Netanyahu sê nee vir skietstaking, mik steeds na ‘totale oorwinning’

DONDERDAG MET MERCY

Netanyahu sê nee vir skietstaking, mik steeds na ‘totale oorwinning’

MERCY KANNEMEYER skryf oor Taylor Swift, en WILLEM KEMPEN oor vanaand se staatsrede. Soos gewoonlik is daar ook sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 08 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 9 min om te lees

Goeiemôre!

1. Nigerië het na die eindstryd van die Afcon-trofee deurgedring deur Bafana Bafana gisteraand met 4-2 in strafdoele te klop nadat die telling ná gewone sowel as ekstra tyd 1-1 was.

2. Die Israeliese regering het gisteraand nee gesê vir 'n voorstel van Hamas vir 'n skietstaking. Benyamin Netanyahu het gesê 'n “totale Israeliese oorwinning" in Gaza is steeds moontlik. Die voorstel het ingesluit dat vyandelikhede aan albei kante vir vier-en-'n-half maande gestaak word, dat alle gyselaars vrygelaat word, dat Israel sy troepe aan Gaza onttrek en dat onderhandel word oor 'n algehele einde aan die oorlog.

3. Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, het gister gesê niks sal die EFF keer om pres. Cyril Ramaphosa vanaand in die parlement “tot verantwoording te roep" nie. 'n Hofuitspraak word vanoggend om 9:00 verwag wat sal beslis of hy, Julius Malema, Floyd Shivambu, Vuyani Pambo, Mbuyiseni Ndlozi en Sinawo Tambo vanaand die staatsrede mag bywoon.

4. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het 'n aansoek van Berdine Odendaal, vermeende voormalige (en/of voormalige vermeende) nyatsi van Markus Jooste van Steinhoff, van die hand gewys waarin sy nogmaals gevra het dat geld in een van haar bevrore bankrekeninge ontsluit moet word. Odendaal se rekeninge is drie jaar gelede deur die SARB geblokkeer weens die vermoede dat sy miljoene rande ontvang het van 'n maatskappy wat aan Jooste gekoppel is.

5. Nikki Haley gaan haar pogings voortsit om die Republikeine se amptelike presidentskandidaat te word ten spyte van haar vernederende nederlaag in Nevada se voorverkiesing. Haley was die enigste kandidaat wat op die stembrief gelys is, maar kon net 31% van die stemme trek. Sowat 63% van die kiesers het hulle kruisies agter “None of these candidates" getrek.

6. Die aktrise Gina Carano gaan Disney met die finansiële steun van Elon Musk se X dagvaar weens beweerde onregmatige afdanking. Disney het Carano in die pad gesteek oor “opruiende"  plasings op sosiale media oor die Holocaust, die Covid-pandemie en transgender-regte.

7. Pous Franciskus sê hy sien “skynheiligheid" in die kritiek op sy besluit om priesters toe te laat om pare van dieselfde geslag te seën. LGBT-seëninge is verlede maand goedgekeur ten spyte van  aansienlike weerstand in die Katolieke Kerk, veral van biskoppe in Afrika.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar donderbuie oor dele van Limpopo en Mpumalanga asook toestande wat 'n groot brandgevaar inhou oor dele van Limpopo, Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap. Hittegolf-toestande duur voort oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en Vrystaat. Nog donderbuie en reënbuie word oor die grootste dele van die binneland verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 36°C • Johannesburg 30°C • Mahikeng 37°C • Mbombela 28°C • Kaapstad 25°C • Durban 28°C • Kimberley 35°C • Bloemfontein 33°C • Polokwane 31°C • Upington 36°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Ons weet wat die stand van die land ís, sê vir ons wat dit gáán wees

Daar is nie veel optimisme onder kommentators oor wat pres. Cyril Ramaphosa vanaand in die parlement in sy jaarlikse toespraak oor die stand van die land gaan sê nie.

Jabulani Sikhakhane skryf in Business Day: “Ramaphosa will stand before parliament, and indirectly before the nation, trying to sell the idea that the big fat pig to which he will attempt to apply gloss isn’t actually a pig. But South Africans (including those who shout the loudest at ANC rallies) will know it’s the same old pig they wake up to every morning and will have to live with for many years to come." 

Qaanitah Hunter van News24 skryf: “In every SONA since 2018, the president has expressed an important caveat: that any reform plan, any effort to grow and develop the country, and any type of meaningful change is pinned on a strong and capable state."

Hoeveel nader is ons aan só 'n sterk en bekwame staat as met Ramaphosa se eerste staatsrede in 2019? 

Mbhazima Shilowa van Cope en destydse ANC-premier van Gauteng skryf: “In any case, unlike the past five SONAs, the president is unlikely to present any programmes of action with the election just a few months away. It will be just an attempt at presenting a sanitised version of where our country is, 30 years since the dawn of democracy."

Business Day skryf in 'n hoofartikel: “With the general election approaching, Ramaphosa is likely to succumb to the temptation of making populist promises to South Africans this Thursday. Already, there are signs that this is the route he will take. His ministers have been promising to scrap billions of rand of electricity debt owed to energy utility Eskom by Soweto residents." 

Volgens die berekeninge van die Stanlib-ekonoom Kevin Lings het buitelandse beleggers die afgelope net meer as tien jaar 'n netto R1 triljoen aan Suid-Afrika se effekte- en aandelemarkte onttrek. Ja, daardie disinvestering is deels weens dinge waaroor Ramaphosa min of geen beheer gehad het of selfs tans het nie, maar wat van die res?

Gaan buitelandse kapitaal teruggelok word deur die openlike vyandigheid teenoor die private sektor onder sekere lede van Ramaphosa se kabinet en in sy binnekring? Soos Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, in haar tirade teen handelsbanke se “sabotasie en verraad" van die ekonomie?

Hoekom het die president haar tot vandag toe nie in die openbaar in die bek geruk daaroor nie? Hoekom het Ramaphosa sy dankbaarheid teenoor die banke en die mynbedryf uitgespreek wat ingespring het om te probeer opmaak vir Eskom en Transnet se rampspoed, maar hy doen steeds niks aan Ntshavheni wat die teenoorgestelde verkondig nie? Of dink Ramaphosa die eienaars van kapitaal steur hulle nie aan sulke dinge nie?


Image: ANGELA TUCK

Die mag van Taylor Swift

Glo dit nou of nie, maar ’n regte gevaar wat sommige Amerikaners tans in die gesig staar is die invloed wat Taylor Swift dalk op die Amerikaanse verkiesing kan hê.

Taylor lyk na ’n goeie meisie. As ’n mens haar so van ver af dophou, lyk sy soos daai meisie wat hoofdogter op laerskool én hoërskool was. Sy lyk soos die meisie wie se ma vir elke koekverkope by die skool die grootste en spoggerigste koek gebak het. Sy lyk soos daai meisie wat altyd omring was deur mense wat haar vriend wou wees. Ons almal ken daai meisies. Dinge raak interessant wanneer die meisies dan hulle stem begin kry. En, eish, ons is in die era waar popsterre dalk presidente kan word. Ek meen maar, as Kanye West president van Amerika wou word, is enigiets moontlik.

Die 34-jarige Swift het by die afgelope Grammys geskiedenis gemaak deur vir die vierde keer album van die jaar te wen. Die popster se Eras toer het miljarde rande ingebring, en haar volgelinge op sosiale media is byna ontelbaar. Onlangs het sy het nóg ’n album aangekondig. Die gespottery met Taylor is mos dat sy gereeld met aantreklike mans uitgaan, en wanneer die verhoudings dan op die rotse loop, bring sy ’n ongelooflike goeie popliedjie daaroor uit. So, hóé op dees aarde is dit moontlik dat ’n jong meisie soos Taylor wat van ’n skynbaar nederige agtergrond af kom, ’n politieke rolspeler kan word?

Taylor was in 2023 Time se persoon van die jaar en hierteen het heelwat mense geskop, want hoekom sy?! Hoekom nie die joernaliste in Gaza wat daagliks hulle liggame op die spel plaas nie; hoekom nie Elon Musk nie; hoekom nie Beyoncé met haar Renaissance album en toer nie?! Ons gaan hoekom en waarom tot ons blou in die gesig is; en feit soos ’n koei – Taylor het impak. Jonk, oud, gay, straight, wit, swart. Mense like haar kwaai.

Daar is egter ook diegene wat haar glad nie kan verdra nie. Een van daai gene, is voormalige president en internasionale drol – Donald Trump. In 2020 het Taylor haar gewig by Joe Biden ingewerp, en was sy nogals ernstig oor hoe Trump níé in die Withuis hoort nie. Taylor was van die begin van Trump se presidensiële veldtog en uiteindelike presidentskap geweldig uitgesproke oor hom. Sy het deur sy politiekery te bevraagteken en sy skynheiligheid uit te lig, dit geweldig duidelik gemaak dat sy nie ooghare vir Trump het nie.

Die Amerikaanse presidensiële verkiesing gaan weer tussen Trump en Biden wees. Trump is 77! Biden is 81! En hieroor gaan ek vir seker ageist wees. Hoekom wil die ooms nie gaan aftree en rus nie?! Iedergeval. Trump maak alweer benoude spronge (so asof hy enige ander spronge maak); hy is bewus van Taylor se impak, en het aangevoer dat hy gewilder as Taylor is… Dink jou dit in. ’n Voormalige president vergelyk homself met ’n 34-jarige popster. Niks wat uit Amerika uit kom moet ons enigsins meer verbaas nie.

Haar groeiende gewildheid raak nou vir die Republikeine al hoe meer van ’n probleem. Daar bestaan allerlei samesweringsteorieë oor hoe Taylor propaganda vir die Demokrate versprei, en dat haar verhouding met die NFL-speler Travis Kelce maar net ’n mediafoefie is om nog gewilder te word. Volgens sommige Trump-ondersteuners is Taylor ook 'n “plant” vir die Demokrate. Klink belaglik, nè?

Hoe dit ook al sy – Taylor het mag. Jy hoef nie van haar musiek te hou nie, maar jy kan haar nie ignoreer nie. Sprake loop dat Taylor wéér vir Biden sal steun. Die Republikeine sal hase uit hoedens uit moet pluk om die volgelinge wat Taylor saam met haar na die Biden-kamp gaan neem, te probeer oortuig om rooi te stem.

Joh. Interessante tye.


Wild Geese

You do not have to be good.
You do not have to walk on your knees
for a hundred miles through the desert repenting.
You only have to let the soft animal of your body
love what it loves.
Tell me about despair, yours, and I will tell you mine.
Meanwhile the world goes on.
Meanwhile the sun and the clear pebbles of the rain
are moving across the landscapes,
over the prairies and the deep trees,
the mountains and the rivers.
Meanwhile the wild geese, high in the clean blue air,
are heading home again.
Whoever you are, no matter how lonely,
the world offers itself to your imagination,
calls to you like the wild geese, harsh and exciting –
over and over announcing your place
in the family of things.

– Mary Oliver

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.