Korrupsiesaak teen Zuma kom dalk oplaas aan die gang

DONDERDAG MET MERCY

Korrupsiesaak teen Zuma kom dalk oplaas aan die gang

MERCY KANNEMEYER skel die regering uit op Menseregtedag. WILLEM KEMPEN hoop die einde van die pad na Stalingrad is 'n bietjie nader, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 21 Maart 2024
  • Daagliks
  • 8 min om te lees

Goeiemôre!

1. Meer as 70 van SA se grootste maatskappye, insluitend Shoprite, Absa, Naspers, VWSA, Ford en Sappi, het gister by die tweede Black Industrialists and Exporters Conference in Sandton onderneem om oor die volgende vyf jaar meer as ’n kwart biljoen rand aan verkryging van swart nywerheidsmaatskappye te bestee, het News24 berig.

2. Die Amerikaanse Federale Reserweraad het soos verwag gisteraand die land se sleutel-uitleenkoers onveranderd op 5,5% gehou. Die besluit was eenparig.

3. FNB het gister ontken dat betalings uit oudpres. Jacob Zuma se rekening uit eie beweging bevries is. Die bank sê dit is gedoen in navolging van 'n hofbevel wat verkry is deur die likwidateurs van die ontbinde VBS Mutual Bank, wat probeer om geld in te vorder wat deur Zuma aan hom verskuldig is.

4. Bheki Mtolo, sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, het Siboniso Duma, voorsitter van die ANC in die provinsie, se “heldhaftige” daad geprys om 'n mikrofoon weg te neem van die AmaZulu se tradisionele premier, Thulasizwe Buthelezi, tydens die 110de herdenking van die dood van koning Dinuzulu kaCetshwayo verlede naweek. “uMthombeni (Duma se stamnaam) was 'n ware held. Ons voorvaders het na hom toe gekom en vir hom gesê: ‘Ons seun, ons het jou aan die wêreld gegee sodat jy 'n katastrofe kon voorkom. Vir enige sonde wat jy pleeg, sal jy om vergifnis kan vra van die president, amakhosi en die premier. Maar jy sou, ten minste in hierdie geval, bloedvergieting voorkom het'," het Mtolo volgens News24 gesê.

5. Donald Trump het volgens Reuters gesê hy oorweeg 'n nasionale verbod op aborsie ná die 15de week van 'n swangerskap as hy in November weer tot president verkies word. Hy ondersteun uitsonderings in die geval van verkragting, bloedskande of as die ma se lewe in gevaar is.

6. 'n Amerikaanse appèlhof het gister begin om vertoë aan te hoor oor of Republikeins-gesteunde wetgewing Texas in staat sal stel om immigrante en asielsoekers te arresteer en te vervolg wat die grens tussen die VSA en Mexiko onwettig oorgesteek het.

7. Leo Varadkar het gister onverwags gesê Ierland se koalisieregering sal 'n beter kans hê om onder 'n ander leier herverkies te word. Varadkar het volgens Reuters sy Fine Gael-party gevra om 'n nuwe leier te kies voor sy jaarlikse konferensie op 6 April, waarna die parlement sal stem oor wie hom ná die Paasvakansie as eerste minister sal opvolg.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Buie word ook oor die meeste van die land verwag, terwyl die Wes- en Noord-Kaap hittegolftoestande kan verwag.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 29°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 30°C • Durban 25°C • Kimberley 33°C • Bloemfontein 27°C • Polokwane 25°C • Upington 36°C • Gqeberha 28°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Nog ’n paar treetjies op die pad na geregtigheid 

Die pad na Stalingrad is lank en swaar, en dit raak boonop al hoe besiger ook. Vir Suid-Afrika se grootste skelms gaan dié hofstrategie nog lank 'n slim opsie wees. Dis op 'n manier 'n goeie ding, want dit wys dat die regbank ten spyte van al die aanslae steeds in wese onafhanklik is.

Niemand is beter met vertragingstaktiek as Jacob Zuma nie; Wikipedia se inskrywing oor die “Stalingrad legal defense" noem hom selfs by die naam as 'n voorste proponent daarvan. Nogtans het die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg gister binne minute 'n einde gemaak aan Zuma se tweede poging om Billy Downer as die staatsaanklaer in sy korrupsiesaak te laat verwyder. Dit beteken die saak teen Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales kan so gou as Junie oplaas begin, 19 jaar nadat die destydse adjunk-president van die land vir die eerste keer daaroor aangekla is.

Terwyl Zuma naby aan die einde van sy Stalingrad-pad is, het Markus Jooste van Steinhoff nog maar sy eerste treë gegee. Soos dinge nou staan, lyk dit nie of Jooste binne die volgende vier of vyf jaar in 'n Suid-Afrikaanse beskuldigdebank gaan staan nie, indien ooit. Maar daar is ander maniere om hom te straf, soos die R475 miljoen waarmee die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) hom gister beboet het. Alex Pascoe van die FSCA verwag nie dat Jooste dit sommer net gaan betaal nie: “'n Lang pad van litigasie en Stalingrad-strategie" lê voor. Dieselfde geld 'n vorige FSCA-boete van R20 miljoen wat Jooste nog nie betaal het nie, asook die strafsake teen hom.

So, hier gaan ons, al is dit met baba-treetjies op 'n slag. En ja, albei partye het geappelleer teen gister se gebeure...


Image: ANGELA TUCK

Menseregtedag: Regering se apatie moet almal de moer in maak

Gelukkige Menseregtedag, Suid-Afrika. Ek het met ’n geweldige skel-gees wakker geword. Ek voel soos daai anties wat oor die deur leun en wanneer ook al iets onvanpas in die straat gebeur, sal daai anties vir jou vertel waar Dawid die wortels gegrawe het.

Iedergeval. Menseregte.

Lees gou-gou saam met my wat wie ook al vir die parlement se website skryf, oor Menseregtedag te sê het:

“Human Rights Day in South Africa is historically linked with 21 March 1960, and the events of Sharpeville. On that day 69 people died and 180 were wounded when police fired on a peaceful crowd that had gathered in protest against the Pass laws. This day marked an affirmation by ordinary people, rising in unison to proclaim their rights. It became an iconic date in our country’s history that today we commemorate Human Rights Day as a reminder of our rights and the cost paid for our treasured human rights.” 

Met die geskiedkundige agtergrond van hierdie dag, die feit dat mense hulle lewe verloor het, die rede waarom mense in die eerste plek genoop was om te protesteer, en Suid-Afrika se Grondwet wat in terme van progressiwiteit ver bo ander lande s’n uittoring … met al hierdie dinge … hoe durf hierdie donnerse regering terugsit en kyk hoe mense se basiese menseregte nie beskerm word nie?!

Oor die aantal menseregteskendings wat daagliks hier in South Africa Our Land gebeur hoef ons mekaar nie te herinner nie. Die regering wat apaties sit en toekyk moet ons almal die moer in maak. En as jy nie die moer in is nie, skenk jy nie genoeg aandag nie of het jy ’n blerrie goeie shrink wat vir jou sterk verdowingsmiddels verskaf. (Indien jy in laasgenoemde kategorie val – kontak my asb. Vra die Vrye Weekblad-span vir my kontakbesonderhede).

Terwyl die donners in hulle duur suits so apaties sit en toekyk, kan hulle en hulle ondersteuners nogal lekker verskoning ook maak. Verskonings vir hoekom dinge nie werk nie sluit in dat die ANC “nog net 30 jaar” gehad het om alles wat oor die afgelope 400 jaar in Suid-Afrika gebeur het, reg te stel. “Dis nog net 30 jaar en hulle moet nog hulle voete vind.” Dertig jaar?!! Ek is nog nie eens fokken 30 nie en dit voel asof ek al tot 60 toe geleef het! Dertig jaar is genoeg tyd om verandering te bewerkstellig.

Dertig jaar is meer as genoeg tyd om op te hou steel by die armes en ons wat fok swaar aan belasting betaal, en jou werk te doen. En verstaan my nou bitter mooi – ek dismiss nie die baie definitiewe trauma wat deur kolonialisme en apartheid as uitvloeisel van kolonialisme veroorsaak is nie. Hierdie twee gedagtes kan saam bestaan. Die tweede gedagte kan ons liefs in ’n akademiese navorsingsuitset ondersoek, want vandag se brief is vir skel!

Dit is werklik fokken depressief om in hierdie land te moet woon en nie enigsins ’n uitweg te sien nie. Dis nou alles lekker lekker Menseregtedag, ons kan almal vandag by die huis bly (of van die huis af werk indien jy ’n vryskut/hustler is), maar wat vier ons hier? Wat is daar om werklik nog, as ’n mens met sogenaamde regte in Suid-Afrika, oor opgewonde  te raak?

Jammer. Ek bedoel nie om die atmosfeer te demp nie, ek is seker menige wil eerder net hulle vleis op die kole gaan gooi (o wag, daai is ’n ander nasionale vakansiedag, nè?). Maar julle, ek kan nie meer nie. Ek kan letterlik nie meer nie. Ek haat dit hier (vir nou).


Persea Americana

(offer vir Huitzilopochtli)

“Don’t fence me in,” sing Eddie Sakamura karaoke.
Ek dink aan die son wat te vinnig ryp word
en tot by die pit vrot. O avokadopeer, Meksikaanse fonds,
hulle beweer jy’s sommer net 'n oorgewig bessie
maar vir my is jy offer aan die god van smaak.
Die Asteke roep jou āhuacatl (verwysing na jou balsakvorm)
al hang jy aan tweeslagtige bome.
Was Spanjaarde hiérvan bewus toe hulle jou sommer aguacate noem? Blikoor Engelse hoor regsgeleerdes en doop jou avogato pear
en daarna verval jy in vrye klankassosiasie as alligatorpeer en avokadopeer.

Nie dat jy jou hieraan steur nie. Hulle pluk jou eers,
jy besluit self wanneer jy reg vir eet is.
Kyk hoe kneus hulle jou tussen winkelrakke
skud jou om te hoor of jou hart al klop.
Hulle draai jou in koerante toe, kyk daagliks vir rypwordnuus.
Slaan een dag oor en jy’t reeds van groen na grys versmoor.
Nou verstik hulle jou met etileengas, verkwansel jou as “ripe and ready to eat”.
Versigtig! Hulle gaan jou met tandestokkies kruisig,
jou pit in 'n waterfles doop.

Avokado, wispelturige vrug –
lyk soos peer of knater, klink soos alligator,
maar proe net soos jou heilige self.

– Andries Bezuidenhout

Uit: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.