Tussen Swifties en Putin en MbS en die Rooi See woel dit in die wêreld

DONDERDAG MET MERCY

Tussen Swifties en Putin en MbS en die Rooi See woel dit in die wêreld

MERCY KANNEMEYER skryf mens moet nooit ooit 'n man op sy tatoeëermerk takseer nie. WILLEM KEMPEN wonder of reisbeperkings genoeg gaan wees om 'n eskalering van die konflik in die Midde-Ooste te keer, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 07 Desember 2023
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die implementering van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is een stappie nader nadat die wetsontwerp daaroor gister deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is. Uit die nege provinsies het net die Wes-Kaap daarteen gestem.

2. Die dekane van Suid-Afrika se mediese en tandheelkundige skole het 'n gesamentlike beroep op die nasionale tesourie gedoen om die gesondheidsektor teen verdere besnoeiings in die staat se begroting te beskerm, en waarsku dat versuim om dit te doen openbare gesondheidsdienste in die gedrang sal bring en die volgende generasie spesialiste in gevaar sal stel, het Business Day berig.

3. Swifties oral vier die aanwysing van die Amerikaanse sangeres Taylor Swift as Time se Persoon van die Jaar.

4. Die DA het ’n beloning van R100 000 aangebied vir inligting oor die moord op Nhlalayenza Ndlovu, die party se hoofsweep in  uMngeni, wat Dinsdagaand doodgeskiet is nadat hy volgens 'n ooggetuie deur drie mans by sy huis oorval is, het News24 berig.

5. Withaaie is in vier gevalle in Valsbaai gewaar nadat hulle vir lank nie daar gesien is nie. Strandgangers is versoek om op die uitkyk en versigtig te wees.

6. Vladimir Putin het gister in Saoedi-Arabië geland vir inderhaas gereëlde samesprekings met kroonprins Mohammed bin Salman, vermoedelik oor die olieprys, Gaza en Oekraïne.

7. Saoedi-Arabië het die VSA gevra om “selfbeheersing te toon" in reaksie op aanvalle deur Jemen se Houthi's op skepe in die Rooi See, het Reuters berig. Die Houthi's is 'n bondgenoot van Iran en beskou die aanvalle as in solidariteit met Hamas in Gaza.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en die Oos-Kaap. Daar is ook weer 'n uiters hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Wes-Kaap. Omtrent die hele land kan weer buie en donderbuie verwag, die Wes-Kaap uitgesluit.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 25°C • Durban 26°C • Kimberley 34°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 27°C • Upington 37°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Selfs die VSA se steun aan Israel en setlaars het perke

Onmiddellik ná die afgryse van Hamas se aanvalle op 7 Oktober was een van die eerste dinge wat Joe Biden aan Israel gesê het: “We've got your back." 'n Mens wonder of Israel se woedende vergelding sedertdien meer beheersd sou gewees het as dit nie vir daardie woorde van 'n tradisionele bondgenoot was nie.

Intussen het Israeliese setlaars – soms met die steun van Israeliese veiligheidsmagte, soms daarsonder – die VSA se simpatie en hulle eie regering se aanmoediging begin uitbuit met aggressiewe optrede teen Palestyne aan die besette Wesoewer, ver weg van Gaza en Hamas. Die syfers is klein vergeleke met wat in Gaza gebeur, maar tog is die geweld en onstuimigheid aan die Wesoewer ook by 'n hoogtepunt.

Volgens sommige bronne is meer as 130 Palestyne al aan die Wesoewer dood sedert 7 Oktober, van wie 43 kinders was. Meer as 1 700 Palestyne is in aanhouding geneem. Vigilantegroepe setlaars slaan gereeld toe op Palestynse nedersettings in 'n klaarblyklike poging om hulle van hulle grond en lewensmiddele te verdryf, en die VN en geloofwaardige internasionale media sê die Israeliese weermag staan dikwels net en kyk hoe dié vergrype gepleeg word. Oortreders wat wel in die hof beland, kom dikwels met ligte of geen straf nie weg.

Dié situasie kan maklik in 'n nuwe Palestynse opstand ontaard en 'n hele ander dimensie aan die konflik in die streek gee, 'n gevaar waaroor die VSA en Brittanje duidelik ook bekommerd is. Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het gevolglik vandeesweek aangekondig dat reisbeperkings ingestel gaan word teen “ekstremistiese setlaars" wat by aanvalle op Palestyne betrokke is.

Anthony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake: “The State Department is implementing a new visa restriction policy targeting individuals believed to have been involved in undermining peace, security or stability in the West Bank, including through committing acts of violence or taking other actions that unduly restrict civilians’ access to essential services and basic necessities.”

Reisbeperkings klink dalk na 'n tandelose byt te midde van al die geweld wat in die streek aan die gang is, maar dit stuur darem 'n boodskap, veral omdat dit ingestel word net 'n maand nadat Israel toegang gegee is tot die U.S. Visa Waiver Program, waarvolgens Israeli's nie 'n visum nodig het om die VSA te besoek nie.

Of dit genoeg gaan wees om die lot van Palestyne in besette gebiede aan die Wesoewer te verbeter, of die Israeliese regering gaan keer om die situasie verder te laat eskaleer, is 'n heel ander vraag.


Image: ANGELA TUCK

Mercy Kannemeyer | ’n Amsterdamsel in distress

As jy nog nooit in jou lewe oorsee was nie en die geleentheid duik op, sal jy mos spring, nie waar nie?

So is ek toe in Den Haag en Amsterdam van 22 November tot 1 Desember. Ek gaan nog vir lank oor die algehele ervaring kan skryf, maar hiermee my tremstorie.

Van Schiphol-lughawe per trein tot by Den Haag Centraal. By Den Haag Centraal moet ek per trem na my hotel.

Eerstens – die treinrit was besonders. Betyds. Woeps waps. Ondergronds. Deur die tonnel. Anderkant die tonnel uit. Vinniger en skoner as die Gautrein. Die landskap waarna ek by die treinvenster uitgestaar het, was Heidi-in-die-berge-agtig. Klim van die trein af en gaan na my tremstasie. Trem 17 na Zoutmansstraat, Den Haag.

Op die trem bel een van my vriendinne uit Suid-Afrika om te hoor of ek al veilig aangeland het. Ons maak geselsies oor die lekker kos op Emirates, hoe ek in Dubai se lughawe rondgeloop het om te probeer kyk of ek net ’n glimmer van die hoogste toring ter wêreld, die Burj Khalifa, kan sien (spoiler alert – ek het nie), en hoe kinderlik opgewonde ek was toe ons uiteindelik op Schiphol land.

In ’n stadium sê my vriendin: “Mercy, jy weet jy moet die knoppie druk vir die trem om te stop, nè?” Ek het dit hoegenaamd nie geweet nie; ek was te besig om te kyk en te gesels om op te let wat gebeur wanneer mense afklim.

Right. Ek is amper by my stop. Ek berei voor om op te staan, my bagasie te vat en die knoppie te gaan druk.

Zoutmansstraat. Dis my stop! Ek hop op. Druk die knoppie… druk weer. Druk nog ’n keer. Die deur gaan nie oop nie. Die trem ry verder!

Ek dink: okay, fine. Ek kan by die volgende stop afklim en net terugstap. My tas het gelukkig wieletjies, so dit sal nie moeilik wees om by die hotel te kom nie.

Tweede stop. Berei voor. Gaan na die deur. Die deur gaan weer nie oop nie! Dalk druk ek die verkeerde knoppie. Dalk moet ek my trempas scan. Ek scan. Die deur bly bot toe! Die trem ry voort!!! Ek begin  'n klein bietjie paniekerig raak.

Ek vra my mede-passasiers om hulp. Die een ou beduie in Engels dat ek my hand oor die STOP-knoppie moet hou, dan sal die deur oopgaan. By stop nommer drie maak ek toe so aan die regterkantse deur. Die deur aan die ander kant skiet oop! Ek gryp my tas, maar dit sit tussen die sitplekke vas en die deur slaan toe. Die trem ruk met ’n perdespoed vorentoe, my sak trek my terug en ek val pens en pootjies in ’n trem in ’n straat in Den Haag waarvan ek nie die naam kan onthou nie.

My mede-passasiers lag. Ek, properse Amsterdamsel in distress, sê toe net: “Please don’t laugh, help me. I’m from South Africa.” Dalk sou hulle my genadig wees as hulle weet ek is nie van daardie land nie, het ek gedink.

By die vierde stop besluit ek om nie af te klim nie. Die stasie het stil gelyk; netnou is dit gevaarlik.

By die vyfde stop wys ’n vrou vir my hoe die deur werk en ek klim uit.

By die vyfde stop probeer ek die bordjies lees, maar nou is ek so rigtingbedonnerd dat ek nie eens suid van noord kan onderskei nie.

By die vyfde stop kom ’n man met ’n tattoo op sy gesig en nek aangestap. Hy steek ’n sigaret langs my op. Wat ek volgende gaan sê, is nie polities korrek nie, maar hey, ek is ’n onvolmaakte mens, okay?! My eerste gedagte was: “Watse wit gangster is dit dié hier in Den Haag?”

En net daar leer ek dat ’n mens nooit ooit ooit die man op sy tatoeëermerk moet takseer nie. Ek vra of hy vir die trem wag. Hy sê ja. Ek vra of hy weet waar Zoutmansstraat is. Hy sê ja. Ek vertel hom ek het nie geweet hoe om die deur oop te maak nie en ek het my stop gemis. Hy lag. Hy sal my wys hoe om die deur oop te maak. Die trem kom. Die man met die tattoo op sy linkerooglid en 'n ander tattoo neffens die hoofslaggaar in sy nek klim saam met my op die trem, vat my na my stop en stap saam met my tot voor my hotel.

Ek kon hom nie genoeg bedank nie. Ek hoop hy is okay. En gelukkig. En ek hoop ek (en sommer jy ook) loop meer sulke mense in die lewe raak – mense wat jou wildste verwagtinge oortref en jou feilbaarheid as mens aan jou openbaar ten einde van jóú ’n beter mens te maak. Selah.


Jong kat

Die katjie het gegroei
sy peertjies is baie rond
hy lek homself ongeduldig
en skeep die wassery af:
hy skuifel rusteloos rond
sy neus is gevoeliger
hy wil uit nou, snags
sy vlammetjie is aan die brand:

in sy rugmurg kerm
honderde blinde katjies.

– Sheila Cussons

Uit: Die skitterende wond

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.