En nou bly geloof, hoop en liefde

MAANDAG MET MAX

En nou bly geloof, hoop en liefde

Daar is oorgenoeg redes om die pad te vat, maar MAX DU PREEZ hóórt hier, al gaan hy niks van 2023 mis nie.

Beste vriende

Vaarwel, 2023, ons gaan jou nie mis nie.

Oorloë, natuurrampe, regse populiste wat oral oorneem, vlugtelingkrisisse oraloor, die infrastruktuur en dienste in ons liewe land hier aan die suidpunt wat verder ineenstort, armoede en hongersnood wat vererger.

Maar as jy hier lees, beteken dit waarskynlik jy is nog staande, met dak oor die kop en genoeg om te eet. En hopelik nog liefde in jou hart.

Dis seker 'n skamele troos, maar dank die sterre jy is nie 'n Palestyn in Gaza, 'n Soedannees vasgevang in die bloedige burgeroorlog, 'n vrou in Afghanistan of Iran, of 'n Oekraïner in die ooste van daardie land nie.

Of 'n werklose in 'n township of 'n inwoner van 'n gebied waar bendegeweld seëvier nie.

(Ek onthou soos gister, ek was nog op skool, hoe my ma ons vermaan het as ons nie ons groente wou eet nie: wees dankbaar jy is nie 'n Biafraan nie – 'n verwysing na die hongersnood tydens die bittere oorlog tussen Nigerië en die wegbreekstaat Biafra in die laat 1960’s.)

Die swartgalligheid wou-wou net die oorhand kry hier by ons, met die ANC-regering wat skynbaar hopeloser en hopeloser word. Maar toe begin die mense weerstand bied, op baie vlakke.

In plaaslike gemeenskappe het mense hande gevat en self hulle omgewing beter gemaak.

Diensorganisasies klein en groot het na mense begin kyk wat deur die staat afgeskeep word. Die burgerlike samelewing het weer wakker geword. Ondersoekende joernaliste het hulle werk gedoen.

Die sakesektor het die staat met energie, vervoerinfrastruktuur en die strafregstelsel begin bystaan.

En 'n megaton politieke energie is losgemaak om te verseker dat die 2024-verkiesing ons 'n nuwe rigting gaan laat inslaan.

Baie dinge loop skeef hier by ons, maar ons vryheid van spraak en van die media is onaangetas en ons regbank is nog onafhanklik. Ons bly een van die oopste gemeenskappe in die wêreld.

Dis al 'n cliché, maar dit bly waar: ons het wel 'n vrotsige regering, maar die mense van Mzansi is nogal orraait.

Twee gesinne uit my en my vrou se nabye vriendekring emigreer dié maand, na Amerika en na Nederland. Ons groet hulle later die week.

Ons gaan hulle mis, hulle is dierbare en talentvolle mense.

Ek dink hulle maak 'n helse groot fout.

Donald Trump gaan na alle waarskynlikheid in November 2024 die VSA se nuwe president word. ‘n Ongebalanseerde narsis, 'n leuenaar, 'n skelm, met die demokratiese instinkte van sy maatjie Kim Jong Un. Hy belowe al klaar openlik dat hy sy politieke teenstanders in die tronk gaan stop.

In Nederland gaan die regse Islamofoob Geert Wilders waarskynlik die eerste minister word. Hy wil moskees en die Koran verbied, sê hy. Onverdraagsaamheid is besig om skerp toe te neem in dié land.

Die meeste Westerse demokrasieë is in 'n krisis, met min hoop dat dit gou beter kan gaan. En daar is oorloë en dreigemente van 'n kernoorlog. En ná die slagting in Gaza, waarskynlik weer terreuraanvalle.

Ons aan die suidpunt sukkel; met infrastruktuur, met korrupsie, met veiligheid; maar die kurwe is opwaarts – ons was/is klaar by rock bottom. Dis dalk nie waar van die sogenaamde Globale Noorde nie.

Immigrante is inkommers, sonder die natuurlike reg om hulle bekke oor hulle nuwe land te mag rek.

Ons het so nou en dan 'n vloed of 'n droogte, maar ons het nie orkane, tsoenami’s of aardbewings nie, ook nie brande wat tienduisende hektaar gereeld verwoes en mense verplig om te vlug nie.

Ons in die Suid-Afrikaanse middelklas het 'n leefstyl wat in die Weste net vir baie ryk mense beskore is. Ons het ruimte, ons het maklike toegang tot die natuur, ons het oorvloedige sonskyn, 'n lekker klimaat en die mooiste kuslyn, berge en bosveld.

Ek is net ná 1994 'n goeie betrekking in Europa aangebied. My instink was dat ek nie kan weghol die oomblik dat ons die demokrasie en oop gemeenskap kry waarvoor ek help baklei het nie.

Ek het 'n Calvinistiese plig as die nasaat van kolonialiste en apartheidbase om te bly en te help waar ek kan, het ek gevoel. Ek verklaar al dekades lank dat ek 'n inheemse Afrikaan is met die reg op volle eersteklas-burgerskap, maar nou dat goed taai word, wil ek vlug?

Maar ek moes ook aan my gesin dink. Is dit nie in hulle belang dat ons eerder in die “Eerste Wêreld” gaan bly nie?

Ek het, ná deeglike besinning, toe al besluit om my te verbind om tot die einde van my dae in Suid-Afrika te bly, wat ook al gebeur. Emigreer was heeltemal van die tafel af.

Dit was nogal bevrydend, want baie mense wat ek ken, wik en weeg kort-kort of hulle moet gly of bly. Die grootste bitterbekke in die land is mense wat eintlik wil emigreer, maar nie kan nie.

Ek wíl bly. Ek wíl deel van die heropbou van my land wees. Wat om ons aan die gebeur is, is soms neerdrukkend, maar altyd opwindend en dinamies, nooit vervelig nie.

Ek hóórt hier.

Dit was vir my 'n belangrike kopskuif om te maak.

Terloops, dié brief is die laaste vir 2023, dus geen Daagliks-bulletins nie. Ons publiseer Vrydag 'n bonusuitgawe van Vrye Weekblad waaraan jy dae lank kan lees. Ons het geen uitgawe op 29 Desember nie, maar op 5 Januarie is ons weer op ons pos.

Ek praat weer op 2 Januarie 2024 per brief met julle.

Ek hoop van harte elkeen van julle het vrolike, vreedsame en liefdevolle feesdae.

Gegroet.

Max


Tyd is 'n ou bandiet
wat tussen ons rondslenter
met sy lang tande
Hy versamel snuisterye
Hier 'n fopspeen, daar 'n ou kam
en neffens dit 'n kondoom
manifestasies van ons bestaan
Hoe komieklik is dit nie alles nie

- Jeanne Goosen

Uit: Het jy geweet ek kan toor

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.