Om ontvlerkd op jou voete te wees

DONDERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Om ontvlerkd op jou voete te wees

Hier is vyf goed waaroor jy dalk wil dink; Deborah Steinmair skryf oor 'n ontredderende teaterervaring; en Piet Croucamp skryf oor die SAUK. En daar is 'n gedig om jou Vrydag toe te dra.

  • 13 Oktober 2022
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre

5 goed wat jy vandag wil weet

  1. Die jongste verslag van Global Entrepreneurship Monitor (GEM) wys dat Suid-Afrika se aantal entrepreneurs bly toeneem en dat hul aktiwiteite ’n groter rol in die ekonomie speel. Dit het van 10% in 2019 tot 17,5% in 2021 gestyg. (Nood leer bid.)
  2. Die Duitser Christian B, ’n verdagte in die verdwyning van Madeleine McCann, het reeds 17 jaar se seksmisdade agter die blad. (Gert van Rooyen was ook uit op parool toe hy die dogters gegryp het.)
  3. Te midde van ’n strompelende ekonomie en grootskaalse werkloosheid bedank al hoe meer mense hul werk of wend hulle tot “quiet quitting” – om aan te bly, net die minimum te doen en geen vrae te vra nie. Die grootste rede hiervoor is dat werknemers voel hulle het geen sê nie, behalwe ja en amen. (Yes, sir, yes, sir, three bags full.)
  4. “Die mensvreter van Champaran”, ’n Indiese tier, is doodgeskiet nadat hy nege mense opgevreet het. Ongeveer 200 mense, onder wie spoorsnyers op olifante, het hom aangekeer. (What immortal hand or eye could frame thy fearful symmetry?)
  5. Die Stromboli-vulkaan het weer uitgebars. Hierdie vulkaan, op ’n eiland naby die kus van Sicilië, is die wêreld se aktiefste sedert 1932. (Stromboli klink soos ’n goedkoop rum.)

Deur die weer

Pretoria, dit kan ek voel, is nog vrekwarm en droog. Oom Paul se verjaarsdag het gekom en gegaan met slegs 'n handvol suinige druppels. In Kaapstad is dit nog lekker koel. 

Die verwagte dagtemperature elders in Suid-Afrika vandag: Pretoria: 33°C. Johannesburg: 32°C. Kaapstad: 20°C. Durban: 31°C. Bloemfontein: 34°C. Polokwane: 32°C. Upington: 37°C. Gqeberha: 29°C.


Piet Croucamp | Bankrot SAUK se vet salarisverhogings vir sy diknekke

Dit het nou bekend geword dat die SAUK-bestuur besluit het om hulleself ruim te vergoed met salarisverhogings. Dit ten spyte daarvan dat die korporasie tans teen ’n verlies van ongeveer R201 miljoen bestuur word en ook gebuk gaan onder ’n ongeregverdigde verkwisting van R2,8 miljoen soos uitgewys deur die ouditeur-generaal se mees onlangse verslag.

Die groepshoof van die SAUK het egter – waarskynlik met die instemming van die raad – ’n verhoging van 20,31% beding en die baas by kommersiële ondernemings kry ’n maandelikse toegif van 19,26%. Die ouditgroephoof doen ook buitengewoon goed met ’n aanpassing van 14,189% en dié van regsdienste het aanspraak gekry op 11,37%.

Dit in ’n jaar wat hulle aanvanklike aanbod aan die res van die personeel ’n “geen verhoging vir die komende drie jaar” was. Joernaliste en die werkers by die SAUK dring egter aan op ’n 7%-salarisverhoging. Ná onderhandelings was die aanbod op 3%, maar omdat die voorsiende verhoging nié terugwerkend is nie, kom dit in effek neer op ’n 1,5%-verhoging.

Om joernaliste en mediawerkers aan te moedig om te staak het ’n byna immorele wanklank. Dit is ’n uiters raar situasie wanneer dié beroep besluit om die pen neer te lê. In die geval van die SAUK sal ’n staking deur joernaliste boonop vir die rekening van die belastingbetaler wees. Ek sou egter graag die werkers van die SAUK wou aanmoedig om te staak totdat die bestuur presies dieselfde verhogings of minder as die werkers kry.

Vakbonde soos die Broadcasting, Electronic Media & Allied Workers Union (Bemawu) en die Communication Workers Union (CWU) by die SAUK wat aandring op ’n 7%-verhoging asook ’n eenmalige R10 000 doen ook die situasie geen eer aan nie in ’n tyd wat dit beslis nie pap reën nie. Om die waarheid te sê, hulle gee die morele grond prys in ’n tyd wat die SAUK, die staat en die Suid-Afrikaanse ekonomie eenvoudig nie sulke absurde aansprake kan bekostig nie. Maar die buitensporige verhogings van die groepshoofde moedig wanopvattings aan oor wat die korporasie kan bekostig.

Meer as 80% van televisie-eienaars betaal nie die jaarlikse lisensiegeld van ongeveer R265 nie en hulle redes is divers. Maar indien jy weier om te betaal uit protes teen die buitensporige salarisse en verhogings wat beding word vir bestuur – en dikwels ook vir die werkers – het jy goeie gronde in die aangesig van die kripvreters en hulle bestuurders wat jou geld roekeloos op hulleself spandeer.

Met ’n nasionale skuldlas van ongeveer R5 triljoen het die staatsamptenare ’n meer redelike aanbod van 3% in die minister van finansies se Februarie 2022-begroting gekry. Om die waarheid te sê, welwetende dat die tesourie alreeds begroot vir ’n staatsdiens wat 35% meer betaal word as vir ’n gelykwaardige pos in die privaat sektor wou Enoch Godongwana eintlik geen verhoging toestaan nie.

Maar dit is leierskapsverkiesingsjaar vir die ANC, en Nehawu en Sadtu het op Cosatu se onlangse kongres niemand meer verdienstelik vir ’n afjak as Gwede Mantashe gevra om die verhoog te verlaat eerder as om sy gewone leë beloftes te water te laat nie. Dit is nie asof die werknemers van staatsondernemings vir ’n hongerloon werk nie. Die gemiddelde inkomste per werker by Eskom beloop tans ongeveer R750 000 per jaar. Die United National Transport Union (Untu) van Transnet dring aan op ’n 13%-verhoging en dreig om die hele land se ekonomie lam te lê indien dié logistieke reus nie toegee aan die buitensporige eis nie. Diegene met werk is besig om die werkloses uit die mark te prys met ongeregverdigde aansprake op die kapitaal beskikbaar.

Toe Neal Froneman ’n meevaller van R300 miljoen vir die 2022-boekjaar ontvang het, was daar met reg geweldige verontwaardiging by Cosatu en NUM, maar dié kort-van-draad krygsheer van Sibanye-Stillwater het die afgelope boekjaar biljoene rand oorbetaal aan die staatskas. Sy boeke klop en die hele land, werkers ingesluit, trek enorme voordeel uit die risiko’s wat hy bereid is om te neem met die kapitaal van aandeelhouers. Die staatsdiens, daarenteen, bestee jou geld ten koste van die land se alreeds ernorme nasionale skuldlas.

Wat ook al die nadraai ná van die SAUK-bestuur se vergrype is, hopelik doen die korporasie se werknemers introspeksie wat hulle eie eise betref en dwing ook die bestuurspan om te herbesin. Maar moenie jou asem ophou nie.


Om ontvlerkd op jou voete te wees

Die reën bly weg, maar daar is ’n feestelikheid in die lug. Ja, oral steek weer kunstefeeste kop uit. My neus was so lank in boeke verberg dat ek amper vergeet het hoe opwindend lewende teater is. Dis Woordfees in Stellenbosch. En benewens Potchefstroom, het Aardklop nou ook opwipfeeste in Linden en Pretoria. Ek het na Antoinette Kellerman se show Die oerkluts kwyt gaan kyk.

Die teks is deur Frieda van den Heever saamgestel uit Antjie Krog se gedigte en ’n monoloog wat sy spesiaal vir die produksie geskryf het. Antoinette en Antjie word al twee vanjaar 70, die twee formidabele silwer vorstinne.

Antoinette se vertolking is byna onmenslik intens en sy bly immer in karakter, ook wanneer sy haar hier en daar verspreek. Sommige tonge struikel soms. Sy word bygestaan deur twee engelagtige vroue met nagtegaalstemme: Lungiswa Plaatjies en Nomapostile Nyiki, wat bekend staan as Ancient Voices. Hulle bespeel ’n hele gradeboog inheemse instrumente, maak ritmiese geluide en sing selfs skalks en stuitig in Afrikaans. Hoe moet dit vir hulle voel om in die hart van die Afrikanergelofte te vertoef?

Ja, die show is in die Voortrekkermonument, reg in die middel van die miershoop waar die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die 16de Desember deur ’n sonstraal getref word. Waar die mure beskilder is met tonele uit die Groot Trek: bleek mense met kappies en kruisbande wat rem aan osse, met sweep en roer byderhand, met leeus wat loer vanuit die bosse. Dis eienaardig om daar te wees, bykans spookagtig, soos om rond te loop in die begraafplaas van ’n onlewensvatbare droom, soos om te trap op heilige grond wat brak geword het. Soos om tyd te verwyl in die buik van ’n groot, wit olifant.

Dis ’n wonderlike ensemble; nie een van die drie elemente (Antoinette, Antjie, Ancient Voices) oordonder nie: elk kom lieflik tot sy reg. Nou ja goed, miskien oordonder Antoinette so effens omdat sy so fisiek dáár is, met haar soepel en seningrige lyf, lang arms, STEM en oë vol aanspraak. Na haar kan ’n mens vir ure kyk en luister. Sy bewoon Antjie se woorde.

Die stoele is ongemaklik en ek kry opeens ’n lelike krap in my keel, ’n histeriese hoesimpuls soos in eredienste destyds – miskien weens die droë lug en sandsteen. Maar veels te gou is dit verby, die droom, die tydjie in die kop van Antjie, deur die oë van Antoinette. Ek sou dit onmiddellik weer wou sien, as Antoinette se gestel dit kon hanteer. Ek sou die video wou koop en dit oor en oor kyk. Ek sou wou vertoef in die holte van Antoinette se hand, die vorteks van Antjie se woorde, die stilte binne haar stip oog, en die hemelse klanke van die Ancient Voices. So vervaag ’n Donderdagmiddag in Pretoria. En ek is opnuut besiel met ’n honger na teater.

Die show doen KKNK se gelofte gestand: Dié spesiale produksie gaan jou ontvlerkd op jou voete laat.

Buite haak ons herhaaldelik vas in verkeersknope. Dis spitstyd sonder werkende verkeersligte in Jan Shobastraat.


Gedig vir die dag

Jy vra hoe ons eerste soen was 
Ek sê met jou mond het jy
aan my geraak
soos 'n sad song
aan 'n dronkverdrietige snaar

In een sagte akkoord het jy
my eenman-piesangrepubliek
omvergewerp.

Met jou lang vingers oor my rug het jy
sewe maer magtelose jare
uit my lewe gestreel
soos 'n mens 'n kreukel
uit 'n hemp stryk.

– Danie Marais




Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.