Gay bedank by Harvard, en Israel baklei terug teen SA

WOENSDAG MET WILLEM

Gay bedank by Harvard, en Israel baklei terug teen SA

Vir WILLEM KEMPEN lyk dit nie of die ANC 'n antwoord op Jacob Zuma se openlike verset het nie. Hy dink ook ons behoort samesweringsteorieë soms ernstig op te neem, en soos gewoonlik is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 03 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Israeliese regering gaan hom voor die Internasionale Geregshof (ICJ) in Den Haag verweer teen Suid-Afrika se beskuldigings van volksmoord as deel van die oorlog teen Hamas in Gaza, het 'n woordvoerder gister gesê. Suid-Afrika het verlede week die ICJ gevra vir 'n dringende bevel wat verklaar dat Israel sy verpligtinge ingevolge die Volksmoordkonvensie van 1948 verbreek.

2. Brandstofpryse is van vandag af heelwat laer as wat verwag is. Die kleinhandelprys van 93 oktaan loodvrye petrol daal met 62 sent per liter en 95 oktaan loodvry met 76 sent per liter. Die groothandelprys van diesel daal met R1,26 per liter vir 'n swaelinhoud van 0,005% en met R1,18 per liter vir 0,05%. Die prys van paraffien daal met R1,24 per liter

3. Egipte, Ethiopië, Iran, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate is nou amptelik lede van Brics. Argentinië se lidmaatskap is ook verlede jaar goedgekeur, maar Javier Milei, die land se nuwe president, het dit sedertdien van die hand gewys. Rusland neem vanjaar die voorsitterskap van Brics by Suid-Afrika oor.

4. Saleh al-Arouri, een van Hamas se mees senior leiers, is gisteraand dood in 'n vermeende Israeliese afstandbeheerde presisie-aanval op Dahiyeh in die suide van Beiroet, waar die Libanese militante groep en Hamas-bondgenoot Hezbollah 'n sterk teenwoordigheid het, het Reuters berig.

5. The Wall Street Journal het onder die opskrif Why Every Western Automaker Is Visiting This Remote Part of South Africa" berig oor die Manganese Metal Company (MMC), wat 'n kritieke rol kan speel om Westerse vervaardigers van elektriese voertuie minder afhanklik van China te maak vir die produksie van hoëgraadse mangaan wat in batterye gebruik kan word.

6. Claudine Gay, president van Harvard, het gister bedank te midde van beskuldigings van plagiaat en kritiek oor haar en ander universiteitsleiers se getuienis voor 'n kongreskomitee waar sy nie onomwonde wou sê dat oproepe op kampus vir die volksmoord op Jode die skool se gedragsbeleid sou oortree nie.

7. Taylor Swift het Elvis Presley verbygesteek as die solokunstenaar met die meeste weke boaan die musiektydskrif Billboard se album-trefferlyste. Haar huidige album, 1989 (Taylor's Version), is tans vir die vyfde opeenvolgende week nommer een op die lys. Saam met haar vorige albums beteken dit dat sy al vir altesame 68 weke 'n album op nommer een gehad het, teenoor Presley se rekord van 67 weke. Die Beatles bly as 'n groep die algehele rekordhouers, met hulle albums wat vir 132 weke boaan die lys was.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie en hael oor die weste van KwaZulu-Natal en dele van die Oos-Kaap, asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou in die noorde van die Noord-Kaap. Buie en donderbuie word in elke provinsie verwag. Dit word vandag baie warm in Limpopo en die Wes- en Noord-Kaap. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 28°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 26°C • Bloemfontein 31°C • Polokwane 28°C • Kimberley 34°C • Upington 37°C • Kaapstad 32°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C • Durban 26°C.


Willem Kempen | Die ANC beter dringend ’n plan maak met Jacob Zuma

Jacob Zuma is besig om 'n vrolike middelvinger in die algemene rigting van Cyril Ramaphosa en die ANC te wys, en sommer in die verbygaan ook na al die naïwiteit in opposisiegeledere.

Zuma lewer Saterdagoggend die “keynote address" by die uMkhonto weSizwe Party (MK) se “Mass Meeting" in, van alle plekke, Piet Retief (Mkhondo) in Mpumalanga. Nie te ver van waar die ANC se amptelike 112de bestaansherdenking later vandeesmaand gaan plaasvind nie.

As daar enige voorwaardes gekoppel was aan Ramaphosa se kwytskelding van Zuma se tronkstraf verlede jaar, dan wys dit nie nou in die kamtige siek Zuma se optrede nie. Hy het nie net reeds aangedui dat hy nie vir die ANC gaan stemme werf nie, hy is ook skaamteloos besig om vir 'n ander party stemme te werf en sien dit nie as strydig met sy voortgesette lidmaatskap van die ANC nie: “Our declaration of support for uMkhonto weSizwe is driven by our concern that the ANC has strayed from its original path due to misguidance.”

Zuma se nuutste openlike verset word al vir minstens drie weke op hoë vlak deur die ANC bespreek, maar van werklike optrede is daar nog geen sprake nie. Daarom kan hy ongestoord voortgaan om te maak asof niks van die regerende party se probleme enigiets met hóm of met korrupsie of staatskaping of die hofsake teen hom te doen het nie, maar alles met Ramaphosa se swak leierskap en 'n ontkenning van waar die wortels van die ANC se mag lê: “I have been working hard underground unnoticed, consulting with traditional leaders and pastors since January, there is no other time to fix the country but now,” het hy volgens City Press gesê.

Dit lyk nie of die ANC 'n antwoord het op Zuma se energie óf sy boodskap óf sy verstaan van die ANC se netwerke op die grond in veral KZN nie.


Soms ís daar ’n donker geheim agter ’n raaiselagtige sterfte

Ek het verlede week kort ná mekaar Baz Luhrmann se Elvis en Sofia Coppola se Priscilla gesien. Dis nie dat die twee flieks soseer met mekaar stry nie; dis die verskil in perspektief wat so opvallend is, en dat baie van die misterie steeds voortleef oor wie die ware Elvis Presley was en waar hy in die Amerika van die 1960's en 1970's en selfs vandag nog inpas.

Ek dink ek verstaan ook nou waarom sommige mense steeds vasklou aan die idee dat Elvis sy eie dood versin het. Jy kan nie oor Elvis praat sonder om ook oor formele segregasie en die Civil Rights Movement en veral Suidelike verset daarteen te praat nie, en dit was alles vrugbare grond vir die goue era van sameswerings: die Koue Oorlog, McCarthyisme, die Kubaanse revolusie, die Mafia se rol in Havana en later in plekke soos Las Vegas, die sluipmoorde op Martin Luther King junior en die Kennedy-broers, die era van J. Edgar Hoover en die FBI, Jimmy Hoffa en die Amerikaanse vakbondbeweging, Nixon en Watergate, die CIA se “War on Drugs". En van daar dalk netjies terug tot by Elvis Presley se dood.

Baie vreemder dele van die groter storie is mettertyd as die waarheid ontbloot as dat Elvis dalk nie regtig in 1977 in Graceland dood is nie. Die raaiselagtige omstandighede om Marilyn Monroe se dood is 'n goeie voorbeeld van hoe bisar dit als kan word.

Van daar bring 'n bietjie verbeelding jou maklik terug tot by JFK junior se dood in 1999 in 'n vliegongeluk, of alternatiewelik dat hy eintlik vermoor is deur diegene wat sy politieke opgang wou stuit. (En in RFK junior is daar nogmaals 'n Kennedy met aspirasies om president te word – gaan hy die een lid van Camelot wees wat die vloek vryspring?)

In die komende dae gaan 'n hoofstuk van nog 'n sameswering ontvou wat wentel om magtige mense wat by obskure netwerke en 'n toesmeerdery van misdadigheid betrek word. Die name van altesame 187 mans en vroue wat een of ander assosiasie met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein en sy vertroueling Ghislaine Maxwell gehad het, moet ingevolge 'n hofbevel openbaar gemaak word nadat tot dusver net na hulle as John of Jane Doe verwys is.

Baie van hulle word nie noodwendig van 'n misdaad verdink of beskuldig nie, maar die blote assosiasie gaan nogtans in baie gevalle opslae maak. Die hofstukke sluit byvoorbeeld 40 dokumente in wat bewerings uit 'n vroeëre saak teen prins Andrew bevat.

En dis die ding met samesweringsteorieë: tussen al die aandiksels en oordrywings en logiese spronge is daar dikwels ook 'n klompie onweerlegbare feite wat selfs magtige mense tot 'n val kan bring.


Image: ANGELA TUCK

Somer

die son se strale wat skyn / oor ’n goudgeel seisoen /  wat ruik na jasmyn / en proe soos ’n oopbeksoen

Willem de Swyger

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.