‘Politieke motiewe’ in lid van MK Party se skietdood

DINSDAG MET ANESCA SMITH

‘Politieke motiewe’ in lid van MK Party se skietdood

Betoon respek aan die land van oorsprong van disse soos roti en bobotie, vra ANESCA SMITH, terwyl WILLEM KEMPEN nogmaals onseker is. Daar is ook weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 05 Maart 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Politieke moorde in KZN het sover bekend die naweek die eerste slagoffer van ’n lid van die uMkhonto weSizwe Party (MKP) geëis. Die polisie ondersoek 'n saak van moord nadat Vusimuzi “Blesser” Ntuli (48) by 'n hostel in Umlazi doodgeskiet is, vermoedelik met politieke motiewe.

2. Julius Malema het aan die SAUK gesê die EFF is bereid om in koalisies saam te werk met die nuutgestigte MK Party en ander “like-minded" politieke partye ná die algemene verkiesing in Mei.

3. Daar sal aanvanklik geen nuwe belasting vir die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wees nie, maar die nasionale tesourie sal dalk 'n “small tax" aankondig wanneer die stelsel eers in bedryf is, blyk uit 'n inligtingspamflet wat die departement volgens Netwerk24 op verskeie sosiale media geplaas het.

4. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering, het heftig ontken dat sy tydens haar ampstermyn as die minister van verdediging en militêre veterane by korrupsie betrokke was. “The speaker believes investigations of this nature ought to be conducted with the utmost diligence and respect for due process, and accordingly, finds the manner in which this purported investigation has been conducted and shared with the media highly objectionable," het sy in 'n verklaring gesê.

5. Die Amerikaanse hooggeregshof het aan Donald Trump 'n oorwinning besorg deur 'n geregtelike beslissing omver te werp wat sou gekeer het dat sy naam op Colorado se stembrief mag verskyn.

6. Die Europese Unie het Apple met €1,84 biljoen beboet omdat die Sweedse stroomdiens Spotify en ander gebruikers nie in 2019 ingelig is van betaalopsies afgesien van die App Store nie, het Reuters berig.

7. Michael “Barney" Chandler, 'n voormalige Royal Marine, is sedert 1 Maart die nuwe Ravenmaster by die Tower of London. Dit is nou sy taak om toe te sien dat daar altyd minstens ses kraaie is, in geval daar waarheid steek in die eeue oue legende dat die Britse Kroon tot 'n val sal kom die dag as daar nie meer enige van dié voëls by die toring is nie.


Daar is weer 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van die Wes-Kaap, asook 'n hoë brandgevaar in dele van Limpopo, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Buie en donderbuie word oor die grootste deel van die binneland verwag en dit kan baie warm in sommige dele word. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 30°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 35°C • Kaapstad 25°C • Durban 32°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 32°C • Upington 28°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 29°C.


Willem Kempen | Moenie so seker wees nie

Een van die min dinge waaroor ek doodseker is, is dat dit gesond is om mense te wantrou wat altyd doodseker van hulle saak is. Of, nog erger: Mense wat altyd gereed staan om idees waarmee hulle nie saamstem nie, as gebore uit onkunde of vooroordeel of 'n verskuilde agenda af te maak.

Anneliese Burgess skryf in haar soos gewoonlik uitstekende brief van Sondag dat Suid-Afrika 'n plek van teenstrydige waarhede en konflikterende realiteite is: “Om hier te survive moet mens met kompleksiteit worstel."

Ja en amen, en ook nie net Suid-Afrika nie. Vir my lyk dit sinvol om te kyk of en hoe oënskynlik teenstrydige idees versoen kan word. Om byvoorbeeld te kan insien dat 'n bevoorregte entrepreneur met selfsugtige motiewe wat welvaart verstaan en nie armoede ken nie, soms beter kan vaar met die oordrag van vaardighede en die skep van geleenthede (ook bekend as bemagtiging) as selfs 'n politikus met die opregste bedoelings van wie die teenoorgestelde waar is.

Dalk is dit sinvol om ons gesprekke oor alles van maatskaplike toelaes tot regstellende aksie tot die eet van vleis tot grensbeheer tot Israel en Palestina te begin met 'n lys van opponerende waarhede wat onversoenbaar lyk.

Maar dan weer, dalk maak dit geen verskil nie. Ek is nie seker nie.


Van roti tot bobotie: ’n Fyn lyn tussen toeëien en respekvolle inspirasie

Surinamers in Nederland is die hel in. ’n Bekende supermark het onlangs ’n kookpakket onder die naam “Surinaamse roti” begin verkoop. Goed en wel, maar die probleem is die bestanddele wat daarin sit strook nie met wat ons almal as ’n tradisionele roti ken nie – goed soos preie, gedroogde tamaties en paprika.

“Hoekom noem hulle dit nie net wat dit is nie – ’n kerrie-wrap,” het een van die beswaardes gevra.

Ek moes kliphard lag toe ek al die verontwaardiging hieroor sien, want Nederlanders is nogal lief om disse uit ander lande te gaps. Een van die bekendes is Suid-Afrikaanse bobotie. Maar tot my verbasing word hier vrolik ’n halwe kilogram groenboontjies, aartappels en selfs crème fraîche bygevoeg.

Dis nié hoe jy bobotie in Suid-Afrika maak nie. Maar terselfdertyd wonder ek hoe getrou die Suid-Afrikaanse resep aan sy Maleisiese oorsprong is. Of is dit Indonesies? Sommige dink selfs bobotie is ’n weergawe van ’n resep, patina ex lacte, wat in die Romeinse tyd deur die skrywer Apicius neergepen is.

Daar is ’n moderne naam vir hierdie toe-eiening  en jou eie twist gee: cultural appropriation. En omtrent alle kulture is waarskynlik hieraan skuldig. Dis miskien die rede waarom ek vere voel vir hoe die Nederlanders bobotie mishandel.

Terselfdertyd begryp ek die verontwaardiging. Ek dink nie mense raak kwaad as hulle koskultuur met ander kulture gedeel word nie. Ek dink hulle word kwaad as daar te veel gepeuter word aan die oorspronklike dis of as die oorheersende kultuur munt slaan uit sekere disse wat tradisioneel nie ontspring het uit laasgenoemde se eie kultuur nie.

Byvoorbeeld as wit chefs – diegene wat meestal die finansiële en sosiale kapitaal het om ’n restaurant te open of ’n food truck te bedryf of ’n suksesvolle kookboek te skryf – Mexikaanse burritos begin verkoop met weinig voordeel vir die gemeenskappe wat in die eerste plek tot die ontstaan van dié koskultuur bygedra het.

Ek herhaal, toe-eiening van ander kulture se kooksels hoef nie noodwendig ’n slegte ding te wees nie. Ek voel trots dat die Nederlanders ten minste probeer om bobotie te maak.

Ek sou nie wou woon in ’n land waar ek nie toegelaat word om 'n Franse, Chinese, Indiese of Thai-ete te kook of daardeur geïnspireer te word  nie. My kulinêre lewe sou baie smaakloos gewees het sonder dié invloede. Ons leef in ’n diverse wêreld waar ons oor en weer van mekaar se kulture leen. Maar laat ons dit op ’n respekvolle manier doen en laat ons krediet gee aan die gemeenskappe wat die disse ontwikkel het.

En laat die diversiteit ook blyk uit wie voordeel  daaruit trek – wie die restaurante besit, die kookboeke skryf en die kostydskrifte publiseer.

Mooi week

Anesca


Die female gaze

ek waardeer dick prints
vêr meer as Westerse kuns

dies wat goed bedeeld is
soos donkiehingste
die langes soos ou tronksleutels

manne het lank genoeg gekyk na die vrou
óns kyk nou

– Lynthia Julius

Uit: Kinderlê

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.