Kaartjies vir die Busi-en-Dali-sirkus is dúúr

ONVERKWIKLIKE SEPIE

Kaartjies vir die Busi-en-Dali-sirkus is dúúr

Die geskorste openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se terugvegpoging in die parlement, die howe en die media het in ’n totale sirkus ontaard wat die geloofwaardigheid en waardigheid van al dié instellings ondermyn, skryf MAX DU PREEZ.

Image: ANGELA TUCK

BUSISIWE MKHWEBANE is onbekwaam en oneerbaar.

Ek kan dit onomwonde verklaar aan die hand van ’n rits snydende hofbevindinge teen haar, formele aanklagte van meineed, haar regsverteenwoordiger se onprofessionele manewales in die parlement en die hof, die verdoemende getuienis wat tot dusver in die parlement se ondersoek na haar bevoegdheid gelewer is en haar eie politieke uitsprake en optredes.

Mkhwebane het dit reg van die begin van haar termyn as openbare beskermer, ’n uiters belangrike konstitusionele amp, in 2016 duidelik gemaak dat sy aan die kant van Jacob Zuma en die RET-faksie veg.

Sy het irrasionele kruistogte teen onder andere minister Pravin Gordhan, sleutelfigure in die nasionale inkomstediens en pres. Cyril Ramaphosa gevoer en terselfdertyd RET-leiers se sondes verskuil en haarself as ’n wapen van die RET (en deesdae ook die EFF) in hulle stryd teen die Ramaphosa-administrasie beskikbaar gestel.

Sy het die staat al R147 miljoen aan regsfooie gekos met al die sake wat sy in die howe verloor het. Haar eie pogings om in haar amp aan te bly, kos al R15 miljoen en gaan nog vele miljoene in die toekoms kos.

Die parlement se ondersoek na haar bevoegdheid word nou deur haar en haar advokaat, Dali Mpofu, as ’n politieke en persoonlike kroeggeveg misbruik.

Mpofu het in die laaste paar maande herhaaldelik die wenkbroue laat lig met sy beledigings en dreigemente teenoor getuies voor die parlementêre komitee en sy blatante disrespek teenoor parlementslede en die voorsitter van die komitee, Richard Dyantyi.

So iets het nog nooit in Suid-Afrika se parlement gebeur nie.

Dié week het hy selfs vir Dyantyi openlik gedreig nadat hy nie sy sin kon kry nie: “The only reason I’m tolerating what you’re doing to me is for the interest of the client, otherwise you’re not entitled to abuse me like you’re abusing me.

“I’m senior to you in many ways, not just in age, and you know it.” (Ek het verwag sy volgende sin sou wees: “En my penis is groter as joune.”) “You have no right to abuse me, but it’s fine. You’ve got the power now, you can exercise it, but you will pay one day.”

Toe Dyantyi hom vra of Mpofu hom dreig, het hy geantwoord: “Ja.” Hy het later gesê dit is nie ’n dreigement nie, eerder ’n belofte.

Parlementslede van die ANC en die DA het daarna geëis dat Mpofu se optrede ondersoek word en regspraktisyns het hulle misnoeë luid te kenne gegee.

Die probleem is dat Mpofu tevore met sulke wangedrag weggekom het. Hy het voor die Zondo-kommissie 'n kollega en ’n getuie toegesnou om te “shut up” en geweier om te gaan sit toe die regter hom gebied. Maar die regspraktykraad het bevind dit was nie onprofessionele gedrag nie, want Engels is nie Mpofu se moedertaal nie en hy het dalk iets minder skerps bedoel.

Intussen veg Mkhwebane, haar vriende en familie, sowel as die RET-faksie en die EFF ’n verwoede persoonlike geveg teen al haar kritici op sosiale media. News24 se regsjoernalis Karyn Maughan word veral geteiken, onder andere deur Jacob Zuma se dogter Duduzile, wat onverpoos oor Maughan tweet. (Maughan en die staatadvokaat in Zuma se korrupsieverhoor, Billy Downer, gaan deur Zuma privaat vervolg word omdat hulle kwansuis sy private mediese inligting bekend gemaak het.)

Dit het nou ook bekend geword dat Mkhwebane se man, David Skosana, ’n voorbok in dié aanslag op sosiale media is. Hy het ook die beeld van Maughan in ’n oranje oorpak op sosiale media geplaas.

Mkhwebane, Mpofu en hulle politieke geesgenote het dié week gekraai nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die president se skorsing van Mkhwebane ongeldig verklaar het omdat hy “bevooroordeeld” was.

Regskenners oor ’n breë front bevraagteken dié bevinding, wat nou deur die Konstitusionele Hof onder oë geneem gaan word.

’n Ervare senior advokaat het gister vir my gesê hy het min twyfel dat die hoogste hof ’n ander mening gaan hê. “Ek sit met die uitspraak voor my. Die regters [Lister Nuku, Matthew Francis en James Lekhuleni] begin goed deur die openbare beskermer se absurde redenasies die een ná die ander van die tafel te vee, en dan kom hulle met die uiters vreemde besluit dat die president bevooroordeeld was omdat hy Mkhwebane geskors het kort nadat sy aangekondig het dat sy die Phala Phala-skandaal gaan ondersoek.

“Dit lyk asof dit by hulle verbygegaan het dat die president al maande gelede, op 17 Maart, aan die openbare beskermer geskryf het dat sy redes moet verskaf waarom sy nie geskors moet word nie. Sy is eers op 9 Junie geskors.”

Die grondwetspesialis Pierre de Vos skryf op sy webwerf, www.constitutionallyspeaking.co.za: “I worried that the court overreached by impermissibly intruding in the domain of the executive, holding the president to a standard only applicable to judicial officers and other independent tribunals.”

De Vos skryf die howe kan wel oorsig oor die uitvoerende gesag uitoefen om magsmisbruik te voorkom, maar dié magte is beperk. “Judges cannot fix a fundamentally broken political system by developing ever more invasive forms of judicial review to curb abuses of power by the president and other members of the executive. They can do what they can to ensure that the democratic system of checks and balances continues to work (as the judiciary, by and large, did during the destructive Zuma years), but ultimately voters, not judges, decide who governs.”

Die regskenner Dan Mafora, wat gereeld oor grondwetlike sake kommentaar lewer, wonder op danmafora.substack.com ook watter maatstaf vir bevooroordeeldheid die hof gebruik het. “What strikes me as odd is that the court’s timeline only starts on the 07th of June and all the events that took place before that are disregarded. It is important to remember that the Public Protector submitted her written representations on why she should not be suspended on 26 May 2022.”

Mafora sê dit is belangrik om in ag te neem dat die RET-belynde politieke party ATM, Mkhwebane se mede-litigant en ywerige ondersteuner, die openbare beskermer op 3 Junie versoek het om Phala Phala te ondersoek, ’n feit wat die Wes-Kaapse hof heeltemal ignoreer.

Daily Maverick se regskrywer, Professor Balthazar, skryf: “There are compelling arguments in favour of the president’s decision. That the public protector announced her enquiry into Phala Phala when she did, raises the plausible inference that her timing was designed to justify the argument of conflict of interest.”

Mpofu, uitasem van trots dat hy uiteindelik ’n klein oorwinning in die hof behaal het, het voor die parlementêre komitee verklaar dat die saak die Nkandla-affêre “na ’n piekniek gaan laat lyk”.

Hy kan dalk maar die sjampanje uit die yskas uithaal. Wat ook al gebeur, Dali lag steeds al die pad bank toe.

Hoe gouer dié onverkwiklike sepie tot ’n einde kom, hoe beter vir Suid-Afrika.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.