verwant aan sjimpansees (Pan troglodytes). Al twee spesies is die mens se naaste lewende familielede. Op die oog af lyk hulle dalk dieselfde, maar die bonobo is slanker, met ’n lekker kuif wat oor die kop “gekam” is. Hulle verskil ook wanneer dit by gedrag kom.
Bonobo’s vs. sjimpansees
Die bonobo leef in ’n matriargie en die sjimpansee in ’n patriargie, en hulle eetgewoontes verskil. Hoewel die sjimpansee ’n groot verskeidenheid emosies kan toon, waaronder empatie en liefde, kan hulle maar lekker aggressief raak en mekaar wild en wakker klap.
Sodra daar konflik of spanning is by bonobo’s, het hulle seks of “betas” mekaar. Hulle is net meer, wel, sjarmant, want wanneer hulle paar, is dit ook in so ’n posisie dat hulle gesigte na mekaar wys.
Hoewel sjimpansees se ma’s hulle ook bystaan wanneer hulle babas maak, gaan die bonobo-ma verder. Sy sal haar rang in die trop gebruik om haar seun aan hubare wyfies voor te stel wanneer hulle ovuleer, en dan staan sy wag sodat ander mannetjies nie kom steur wanneer hy vry nie. As ’n ander mannetjie daarin slaag om haar seun se nooi te kry, dan breek sy die petalje summier op.
Só verseker die ma uiteindelik haar eie reproduktiewe sukses deur haar seuns, eerder as haar dogters, by te staan.
’n Stukkie skilpadkos vir elkeen
Donderdagmiddag het ander navorsers wat wilde sjimpansees in Gaboen dopgehou het hulle werk in Scientific Reports gepubliseer. In dié studie vra hulle dat daar met fyner nuanse na sjimpansee-kognisie gekyk word.
Hulle het tien sjimpanees dopgehou waar hulle gereedskap gebruik om skilpaaie oop te kap en dan die vleis eet. Dit is die eerste keer tot nog toe wat dit in die natuur opgemerk is.
Nog meer besonders: Hulle het in die meeste gevalle die kos in stukke met mekaar gedeel. Net soos ’n ma kos vir kinders sal verdeel.
Dr. Jane Goodall (85), die doyenne van primatologie, het al in die 1960’s bewys dat sjimpansees gereedskap gebruik. Soos takkies om termiete en miere te uit te vis, heuning te kry en murg uit bene te haal. Om die regte klippe te soek en te gebruik om neute mee te kraak en harde vrugte oop te kry, is ’n tegniek wat hulle eers op tien jaar bemeester.
Dit was ook Goodall wat ontdek het sjimpansees is jagters.
Sjimpansees met spiese
In 2007 was baie mense onthuts oor die gedrag van ’n groep sjimpansees in Senegal. Hulle het spiese gemaak met takke wat hulle van bome afgeruk het nadat hulle die blare verwyder het, en dan die punte met hulle tande skerp gemaak.
Hulle het die spiese toe in holtes van bome gedruk waar hulle weet nagapies bedags slaap. Elke keer wanneer hulle die spies indruk en uittrek, het hulle daaraan geruik en weer ingesteek. Hulle het geweet waarna hulle soek.
Die kenners was teenwoordig (wat nie altyd maklik tydens veldwerk is nie) toe een sjimpansee suksesvol was. Hy het ’n nagapie met sy spies raak gesteek, en dit dadelik geëet. Dit is ’n ander spesie as ons wat met gereedskap jag.
Daar was 38 sulke voorvalle waar hulle skilpad gaan jag het, en 34 was suksesvol. Die een wat die skilpad raakgesien het, was ook nie altyd die een wat die vleis uitgekry en uitgedeel het nie. Soms is die skilpad eers ’n ver ent gedra voordat die dop teen iets hards gekraak is.
In 23 van die 34 gevalle het hulle die kos gedeel, en dié wat onsuksesvol in hulle pogings was, het in byna al die gevalle kos van die ander ontvang.
Die alfamannetjie, Pandi, het iets interessants gedoen: Hy het ’n halwe skilpad in die mik van ’n boom gaan bêre pleks van dit net op die grond te laat val, soos met ’n vrug.
Daarna het hy ’n nes vir die nag elders gaan bou, soos hulle gewoonte is om elke aand ’n nes te maak. Die volgende oggend het hy die kos in sy spens gaan haal vir ontbyt.
Dit is toekomsbeplanning deur ’n dier wat sekerlik dink, op maniere wat ons nog skaars verstaan.
 

Bronne: Current Biology; Scientific Reports en Current Biology
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.