Mbaks moet swyg en Zuma kry nog ANC-winde van voor

DONDERDAG MET MERCY

Mbaks moet swyg en Zuma kry nog ANC-winde van voor

Wees versigtig wat jy glo oor Iran en die ANC, maan MAX DU PREEZ, terwyl MERCY KANNEMEYER vrees sy gaan gecancel word oor wat sy oor die fliek Saltburn sê. Soos gewoonlik is daar ook sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 18 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiemôre!

1. Mosambiek het verlede jaar voordeel getrek uit die ineenstorting van Suid-Afrikaanse hawe- en ander vervoerinfrastruktuur, blyk uit syfers van die Maputo Port Development Company (MPDC). Die hawe in Maputo het in 2023 'n rekord van 31,2 miljoen ton goedere hanteer, 'n toename van 16% vergeleke met die vorige jaar. Hiervan is 39% per spoor na die hawe vervoer, 'n toename van 8,4%. Die grootste deel hiervan was waarskynlik uit Suid-Afrika afkomstig, al is spesifieke syfers nie beskikbaar nie.

2. Universities SA (USAF) het gister gewaarsku dat die reeds sukkelende NSFAS oorweldig kan word weens die regering se verrassende aankondiging van 'n nuwe leningskema vir studente in die “missing middle" vir 2024 se akademiese jaar. USAF sê die aankondiging hou verdere risiko's vir hoëronderwysinstellings sowel as die hulpskema in.

3. Fikile Mbalula is die swye opgelê deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ná sy erkenning dat die party gelieg het oor die berugte Nkandla-vuurpoel om Jacob Zuma se presidentskap te beskerm, het News24 berig. Daar is glo 'n sterk siening binne die NUK dat riglyne aan Mbalula gegee moet word voordat hy weer toegelaat word om met die media te praat.

4. Die families van twee afgestorwe ANC-veterane het beplande graf-besoeke deur oudpres. Jacob Zuma en die MK Party verwerp en gesê hulle sal nie toelaat dat hulle nagedagtenis deur sulke “politieke opportunisme” misbruik word nie. ’n Plakkaat is gister versprei wat Zuma se veldtog in Limpopo aankondig en waarvolgens hy die grafte van Collins Chabane en Peter Malada sou besoek. Die families het hulle egter van die besoeke gedistansieer en enige verhouding met die MK Party verwerp, het Business Day berig.

5. Jacob Zuma sal nie weer president kan word soos hy Saterdag verklaar het nie. Daar is twee redes hiervoor, het die Grondwetkenner  prof. Pierre de Vos aan Netwerk24 gesê. Eerstens omdat Zuma reeds sy twee toegelate termyne uitgedien het, en tweedens omdat die president 'n lid van die parlement moet wees, wat hy weens sy skuldigbevinding aan minagting van die hof in 2021 nie sal kan word nie.

6. China se bevolking het in 2023 vir 'n tweede opeenvolgende jaar gedaal en staan nou amptelik op 1,409 biljoen mense. Redes sluit in 'n rekordlae geboortesyfer en 'n vlaag Covid-sterftes. Die afname van 2022 was die eerste sedert 1961 tydens die groot hongersnood van die Mao Zedong-era.

7. Verlede jaar se matrieks kry môreoggend hulle uitslae. Die uitslae van die onafhanklike eksamenraad is reeds sedert middernag vandag beskikbaar.


Daar is weer 'n waarskuwing vir swaar reën in Limpopo en rowwe see-toestande tussen Kaap Columbine en Kaappunt. Dit word vandag uiters warm in die Weskus- en Namakwa-distrikte van die Wes- en Noord-Kaap. Daar is ook 'n uiters hoë brandgevaar vir dele van hierdie provinsies, insluitend Kaapstad. Buie en donderbuie word weer oor meeste dele van die land verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 32°C • Durban 22°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 20°C • Upington 35°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 23°C.


Max du Preez | ANC en Iran: Disinformasie op steroïede


Derduisende WhatsApp-boodskappe en 'n buitengewone vlaag plasings op sosiale media het die laaste twee dae die boodskap soos 'n Kaapse bergbrand versprei: die ANC het honderde miljoene van Iran ontvang en in ruil daarvoor Israel van volksmoord by die Internasionale Geregshof aangekla.

Maar wag, dis nog niks. Buitelandse beleggings van R1,4 triljoen (1,4 miljoen miljoen of 1,400,000,000,000) is aan Suid-Afrika onttrek sedert Suid-Afrika se hofsaak aanhangig gemaak het.

En: die hofsaak gaan die belastingbetaler uiteindelik R1,5 biljoen kos.

Die enigste probleem is dat daar nie 'n iota van bewys hiervoor is nie, dat heelwat van die “feite” bewysbaar heeltemal vals is.

Die opskrif van een van die WhatsApp’s waarvan ek teen gisteraand vele ontvang het, is: “Bankrupt ANC gets paid by Iran to run propaganda interference against Israel.”

Gister het 'n DA-raadslid van Johannesburg, Martin Williams, in The Citizen (waarvan hy eens die redakteur was) verdere geloofwaardigheid aan die propagandaveldtog gegee toe hy in 'n hoofberig onder die opskrif “Is Iran funding the ANC?” skryf: “If the ANC refuses to come clean about recent cash injections, people will draw their own conclusions, far-fetched or not.”

Williams haal die redakteur van biznews.com, Alec Hogg, aan: “It’s hard to miss the coincidence between the ANC’s miraculous financial rejuvenation and the country’s sudden interest in forcing a ceasefire in Gaza.” Is Iran funding the ANC? | The Citizen

Die samesweringsteorie begin met die R120 miljoen wat 'n diensverskaffer van die ANC geëis het en hulle aanvanklik nie kon betaal nie, maar nou wel gedoen het – of ten minste 'n ooreenkoms met die eiser aangegaan het.

Die veldtog van disinformasie pas soos 'n handskoen in by Israel se eie propagandaveldtog dat Suid-Afrika 'n front van Hamas en 'n kliëntstaat van Iran is, en teen gistermiddag is die storie ook duisende kere uit Israel die wêreld in gestuur.

Na 'n bietjie speurwerk lyk dit asof die veldtog ten minste deels sy wortels in die Johannesburgse Joodse radiostasie ChaiFM het, veral uit die uitsendings van sy oggendaanbieder, Howard Feldman, ook 'n rubriekskrywer van news24.com. Feldman is 'n energieke verdediger van Israel se oorlog in Gaza en beskuldig gereeld kritici daarvan dat hulle anti-semities is.

Feldman het verlede week 'n onderhoud met Frans Cronjé, gewese hoof van die Institute for Race Relations, gedoen waarin Cronjé dit as feit verklaar dat Suid-Afrika al lank 'n front van Iran is om Israel te vernietig. Morning Mayhem Podcasts - Chai FM.

“Hamas is an Iranian proxy fighting a physical war against Israel. The South African government is the same thing as Hamas, it’s an Iranian proxy and its role in the war is to fight the ideological and ideas war, to stigmatize Jews around the world. And the two wars work together, they feed off each other. And that is how to understand South Africa’s case at The Hague.”

Cronjé sê: “The attack on Israel that the South Africans are fronting in terms of Israels’ longer term survival is much more dangerous than the one that is being fronted by Hamas and Hezbollah.”

Hy sê die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, was kort na die aanval op 7 Oktober in Iran om hulle te “adviseer” oor strategie om Israel te vernietig.

Hy het Suid-Afrika se voorlegging aan die wêreldhof as 'n “brilliant display of stigmatisation and propaganda” beskryf, “every anti-semitic trope in history wrapped into one”. Die regslui wat die voorlegging gemaak het, is “useful idiots”.

Die R1,4 triljoen onttrekte beleggings-storie kom ook uit 'n onderhoud wat Feldman gevoer het, dié keer met beleggingskonsultant Magnus Heystek. Maar in die onderhoud beweer Heystek dat dié bedrag onttrek is “sedert Cyril Ramaphosa president geword het”, dus oor ses jaar, nie die laaste maand nie. Ek het nie 'n idee waar Heystek aan dié fantastiese bedrag kom nie.

Ons weet nie hoe dit gebeur het dat die ANC sy skuld kon delg nie. Dit kon dalk seker ook Cyril Ramaphosa en sy biljoenêr-swaer Patrice Motsepe plus ander sakelui gewees het? R120 miljoen is nie baie geld vir hulle nie – Motsepe alleen is 2,6 biljoen Amerikaanse dollar sterk.

Ons weet wel dat as Iran honderde miljoene aan die ANC betaal het, dit deur die Reserwebank en 'n handelsbank binne die raamwerk van uiters streng regulasies verwerk sou moes word. Hoe sou die ANC so iets absoluut geheim kon hou?

Ons weet ook dat daar wetlike perke is op hoeveel geld politieke partye uit die buiteland mag ontvang, en dat hulle dit moet verklaar. As dit sou uitkom dat die ANC daaroor gelieg het, kan hulle selfs verhoed word om aan die komende verkiesing deel te neem.

Ek is seker daar is mense in die ANC, dalk selfs amptenare van buitelandse sake, wat simpatiek teenoor Hamas staan.

Maar die Suid-Afrikaanse regering het Hamas se aanval op 7 Oktober eksplisiet verdoem, in verklarings en ook in die voorlegging voor die wêreldhof. Die minister van justisie, Ronald Lamola, het by 'n perskonferensie in Den Haag gesê Suid-Afrika wil hê Hamas moet al die gyselaars vrylaat.

As Pandor sulke onderduimse goed met Iran beplan, sou sy sekerlik nie publisiteit aan haar besoek aan Teheran en die besoek van 'n Hamas-afvaardiging aan Pretoria toegelaat het nie?

En om internasionaal-gerespekteerde senior advokate soos John Dugard, Tembeka Ngcukaitobi, Max du Plessis, Adila Hassim, Vaughan Lowe en Blinne Ni Grálaigh as “useful idiots” te beskryf, is darem te dik vir 'n daalder.

Glo mense wat die samesweringsteorie versprei dat die dosyne ander lande wat Suid-Afrika se saak steun, soos Brasilië, Namibië, Slovenië, Türkiye, Maleisië en Jordanië ook deel van dié bose Islamitiese aanslag op Israel en die Weste is?

Daar was darem ook protes teen die disinformasieveldtog op sosiale media in Suid-Afrika:


Image: ANGELA TUCK

Darem is die klere in ‘Saltburn’ baie mooi, al gaan Gen Z my wil cancel

Almal praat oor die fliek Saltburn, so 'n waarskuwing: Indien jy dit nog nie gekyk het nie, moet liefs nie hierdie stuk lees nie. Dit bevat spoilers, so moenie vir my bel of e-pos en sê ek het die fliek vir jou bederf nie!

(En die trailer is beter as die fliek self. As daar Oscars vir trailers uitgedeel word, moet hulle tog Saltburn s’n oorweeg.)

In kort handel die fliek oor Oliver (Ollie) se obsessie met Felix Catton en die Catton-familie se weelderige lewe op die Saltburn-landgoed. Oliver is ’n Oxford-student, en aanvanklik hou hy vir Felix en sy vriende net van ’n afstand af dop. Hulle ontmoet amptelik wanneer Felix se fiets ’n pap band opdoen en Oliver syne vir hom leen. (Ons vind later uit Oliver het als georkestreer). Felix nooi dan vir Oliver in sy vriendekring in, en dis nie wanneer nie en Oliver word na Saltburn genooi.

Felix-hulle is stinkryk. Daar’s ’n toneel waar Felix vir Oliver na sy kamer toe beduie, en hulle stap deur verskillende vertrekke met die mooiste en merkwaardigste meubels. Die kyker kom wel gou agter dat dinge by Saltburn nie seepglad gaan verloop nie.

Een van my gunsteling-dele is wanneer Felix se ma, Elspeth, vertel dat sy eenkeer probeer het om ’n lesbiër te wees, maar alles rondom daardie ervaring was vir haar net te nat, so nou hou sy maar by hetero-verhoudings, want dit is droog genoeg.

Maar hier’s die ding. As die kreatiewe span besluit het dat hulle van Saltburn ’n properse kunsfliek wou maak, is daar niks mee verkeerd nie. My probleem is as die “kunstigheid" te dikwels meer tel as die inhoud. En Saltburn is die perfekte voorbeeld hiervan. Tel die estetiese waarde meer as die storie se vertel? Ja. Ek is dalk ouderwets en Gen Z wil my dalk hiervoor cancel, maar ek vat enige dag ’n weldeurdagte en goeie storie bo mooi prentjies!

Indien jy die fliek sou stroop van die kunstige kostuums, die treffende locations, die perfekte kameraskote, die cool musiek en die “groot" spel, dan kom dit eintlik nogals lig in die broek oor. Dis ’n verhaal wat ons al tot vervelens toe gesien het – die bleeksiel-protagonis wat obsessief raak oor die cool ou en die cool ou se lewe, en dan heeltemal van die pad af dwaal om uiteindelik iewers uit te kom.

Waar lê die gevaar in hierdie scenario? Aanvanklik dink ’n mens Oliver is die protagonis, maar soos wat die fliek ontwikkel, verander hy in die antagonis. Wat moet dit vir ons sê? Is die gevaar in Oliver self? Of is die gevaar in die mense wat hy ontmoet – Felix en sy familie en vriende, wie se lewens hemelsbreed van Oliver s’n verskil? Die antwoorde is ongelukkig net nie duidelik genoeg nie.

Deur nie ’n duidelike antagonis in die fliek te hê nie, weet die kyker nooit werklik waar die bedreiging vir die protagonis vandaan gaan kom nie. Dit maak dit moeilik vir die fliek om behoorlik vorentoe gedryf te word.

Dit voel en lyk ook asof die kreatiewe span kommentaar oor klas en mag wou lewer, maar dit val ongelukkig plat weens die gebrek aan goeie dialoog en behoorlike karakterontwikkeling. Die enigste karakter wat ietwat ontwikkel is Oliver, maar selfs dít is te betwyfel, want was Oliver eintlik maar altyd die persoon wat hy aan die einde van die fliek is? ’n Leuenaar en moordenaar?

Felix ontwikkel dalk ook so 'n bietjie. Hy manipuleer vir Oliver aan die begin deur hom byna as ’n pop te hanteer. Wanneer Felix byvoorbeeld Oliver se ouers ontmoet en agterkom dat hy oor sy familie gelieg het (Oliver het gesê sy ma se geestesgesondheid is swak en sy pa is dood), raak hy kwaad en wil hom byna afskryf. Maar Felix is nie ’n sterk manipuleerder nie, en kan daarom nie as ’n antagonis gesien word nie, want Oliver sit hom uiteindelik ore aan. Verward? Ek was ook.

Aan die einde het ek gevoel soos Aretha Franklin in daardie onderhoud waar sy haar opinie gevra is oor Taylor Swift, en die Queen of Soul droogweg gesê het: “Great gowns, beautiful gowns.”


nagswem

Malangane, Mosambiek

op een en twintig
wou ons nag lank swem
na die hemel daarbo
die aarde hieronder
en einders van die see
op 'n mensvry strand
was ons meerminne
met wiere in slierthare
'n skare planete
uit die niet gepluk
en min of meer
sewe seesterre
in die uitspansel
se regterhand
rangskik
saam het ons gesnorkel
oor kartel-alg en purperslak
steekmossel se vlerk
daar was kapers op die kus
en gerugte van roofvis
as 'n skip ter haaie gaan
maar ons bloublasieharte
het nakend gebons
sluiervlies wat spelend plons
oor die maagdwit glimlag
van 'n maan

– Carina Stander

Uit: woud van nege en negentig vlerke

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.