Sing, Suid-Afrika, sing!

MAANDAG MET MAX

Sing, Suid-Afrika, sing!

Afrikaans bly armer solank die taalbulle die geskiedenis oor die taal verdraai, skryf MAX DU PREEZ. Hy meen ook Suid-Afrika het 'n nasionale Voëlvry nodig om ons kollektiewe psige te lig. En dan is daar weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 01 April 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiedag!

1. Die ANC gaan regeer tot Jesus se wederkoms, het Jacob Zuma 'n paar jaar gelede verklaar. Nou voorspel hy sy MK Party gaan die ANC op 29 Mei ontsetel, al is daar geen teken van Jesus se terugkeer nie. Hoe nou gemaak? Zuma se dogter Duduzile het die antwoord: Zuma ís Jesus. Sy verklaar 'n paar dae gelede op Twitter/X op 'n foto van haar pa: “The Only Jesus We Know… The Black Jesus… President Zuma!!!” (Maar Jesus het nooit mediese parool nodig gehad nie.)

2. As die ANC minder as 50% van die stemme op 29 Mei gaan kry, is “geen opsie uitgesluit nie”, het die leier van die DA, John Steenhuisen, aan die Mail & Guardian gesê. Sy party sal nie 'n koalisie met 'n ANC onder Paul Mashatile oorweeg nie, maar wil 'n ANC/EFF-alliansie ten alle koste vermy. “We will be open to making sure we do whatever we can to prevent a radical government getting into power and taking the country down the same path as Venezuela.”

3. In 'n ander onderhoud met dieselfde koerant in dieselfde uitgawe het die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, gesê Cyril Ramaphosa het sy kanse verspeel om 'n koalisie met die DA aan te gaan. Sy het bygevoeg dat só 'n besluit nie hare is om te neem nie, maar dié van die DA se strukture.

4. Die meer as 600 SANW-soldate wat deel is van 'n vredesmag in die DRK het nie veldkombuise, dokters of verpleegsters nie en daar is net ses puttoilette vir hulle almal, berig City Press.

5. Joernaliste is aangesê om op te hou om aandenkings uit pres. Joe Biden se ampsvliegtuig, Air Force One, te steel. Kussingslope met die presidensiële embleem, glase en vergulde borde is onder die artikels wat so verdwyn.

6. Ten spyte van 'n bekgeveg tussen die Biden-administrasie en die regering van Benjamin Netanyahu van Israel oor die voortslepende slagting van Palestyne in Gaza, het Amerika hierdie week 2 300 bomme wat tussen 'n halwe en twee ton weeg en 25 aanvalsvliegtuie aan Israel goedgekeur.

7. Die ANC se strategie om die MK Party se groei in KZN teë te werk, sluit nou ook die ontplooiing van senior leiers, veterane en gewese soldate van Umkhonto weSizwe in, berig News24.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie oor dele van die Noord- en Oos-Kaap. Meeste dele van die land is vandag deels bewolk en warm met moontlike buie en donderbuie, insluitend in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 27°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 21°C • Durban 29°C • Kimberley 28°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 24°C • Upington 30°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 25°C.


Max du Preez | Die Taalmonument hoort in die Bo-Kaap

Die Taalmonument hoort nie in die Paarl nie, dit hoort in die Bo-Kaap, het die bekende navorser oor die wortels van Afrikaans, Achmat Davids, in 1995 in 'n dokumentêre film gesê wat ek oor die monument gemaak het.

Ek is erg afgeransel oor die film wat op die SAUK gewys is, selfs in 'n debat in die parlement. Van die Demokratiese Party, soos dit toe was, tot by die verregses is ek as 'n verraaier, verloopte en algemene skurk uitgemaak. Dis dalk alles waar, maar nie weens die redes wat hulle verskaf het nie.

Die episode het dié week weer by my opgekom toe ek na 'n praatjie oor die herkoms van my moedertaal in die moskee in Simonstad luister. Die geleentheid was die plaaslike bekendstelling van 'n opgedateerde weergawe van Davids se boek, nou met die titel The Arabic-Afrikaans Writing Tradition.

Davids was natuurlik reg. Die Bo-Kaap was die plek waar die slawe, meestal Moslems, die Nederlands van die kolonialiste vervorm, vereenvoudig en ander elemente ingevoeg het wat later Afrikaans genoem is.

Dit word nie meer betwis nie dat die eerste gedrukte weergawe van Afrikaans in Arabiese skrif gepubliseer is. Dié vroeë vorm van Afrikaans was die spreektaal in die moskees en Moslemskole aan die Kaap toe die wittes nog op korrekte Nederlands aangedring het.

Maar die taal het haar nie laat stuit nie, en gegroei. En toe die wit mense dit begin agterkom en meer en meer mense die verbasterde Nederlands begin gebruik, het hulle dit gekaap. Eers was daar die Eerste Taalbeweging in 1874 en toe die Genootskap van Regte Afrikaners kort daarna. In die eerste dekades van die 20ste eeu was daar pogings om die taal weer te “suiwer” en om rigiede spelreëls en woordelyste saam te stel.

Hier is nie genoeg plek om dié verwikkelinge genuanseerd te bespreek nie, maar ek wil die opmerking maak dat die weerstand teen die organiese Afrikaans wat in die Kaap ontstaan het, deels 'n ras-, deels 'n klas- en deels 'n godsdienstige basis gehad het.

Ware Afrikaners was Christene, nie “Slamse” nie. Afrikaans is as werktuig van Afrikaner-nasionalisme, Afrikaner- Christelike nasionalisme, gekaap. En die taal Afrikaans het 'n duur prys daarvoor betaal.

Vandag nog is die voorste organisasies wat vir Afrikaans veg, eksplisiet Christelik. Soos Solidariteit, AfriForum, die FAK en ander: ons is Christene en ons veg vir Afrikaans. Ek sien selfs die nuwe voorsitter van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, Theo de Jager, verklaar uitdruklik dat hy 'n gelowige Christen is.

Dit is natuurlik goed en mooi om by jou geloof te staan, maar nie as jy dit deel van jou identiteit maak en jy is in 'n gesagsposisie in 'n sekulêre samelewing nie.

Die grootste Afrikaanse radiostasie, RSG, is erg Christelik, met 'n klein agtervenstertjie vir Islam.

En die Moslems van die Kaap en elders het in reaksie mettertyd meer en meer verengels. Wat 'n verlies vir ons taal.

Ons Afrikaanssprekendes is almal armer vir so lank as wat die taalbulle se aktivisme op 'n verdraaiing van die geskiedenis gebou is.

Daar was geen punt in die geskiedenis waar Afrikaans meestal deur wit mense gepraat is nie. Vandag is amper twee-derdes van Afrikaanssprekendes nie wit nie.

Maar steeds kraai ons wit Afrikaners koning oor ons taal.



Oor Beyoncé, oom Chris Blignaut en Kerkorrel

Musiek is die antwoord. Op baie vrae. Dis die beste medisyne. Vir die meeste geesteskwale.

Ek is die laaste week of so gedwing om na my eie verhouding met musiek te kyk. Toe word dit 'n konyngat waarin ek amper verdwaal het.

Dit het begin toe een van my vroegoggend-leesplekke, bbc.com, se hoofstorie dié week was dat Beyoncé 'n country-album uitgereik het. 'n Swart vroulike rock-ster en country-musiek?

En toe lees ek die oud-MK-soldaat Oyama Mabandla se insiggewende boek oor sy lewe en wat met die ANC skeefgeloop het, Soul of a Nation, en hy kom met 'n hele hoofstuk oor hoe musiek 'n sleutel is vir hoe om ons hergeboorte as 'n suksesvolle nasie te bewerkstellig.

Wat is my geskiedenis van en verhouding met musiek, vra ek toe vir myself. Soos sulke geheuereise maar doen, spring 'n klompie oomblikke uit my verlede na vore.

Lees die volle brief hier.


Nieu-Bethesda 2020

Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,
hulle gekrys verdring deur bore se ratatat-tat, deur
vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.
'n Meermin se uitgestrekte handjies verweer
in die suurreën, haar bierbottel-oë bars
rapat; rapat breek die watertafel. Sien is glo –
protesplakkate tolbos soos tuimelende orakels
oor fracking in die Oos-Karoo.

Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.
Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras. 

Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas
bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.
Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile
glip 'n gladde tweekopakkedis. Sien is glo –
protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes
oor fracking in die Oos-Karoo.

In die broeines hoog teen Kompasberg lê 'n witkruisarend
haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

– René Bohnen

Uit: Versindaba

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.