Goeiemôre!
1. Prasa het sy Shosholoza Meyl-passasiersdiens tussen Johannesburg en Kaapstad opgeskort slegs drie weke nadat dit vir die Desember-vakansietydperk weer ingestel is. Prasa het gister aan News24 gesê die diens is in die laaste week van Desember beëindig omdat daar nie genoeg betroubare lokomotiewe beskikbaar was nie.
2. Die Inkomstediens (SAID) het 'n strafsaak geopen teen Hazim Mustafa, die koper van die Phala Phala-buffels wat volgens pres. Cyril Ramaphosa in Desember 2019 kontant van $580 000 aan sy plaasbestuurder oorhandig het. Volgens Ramaphosa was dit Mustafa se geld wat in Februarie 2020 van die wildplaas naby Bela-Bela in Limpopo gesteel is.
3. Minstens agt mense is dood en honderde dakloos gelaat weens stormweer in KwaZulu-Natal oor die naweek. Verskeie Durbanse strande en openbare swembaddens is gesluit, terwyl ses mense steeds vermis word.
4. Die Duitse versekeringsreus Allianz het gewaarsku dat sommige risiko's verbonde aan klimaatsverandering nou die vermoë oorskry van versekeraars om dekking daarteen te onderskryf, het Business Day berig. Allianz sê 2023 was waarskynlik die vierde opeenvolgende jaar waarin die versekerde koste van natuurrampe wêreldwyd die $100 biljoen-kerf oorskry het.
5. Die Republikeinse koukus in Iowa het gisteraand (SA tyd) in ysige weer hulle stemme uitgebring in die party se presidensiële benoemingstryd. Donald Trump is die oorweldigende gunsteling om te wen, met Nikki Haley en Ron DeSantis wat albei hoop op minstens 'n sterk tweede plek.
6. Houthi-magte in Jemen het die Amerikaanse vragskip Gibraltar Eagle naby die Golf van Aden met 'n ballistiese missiel getref, het die Amerikaanse weermag se sentrale bevel gister volgens Reuters gesê. Geen beserings of beduidende skade is aangemeld nie.
7. Boeing gaan bykomende gehalte-inspeksies op sy 737 MAX-passasierstralers laat doen ná 'n vroeëre voorval waarin 'n kajuitpaneel op 'n vlug van Alaska Airlines losgekom het.
Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van Noordwes, die noordooste van die Noord-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. Toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou word oor dele van die Kaap-provinsies verwag. Dit word ook vandag baie warm in meeste dele van die land.
Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 29°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 26°C • Durban 26°C • Kimberley 26°C • Bloemfontein 34°C • Polokwane 30°C • Upington 37°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 25°C.
Willem Kempen | Die boodskap wat die staat én besighede in Davos moet uitdra
Daar's 'n ou grappie oor die maklikste manier om spin te sit op 'n maatskappy se swak finansiële resultate – “die potensiaal vir groei was nog nooit so groot soos nou nie".
Wel, in baie opsigte is die “potensiaal vir groei" in die Suid-Afrikaanse ekonomie ook op 'n hoogtepunt. Sedert 2016 het gemiddeld 25 maatskappye per jaar hulle noterings op die JSE beëindig. Leila Fourie, uitvoerende hoof van die JSE, wys daarop dat die denoterings hoofsaaklik onder klein en mediumgrootte maatskappye was; vergeleke met groot kapitaalmarkte soos Frankfurt en Londen vaar ons heel goed wat groter maatskappye betref. (Duitsland vaar terloops ook heelwat beter as ons met die vervolging van Markus Jooste en sy trawante.)
Dis die kleiner maatskappye wat gewoonlik vinniger op hulle voete is en geleenthede sien in projekte waarin die groter ouens nie belangstel nie. Dis waar die werksgeleenthede geskep word, en dis waar die nuwelinge geld kry om die dominante spelers en selfs monopolieë (ook onder ondernemings in staatsbesit) uit te daag.
Maar ons het die groot ouens ook nodig. Vanjaar se verwagte grootste notering op die JSE, dié van Coca-Cola Beverages Africa (CCBA), sal na verwagting meer as $8 biljoen werd wees en behoort heelwat nuwe kapitaalinvestering na Suid-Afrika te lok. CCBA is volgens sy webwerf volgens omset die agtste grootste Coca-Cola-botteleerder ter wêreld en die grootste op die vasteland. Meer as 17 000 mense werk by sy 40 aanlegte.
Vanjaar is ook die jaar waarin die magtige Amazon sy bedrywighede in Suid-Afrika gaan begin, en die Chinese e-handelaar Shein se klerasieverkope hier groei reeds flink. Besighede soos Amazon en Shein kan die wêreld nog moeiliker maak vir gevestigde Suid-Afrikaanse besighede soos Takealot, Mr Price en Foschini.
Terselfdertyd is daar in Gwede Mantashe se staatsdepartement 'n agterstand van meer as 2 500 aansoeke vir mynpermitte wat nog nie geprosesseer is nie. Elkeen van daardie aansoeke is 'n potensiële besigheid wat werk kan skep en tot die staatskas kan bydra. Keur hulle af as dit moet, maar dié gesloer is onaanvaarbaar.
Fourie is vandeesweek in Davos saam met die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreld- Ekonomiese Forum, wat deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gelei word. Saam sal hulle die boodskap aan buitelandse beleggers moet oordra dat die regering en die sakesektor verstaan dat hulle mekaar nodig het en wat elkeen se rol kan wees. Hulle sal moet verstaan dat beleggers verby dinge soos korrupsie en misdaad en stukkende infrastruktuur kan kyk om nog steeds geleenthede raak te sien. Hulle sal moet weet dat beleggers verstaan dat dit die staat se rol is om billike reëls konsekwent en deursigtig toe te pas.
Hulle sal ook moet weet dat wat beleggers nié sal aanvaar nie, is 'n staat wat vyandig teenoor privaat kapitaal is, of wat alewig rompslomp of bymotiewe in entrepreneurs se pad rol.
Ek vermy ‘plofkippen’ soos die pes
Ná ’n paar helse dae waartydens die temperatuur tot diep onder vriespunt geduik het, was daar die naweek ’n verposing in die koue. Dit was nog steeds rondom nul grade, maar die wind (wat die aanvoelbare temperatuur verder na benede jaag) het ten minste gaan lê en mens het nie meer gevoel asof jou gesig van jou hoof af gevries word nie.
Daar was nie veel te doen by die werk nie, want die koue het die klante weggehou. Ek en my kollega, Nicole, het gesit en bibber in die winkel waar die verhitting finaal tou opgegooi het.
Sy het ook vir my foto’s van haar drie hoenders gewys.
“En dít is Poppie,” beduie sy na ’n swart hen met wit spikkels wat op een foto kordaat op haar skoot sit, terwyl die hond jaloers toekyk.
Elk van die drie lê een eier per dag – behalwe as dit te koud is soos die naweek. Dan kry hulle ’n paar leksels vaseline op die hoof en lyf om te help teen die koue. Verder het hulle ’n heerlike lewe op die werf en loop vry in en rondom die huis rond.
Ek lees in die koerant dat hoenders verreweg die meeste van alle voëls in Nederland is. En nie omdat hulle so geliefd is nie. In 2022 was daar 46 miljoen sogenaamde “vleeskuikens” wat vir die slagpale bestem was en 42 miljoen henne wat gedril word om soveel eiers moontlik te lê tot hulle die dag nie meer kan nie.
“Maar jy sal weinig dié voël in Nederland bespeur,” lui die berig. “Behalwe as netjies verpakte dye, borsies en pote in die supermark.”
As ek oor naweke my inkopies doen, probeer ek wat Nederlanders “plofkippen” noem, vermy. Dit is daardie monsteragtige groot hoenderstukke. Goedkoper en so genoem omdat hulle uitsluitlik gevoer word met die doel om hulle so snel moontlik so groot moontlik te kry totdat hulle ’n punt bereik dat die pote nie meer die lyf kan ondersteun nie. Met ander woorde, hulle staan op die punt om te “ontplof”. Daarom die naam “plofkippen”.
Om my gewete te sus koop ek hoender wat, volgens die verpakking, nie in daardie groot skure op ’n hoop gegooi word en in erbarmlike omstandighede vet gevoer word terwyl die siektes onder hulle krioel nie – wat dan so vinnig moontlik weer met hope antibiotika besweer moet word.
Nee, ek verbeel my die vleis wat ek koop, loop soos Nicole se hoenders vry en het ’n heerlike lewe.
Maar selfs dít is waarskynlik te betwyfel.
Een van die dokumentêre reekse wat tans op Netflix trend, is You Are What You Eat: A Twin Experiment. Kyk gerus. Die programmakers voer ’n eksperiment uit met ’n paar stelle tweelinge. Een lid van die tweeling word op ’n plantaardige dieet gesit en die ander op ’n omnivoor-dieet. Wetenskaplikes kyk dan watter uitwerking elke dieet op hulle algemene gesondheid het.
Die ontstellendste deel van die program is die beelde oor toestande op industriële veeplase en hoe bakterieë soos salmonella en E.coli wyd in die pluimveebedryf voorkom.
Onwillekeurig kom die vraag by jou op: Hoe lank sal ons nog bakterieë, virusse en siektes komend uit die vleisbedryf op ’n afstand van die mens kan hou?
Mooi week
Anesca
EyoKwindla [first fruits]
the god of war
We hail from peach country
In buckets and enamel bowls next to the road
Rotting peaches, worm-invaded peaches
In tight-lidded used mayonnaise bottles
waiting for Christmas peaches
We are a people at war with dry lips and rumbling tummies
- Nondwe Mpuma
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.