Viva volkleur-mense; ’n eiland vir Idris Elba

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Viva volkleur-mense; ’n eiland vir Idris Elba

ANESCA SMITH is sat vir die skakerings van saai wat alles oorheers. WILLEM KEMPEN dink ons moet probeer leer uit 'n eko-projek waarby Idris Elba betrokke is, en daar is weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 19 Maart 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. 'n VN-moniteringstelsel wys dat uiterste voedseltekorte in dele van Gaza binnekort tot 'n massiewe aantal sterftes kan lei as 'n skietstilstand en noodleniging nie gou beding word nie, het Reuters berig.

2. Die nasionale tesourie sê in 'n verslag die omvang van onderbesteding van beskikbare begrotings en toewysings deur Suid-Afrika se 257 munisipaliteite is kommerwekkend omdat dit bydra tot swak dienslewering, het Business Day berig.

3. Regter Raymond Zondo het gister by 'n nasionale konferensie in Boksburg oor die stand van menseregte klem gelê op die vordering wat die afgelope drie dekades met die onafhanklikheid van die regbank gemaak is. “[President Cyril Ramaphosa] and I have begun discussions aimed at making sure that the institutional independence that is contemplated by our Constitution will be conferred, because courts that have institutional independence are in a better position to defend, protect and promote fundamental rights."

4. Die OVK is besig om flitse en ander tydelike beligting te bekom vir ingeval daar beurtkrag op stemdag is, het News24 berig. Nogtans is gesprekke glo ook aan die gang met die minister van elektrisiteit om te probeer reël dat kragvoorsiening aan stemlokale nie onderbreek word nie.

5. Die departement van korrektiewe dienste ondersoek die beweerde aanranding van Thabo Bester se vermeende medepligtige Nandipha Magudumana terwyl sy in aanhouding was. Volgens haar prokureur is Magudumana Sondag deur twee ander aangehoudenes aangerand, wat haar met “ernstige kneusing, pyn en lyding” gelaat het.

6. Bytes Technology se markwaarde op die JSE het gister met sowat 10% gedaal nadat verdere ongerapporteerde aandeleverhandeling aan die lig gekom het waarby sy voormalige uitvoerende hoof, Neil Murphy, glo betrokke was. Van die betrokke transaksies is na bewering nie openbaar gemaak soos wat JSE-regulasies vereis nie.

7. 'n Belangrike sokkerwedstryd op Stamford Bridge in die Engelse vroueliga het Vrydagaand meer as 'n halfuur laat begin omdat Arsenal per abuis met dieselfde kleur wit sokkies as Chelsea, die tuisspan, opgedaag het. Arsenal se spanbestuur het toe maar swart sokkies by die winkel in die stadion gekoop, en die Chelsea- en Nike-logo's daarop met kleeflint probeer wegsteek, het AP berig.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord- en Oos-Kaap, asook dele van Noordwes en die Vrystaat. Hittegolftoestande duur ook voort in hierdie provinsies. Die binneland en KwaZulu-Natal is steeds meestal warm tot uiters warm, met moontlike buie en donderbuie wat verwag word.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 32°C • Johannesburg 30°C • Mahikeng 33°C • Mbombela 30°C • Kaapstad 29°C • Durban 28°C • Kimberley 38°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 31°C • Upington 39°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 26°C.


Willem Kempen | Ons het mos nie ’n Idris Elba nodig om ook sulke dinge te doen nie?

Idris Elba is nie net volgens minstens een van my kollegas die sexyste man op aarde nie, hy is ook die openbare gesig van 'n ambisieuse projek om 'n eko-megastad met hernubare energiebronne op die Sierra Leonese eiland Sherbro aan die weskus van Afrika te ontwikkel, presies van die soort wat die vasteland so bitter nodig het. 

Elba is 'n Brit wat in Londen grootgeword het, maar sy pa is in Sierra Leone gebore. Hy is al van kleins af goeie vriende met Siaka Stevens, wie se oupa met dieselfde naam tot 1985 president van Sierra Leone was. Dis Stevens wat Elba by die projek betrek het.

Die plan is om die eiland van sowat 600 km2 met 'n bevolking van ongeveer 30 000 mense te ontwikkel in iets waar 'n miljoen mense sal kan werk en leef, en wat toerisme na Sierra Leone en ook die res van die land se ekonomie aan die brand kan skop. Onder is meer oor die projek:

Een van Stevens en Elba se grootste vennote in die projek is die Britse versekeringsreus Lloyd's, wat gepas is gegewe die maatskappy se historiese rol in die Trans-Atlantiese slawehandel. Lloyd's sê op sy webwerf – nogal heel prominent ook:

From 1640 to the early 19th century, an estimated 3.2 million enslaved African people were transported by Britain’s vast shipping industry. Lloyd’s was the global centre for insuring that industry. 

We are deeply sorry for Lloyd’s participation in the transatlantic slave trade. It is part of our shared history that caused enormous suffering and continues to have a negative impact on Black and ethnically diverse communities today.

Dis lekker om te sien hoe 'n sinvolle, verbeeldingryke projek soos dié van die grond af kom. Dit lyk nie soos net nog 'n vanity-projek van naïewe celebrities met geld om te verkwis, of van 'n verre moondheid met 'n versluierde neo-koloniale agenda nie. Iewers langs die pad sal daar sekerlik die gieriges of die korruptes wees wat alles kan laat ontspoor, maar dis waar van sulke projekte enige plek op die aardbol.

Ons kan onsself in Suid-Afrika afvra hoe ons meer sulke dinge hier ook gedoen kan kry. Ek is byvoorbeeld taamlik seker die Sherbro-projek gaan meer vir Sierra Leone se toerisme beteken as wat die land se naam op die truie van 'n groot Britse sokkerklub sou gedoen het.

Dink ons hard genoeg aan nuwe maniere om meer toeriste na Suid-Afrika te lok?


Hoera vir Meghan en kleurvolle uitrustings

Ek soek op die internet na ’n gevlegde of geweefde Afrika-mandjie vir my ateljee – verkieslik iets met kleur.

Nee, ek gaan nie ’n mandjie uit Suid-Afrika saambring nie, want dis te groot vir my bagasie en ek het al gesien hoe smyt koffergooiers items met spesiale afmetings die vliegtuig binne. My soektog voer my na ZARAHOME. Maar o my goeie fok – álles is beige. Ek scroll en ek scroll. Dieselfde storie met beddegoed, vase en tapyte.

Ek was natuurlik vaagweg bewus van die opkoms van minimalisme à la die 1990’s in klere en tuisversiering die afgelope twee of drie jaar, maar het eerlikwaar gedink die trend het ’n stille dood gesterf nadat die TV-reeks Succession sy laaste asem uitgeblaas het. Dié reeks word alom beskou as die voedingsbron vir die gewildheid van sogenaamde quiet luxury – peperduur, maar saai items in skakerings van beige, grys, swart en roomkleurig.

Daar is selfs ’n verskynsel op TikTok genaamd “beige Mums”. Dis ma's wat nie net hulleself en hulle huis in beige uitdos nie, maar selfs hulle babas – die speelgoed, die kinderkamer en natuurlik die kind self. Waarom sou jy jou kind kleur ontsê?

Ek het waardering vir minimalisme. Die elegansie daarvan. Die eenvoud van skoonheid. I get it. Maar self het ek besluit om hierdie jaar meer helder kleure te dra. Soos wyle koniningin Elizabeth II – iemand wat wêreldwyd bekend was vir haar kleurvolle ensembles (vir haar 90ste verjaarsdag was sy in neongroen).

Meghan Markle het een keer vertel hoekom sy byna altyd in neutrale kleure in die openbaar geklee was toe sy en prins Harry nog in Engeland gewoon het. Daar was glo ’n ongeskrewe reël dat jy nooit dieselfde kleur as Haar Koninklike Hoogheid op  koninklike uitstappies kon dra nie.

En asseblief, as jy Meghan haat, staan net soontoe, boomer. Ek het nog nooit ’n goeie of begryplike rede gesien waarom dié jong vrou nou al jare oorspoel word met 'n golf walglike kommentaar in die Britse pers en op sosiale media nie.

Dit gaan ’n bietjie soos volg: Iemand op sosiale media sal ’n storie oor Meghan versin oor waarom sy o-so-verskriklik is. Vervolgens word dit deur die Britse pers versprei – ongeag of dit waar is of nie – wat dan weer selfaangewese koninklike kenners vir kommentaar (byna altyd negatief) nader hark. En dan gaan die bespreking terug na sosiale media oor waarom Meghan die grootste monster is wat tot nog toe geleef het en “gedwing moet word om naak deur die strate te loop terwyl mense stront na haar gooi”, soos Jeremy Clarkson al in ’n rubriek geskryf het.

Ek sien selfs die grootste aanvoerders van die haat-veldtog teen Meghan (publikasies soos The Spectator, The Sun en natuurlike The Daily Mail) het verlede week gepleit dat mense Kate Middleton ná Photoshop-gate asseblief met rus moet laat, want “sy is ’n vrou en 'n moeder”. Ha!

Nietemin, ek gaan hierdie jaar meer kleur dra. Ek moet erken, ek het nooit werklik nagedink oor kleur as ’n medium vir die omarming van my Suid-Afrikaanse kultuur nie, tot ek in Nederland kom woon het waar die uniform ook maar ’n skakering van saai is. Behalwe op Koningsdag. Dan dra almal oranje.

En dis goed om te sien dat Markle nader aan die einde van haar tydperk in Brittanje weer in volle kleur te sien was. Hoera, Meghan.

Mooi week

Anesca


Pied Beauty 

Glory be to God for dappled things –   
For skies of couple-colour as a brinded cow;      
For rose-moles all in stipple upon trout that swim;
Fresh-firecoal chestnut-falls; finches’ wings;   
Landscape plotted and pieced – fold, fallow, and plough;      
And áll trádes, their gear and tackle and trim.
All things counter, original, spare, strange;   
Whatever is fickle, freckled (who knows how?)      
With swift, slow; sweet, sour; adazzle, dim;
He fathers-forth whose beauty is past change:                               
Praise him.

– Gerard Manley Hopkins

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.