Nog ’n swart DA-leier waai, en Iran en Irak kry stry

WOENSDAG MET WILLEM

Nog ’n swart DA-leier waai, en Iran en Irak kry stry

WILLEM KEMPEN is bevrees 2024-Trump gaan selfs erger as die eerste een wees, en op 'n ligter noot wonder hy waarom ons so min tegnologie in die beskeie winkeltrollie sien. Soos gewoonlik is daar ook sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 17 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Khume Ramulifho, 'n DA-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, het die nuutste swart leier geword wat uit die DA bedank. Hy het hom by Rise Mzansi aangesluit nadat hy sedert 2000 'n lid van die DA was.

2. Die AA se voorlopige ontleding van data van die Sentrale Energiefonds dui op moontlike stygings in die pryse van alle grade petrol en diesel in Februarie, terwyl paraffien effens goedkoper kan word, het eNCA berig.

3. Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het die ekonoom en sakeleier Thabi Leoka gevra om ter wille van deursigtigheid “spoedig die kwessie van haar kwalifikasies te hanteer". Business Day het vroeër berig dat Leoka, wat ook op die presidensiële ekonomiese adviesraad dien, nie 'n PhD in ekonomie van die London School of Economics (LSE) het soos sy beweer nie.

4. 'n Amerikaanse dollar was gistermiddag laat in rand-terme amper 1% duurder as vroeër op R18,90. Die dollar het 'n goeie lopie gehad terwyl beleggers hul verwagtinge vir 'n Maart-rentekoersverlaging  effens getemper het.

5. Twee mans wat na bewering in beheer van 'n inisiasieskool in Noordwes was, is aangekla in verband met die dood van vyf seuns wat die skool bygewoon het, het News24 berig. Obakeng Segwabe (19) en Olebogeng Mafora (21) het gister in die Lehurutshe-landdroshof verskyn op vyf aanklagte van moord.

6. Iran het gistermiddag 'n buitengewone missielaanval op teikens in die noorde van Irak gedoen. Die twee lande is normaalweg bondgenote, maar Irak het in protes sy ambassadeur in Iran herroep. Iran sê die aanval was eintlik bedoel om Israeliese spioene in 'n Mossad-basis af te skrik, het Reuters berig.

7. Saoedi-Arabië sal Israel amptelik erken indien 'n omvattende ooreenkoms bereik kan word wat 'n Palestyne staat insluit, het prins Faisal bin Farhan, die land se minister van buitelandse sake, in ’n paneelbespreking by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gesê.


Daar is 'n vlak-5 waarskuwing vir swaar reën wat tot vloede kan lei in die noorde van KwaZulu-Natal en vlak-2 vir die sentrale gebiede asook Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en Vrystaat. Daar is ook 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-Kaap. Dit word ook vandag baie warm in Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat en die Noord-Kaap. Die Wes- en Oos-Kaap kan ook reën verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 27°C • Johannesburg 25°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 25°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 25°C • Kimberley 32°C • Upington 34°C • Kaapstad 28°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 22°C • Durban 24°C.


Willem Kempen | 2024-Trump is ’n selfs gevaarliker gedierte as in 2016


Vir Demokrate en gematigde Republikeine is daar min goeie nuus te haal uit die Grand Old Party se eerste deelstaat-verkiesing (Iowa) in die stryd om in November die party se amptelike presidentskandidaat te word. Donald Trump het gemaklik gewen (51% van die stemme) en Nikki Haley (19,1%) is deur Ron DeSantis (21,2%) geklop.

Die opgewonde entrepreneur Vivek “Even Trumpier than Trump" Ramaswamy (7,7%) kon net 'n vrot vierde plek haal en het reeds aan die stryd onttrek. Chris Christie (35 stemme, 0%) het dit reggekry om minder as die helfte van “Other" se stemme te trek (85 stemme, 0,1%) en was onstuitbaar in die laaste plek.

Daar is geen teken dat Trump se tradisionele steunbasis hom verlaat nie, selfs al neem mens in ag dat Iowa se kiesers meer konserwatief is as New Hampshire, wat volgende aan die beurt is. Haley behoort daar beter as DeSantis te vaar, maar dit lyk steeds of hulle albei meer begaan is om mekaar alewig in die hare te vlieg as om eerste plek van Trump af te probeer wegvat.

Die Iowa-opkoms was wel heelwat laer as in 2016, maar dit het waarskynlik meer met die snerpende koue en sneeu te doen as met 'n daling in entoesiasme vir Trump. Peilings wat vooraf gedoen is, wys dat sy ondersteuners so sterk soos altyd gekonsentreer is onder kiesers ouer as 65, mans min of meer ewe veel as vroue, wat hulleself as “baie konserwatief" sien en nie net as “ietwat konserwatief" nie. Meer as die helfte identifiseer as “wit evangeliese Christene", en min of meer dieselfde persentasie is ten gunste van 'n nasionale (federale) verbod op aborsie – andersins 'n ongewilde standpunt wat Trump wel steun onder jonger kiesers kan kos.

Dan raak die nuus nog slegter: Byna 70% van Trump-ondersteuners dink nie Joe Biden se oorwinning in 2020 was legitiem nie, en net meer as 70% van hulle dink Trump sal geskik wees om president te word selfs al word hy aan 'n misdaad skuldig bevind. Omtrent niemand onder Trump-ondersteuners dink hy is 'n bedreiging vir die demokrasie en demokratiese waardes nie, selfs al het hy die afgelope tyd verdere bisarre beloftes gemaak soos om aan polisiebeamptes immuniteit teen vervolging te gee.


Night of the Evil Shopping Trolley, Part I 


Gehoor van die fantastiese nuwe winkeltrollie wat by vanjaar se Consumer Electronics Show in Nevada onthul is?

Ek ook nie. Daar was nie so iets nie.

En as nuwe tegnologie nêrens in die Las Vegas Convention Center se totale uitstalruimte van 230 000 vierkante meter 'n plekkie kon vind nie, dan bestaan dit nie.

Dis nogal vreemd, want supermarkte is van die mees bestudeerde plekke op die aardbol, en sonder winkeltrollies kan supermarkte nie oorleef nie. Die trollie-simbool pryk op elke liewe plek op die internet waar jy iets kan koop.

Moderne supermarkte is die produk van omvattende navorsing: Presies waar hulle geleë moet wees; naby watter ander handelaars dit moet wees; hoeveel parkeerplek beskikbaar moet wees; hoe die rakke gespasieer moet word en hoe hoog hulle moet wees; waar in die winkel watter spesifieke produkte uitgestal moet word; hoe breed die gange en hoe diep die vrieskaste moet wees; watter musiek gespeel mag word en teen watter volume; en so gaan dit aan.

Agter die skerms is daar verbete mededinging tussen vervaardigers van alles van waspoeier tot tandepasta om die beste moontlike plek op die rakke te probeer verseker. Die supermarkbase word mildelik beloon as hulle maniere kan vind om meer klante te lok deur dinge slimmer te organiseer. Verkoop die broodrolletjies teen 'n 20%-verlies, dan maak jy 30% meer uit tee en koffie, daai soort van ding.

Pick n Pay het pas sy voormalige bedryfshoof Sean Summers uit sy aftrede in Brittanje na Suid-Afrika laat terugkeer in die hoop om die groep weer meer mededingend te maak. Woolworths, blykbaar 'n gedurige slagveld van Suid-Afrika se verveelde klasse, moes die afgelope week wal gooi nadat iemand verkeerdelik beweer het hulle aanvaar nie meer kontant by hulle winkels nie.

En tog is die winkeltrollie grootliks onaangeraak deur dit alles. Hulle lyk feitlik nog net soos tien of twintig jaar gelede, dalk met bietjie meer plastiek en minder staal. Klaarblyklik is hulle die optimale wydte sodat presies 1,9 van hulle langs mekaar in 'n winkelgang kan inpas. Die agterwiele kan nog steeds nie gestuur word nie. Die voorwiele kan nog steeds net genoeg myle op 'n slag doen om die naaste taxistaanplek te haal. Die moeders en vaders van 2024 sukkel nog net soveel soos wat die moeders en vaders van 1984 gesukkel het om 'n kleuter sonder drama in en uit daardie goedbedoelde maar totaal onpraktiese sitplekkie te kry. Kleuters weet ook steeds instinktief om eers te vra om daar te mag sit as daar reeds te veel ander goed ingepak is sodat die stoeltjie nie meer kan uitvou nie. By die betaalpunt kan jy gewoonlik nog steeds nie van agter af iets bykom wat voor in die trollie gelaai is nie, en daar is nog steeds nie genoeg plek om te kan verbyskuif sonder om die arme vrou by die till langsaan van haar stoel af te stamp nie.

Is daar 'n ander verskynsel van ons tyd wat so bestand is teen nuwe tegnologie? Met enkele uitsonderings in fancy plekke oorsee het winkeltrollies nie 'n skerm wat vir jou sê waarheen die tamatiesous nou geskuif het nie, of wat die brood kos wat al weer nie 'n prys op het nie, of iets om die kinders te vermaak nie, of 'n plek waar jy jou foon kan inprop om te laai nie. Nie eens 'n advertensie vir die week se specials op mieliemeel of Handy Andy nie. (Daar was al 'n paar sulke pogings, maar niks daarvan sal die verwoede rangeerdery van trollies in die parkeerterrein van 'n tipiese Suid-Afrikaanse môl kan oorleef nie.)

Winkeltrollies is ook nie cool nie. Niemand word nostalgies oor die spesiale deugde van OK se 1977-model, of oor die ene wat vir die eerste keer 'n hakie vir die hondekos gehad het nie. Hulle word nie ironies ingespan as tuin-ornamente of in kunswerke nie. Voorstedelike kunsvlytklubs versier hulle nie met helder kleure of keramiek-sonneblommetjies nie. Niemand versamel uitsonderlike winkeltrollies as 'n stokperdjie nie, want hulle is nooit uitsonderlik nie. Niemand waarvan ek weet het selfs al 'n slim manier gevind om 'n winkeltrollie as 'n lekker braai in te span nie. Oor omtrent elke alledaagse voorwerp waaraan jy kan dink, het iemand in Hollywood al 'n gruwelfliek gemaak; net nie die winkeltrollie nie. 

Ten spyte van al hierdie dinge is daar geen teken dat winkeltrollies bedreig word of deur iets beter vervang gaan word nie. Niemand betoog teen óf vir hulle nie, niemand veg vir hulle oorlewing óf vir hulle uitwissing nie, niks.

Is daar hoegenaamd iets anders waarvan ons dieselfde kan sê?


Düsseldorf

Ek omarm dié park wat ek waarskynlik
nooit weer sal sien nie, 'n kort besoek
was dit. Ek kus die bome, nie vaarwel nie,
maar oopmond soos 'n getroue minnaar.
Ek vleg my vingers deur die blou wind
se hare. Tog is my liefde nie uitsluitend nie,
ek eis nie alles op nie en self gee ek ook
nie alles nie. Ons haal asem tussen elkander,
tussen twee vastelande, tussen twee drywende.
Vreemd was ek daar, vreemder leef ek hier
in 'n lyf.

- Johan Myburg

Uit: Uittogboek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.