Tuks-dosente se Grondwet-kritiek is g’n indoktrinasie

REG, STUDENTE

Tuks-dosente se Grondwet-kritiek is g’n indoktrinasie

Dit is intellektueel lui of moedswillig om filosofiese kritiek op die morele regverdigings van die Grondwet as indoktrinasie te beskryf, skryf PIET CROUCAMP na aanleiding van bewerings dat Tukkies se regstudente geïndoktrineer word.

Image: TIMESLIVE/THULANI MBELE

DIE afgelope naweek se Sondagmedia dra beriggewing oor die beweerde “indoktrinasie” van regstudente aan die Universiteit van Pretoria.

Die argument word aangevoer dat sommige dosente die Grondwet van Suid-Afrika nie net kritiseer nie, maar dit verwerp as ’n juridiese basis vir die ordening van ons samelewing.

Die verwysing is duidelik na enkele swart dosente wat die dekolonisering van die kurrikulum propageer en in die proses ook die filosofiese herkoms van die Grondwet as problematies ervaar.

Die geaffronteerdes in perdehaarpruike en swart togas mor fatalisties oor die ongewenste retoriek in die teenwoordigheid van brose bloedjies. 

Dis ’n eindelose gesprek sonder konsensus aan universiteite wat té dikwels wit en swart dosente teen mekaar opstel. Albei kante van die binêre dialoog kap hulle hakke dogmaties in die grond in ’n onverkwiklike teoretiese tweespalt. Die sogenaamde epistemologie van Westerse filosofiese denke en die Afrikanisering van kennisleer staar wantrouig oor hulle visiere na mekaar in die raadsale van die ivoortoring.

In ’n filosofiegesprek is die dekolonisering of selfs ’n intellektuele verwerping van Suid-Afrika se elite-kompromis van 1996 natuurlik normaal en selfs ’n noodwendige akademiese uitdagende ingesteldheid om te handhaaf.

In my eie vakrigting kompliseer ek dikwels my studente se gedagtegang deur daarop te wys dat dit heeltemal moontlik is om die Grondwet van Suid-Afrika as die imposisie van ’n koloniale doktrine te beskou.

Die ANC van Nelson Mandela het ’n politieke ooreenkoms met die Nasionaliste se FW de Klerk en Roelf Meyer onderteken wat totaal strydig is met dít waarvoor die ANC hulle in exile beywer het.

In so ’n konteks is ek meermale verbaas hoe swart studente die normatiewe veronderstellings van die Grondwet verdedig, terwyl sommige wit studente uiters skepties is wat betref die sogenaamde demokratiese meerderhede wat deur die Grondwet beskerm en gewaarborg word.

Die skeiding van magte, die onafhanklike regbank, die strewe na ’n vrye media, asook die proporsionele kiesstelsel (dalk selfs meer spesifiek so ook die kiesafdelingstelsel wat herinner aan die Westminister-regime van Brittanje), is politieke grondbeginsels verwortel in ’n Europese en Noord-Amerikaanse politieke geskiedenis.

Ek het onlangs vir Sihle Lonzi, die EFF se nasionale jeugpresident, gevra hoekom sy party se vryheidsvegters so geredelik tot die koloniale kenmerke van ons Grondwet konformeer. Sy antwoord was: “We play the game until we have the power to change it”.

Filosofiese Grondwet-knyptang

Maar baie van my wit kollegas is ook in ’n filosofiese knyptang wat ons Grondwet betref.

Sommige voer aan dat die beginsels van diversiteit net teoreties bestaan, en dat dié strewe ondermyn word deur rigiede meerderheidsbeginsels. Ideologies sou hulle ook uiteindelik die mees fundamentele kenmerke van die Grondwet verwerp indien hulle politieke mag kon bekom. Hulle voel deels ontmagtig deur meerderhede en koester wantroue jeens swart Suid-Afrikaners se belang by ’n oop en mededingende politieke stelsel.

Onlangse pogings deur die ANC en die EFF om Artikel 25 van die Grondwet te wysig en sodoende die eienaarskap van plase ’n politieke eerder as ’n markooreenkoms te maak, is vir baie ’n stawing van hulle wantroue en vrese. 

Daar word dikwels aangevoer dat die liberaal-demokratiese Grondwet die resultaat is van gemeenskaplike belang wat in die histories homogene samelewings van Brittanje en Wes-Europa ontspring en uiteindelik universeel die lakmoestoets vir staatsvorming geword het.

Daarenteen het Suid-Afrikaners ’n politieke regime geërf wat uit nood as ’n ooreenkoms tussen politieke elites in ’n skaakmatposisie geformuleer is. Liberalisme is nié deel van ons politieke kultuur nie en die mededingende demokrasie is die imposisie van ’n vreemde waardestelsel. Dit is hierdie erfporsie wat nou gedekoloniseer moet word.

Bloedspoor is ewigdurend

Die liberaal-demokratiese stelsel is inderdaad ook die politieke model wat met ongelykheid, slawerny en kolonialisme geassosieer word.

Die koloniale moondhede was ten gunste van oop politieke en ekonomiese stelsels in hulle eie lande, maar het ’n voorkeur gehad vir outoritêre veronderstellings in die “minder ontwikkelde/premoderne” politieke ekonomieë wat hulle beset het.

Die probleem met die geskiedenis is dat dit dalk objektief omskryf word, maar subjektief ervaar word. Die bloedspoor van koloniale praktyk in Suid-Afrika se mynbedryf is ewigdurend. Die idee van goedkoop arbeid maak dalk finansieel sin vir die Adam Smith-dinkskrum van liberale ekonome, maar vir almal anders is dit die manifestering van die verontmensliking van gekommodifiseerde arbeid.

Minimumlone en die arbeidsregime waarin die voormalige minister van arbeid en later finansies, Tito Mboweni, ’n sterk hand gehad het, is geskryf met die doel om hierdie grusame werklikheid reg te stel.

Min voorstanders van ’n ongereguleerde arbeidsmark besef dat dit in Suid-Afrika tot oneindige uitbuiting kan lei en die waarskynlikheid van onbestendigheid inhou. Die militarisering van die werkersklas en vakbonde maak in dié konteks volledig sin.

’n Politieke misterie

Die kollektiewe wil van die burgery is soms ’n politieke misterie. Nie alle samelewings vind regverdiging vir ’n liberaal-demokratiese regime nie.

Ek wonder dikwels as die Chinese die keuse gehad het om met die Kommunistiese Party weg te doen, of dit hulle uitgesproke wens sou wees. Dit is vir seker ’n onwetenskaplike steekproef, maar ’n beduidende hoeveelheid Chinese het my al met oortuiging verseker dat die steun vir die kommunistiese staat vervleg is met die ingesteldheid van lojale nasionalisme en dat die meeste Chinese burgers Xi Jinping se regering as legitiem en in die algemene belang ondersteun.

Dit herinner my aan die argument wat ek so dikwels by Russe in Moskou gehoor het dat hulle nie met demokrasie vertrou kan word nie en Vladimir Putin dus ’n noodsaaklike en noodwendige outoritêre teenwoordigheid is. Die oorlog in Oekraïne sal hierdie positiewe prognose vir outoritêre leierskap tot die uiterste toets.

Watter gedekoloniseerde grondwet?

Dit is egter ironies en interessant dat geeneen van die huidige dominante politieke partye in Suid-Afrika dit deel van hulle agenda maak om die Grondwet met ’n gedekoloniseerde traktaat te vervang nie.

Die een rede kan wees dat ons waarskynlik nooit genoegsame konsensus sal kry oor wat presies die huidige dokument moet vervang nie. ’n Ander rede is dat Suid-Afrikaners, soos Pravin Gordhan graag sê, ’n “noisy democracy” is wat onder geen omstandighede ons politieke reg om onsself te wees sal prysgee nie. 

Die belangrikste rede hoekom die ANC nie omgesit en ’n diktatuur geword het nie, is omdat dieselfde politieke kultuur wat apartheid se gal so versuur het, tans ook die slagordes van staatskaping en korrupsie uitdaag.

Dit gesê, ’n gedekoloniseerde grondwet veronderstel natuurlik ook nie noodwendig ’n diktatuur nie. Maar Cyril Ramaphosa en die ANC vrees nie net die finale oordeel van die regstelsel nie, hulle wankel ook tans onder die druk wat alle Suid-Afrikaners via ’n mededingende liberaal-demokratiese politieke stelsel op hulle plaas. Die openbare mening het ’n enorme effek op die regerende elite.

Die mees basiese probleem wat die akademiese voorstanders van dekolonisering nog altyd gekniehalter het, was dat hulle nie werklik ’n konstruktiewe alternatief vir die liberaal-demokratiese grondwet kon formuleer nie. 

Boonop het Suid-Afrikaners wie se ouers eens onder die dwingelandy van apartheid moes oorleef, ook ’n soort morele verknogting aan die 1996-traktaat ontwikkel. Hulle is inderdaad, soos die EFF dit heeltemal tereg opsom, polities vry en ekonomies in die wurggreep van ’n ontoeganklike markekonomie.

Almal wil middelklas wees

Nie alle kritiek op die markekonomie is ’n versugting na staatsbeheer nie. Die voorspraak vir die dekolonisering van die akademiese kurrikulum is ook nie noodwendig die manifestasie van ’n premoderne slagorde nie. Soms word die kritiek op die markekonomie geïnterpreteer as die behoefte na ’n intervensionistiese staat of selfs ’n soort pre-moderne Marxisme, maar dis ’n fatale denkfout.

Uiteindelik wil elkeen in hierdie wrede wêreld dalk maar net middelklas wees. Ons wil gesond wees, ’n leefbare huis hê en ons kinders moet op die skoolbanke wees. Om middelklas te wees bring enorme vryhede en vir die eerste 20 dae van die maand selfs relatiewe finansiële gemoedsrus ook.

Die meerderheid van Suid-Afrikaners het hulle politieke heil in die 1996-ooreenkoms gevind.

Speletjies van ivoortoring-bewoners

Ek is nie seker hoe die situasie ontstaan het dat dit ’n geldige argument is dat studente of regsfakulteite ’n keuse moet doen tussen die Grondwet en ’n gedekoloniseerde kurrikulum nie. Ons moet diegene wat in die sweet van hulle aanskyn belasting betaal, vergewe as hulle dit moeilik vind om te besluit of akademici die room of die skuim van die land is.

Die regsgeleerde en voormalige president van apartheid-Suid-Afrika, adv. Balthazar Johannes Vorster, het blykbaar gesê (na aanleiding van die All Blacks wat weens ons beleid van segregasie geweier het om in Suid-Afrika te toer): “If they don’t want to play with us, we will play with ourselves.”

Die bewoners van die ivoortoring speel lekker met hulleself. Om aan te voer dat filosofiese kritiek op die morele regverdigings van die Grondwet ongewens is, hou nie water nie. En dit is intellektueel lui of moedswillig om dit as indoktrinasie te beskryf. 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.