‘Oppenheimer’ troef ‘Barbie’, hof beslis oor rand-manipulasie

DINSDAG MET ANESCA SMITH

‘Oppenheimer’ troef ‘Barbie’, hof beslis oor rand-manipulasie

ANESCA SMITH meen Suid-Afrika kan 'n voorbeeld aan die wêreld stel wat godsdiens-verdraagsaamheid betref. WILLEM KEMPEN wonder of die ANC steeds hulle president met leuens beskerm, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 09 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Mededingingsappèlhof (CAC) het die saak teen almal behalwe vyf van die 28 banke wat daarvan beskuldig is dat hulle saamgespan het om die rand in New Yorkse valutamarkte meer as 'n dekade gelede te manipuleer, van die hand gewys. Die CAC het gister in 'n uitspraak die Mededingingskommissie se saak van agt jaar teen drie van die groot SA banke en al die buitelandse banke behalwe JPMorgan Chase, HSBC, BNP Paribas en Credit Suisse van die hand gewys. Laasgenoemde vier het reeds skuld erken op aanklagte wat 'n dekade gelede in die VSA teen hulle gebring is. Die hof het beslis dat die kommissie geen saak het teen Standard Bank, Nedbank of FirstRand nie.

2. Die presidensie het bewerings op sosiale media ontken dat pres. Cyril Ramaphosa Sondag aan die vooraand van die ANC se 112de bestaansherdenking siek geword het en in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria opgeneem is. “The news of my illness and the news that I was in ICU are extremely exaggerated; I am fit as a fiddle, I had no illness whatsoever, I didn’t collapse, at all. You can see for yourself, this is not a fake Ramaphosa, not a double,” het hy gister volgens The Citizen gesê. Hy het later gesê die ANC is “strong" en “not on its knees", en opposisiepartye wat die regerende party die stryd wil aansê, “will be put in their place"

3. Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het ontken dat diensverskaffers wat deur NSFAS gekontrakteer is, miljoene rande aan hom en die voorsitter van die raad, Ernest Khosa, betaal het, asook minstens R1 miljoen aan die SA Kommunisteparty. Hy het OUTA se verslag daaroor as “baseless insinuation" afgemaak en daarna verwys as “lies that emanate from a malicious fightback campaign": “My conscience is clear, and I have nothing to hide or fear."

4. Die veelsydige Heinrich Klaasen het gister sy uittrede uit toetskrieket aangekondig.

5. Israel het sy aanvalle op teikens in Sirië uitgebrei, het bronne aan Reuters gesê. Dit sluit in individue, vragmotors en ander infrastruktuur wat betrokke is by Iran se verskaffing van wapens en ander toerusting aan sy bondgenote in die streek.

6. 'n Verslag deur die BBC dui op wydverspreide vergrype deur TB Joshua, die ontslape stigter van die gewilde Nigeriese Church of All Nations (Scoan). Voormalige lede van die kerk het aan die BBC vertel van verkragtings, gedwonge aborsies en marteling waaraan Joshua hom na bewering oor byna twee dekades by 'n kompleks in Lagos skuldig gemaak het. Joshua is in 2021 in die ouderdom van 57 in Nigerië dood.

7. Die 81ste Golden Globes-geleentheid het Sondag in Beverly Hills, Los Angeles, plaasgevind. Oppenheimer was die groot wenner van die geleentheid met vyf hooftoekennings, insluitend vir Beste Rolprent (Drama) en Beste Regisseur (Christopher Nolan). Barbie het twee toekennings gewen, insluitend vir beste oorspronklike liedjie.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie met moontlike hael vir dele van die Noord-Kaap, Noordwes en die Vrystaat, asook swaar reën wat tot moontlike vloede kan lei in dele van Gauteng en Mpumalanga. Buie en donderbuie word ook in die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 26°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 25°C • Durban 27°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 30°C • Polokwane 29°C • Upington 37°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | So, geen leuens deesdae oor dinge soos Phala Phala nie?


Mens kry Fikile Mbalula amper jammer oor sy erkenning dat die ANC destyds oor Nkandla vir die parlement en die land gelieg het om Jacob Zuma te beskerm. Besef Mbalula wat hy gedoen het? Besef hy dat hy namens elke ANC-parlementslid gebieg het dat hulle meineed gepleeg het en hulle eed aan die Grondwet afgelag het?

“We went to parliament and opened an ad hoc committee and said a swimming pool is a fire pool. The police minister [Nathi Nhleko] was sweating, seeing that this was lies, because it is difficult to explain lies. People have lost their careers because of that thing,” het Mbalula Sondag in Barberton in Mpumalanga van agter 'n ANC-mikrofoon gesê (en kyk net hoe ongemaklik lyk Zizi Kodwa):

Dis nie asof enigiemand buite die ANC destyds die ontkennings geglo of ernstig opgeneem het nie. Die groter probleem met wat Mbaks nou gesê het, is dat dit lyk of hy dit teen Zuma hou dat hy ten spyte van dié destydse “lojaliteit" van sy party steeds voortgaan om in die naam van MK teen die ANC stemme te werf. Amper asof hy eintlik wil sê: “Ons was almal bereid om te lieg om jou te beskerm, maar nou kan jy nie ook namens óns lieg nie."

Mens wil ook raai die “people [who] have lost their careers because of that thing" na wie Mbalula verwys, is net die mense binne die ANC, nie ook almal buite die regerende party wie se motiewe en lojaliteit aan die land bevraagteken is omdat hulle durf sê het dat Zuma staatsgeld gebruik het om vir homself 'n koninklike landgoed ver weg van enige van sy amptelike pligte te laat bou nie. 

Ten spyte van Nkandlagate en staatskaping en die Zondo-kommissie en al die ander dinge wat sedertdien gebeur het, is Zuma nie net nié agter tralies nie, hy bly steeds lekker daar in sy landelike vesting. Dalk onthaal hy nog soms tussendeur hofverskynings en insinkings in sy gesondheid van sy trawante daar langs die swembad en maak grappies oor wat hulle gaan doen as 'n brand uitbreek.

Mbalula dink skynbaar ook dis alles baie snaaks, dié dat hy praat van “because it is difficult to explain lies". Dalk is die eintlike probleem nie hoe moeilik die ANC dit destyds gevind het om leuens te probeer wegverduidelik nie, maar hoe verstommend maklik dit deesdae is.

Die ander vraag is natuurlik of die ANC (en Mbalula spesifiek) ná Jacob Zuma opgehou het om hulle president te beskerm, en of hulle – en hulle sekretaris-generaal – dit nog steeds doen. 


As ons verdraagsaamheid koester

Eers in Nederland besef ek hoe bevoorreg ons die afgelope jare in Suid-Afrika was wat godsdienstige verdraagsaamheid betref. Terselfdertyd miskien ook ’n bietjie verwyderd en naïef oor die rol wat godsdiens in die konflik tussen en die ellende van mense in ander dele van die wêreld speel.

In Suid-Afrika (ná apartheid) was dit die natuurlikste ding in die wêreld dat jou vriendekring of kollegas uit mense van verskillende godsdienstige groepe of kultuuragtergronde bestaan. In die Kaap was dit ’n hele mixed masala – daar word oor-en-weer gekuier, kos gedeel en plesier gemaak.

As beginnende joernalis in die 1990s moes ek soms na byeenkomste gaan ter viering van feesdae of ander gebeure en dit was mooi om te sien hoe leiers van verskillende godsdiensgroepe ’n verenigde front in landsbelang vorm. My coming of age as laaste deel van Generasie X was deur die rooskleurige bril van die reënboognasie.

In Nederland is ek gou uit my Kumbaya-onskuld geruk.

Aan die een kant is dit ’n feit dat daar hier behoorlik teen Moslems gediskrimineer word, insluitend op skool en in die arbeidsmark – soms blatant, soms op ’n slu manier.

Akademici onderskei tussen vooroordele teen ’n spesifieke godsdienstige groep en kritiek op ’n godsdiens lewer. By vooroordele ten aansien van Moslems word Islam en Moslems as een groot nie-progressiewe blok gesien, per definisie gewelddadig, heeltemal “anders" en as ’n politieke ideologie in plaas van ’n godsdiens. Ook die goedpraat van diskriminasie teen Moslems hoort by dié vooroordele.

Kritisering van ’n godsdiens gaan meer oor kritiek uiter op bepaalde godsdsdienstige praktyke of idees. As iemand byvoorbeeld kritiek het op die feit dat sommige Moslem-gemeenskappe meisies gedwonge ’n sluier laat dra, kan dit beskou word as godsdienstige kritiek, maar wanneer iemand sê dat Moslems per definisie vrou-onvriendelik is, is dit vooroordeel.   

Aan die ander kant word ek hier ook meer gekonfronteer deur die werklikheid van Islamitiese ekstremisme as in Suid-Afrika.

In Nederland was daar byvoorbeeld in 2022 byna 700 gevalle van “eerwraak”. Meestal jong vroue wat geïntimideer of aangerand  word – soms selfs vermoor  – omdat hulle kwansuis die familie in die skande gesteek het deur byvoorbeeld nie te trou met ’n huweliksmaat wat deur die familie uitgekies is nie of van “losbandigheid” beskuldig word. Die polisie meld dat waar dit voorheen meestal in Turkse en Marokkaanse kringe gebeur het, verdagtes nou ook dikwels Siriërs is.

Soos in Suid-Afrika het ek nog steeds ’n groot kring Moslem-vriende en -kennisse, maar nou bestaan hulle byna meestal uit liberale: mense uit Turkye wat nie onder Tayyip Erdoğan se toenemend verdrukkende en vrou-onvriendelike regime wil woon nie; Irannese wat vry wil wees van die verskriklike menseregteskendings daar; of ’n gay Moslem-vriendin uit Maleisië wat graag met haar verloofde wil trou, maar die toestemming van een of ander Islamitiese raad in Maleisië nodig het, wat natuurlik nooit goedkeuring aan ’n homoseksuele huwelik gaan verleen nie. So hoe nou?

Een van die indrukwekkendste boeke wat ek die afgelope jaar gelees het, was Ik ga leven, die bekroonde debuutroman van die jong skrywer Lale Gūl (26). Hierin beskryf sy haar verset teen die voorskrifte wat opgelê word deur die ortodokse Islamitiese gemeenskap waarin sy in Amsterdam-Wes leef. Sy wil nie uitgehuwelik word nie. Sy wil nie ’n hoofdoek dra nie. Sy wil nie deur die patriargie aan ’n halsband gelei word nie. Sy wil self bepaal of sy kinders wil hê.

Die gevolge van die boek? Soveel doodsdreigemente dat Gūl sedert die verskyning daarvan nie meer vry kan lewe nie. Haar verblyfplek en bewegings word hoogs geheim gehou uit vrees vir ’n aanslag.

In ’n onlangse onderhoud het Gūl vertel dat talle van haar jong, liberale vriende vir Geert Wilders gestem het omdat hulle in die steek gelaat voel deur links-progressiewe partye in Nederland wat liewers anderkant toe kyk oor die indoktrinasie en ondemokratiese waardes in sommige sogenaaamde koranskole. “(Dié kiesers) het die gevoel dat Wilders vir sekulêre waardes staan en die enigste is wat iets sê oor die ruimte wat godsdiens tans in die openbare arena inneem.”  

Soos in ander dele van die wêreld veroorsaak die Israel-Palestina-konflik ook groot verdeeldheid in Suid-Afrika en ontlok baie emosie. Jy hoef net na sosiale media te kyk of die kommentaar op nuusberigte te lees.

Watter invloed dit sal hê op die godsdienstige verdraagsaamheid in die land, wat tans onder druk is, moet nog gesien word. Maar as ons daardie verdraagsaamheid koester, kan Suid-Afrika ook hierin ’n voorbeeld vir ander lande wees.

Mooi week,

Anesca


Samehang

Van die koningskind tot die bedelaar,
Van die vlieënier tot die amptenaar –
Dié wat sonder 'n lappie aarde is,
Sal altyd 'n stuk van die hemel mis.

- Gerrit Komrij

Uit: Die elektries gelaaide hand, vertaal deur Daniel Hugo

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.