Eerste mens kry Elon se brein-skyfie, en lang tronkstraf vir...

HET JY AL INGETEKEN?

Eerste mens kry Elon se brein-skyfie, en lang tronkstraf vir Imran Khan

MAX DU PREEZ verduidelik weer hoe VWB se subskripsie werk. WILLEM KEMPEN dink Neuralink is die mees revolusionêre van al Elon Musk se projekte, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 31 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Bafana Bafana gaan in die kwarteindstryd van die Afcon-trofee teen Mali te staan kom nadat hulle Marokko gisteraand in die Laurent Pokou-stadion in San Pedro in die Ivoorkus met 2-0 geklop het.

2. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het sy voorspelling vir  Suid-Afrikaanse ekonomiese groei vanjaar byna gehalveer, van 1,8% tot slegs 1%. Dit is hoofsaaklik weens “toenemende logistieke beperkings, insluitend dié in die vervoersektor", het die IMF gister in sy World Economic Outlook Update gesê.

3. Die Overberg-munisipaliteit het inwoners van Pringlebaai  gistermiddag laat ontruim terwyl veldbrande tot by huise in dié Wes-Kaapse kusdorpie gekom het.

4. Suid-Afrika het tot die 43ste posisie teruggesak op Transparency International se Corruption Perceptions Index vir 2023. Dit is twee posisies laer as 2022 se 41ste plek en Suid-Afrika se swakste sedert die indeks 12 jaar gelede vir die eerste keer saamgestel is.

5. Israeliese soldate wat as mediese werkers en Moslemvroue vermom was, het op 'n hospitaal in die besette Wesoewer toegeslaan en drie vermeende Palestynse militante doodgeskiet, het Reuters berig. Volgens die Israeliese weermag was dit 'n gesamentlike operasie deur die weermag, die Shin Bet-veiligheidsdiens en die grenspolisie in Jenin, een van die mees onstuimige stede aan die Wesoewer.

6. ’n Hof in Pakistan het die gewilde voormalige premier en krieketheld Imran Khan gister tot 10 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy glo geheime kommunikasie wat deur Pakistan se ambassadeur in Washington aan die regering in Islamabad gestuur is, openbaar gemaak het. Opposisiepartye sê egter dis 'n blatante poging om die komende algemene verkiesing op 8 Februarie te bekook.

7. Die Amerikaanse departement van justisie en die FBI het die afgelope maande teruggeslaan teen 'n massiewe netwerk van Chinese kuberkrakers wat glo kritieke infrastruktuur geteiken het, het Westerse bronne aan Reuters gesê.


Daar is weereens 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar in dele van die Wes- en Noord-Kaap. Hittegolf-toestande word voorspel vir dele van die Wes- en Oos-Kaap. Buie en donderbuie word ook weer regoor die land verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 28°C • Mbombela 29°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 29°C • Kimberley 33°C • Upington 36°C • Kaapstad 25°C • Gqeberha 29°C • Oos-Londen 29°C • Durban 28°C.


Elon and the Thought Factory


Elon Musk het gister aangekondig dat sy brein-besigheid Neuralink vir die eerste keer een van hulle toestelle in 'n menslike brein ingeplant het. Die vroeë aanduidings is dat dit suksesvol was en dat die ontvanger goed aansterk.

Dié tegnologie gaan die wêreld verander. Dit hou die belofte in dat masjiene oor nie-so-lank-nie sal kan opmaak vir die mens se biologiese tekortkominge, en dit laat die grense tussen natuurlike en kunsmatige vermoëns nog verder vervaag.

Die idee dat 'n mens min of meer net 'n brein nodig het om te kan leef, is in 1959 beskryf deur die Britse skrywer Roald Dahl in sy kortverhaal William and Mary, wat later in die heerlik makabere bundel Kiss Kiss opgeneem is. Dit vertel hoe Mary wraak neem op haar eens beheersugtige man wanneer hy slegs in die vorm van sy brein en 'n enkele oog kan voortleef. William kan sien en begryp, maar kan op geen manier reageer op wat Mary alles doen wat hy haar altyd belet het om te doen nie: “[Don't] drink cocktails… waste money… smoke cigarettes… buy a television apparatus.”

Onwetend het Dahl sodoende ook 'n seldsame neurologiese toestand beskryf wat omtrent 'n halfeeu later as “locked-in syndrome" (LIS) bekend begin staan het. LIS veroorsaak volledige verlamming van omtrent al die spiere afgesien van dié wat oogbeweging moontlik maak. Mense met LIS kan dus slegs kommunikeer deur hulle oë te knip of te beweeg. Neuralink het die potensiaal om vir sulke mense 'n heel nuwe lewe moontlik maak.

In dieselfde jaar dat Kiss Kiss verskyn het, is Dahl se vier maande oue babaseuntjie Theo deur 'n New Yorkse taxi raakgery. Theo het veelvoudige skedelbreuke en omvangryke breinskade opgedoen. Gaan lees gerus die hele fassinerende storie hier, maar een van die uiteindes daarvan was dat Dahl die mede-uitvinder geword het van 'n toestel (die Wade-Dahl-Till-klep) wat oor die daaropvolgende klompie jare die suksesvolle behandeling van hidrokefalie by jong kinders moontlik gemaak het, ook omdat dit sowat 'n derde goedkoper as vorige toestelle was en dus vir meer pasiënte bekostigbaar.

Dahl se mede-uitvinders van die WDT-klep was die pediatriese neurochirurg Kenneth Till en 'n speelgoedvervaardiger, Stanley Wade, wat gespesialiseer het in die maak van klein hidrouliese brandstofpompe wat in die motore van modelvliegtuigies gebruik is. Hulle het die toestel ontwikkel nadat Till hulle na sy kamers in die Great Ormond Street Hospital for Children in Londen genooi het.

Dit is terloops dié hospitaal aan wie JM Barrie die regte op Peter Pan geskenk het, en hulle trek tot vandag toe voordeel uit elke produksie daarvan. Op sy beurt behoort die regte op Dahl se stories en karakters aan die Roald Dahl Story Company, wat in 2021 vir $684 miljoen aan Netflix verkoop is. Dit het Dahl in daardie jaar heel bo aan Forbes se lys van nadoodse celebrity-geldverdieners laat beland.

En van groot geld gepraat: Musk, wat al die “Peter Pan of Silicon Valley” genoem is vir sy “childlike wonder and curiosity” (en ook omdat hy verseg om groot te word), het in 2017 à la Willy Wonka van Charlie and the Chocolate Factory 'n besoek aan 'n tonnel van sy The Boring Company uitgeloof vir tien kopers van pette met die maatskappy se embleem op. Én hy het 'n jaar later sy eie lekkergoed-vervaardiger, Boring Candy, begin – hoewel dit nie duidelik is of hulle ooit regtig bestaan het en of dit nie net een van Musk se vreemde grappe was nie.

Daarenteen is Neuralink beslis nié 'n grap nie. Dis selfs meer revolusionêr as enige van Musk se ander projekte. Of dit 'n goeie ding is dat tegnologie wat verlamdes weer kan laat loop, blindes weer kan laat sien, of selfs eendag telepatiese kommunikasie moontlik kan maak, in die hande is van iemand wat al klaar 'n bietjie van 'n messias-kompleks het, is 'n heel ander vraag.



Max du Preez | Op julle merke, gereed, kliek!

Ná 16 maande se gratis lees, gaan Vrye Weekblad van komende Vrydag af agter 'n betaalmuur moet inskuif. Jy gaan net ons uitgawe van 2 Februarie volledig kan lees as jy ingeteken is.

Dit was 'n groot belegging wat ons tot nou toe gratis gehou het, maar nou moet ons dit begin verhaal.

Vrye Weekblad se langtermyn-oorlewing is nou in jou hande. 'n Klein bedraggie elke maand gaan beteken ons gaan gesond en lewenskragtig bly en net beter en beter word.

En ek bedoel klein. R75 vir vier uitgawes, dus R18,75 vir 'n hele naweek se leesgenot, bruikbare inligting en waardevolle idees en menings. (Dit is meer as die helfte minder as wat jy vir jou Sondagkoerant betaal.)

Maar ons spring weg met 'n baie spesiale aanbod: teken vir ses maande in en betaal net R275, dus R11,45 per uitgawe, amper R4 minder as vir 'n brood.

Soos ons laas week verduidelik het, wil Vrye Weekblad sy verbintenis tot 'n beter samelewing ook op 'n praktiese vlak dien, en gaan ons jou vra of jy bereid is om R5 per maand ekstra te betaal wat ons dan aan Ladles of Love en Gift of the Givers gee vir noodleniging aan behoeftiges of om honger en ondervoede kinders kos te gee.

As jy ja sê vir die R5, betaal jy dus R80 per maand. Die R5 is reeds ingereken in die spesiale aanbod van R275 vir ses maande.

En dan is daar ons Staatmakers, lesers wat al aangedui het hulle wil graag meer as die minimum bedrag betaal om ons gesonde oorlewing te verseker. Staatmakers kry 'n hele paar byvoordele:

  • Hulle kan kies of hulle 5 artikels per maand wil stuur aan vriende en kennisse wat nie intekenare is nie; en of hulle iemand wil borg wat nie kan bekostig om in te teken nie.
  • Staatmakers word deel van 'n WhatsApp-groep en kry elke week 'n vars video van my en kollega Anneliese Burgess, plus ander binne-inligting en insae.
  • Staatmakers kan al ons boeke- en ander feeste gratis bywoon.
  • Staatmakers kry 'n wapentjie langs hulle name wat hulle status reflekteer as hulle in ons kommentaarseksie kommentaar lewer.
  • Staatmakers word uitgenooi om ons via die WhatsApp-groep te laat weet watter soort artikels of onderhoude hulle graag sou wou sien.

Die Staatmaker-tarief is R180 per maand, wat die maandelikse R5 vir honger kinders insluit.

En, les bes, as jy regtig nie R75 per maand kan bekostig nie, maar tóg elke week wil lees wat ons aanbied, vra ons jou om 'n boodskap aan Theuns Venter by theuns@vryeweekblad.com te stuur. Ons sal dit hoogs vertroulik hanteer en sal jou via die Staatmakers se bydraes borg.

'n Laaste woord aan my vriende wat dit breër het as die meeste van ons: julle kan gerus vir 'n jaar lank inteken vir R960, of R2 160 in die geval van Staatmakers.

Ja, jy kan per EFT betaal as jy nie jou kredietkaart of debietorder wil gebruik nie.

Dit is baie maklik en eenvoudig om in te teken, maar as jy enige vrae het of êrens in die proses vasbrand, WhatsApp vir Theuns by 071 170 8927 of stuur 'n e-pos na theuns@vryeweekblad.com. Theuns is 'n gawe en geduldige man, hy sal graag help.

Daar gaat ons. Is jy in?

Kliek hier om in te teken.


Smeltkroes

Om diamant uit klip
te slaat het die digter
die ster-heet lasso
van weerlig nodig.

- Johann de Lange

Uit: Die meeste sterre is lankal dood

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.