Minder swanger vroue het MIV, en ANC hof toe oor MK-logo

DONDERDAG MET MERCY

Minder swanger vroue het MIV, en ANC hof toe oor MK-logo

MERCY KANNEMEYER sê die ‘ja, maars' oor die volksmoord in Gaza moet end kry. WILLEM KEMPEN raai mense aan om hulle liegverklikkers se batterye in 2024 gelaai te hou, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 11 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die land sal baie vinniger moet beweeg om nuwe transmissie-infrastruktuur tot stand te bring wat meer elektrisiteit aan die netwerk sal koppel as wat in Eskom se huidige ontwikkelingsplan voorsien word, het Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, aan joernaliste gesê. Hy meen Eskom se planne om 1 400­ km se nuwe transmissielyne oor die volgende drie jaar op te rig, is nie voldoende nie en dat minstens 6 000 km nodig sal wees.

2. MIV onder swanger vroue wat Suid-Afrikaanse staatsklinieke besoek, het in 2022 tot 27,5% gedaal, wat die laagste vlak in twee dekades is, volgens 'n verslag wat gister deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) vrygestel is.

3. Die ANC het sy logo-dispuut met die nuutgestigte uMkhonto weSizwe (MK) Party na die verkiesingshof geneem. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het aan eNCA gesê hy het Dinsdag die nodige dokumente onderteken. “MK is óns handelsmerk. Dit is welbekend in Suid-Afrika. Dit is die mense se weermag, en dit behoort aan die ANC," het hy gesê.

4. Die diamantreus De Beers, wat deel van Anglo American is, gaan voort met 'n beplande belegging van $1 biljoen om die lewensduur van die Jwaneng-myn in Botswana te verleng, ten spyte van verlede jaar se daling in die vraag na edelgesteentes. De Beers en die Botswana-regering, wat die Debswana Diamond Company saam besit, het besteding goedgekeur wat Jwaneng in 'n ondergrondse operasie sal omskep.

5. Pres. Daniel Noboa van Ecuador het gister gesê sy land is in 'n oorlog gewikkel met dwelmbendes wat meer as 130 tronkbewaarders as gyselaars hou en wat kortstondig 'n TV-stasie regstreeks op die lug oorgeneem het en elders in die land ontploffings veroorsaak het. Noboa het in November die bewind oorgeneem en belowe om die probleme te takel wat veroorsaak word deur 'n toename in bendes wat kokaïen deur die land vervoer.

6. Amerikaanse en Britse vlootmagte het Dinsdag 21 hommeltuie en missiele neergeskiet wat deur Jemen-gebaseerde Houthi's na teikens in die suidelike Rooi See afgevuur is. Die Britse minister van verdediging, Grant Shapps, het gesê dit was die Houthi's se grootste aanval in die gebied tot nog toe.

7. Chinese kenners het met die steun van die staat 'n manier gevind om mense te identifiseer wat Apple se geënkripteerde AirDrop-boodskapdiens gebruik, het Beijing se munisipale regering volgens Reuters beweer. AirDrop laat gebruikers toe om inhoud na ander Apple-toestelle in die nabyheid te stuur sonder 'n internetverbinding, sodat dit nie deur derde partye soos die owerhede bekyk kan word nie. Dit is in 2019 wyd gebruik deur betogers teen die Chinese sentrale regering in Hongkong.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar reën vir dele van KwaZulu-Natal en swaar donderbuie oor dele van Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap en Mpumalanga. Die Wes-Kaap kan reën verwag en die Oos-Kaap en Limpopo kan buie verwag. Dis ook vandag baie warm in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 31°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 30°C • Durban 27°C • Kimberley 32°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 30°C • Upington 36°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Lieg en bedrieg se ratte was nog nooit tevore so goed ge-olie nie


As jou strontsensor se batterye die afgelope week bietjie afgeloop was, sou jy dalk kon dink – al was dit net vir 'n oomblik of twee – dat Stephen Hawking regtig sy kicks op Jeffrey Epstein se eiland gekry het “[by] watching undressed midgets solve complex equations on a too-high-up chalkboard".

Of dat die onthulling van Tom Hanks se naam op die Epstein-kliëntelys die akteur na Judaïsme laat bekeer en na Israel laat vlug het, waar hy met sy aankoms in 'n Joodse gebedskleed gedans het terwyl duisende mense hom entoesiasties verwelkom het.

In werklikheid het verlede week se openbaarmaking van voorheen verseëlde hofdokumente in sake waarby Epstein of sy enforcer Ghislaine Maxwell betrokke was, nie veel onthul wat nie reeds bekend was nie. Dis ou nuus dat politici soos Bill Clinton en Donald Trump lank gelede vriende met Epstein was of tyd in sy geselskap deurgebring het, maar daar is steeds geen bewyse dat hulle by enige verwante misdade betrokke was nie. Prins Andrew se naam is weer daar, maar dit verander niks aan die ondersoeke teen hom wat in elk geval voortduur nie.

In Hawking se geval is sy naam nou openbaar gemaak omdat hy in 2006 'n konferensie op Epstein se privaat eiland in die Karibiese Eilande saam met verskeie ander wetenskaplikes bygewoon het. Dit was lank voordat Epstein van sekshandel in (onder andere) minderjariges aangekla is, en daar is beslis geen sprake dat Hawking by enige misdaad of selfs net 'n skandaal betrokke was nie (Hawking is in 2018 oorlede). (Die swartbord-episode is deur iemand op X versin deur 'n deel van die hofdokumente digitaal te verander.)

Hanks se naam verskyn glad nie in verlede week se dokumente nie. Beweringe in 2020 dat hy ook 'n besoeker aan Epstein se eiland was, is sedertdien as vals bewys. Die storie dat hy na Israel gevlug het, is weens 'n nagemaakte CNN-video wat ook sonder twyfel vals is. (Hier is terloops 'n skakel na al die dokumente.)

Dis heeltemal moontlik dat bewyse vorentoe sal opduik wat groot name met Epstein en Maxwell se misdaadnetwerk sal verbind en hulle tot 'n val sal bring, maar tot dan gaan dit kophou vat om waarheid van versinsel te probeer skei. Net so is daar geen rede om nié skepties te wees oor die ware redes vir Epstein se dood in aanhouding nie, of om nie te wonder oor watter mag hy en Maxwell dalk gehad het omdat hulle magtige mense se donkerste geheime geken het nie.

'n Verslag wat gister met die oog op volgende week se jaarlikse  byeenkoms van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) vrygestel is, sê uiterste weer en waninligting is die twee grootste faktore wat vanjaar tot internasionale krisisse kan lei. En dít in een van die belangrikste verkiesingsjare tot nog toe, met biljoene mense wat sal gaan stem in onder meer Suid-Afrika, die VSA, Indië, Mexiko en vir die Europese parlement. “Die wydverspreide gebruik van verkeerde inligting en disinformasie, en maniere om dit te versprei, kan die legitimiteit van nuutverkose regerings ondermyn,” waarsku die verslag.

Twee derdes van die risiko-ontleders wie se menings in 'n peiling in die verslag opgeneem is, voorsien 'n verdere fragmentering van die multipolêre wêreldorde in die volgende dekade. Børge Brende, president van die WEF, het Dinsdag op 'n nuuskonferensie gesê vanjaar se byeenkoms in die Switserse ski-oord Davos sal plaasvind “teen die mees ingewikkelde geopolitieke agtergrond tot nog toe", gegewe die oorloë in Gaza, Oekraïne en elders, asook die massiewe internasionale migrasie van mense, die klimaatkrisis, skuldvlakke en stygende lewenskoste.

Terselfdertyd is die geloofwaardigheid van die meeste multinasionale instellings, insluitend die WEF self, steeds aan die agteruitgaan. So ondoeltreffend en selfs korrup soos baie van hulle is, is hulle die enigste plekke wat ons het waar oop gesprekke tussen lande en regerings kan plaasvind.

Die beste wat die res van ons aan alles kan doen, of so lyk dit my, is om seker te maak die liegverklikker se batterye is altyd so vol as moontlik gelaai.


Image: ANGELA TUCK

Hoe beur ons voort terwyl onskuldige mense afgemaai word?

Dis met 'n swaar hart wat ek hier skryf. Dis byna 100 dae sedert Israel Palestina binnegeval het en meer as 20 000 mense is intussen dood.

Kom ons los die politieke ontleding van dié oorlog vir die kenners. Hierdie raak nou ’n menslike oorlog. Die dodetal styg by die dag. Wêreldleiers spoel hulle monde uit. Draadsitters “Ja, maar Hamas…” hulle weg deur die hele ding en dít terwyl die bomme net aanhou val. Mens is skrikkerig om soggens na die nuus te kyk, want watter bebloede kindergesig gaan jy dié keer sien?

My idee vir hierdie nuusbrief was om die name van die meer as 20 000 mense wat al dood is hier te lys  sodat ek en jy daardie name hardop kan lees en kan besef (indien jy nog nie besef het nie) dat dít wat in Gaza afspeel niks anders as ’n volksmoord is nie. Maar daar is te veel name – en dít moet vir ons iets sê. Die 20 000+ is ook net diegene waarvan ons weet. Ek glo die situasie op die grond is veel erger as dit.

Die “ja, maar” moet stop. Deur te erken dat onskuldige mense afgemaai word, vat nie weg van die wete dat dít wat Hamas gedoen het, onverskoonbaar is nie.

Gesprekke oor die oorlog het byna alle sosiale geleenthede oorheers wat ek oor die feesseisoen bygewoon het. Menige erken dat hulle nie weet wat om te doen en wat om te voel nie. Dit voel asof hierdie oorlog ’n oorlog van reg en verkeerd is en hoe kan óns, leke en feilbares, oor reg en verkeerd beslis? Maar die dood van onskuldige mense bly verkeerd. En dit is verbysterend om selfs hierdie sin hier te moet tik, want wat anders???

Terwyl ek vandeesweek die nuus gelees en die reaksie in die media en op sosiale media dopgehou het, was dit asof die diepste depressie tot nog toe oor my gesak het.

Wat my diep binneslaan, is hoe die Palestynse joernalis en Al Jazeera-verslaggewer Wael Al-Dahdouh sy laaste oorlewende seun moes groet, en dít nadat hy vroeër sy vrou en ander twee kinders ook moes begrawe. Die kyk op sy gesig. Die mismoedigheid in sy oë. Die moegheid in sy stem. Niemand, niemand, niemand moet deur soiets gaan nie.

Ons kan nie wegkyk nie. Derduisende onskuldige mense word voor ons oë afgemaai. Suid-Afrika het sterk standpunt ingeneem deur die Internasionale Geregshof te nader. Dan is dit interessant om te sien hoe die DA mense in die Kaap afraai om die Palestynse vlag en Palestynse simbole op hulle mure te verf. Teleurstellend, maar g’n verrassing nie.

Dit voel surrealisties om te moet voortbeur terwyl onskuldige mense daagliks omkom. Hoe kan ons aanhou? Hoe hou ons net aan om te werk en ons lewe te leef? Fokkit.


punt

ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met 'n punt
agter jou naam.
finaal.

maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by
...

– Bibi Slippers

Uit: Fotostaatmasjien

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.