Siviwe Gwarube: die DA se slim, begeesterde (en cool) hoofsweep

BLOEDJONG BAAS VAN DIE KOUKUS

Siviwe Gwarube: die DA se slim, begeesterde (en cool) hoofsweep

Een van haar beste vriendinne is Lindiwe Mazibuko, sy versamel teekoppies en is mal oor 'n Kaapse brunch (en ja, daar moet 'n mimosa by wees). ANNELIESE BURGESS gesels met die DA se splinternuwe hoofsweep oor onder meer haar grootwordjare, gesprekke in die koukus, koalisiepolitiek, ‘swartwees’ in die DA en die lekkerte van 'n skaapkop.

Image: GALLO IMAGES/MEDIA24/JACO MARAIS

SIVIWE Gwarube begin met my gesels terwyl sy in haar motor parlement toe ry. Ja, dit is opwindend om die mantel van hoofsweep van die DA aan te trek, want dit kom op ’n tyd waar die rol van die parlement belangriker raak as ooit vantevore.

“As jy die Zondo-verslag lees, dan sien jy wat gebeur as die parlement nie sy werk doen nie, as daar nie oorsig oor die regering is nie, as hulle net toegelaat word om te maak en breek soos hulle wil. Dan kry jy wat ons gekry het: ’n regering wat loot. Wat vat wat nie aan hulle behoort nie, maar aan die publiek.”

Siviwe is op pad na haar nuwe kantoor in die Marksgebou langs die (afgebrande) parlementsgebou. Sy wil haar bokse klaar uitpak, dinge bietjie agtermekaar kry, haar inleef in haar nuwe spasie.

Ek vertel haar van ’n onderhoud wat ek ’n paar jaar gelede in daardie einste kantoor met John Steenhuisen gedoen het, toe hy nog hoofsweep onder Mmusi Maimane was. Nou is dit haar groot lessenaar, in wat ek as ’n baie manlike spasie onthou.

Gaan sy die kantoor op ’n spesifieke manier haar eie maak? 

“Jaaaaa, beslis. In my kantoor is foto’s van my familie en my vriende, boeke waarvan ek hou, plante, mooi notaboeke en skryfbehoeftes, my gunsteling-teekoppies ... Ek het nog nooit die druk gevoel om iets te moet wees wat ek nie is nie.

Ons haak vir ’n wyle vas by ons gedeelde tee-obsessie. “Ek is ’n groot teeliefhebber en ek is mal oor mooi koppies,” vertel sy. “Tee maak alles reg.”

Loop en praat

Sy parkeer. Ons gesels terwyl sy na haar kantoor stap. Sy vat die trappe, want sy’s bang sy verloor sein in die hysbak. Ek sien in my geestesoog hoe sy afstap in die lang gang in die rigting van die groot portret van Helen Suzman wat ek onthou net buite die DA-leier se kantoor hang, ’n hanetreetjie van die sweep se deur.

Gwarube het op die Oos-Kaapse platteland grootgeword. “Makhaya Ntini het ook in KwaMdingi groot geword, ’n village net buite King William’s Town.

“My ouma het my grootgemaak. Sy was ’n onderwyser, en een van haar grootste geskenke aan my was die opvoeding wat sy my gegee het. Sy het daarop gehamer omdat sy as ’n swart persoon in hierdie land grootgeword het, en ek weet nie hoe sy dit reggekry het om my na die skole te stuur wat ek bygewoon het nie. Dit was eintlik heeltemal buite ons finansiële bereik, maar Ouma het dit met geweldige opofferings reggekry.”

Ná matriek het Gwarube ’n BA-graad aan die Rhodes-universiteit verwerf in die regte, politiek en filosofie voordat sy in 2012 vir Lindiwe Mazibuko by die DA in Kaapstad as ’n kommunikeerder begin werk het. Mazibuko is vandag steeds een van haar naaste vriende. En terwyl sy natuurlik weg is uit die DA, het Gwarube nie net aangebly nie, sy’t ook vinnig opgang gemaak. Sy was al in ’n stadium die DA se nasionale woordvoerder, skaduminister vir gesondheid onder Maimane, Covid-woordvoerder onder Steenhuisen. En nou hoofsweep, waar sy in die voetspore van ’n ander DA-vuurvretervrou, Natasha Mazzone, volg.

Prioriteite

Om die hoofsweep van enige politieke party te wees is ’n uitdagende posisie, en Gwarube is maar 33. Dit is bloedjonk in die Suid-Afrikaanse politiek, maar sy is nou die “baas” van die amptelike opposisie se koukus van 96 lede.

“Een van my groot oogmerke is om seker maak dat die parlement relevant is vir gewone Suid-Afrikaners, en die enigste manier om dit te doen is om die goed wat vir gewone Suid-Afrikaners belangrik is aan te pak. Ek wil hê dat die parlement toeganklik moet wees vir gewone mense, want as daar nou iets is wat my teen die mure uitdryf, is dit die persepsie dat die parlement aan politici behoort!”

Ek hoor sommer die uitroepteken in haar stem.

“Ek sê altyd vir ons koukus dat elkeen van ons elke dag moet seker maak dat alles wat ons in die Huis doen met gewone mense moet resoneer. Of dit nou ’n toespraak is, of ’n petisie, of ’n vraag aan ’n minister – daar moet ’n direkte korrelasie wees tussen wat ons doen, en die dinge waarmee die mense wat ons verkies het worstel.

“Daar is hierdie massiewe disconnect tussen Suid-Afrikaners en hulle publieke verteenwoordigers,” sê sy. “Daar was ’n geweldige verlies in vertroue en ek wil hê my koukus moet dit verstaan, want dit help ons om beter te wees met wat ons moet doen.”

Parlement moet herbou word

“Die Phala Phala-kwessie is die eerste groot toets ná die Zondo-kommissie waar die parlement sal moet sterk staan. Het ons geleer van Zondo? Verstaan ons die belangrikheid van uitvoerende oorsig?” sê-vra Gwarube. “Vir ons is dit absoluut belangrik dat ’n ad hoc- parlementêre komitee die saak ondersoek. Ons moet ons spiere sterk hou as dit kom by ons oorsigrol.”

En dan is daar vir Gwarube ander prioriteite ook. Misdaad is een. En stygende lewenskoste ’n ander.

“Maar op ’n baie praktiese vlak is die herbou van die parlement iets wat my verskriklik na aan die hart lê. Die DA baklei baie hard om die parlement terug te bring. ’n Parlement op Zoom is net nie goed genoeg vir die werk wat ons moet doen nie. Ons druk hard dat die parlement herbou moet word. Want ons kan nie toelaat dat die parlement afgewater word na ’n paar honderd mense in komiteekamers nie, terwyl die res op Zoom sit en op die agtergrond eintlik aanlyn inkopies doen. Suid-Afrika verdien beter.”

Swartwees

“Kyk, die DA is ’n liberale organisasie in ’n land met ’n geskiedenis van rasseverdeeldheid. En anders as elke ander party in hierdie land het ons nog nie opgegee oor nierassigheid nie. Ons streef dit steeds na, maar dit is moeilik. Ons kan nie naïef wees oor die uitdagings wat daaraan verbonde is nie, want ons doen dit in die konteks van ’n land wat vir eeue met die rasmonster gedans het.”

Sy vertel dat sy dit weer besef het toe sy gekyk het na van die reaksies op die afsterwe van die koningin van Engeland. “Dit het my weer laat dink aan al die lae in ons baie komplekse geskiedenis van rassisme, kolonialisme en apartheid. En hier is ons ’n liberale organisasie wat ’n nierassige party probeer bou met mense uit verskillende rasgroepe en verskillende geloofsgroepe. Dit kan mos nie anders nie as dat daar soms haakplekke gaan wees, dat daar uitdagings gaan wees om dit reg te kry.

“Maar dan wil ek ook onomwonde sê dat ons nooit die kwessie van mense wat die party verlaat, moet geringskat nie. Dit sal ’n baie groot fout wees. Geen organisasie wil hê dat kleurvolle individue moet wegstap nie, en dit mag nooit ’n punt van feesviering word nie.

“Maar ons moet ook onthou dat Suid-Afrika se politieke landskap verander. Baie mense wat voorheen in formele politieke strukture gewerk het, soek na ander maniere om te betrokke te wees. As mens kyk na iemand soos my vriendin Mbali; toe sy weg is uit die party was dit omdat sy buite die formele politieke stelsel wou werk en eerder wou help bou aan ’n grassroots-beweging.

“Ek is steeds baie goeie vriende met Lindiwe (Mazibuko) en Mbali (Ntuli). Ek het ’n absolute aversie teen enige houding wat sê jy moet mense wat anders dink, of ander besluite geneem het oor wat hulle met hulle lewe wil doen, afsny of uitsny of vermy. Kom ons vier eerder dat ons in staat is tot veelvoudige oplossings. Niemand het ’n monopolie op die antwoorde nie.

“Maar dit is ook waar dat sommige mense weg is om by ander politieke partye aan te sluit en dit is iets waaroor ons moet dink en introspeksie doen en ons moet hard werk om onsself aantreklik te maak as die alternatief sodat dat mense in die organisasie wil bly en deel van ons party wil wees.”

“Dit is duidelik dat jy geskool is in die diplomasie,” grap ek. Jare se ervaring as woordvoerder het ongetwyfeld van Gwarube ’n uiters gesofistikeerde kommunikeerder gemaak.

Hou van kook

Gwarube klink na een van daardie slim, cool jongmense met wie mens graag wil uithang. Haar kop is vierkant op haar skouers, maar daar is nog ’n bietjie romanse in hoe sy die lewe en die politiek beskou, en dít is vir my onweerstaanbaar verfrissend.

Ek wil haar graag in Engels aanhaal oor iets wat sy my oor haar generasie vertel, want ek is bang van die tekstuur van hoe sy praat gaan in ’n Afrikaanse vertaling daarvan verlore gaan.

“When I have drinks and dinner with my friends, we have different conversations about how and where we think the country should be going, and it’s vibrant and it’s rich and I think it’s richer because everybody understands, at least in my social circle, that a plurality of options is what’s going to get us where we need to go.”

Ek vra haar as hulle so kuier, of sy graag vir haar vriende kook.

“Ek is mal oor kook. En omdat ek so baie moet reis, hou ek veral daarvan om huiskos te maak soos umngqusho (stampmielies) en my ma se lamsbredie. Maar ons hou ook van uiteet. In Kaapstad kan ek Jarryds aanbeveel en Lily’s vir ’n laat onbyt. Ek is ’n groot fan van die brunch. Dit is die beste maaltyd van die dag. En natuurlik met ’n mimosa. Sonder sjampanje en lemoensap is dit net ontbyt,” lag sy.

Haar liefde vir Kaapstad kom oor en oor op. “Ek is net mal oor die stad. Oor die reuk in die lug. Oor sit op sypaadjies met ’n koffie. Ek hou daarvan om saam met vriende rugby te kyk en in Breestraat uit te hang. Ek is mal oor Khayelitsha. Oor saameet aan ’n skaapkop by ’n shisa nyama. Dit is vir my een van die lekkerste goed ...

2024

Ek sluit af met ’n ernstige vraag. Oor die politiek. En die toekoms.

“As ’n student in politieke wetenskap het ons geleer oor die konsolidasie van ’n demokrasie, hoe ’n demokrasie oor tyd volwasse word, en ek dink dit is baie waar van waar Suid-Afrika op die oomblik is. Koalisiepolitiek is beslis ’n konsolidasie, en die gedagte dat ons nie deur een party gedomineer gaan word nie, maak my opgewonde. Vir wat dit vir die parlement inhou en vir die land.

“In hierdie stadium is ons fokus om die ANC na onder 50% te bring en die DA te druk na diep in 20% ... 30% sou natuurlik amazing wees, maar in hierdie stadium moet al die opposisiepartye in die bondel gaan jag en dan sal ons al die chips op die tafel sit en saamstem oor ’n stel waardes wat Suid-Afrika eerste stel. Geen korrupsie nie; ordentlike dienslewering. En dan moet ons maar probeer regeer. Ek weet mense is bang oor die stabiliteit van koalisieregerings, maar daar is oorgenoeg voorbeelde van oor die wêreld heen waar dit werk. Kyk na Duitsland; kyk na sommige Afrika-lande.

“Maar ja, dit sal baie emosionele intelligensie en volwassenheid verg. Koalisies verg dat ego’s bestuur word. Dit is wat baie koalisies uitmekaar laat val – ego’s en selfsugtigheid. Maar as ons kan saamstem oor net een ding, dat ons die land wil red van ANC-wanadministrasie en ANC-wanregering, dan moet dit tog moontlik wees?”

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.