Musk vuur nog skote in AI-oorlog; Joburg gaan 2de week sonder...

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Musk vuur nog skote in AI-oorlog; Joburg gaan 2de week sonder water binne

ANESCA SMITH het gehoop Past Lives gaan beter by die Oscars vaar. WILLEM KEMPEN dink dis snaaks maar ook gevaarlik wat by Independent Media aan die gang is, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 12 Maart 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Christopher Nolan se Oppenheimer het Sondagaand sewe Oscar-toekennings ingepalm, insluitend vir beste fliek. Die Ierse akteur Cillian Murphy is as beste akteur aangewys vir sy spel as die kernfisikus J. Robert Oppenheimer. Emma Stone het die toekenning vir beste aktrise gewen vir haar rol in Poor Things.

2. Duisende inwoners van Johannesburg beleef hulle tweede week sonder water omdat reservoirs in groot dele van Randburg en die weste van die stad Sondag leeggeloop het.

3. Volgens die jongste Brenthurst Foundation-peiling kan die Veelpartyhandves (MPC) tussen die DA, die IVP, ActionSA, die VF Plus, die ACDP en ander kleiner partye ná die verkiesing die anker van 'n koalisieregering in Gauteng wees.

4. Die nasionale tesourie het voorgestelde wysigings aan drie wette gepubliseer sodat staatspensioenfondse ook geïnkorporeer word in die sogenaamde tweepot-aftreestelsel wat op 1 September in werking tree, het Business Day berig.

5. Minstens 50 mense is beseer toe 'n Boeing 787 wat deur LATAM Airlines bedryf word, gister onverwags in die middel van 'n vlug van Sydney na Auckland drasties hoogte verloor het voordat dit weer gestabiliseer het, het Reuters berig.

6. Elon Musk gaan die bronkodes van xAI se Grok oopstel as 'n uitdaging aan OpenAI se ChatGPT. Musk het OpenAI verlede week gedagvaar omdat die maatskappy volgens hom sy oorspronklike missie laat vaar het ten gunste van 'n sakemodel met winsbejag. Musk is 'n uitgesproke teenstander van groot tegnologiemaatskappye soos Google wat wins uit kunsmatige intelligensie probeer maak.

7. Bitcoin het gister 'n nuwe rekordhoogtepunt bereik deur in 'n stadium vir meer as $71 600 te verhandel. Dit is aangevuur deur Britse owerhede wat nuwe soorte kripto-transaksies gaan toelaat.


Daar is 'n reeks waarskuwings: Swaar donderbuie oor dele van die Oos-Kaap; skadelike wind en golwe tussen Port Alfred en Port Edward; swaar reën en moontlike vloede in dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal; asook hittegolftoestande oor die hele land land en 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-Kaap en die Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 33°C • Johannesburg 31°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 24°C • Durban 35°C • Kimberley 38°C • Bloemfontein 37°C • Polokwane 30°C • Upington 41°C • Gqeberha 27°C • Oos-Londen 31°C.


Willem Kempen | Hou verby, Dok Survé

Dis nogal moeilik om iemand raak te loop wat Independent Media se publikasies nog enigsins ernstig opneem. G'n gesprek oor die groep se geloofwaardigheid gaan maklik verby die kamstige Tembisa-tienling vorder nie.

Maar baie van die dinge wat Iqbal Survé sy mense laat doen, gaan veel verder as bloot om embarrasserende onwaarhede kwyt te raak. Soos News24 dit stel in 'n ondersoek wat gister gepubliseer is: “Independent Media proprietor Iqbal Survé is waging a public-relations war, using a team of pliant journalists, PR staffers, and seemingly fictitious opinion writers to polish his image and attack journalists critical of him."

Dis nie 'n nuwe taktiek nie. In 2022 het Ferial Haffajee aan die lig gebring dat 'n Independent-rubriekskrywer genaamd “Jamie Roz" 'n fiktiewe persona was wat uit iemand se duim gesuig is om Daily Maverick te probeer bykom. Nou het News24 dieselfde agtergekom oor ene “Edmond Phiri", onder wie se naam 'n pleegsel onlangs verskyn het met die opskrif “Is Karyn Maughan South Africa's Leni Riefenstahl – the Nazi Film Propagandist?"

Wel, nee, sy is nie. Is Iqbal Survé Suid-Afrika se Baron von Munchausen? 

Phiri" se woordryke geskarrel oor waarom hy nie sy identiteit in persoon kan bevestig nie, is hoogs vermaaklik, maar dit gaan niemand van enigiets anders oortuig as dat Survé nogmaals uitgevang is dat hy stof probeer opskop oor wat by sy maatskappye aangegaan het en steeds aangaan nie.


Manlike geweld troef kwesbare manlikheid by Oscars

Toe ek verlede jaar in Nederland se nasionale verkiesing gestem het, het ek vir ’n verandering hoë verwagtinge van my gekose kandidaat gehad. ’n Saai man, maar uiteindelik iemand wat al vóór die verkiesing bewys het hy is beginselvas.

Nogtans bly die twyfel aan my knaag. Want as jy só ’n hoë dunk van iemand het, is daar maar een uitkoms: terleurstelling. Dink maar aan die euforie direk ná Mister Thuma Mina president van Suid-Afrika geword het.

Wat ek totaal nié verwag het nie, is dat my verkiesingskandidaat nou iemand blyk te wees wat glo gereeld tydens politieke onderhandelinge aan die tjank gaan!

Ja, vier maande ná die verkiesing het ons nog steeds nie ’n kabinet nie, want die betrokke partye kan nie tot ’n ooreenkoms kom om ’n koalisieregering te vorm nie. Dit is normaal vir Nederland. Die langste kabinetsvorming tot nog toe was in 2021-'22. Toe het die onderhandelinge 299 dae geduur voor daar uiteindelik ’n kabinet was.

Verlede week kom die plaaslike media egter met die storie dat die man vir wie ek gestem het, Pieter Omtzigt, glo gereeld “in huilbuie uitbars, met stemverheffing praat en dan die onderhandelingstafel verlaat”.

Toe ek die nuus hoor terwyl ek langs my man op die bank sit, weet ek vir ’n oomblik nie wat om te dink nie. Toe lag ek maar – uit pure skaamte! Want van al die eienskappe wat jy in ’n politieke leier soek, is ’n tjankbalie beslis nie een nie. Iemand wat nie sy emosies kan beheer nie. My tweede gedagte is dat dít waarskynlik nie in goeie aarde sal val by die nugtere Nederlanders nie. Ek vrees vir Omtzigt se politieke toekoms.

Aan die ander kant sou ek my moet skaam, want wat is verkeerd met 'n politikus wat so nou en dan ’n traantjie stort? Solank dit nie krokodiltrane is nie. Dit is tog menslik om ontroer of gefrustreer te wees deur iets. Die hemel weet, die huidige toestand van die wêreld is genoeg om enige mens aan die tjank te sit.

As Cyril Ramaphosa byvoorbeeld net emosie sou toon oor die arme Joslin Smith – die 6-jarige meisie van Saldanhabaai wat al sedert 19 Februarie vermis is. ’n Teken gee dat hy werklik besorg is oor die geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika en iets daaraan doen.

Wanneer laas het jy gehuil? En waaroor? Vir my was dit onlangs toe ek op die vliegtuig gesit het nadat ek op die lughawe van my familie moes afskeid neem. Condé Nast Traveller het toevallig verlede week ’n artikel gepubliseer wat lui dat ons meer emosioneel is op ’n langafstandvlug. En dit word glo wetenskaplik onderskryf.

“Maak nie saak hoe gereeld jy vlieg nie, die proses is intrinsiek stresvol. Of jy nou bekommerd is dat jy vergeet het om iets in te pak, dat jy jou vlug gaan mis, die voortdurende paniek dat jy jou paspoort vergeet het, die druk wat gepaard gaan met die organisering van die reis om maksimaal jou tyd en geld te benut.” Dan is daar nog mense wat ly aan vliegangs – die gebrek aan beheer en senuwees wat pla – en om nie eens te praat van die liggaamlike ongemak soos die lae lugdruk, die droë lug en daardie al hoe kleiner wordende sitplekke nie. Ekonomiese klas sal enigiemand aan die huil sit!

My laaste twee ernstige verhoudings was met Nederlanders wat nie skaam is om te huil nie. En dit het hoegenaamd nie afbreuk aan hulle manlikheid gedoen nie. Trouens, Sondagaand het ek vurig gebid dat die rolprent Past Lives die Oscar vir die beste film sou wen. ’n Aangrypende liefdesdrama oor 'n 12-jarige meisie, Nora, wat Suid-Korea saam met haar ouers verlaat om in Kanada te woon. Sy laat haar beste vriend en skoolliefde Hae Sung agter. Jare later soek laasgenoemde haar in New York op. Die film ondersoek die “wat as…”-vraag. Wat sou gebeur het as ons hierdie weg in plaas van daardie een gekies het?

Ek wou hê Past Lives moes wen. Nie net omdat dit een van die mooiste films van die afgelope jaar en vol onuitgesproke hunkering is nie, maar ook omdat die Koreaanse akteur die rol van Hae Sung met soveel kwesbare manlikheid vertolk het. Ongelukkig was dit weer eens ’n film oor manlike geweld, Oppenheimer, wat geseëvier het.

Mooi week.

Anesca


geluk

hier in die onvanpaste wêreld
van verrookte stukke veld
blom die ongewone liefdes
as skaaphompe per kim

soms dwaal my gedagtes
slaap ek agter stuur
strompel boekaspaai
bladloos oor die kaart

elke nuwe brug
bly rif roep oor rivier
waterbloed in karpkieu
suurstofbobbelbed

maar snags in vreemde dorpe
neon stasies petrolpense
baddens stoom soos woorde
om somer bid die reënval

rol die spoelklip van my gedagtes
vonke in die lospad los
tong my neus jou môre-oor
rol die teesakkie lek-lek om

elke eendag reëndag
hou die hoop gepoets
mensbloed per kruiwavrag
geluk geluk geluk

– Toast Coetzer

Uit: Die Burger, 31 Mei 2010

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.