Praat oor misdaad help g’n snars nie

KOPAF-HOENDERS

Praat oor misdaad help g’n snars nie

Om werklik die plaag vas te vat – van georganiseerde misdaad tot huisbrake – moet ons die praatsessies staak en die ‘stelsel' in strafreg terugsit, skryf JOHANN VAN LOGGERENBERG.

  • 29 Maart 2024
  • Vrye Denker
  • 18 min om te lees
  • artikel 1 van 26
  • Johann van Loggerenberg
Image: ANGELA TUCK

MISDAAD in al sy manifestasies het een van die dringendste kwessies op elke vlak van ons samelewing geword. In my besigheid ontmoet ek gereeld individue en verteenwoordigers van ondernemings en bedrywe wat almal min of meer dieselfde ding sê: Hierdie en daardie soort misdaad het gebeur, gebeur steeds en dit het 'n verwoestende impak.

Sommige besighede moes afskaal, terwyl ander selfs hulle deure moes sluit. Ek twyfel of ek hier moet uitwei oor die daaglikse mediaberigte oor korrupsie in die regering en die private sektor.

Die regering het armoede, werkloosheid en ongelykheid as die drie grootste uitdagings vir ons jong, onvolmaakte grondwetlike demokrasie geprioritiseer. Ek glo misdaad moet hierby gevoeg word. Ek dink elke Suid-Afrikaner weet hoe verwoestend misdaad vir die slagoffers en die ekonomie is. Dit het vir ons almal een van die moeilikste kwessies geword om mee saam te leef.

Ek het die laaste paar jaar aan talle inisiatiewe deelgeneem om die misdaadpandemie in ons land te probeer aanpak. Die meeste daarvan het bestaan ​​uit sessies met ’n kombinasie van senior wetstoepassingsbeamptes, slim akademici, sosiale aktiviste en voormalige senior amptenare. Al hierdie groepe het gesê misdaad is ’n probleem. Almal wil aksie hê. Almal is bereid om te help.

Hulle klem verskil dalk – party wil op korrupsie in die regering fokus, ander het ’n meer spesifieke belang om toe te sien dat lede van die staatskapingsbende vervolg word. Ander is meer gemoeid met georganiseerde misdaad in die geheel of spesifieke tipes misdade, soos onwettige mynbou, onwettige handel in koper en metale, en selfs die smokkel van chemikalieë wat gebruik word om waspoeier mee te vervaardig. Maar almal stippel die misdaadkwessie duidelik uit, en almal verstaan ​​blykbaar hoe hierdie misdade gepleeg word.

Waar die praatsessies my aandag gewoonlik verloor, is wanneer dit lyk asof almal onmiddellike oplossings wil voorstel, “spesiale inisiatiewe”, taakspanne, méér praatsessies, die opstel van dokumentasie en voorstelle, en wanneer almal blykbaar wil hê die wetstoepassingsagentskappe moet hulle werk “meer” en “vinniger” en “beter” doen. Ek dink ongelukkig gaan niks hiervan enige betekenisvolle en blywende resultaat oplewer nie.

Om mee te begin, werk baie van hierdie inisiatiewe in isolasie van mekaar. Daarbenewens lyk dit of almal befondsing van iewers in die private sektor kry, maar niemand het tot dusver besef dat hierdie fondse en pogings ’n groter impak kan hê as dit saamgevoeg word nie. As voorbeeld het ek een so ’n groep, belas met die gebrek aan vordering wat optrede oor die Zondo-kommissie se verslae betref, gevra om aan te dui hoeveel van hulle al die verslae gelees het met die oog daarop om dit te internaliseer. Baie min hande is opgesteek.

Ek het ’n punt bereik waar ek nie meer dié sessies bywoon nie, tensy dit op resultate fokus.

Ek het eerder by my plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum aangesluit en bestee nou tyd daaraan om my omgewing saam met medeburgers te patrolleer en die ore en oë van ons plaaslike onderbemande en swak toegeruste polisiekantoor te wees.


Read this article in English:


’n Voorstel

Ek wil graag ’n konsep vir oorweging voorstel, veral in reaksie op sekere stellings wat toegeskryf word aan verteenwoordigers en leiers van sommige van hierdie edele inisiatiewe, spesifiek wat die stand van die strafregstelsel betref.

Ek het die grootste deel van my produktiewe volwasse lewe in wetstoepassing deurgebring. Ek het nie net gestudeer en kursusse bygewoon oor hoe om misdaad aan te pak nie, maar het ook beoefen wat ek geleer het en was matig suksesvol daarmee. Eers het ek geleer hoe om voertuigongelukverslae saam te stel en te ondersoek. Uiteindelik het ek meer komplekse misdade ondersoek, en toe betrokke geraak by meer gevorderde wetstoepassingstegnieke en mettertyd die bou van eenhede en kapasiteit binne die regering wat daarop gemik is om op misdaad landwyd te fokus.

Ek was ook al ’n slagoffer van verskeie misdade en het, nadat ek die regering verlaat het, die geleentheid gehad om slagoffers van misdade in verskillende gedaantes by te staan. In my twintigs het ek tussen misdadigers gewoon en uiteenlopende sindikasiegroepe binnegedring, juis om te verstaan ​​hoe hulle ontstaan het, funksioneer ​​en hoe die beste manier is om hulle te vernietig. Ek beskou myself dus as taamlik kundig oor die onderwerp. En dit is hoekom ek nog altyd gesê het ek glo die volgende moet te alle tye in gedagte gehou word wanneer ’n mens misdaad van enige aard probeer vasvat.

Stimulus en reaksie

As kind het my ma my die mees elementêre aspek van kommunikasie en menslike interaksie geleer – stimulus en reaksie.

Iemand doen of sê iets, en jy het dan die opsie om te besluit of jy daarop wil reageer en, indien wel, hoe om dit te doen. Stimulus, reaksie. Die reaksie word ’n nuwe stimulus wat ’n nuwe reaksie kan ontlok. En so gaan dit heen en weer. As mense is ons geneig om transaksioneel en reaktief te wees in gevalle waar ’n stimulus ons negatief of positief beïnvloed.

Kyk nou na ons betrokke onderwerp: misdaad. Of dink aan die staatskapingsgebeure. Kies byna enige subsektor in die ekonomie en ek sal kan wys hoe mense in daardie sektor kla oor die gebrek aan polisiëring en wetstoepassing. En hulle sal kan wys hoe dit hulle besighede raak.

Dieselfde geld feitlik elke burger. Ons was almal reeds minstens een keer ’n slagoffer: die stimulus. In die meeste gevalle reageer ons vanuit ’n posisie van trauma. Ons wil geregtigheid hê. Ons eis optrede. Ons verwag van ons strafregstelsel om optimaal te funksioneer en die oortreders aan die pen te laat ry, net om meestal teleurgesteld en ontevrede te wees. Dit vererger dan ons trauma, die ekonomiese en sosiale uitwerking op ons, en ons raak afgemat en skepties. In sommige gevalle het gemeenskappe selfs eie reg gebruik, met rampspoedige gevolge.

Hierdie transaksionele manier van reageer is hoe ons geneig is om probleme te benader. Iets steur ons, benadeel ons, of veroorsaak vrees, en dan wil ons hê die polisie en aanklaers moet onmiddellik optree. Baie van wat ek in polisiëring (en wetstoepassing in die algemeen) teëgekom het, is ’n aanduiding hiervan. 

Misdaad is ’n gemeenskapsdefek, nes gebrekkige wetstoepassing

Tendense is herhalende gebeurtenisse. Wanneer ’n tendens ’n slegte neiging is, soos misdaad of ’n soort misdaad, dui dit op ’n sistemiese probleem. Dieselfde geld vir die idee van vervolging. Min vervolgings van wat as beduidende misdaad beskou kan word, byvoorbeeld korrupsie, is ook 'n tendens.

Die konsep van stelsels is welbekend in ingenieurs- en vervaardigingsterme. As ’n motor met ’n los stuurwiel uit die fabriek kom en die kliënt bring dit binne die waarborgtyd terug, sal dit herstel word. In ’n goed bestuurde fabriek gebeur so iets selde. Hierdie soort reaksie staan ​​soms as ’n ingesteldheidsreaksie bekend. Dit gebeur een keer toevallig by die produksiebaan, die fout word herstel en die kliënt is tevrede.

Maar as byna elke motor wat uit die fabriek kom dieselfde defek het, sal die oplossing in die produksieproses lê. Ingenieurs sal in sulke gevalle die hele proses nagaan, die sistemiese probleem identifiseer en dit korrigeer. Dit staan ​​bekend as regstellende aksie.

Misdaad oor die algemeen, nie net korrupsie nie, het normaal in ons samelewing geword. Ons is geneig om inbrake, diefstal en rooftogte hoofsaaklik vir versekeringsdoeleindes aan te meld, en nie omdat ons verwag dat die oortreders gevang en vervolg sal word nie. Baie misdade met betrekking tot geslagsgegronde geweld word nie eens aangemeld nie.

Dieselfde kan gesê word van mense wat misdaad aanskou of op bewyse daarvan afkom. Fluitjieblasers is skaars. Baie sien hoe misdaad gepleeg word en kyk weg, want die gevolge en beslommernis om dit by die owerhede te moet gaan aanmeld is ’n las, sinloos en veeleisend. Ons leer eerder met misdaad saamleef. Ons normaliseer die abnormale. En in die proses raak ons al hoe meer gefrustreerd, bang en moedeloos.

Misdaad is ’n sistemiese defek wat oral in die samelewing gesien kan word. Die tipiese verwagte reaksie op misdaad is wetstoepassing en die sektor van die regering wat dit moet bekamp, ​​is veronderstel om ’n stelsel te wees, bekend as die strafregstelsel. Dit behels staatsamptenare, gefinansier deur belastingbetalers en buitelandse lenings wat deur belastingbetalers betaal word; mense wat gereedskap, kantore en vaardighede nodig het, asook die middele om hulle werk te kan doen. En hier lê die uitdaging.

Dis nie ’n stelsel nie

Hierdie stelsel werk nie as ’n stelsel nie. Die mense wat daarbinne werk, voer nie hulle pligte sistematies uit nie. Die gereedskap en middele tot hulle beskikking is onvoldoende om die uitvoering van hulle statutêre mandaat moontlik te maak en vaardighede is oral gebrekkig.

Die geskooldes is oorwerk en oorlaai of het die staatsdiens verlaat, en die res gaan maar net voort. Nou en dan, wanneer ’n opspraakwekkende misdaad plaasvind, is daar dalk ’n bietjie energie en moeite, maar dit is die spreekwoordelike “flashes in the pan”. Af en toe is daar padblokkades en sporadiese hoësigbaarheidsoefeninge wat gewoonlik met kragtige mediaverklarings en die teenwoordigheid van joernaliste gepaard gaan, en soms word sake wel vervolg. Maar dit vind bitter min plaas. Die stelsel bereik nie wat vereis word nie.

Elementêre meting of beoordeling, hersiening, beplanning, strategiebepaling en befondsing vir al die dele van die strafregstelsel word lukraak en in silo's aangepak, sonder ondersteunende logika en strategie. Kyk na die verhouding van ongeveer 118 000 polisiebeamptes teenoor ongeveer 3 000 aanklaers en “honderde” howe. ’n Mens kan nêrens maklik uitvind hoeveel regters en landdroste daar in ons land is nie, en nog minder hoeveel sekretarisse, hofklerke en ander ondersteunende personeel wat nodig is om vervolging vinnig af te handel. Dit is onvolhoubaar. Die “fabriek” het geen sin nie; dit werk in stukke. Geld word beskikbaar gestel om meer polisiebeamptes in diens te neem, maar daar word nie in ag geneem hoeveel aanklaers nodig sal wees om die arrestasies te hanteer nie. Dieselfde geld regters en landdroste; of daar genoeg hofgeboue is om die sake in aan te hoor, maak glad nie saak nie.

Die manier waarop die dele gemeet, befonds, bestuur en van hulle verwag word om te funksioneer, is nie net teenproduktief nie, maar beloon teenproduktiwiteit. Ek hoef nie die prentjie te skets nie; dit is duidelik. Agterstande en vertragings is die voorspelbare gevolg. Die een deel ondermyn die ander, maak nie saak hoe hard die mense in hulle onderskeie silo’s probeer werk nie.

Goeie wetstoepassers word gebore

Hoe wetstoepassing en die strafregstelsel as ’n stelsel funksioneer, word dikwels bepaal deur persoonlikhede wat van nature tot transaksionele en reaktiewe probleemoplossing geneig is. Dis nou te sê as hulle goeie polisiebeamptes, aanklaers, prokureurs of voorsittende beamptes is. Dit is hoofsaaklik omdat die ondersoek en vervolging van ’n misdaad en die aanbieding van getuienis aan ’n strafhof gedetailleerde, forensiese, bewysgegronde ingesteldheidsreaksies verg.

Goeie wetstoepassers word gebore, nie gemaak nie. Dieselfde kan gesê word van landdroste en regters. Sonder om hulle gering te skat: hulle is nie gewoonlik strategiese probleemoplossers wanneer dit by stelseldenke kom nie. Hulle werksomgewing vereis dit nie van hulle nie; hulle is tipies mense wat oor regskwessies beslis. Jy sal nie gewoonlik ’n breinchirurg aanstel om ’n algemene hospitaal te bestuur nie, want die chirurg is beter met breinoperasies as met stelselbestuur. As mense wat polisiebeamptes, aanklaers, landdroste of regters word van nature sistemies geneig was, en instinktief vanuit ’n korrektiewe perspektief na dinge gekyk het, sou hulle waarskynlik entrepreneurs, gehaltebeheerders, strateë, finansiële beplanners, ekonome of ingenieurs geword het.

Die dilemma is natuurlik dat jy eintlik albei nodig het. Jy het goeie wetstoepassers nodig, maar ook goeie beplanners en probleemoplossers op 'n sistemiese vlak. En hulle moet op ’n geïntegreerde wyse as ’n enkele stelsel funksioneer.

So, wat nou?

Wat my terugbring na die kwellinge van alle Suid-Afrikaners: die gesukkel om misdaad vas te vat. Dis ’n sistemiese probleem wat ’n sistemiese oplossing vereis. Ja, met goeie wetstoepassing, “taakspanne”, “spesiale inisiatiewe” en ’n bietjie geluk kan sommige skuldiges wel gevang en skuldig bevind word. Maar sporadiese suksesse sal nie die probleem oplos nie. Dit is oor die algemeen transaksioneel reaktief, selektief en beslis onvolhoubaar. Iemand anders sal in elk geval die misdade kom herhaal.

Ek glo die oplossings vir misdaad moet deurdink, geprioritiseer en die realiteite moet aanvaar word. Die feit is dat die strafregstelsel nie net ’n gebrek aan hulpbronne, tyd, vaardighede en vermoëns het nie, maar ook ’n sistemiese verwagting en benadering. Slagoffers is afhanklik van ondersoekers. Ondersoekers is afhanklik van aanklaers en aanklaers is afhanklik van die howe, ensovoorts. Hulle het elkeen hulle eie beperkings en kan eenvoudig nie bereik wat hulle ingevolge die reg behoort te doen nie. 

Kyk na die onlangse InterCape-hofuitsprake. Aan die een kant sê die polisie hulle het 'n tekort aan geld en hulpbronne; aan die ander kant sê die howe hulle moet hulle werk doen. Dit los nie InterCape se probleme op nie. Om die polisie as eerste in die waardeketting te beskou, is 'n verkeerde benadering. Die misdadigers is die beginpunt. As daardie denkskuif gemaak word, begin die benaderings verander. Dieselfde geld die wisselwerking tussen die dele van die strafregstelsel. Hulle kan nie in silo's bestuur word nie. Dit is wetstoepassing uit die Donker Eeue.

Ek sê al dekades lank dat 'n sistemiese benadering die antwoord is. Elke inisiatief waarmee ek te doen gekry het, kan dalk iets bydra en voorlopig 'n persepsie van sukses skep, maar dit moet deel wees van grondliggende werk vir 'n beter sistemiese oplossing.

Die fundamentele antwoord lê in openbare/private modelle en 'n slimmer manier om dit wat daar is te gebruik, foute en uitdagings ingesluit. Die konsep verskil nie van sommige mense se sonkragstelsels, boorgate, private veiligheidsmaatreëls, gewapende reaksie en private onderwys vir hulle kinders nie.

Veiligheidskomplekse, gemeenskapspolisiëringsforums en omheinde gemeenskappe is alles voorbeelde van hoe mense dinge vir hulleself doen wanneer die regering nie kan nie. In 'n sekere sin haal hulle die las van die regering se skouers af en stel sy hulpbronne vry.

Nog 'n voorbeeld: kyk na Johannesburg se waterprobleme. Die oplossings is om 'n paar dinge vir onsself te doen, gebruik te maak van wat in ons gemeenskap en die private sektor beskikbaar is en te aanvaar dat die regering nie in staat is om dinge op die sistemiese vlak reg te stel nie. Ons moet dus maniere vind om die bietjies wat die regering kán doen, te vermenigvuldig.

As die strafregstelsel se kwessies nie sistemies benader word nie, sal ons vir altyd oor die jongste manifestasie van misdaad praat. Die regering moet na die “fabriek” in die geheel kyk. Net dan kan dit stelselmatig oplossings soos werklading, gehaltebeheer, personeelverhoudings, vaardigheidsontwikkeling, prestasiebeoordelings, begroting, strategiese beplanning en spesialisering bied om almal in Suid-Afrika tevrede te stel en nie net diegene wat gelukkig genoeg is om aandag en energie te ontlok nie.

Die wetsraamwerk maak vir baie oplossings voorsiening. Ek sal nie te veel hierin delf nie, behalwe om 'n paar ooglopende voorbeelde te noem en dus 'n punt te maak. Ons het meer private regspraktisyns as wat die meeste mense besef. Vervolgings kan aan hulle uitgekontrakteer word. Hulle kan ook as regters, voorsittende beamptes, bemiddelaars en landdroste optree.

Polisiereserviste en gemeenskapspolisiëringsforums kan beter gebruik, bestuur en aangewend word, en die groot private sekuriteits- en ondersoekgemeenskap kan op 'n baie meer samewerkende wyse gekoöpteer word as wat tans die geval is. Dieselfde kan gesê word van tegnologiese oplossings wat van die rak af gekoop kan word. Gevalleseleksie en dekkingsmodelle is nie nuwe idees in wetstoepassing nie, maar hulle is nie sigbaar in die meeste dele van ons strafregstelsel nie.

Statutêre wette maak voorsiening vir dit alles, en ons gemene reg en regswetenskap het herhaaldelik bevestig dat hierdie instrumente vir gebruik beskikbaar is, juis omdat ons 'n ontwikkelende land is. Reeds in 2001 het vooraanstaande kenners beklemtoon daar word voorsien dat die staat weens beperkings vir 'n lang tyd nie die kapasiteit sal hê om alle misdade te ondersoek nie; en dat die uitkontraktering van misdaadondersoeke veral in sake van 'n kommersiële aard behoort toe te neem. Die hooggeregshof het in die saak van die Staat v Botha die reg van private entiteite erken om ondersoeke namens die staat te doen. Art. 84 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Tesourie-regulasies vereis dat staatsdepartemente en openbare entiteite bewerings van finansiële wangedrag ondersoek. Sodra jy dit alles as 'n stelsel sien, begin die oplossings byna onmiddellik opdoem.

Dis al voorheen op kleiner skaal gedoen en kan gedupliseer word. Ek was dekades lank deel van sulke inisiatiewe en dit het vrugte afgewerp totdat die staatskapingsbende, hulle sikofante en elke ander skelm vir wie dit gepas het, bygekom het. Dit is 'n kwessie van“wydte" (om universeel gesien en gevoel te word), “diepte" (wys dat gevolge altyd vir misdadigers sal volg) en “hefboomkrag" (taktiese aksies wat gekombineer kan word om hulpbronne te versterk en konsentreer).

Ons moet ook die “waardeketting” nie vanuit die “ontdekkingspunt” of “eerste inligting oor misdaad” beskou nie, maar met misdade as die “insette”. Binne so 'n stelsel sal spesialisasie, taakspanne en hoësigbaarheidsaksies 'n veel groter impak hê. Misdadigers moet weet as hulle verkeerd doen, sal hulle opgespoor, gevang, vervolg en – “Stalingrad-taktiek” of nie – gestraf word.

Lisensies sal teruggetrek word, besighede sal hulle registrasiedokumente verloor, dienste sal beëindig word, skelms sal tronk toe gaan. Dit behoort die norm te wees. Fluitjieblasers sal misdade aanmeld omdat dit die regte ding is om te doen, en hulle sal weet daar sal gevolge vir die slegte ouens wees. Slagoffers sal glo dat indien hulle 'n misdaad aanmeld, die oortreders tot verantwoording geroep sal word. Versekeringspremies sal begin daal, besighede sal begin floreer omdat smokkelary, geldwassery en onderwaardasies sal afneem. Mense sal die vrymoedigheid hê om saam met hulle gesinne te gaan stap of iewers fiets te ry. Die vrees vir misdadigers sal verander in misdadigers se vrees vir die gevolge as hulle sou kwaad doen. Dít is wat nodig is in die samelewing. Om dit te bereik moet die “fabriek" as 'n stelsel begin funksioneer. Ons moet minder beïndruk wees deur silo-“prestasieverslae”, mediaverklarings en publisiteitsfoefies en meer deur hoe veilig ons voel en hoe ons ekonomie floreer omdat misdaad nie meer normaal is nie.

Hou op praat...

Ek het al te veel akademies of polities georiënteerde “inisiatiewe" bygewoon waar die groepe te groot is, die denke te vlak, voorbereiding en ervaringsbegrip van wat aan die gang is te swak en ervaring in wetstoepassing te min of te transaksioneel.

Ons het nie meer die luukse van tyd om voor te gee dat ons onfeilbaar is nie.


NS: As jy nie 'n lid van jou plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum is nie en nie bereid is om net 'n uur of twee per week as vrywilliger jou gemeenskap en plaaslike polisiekantoor by te staan ​​nie, hoekom is dit so? Dit is ongelukkig nie goed genoeg om so nou en dan jou persoonlike keuse van politieke party en sy ideologie aan te beveel en dan in die verkiesings te gaan stem nie. Die feit is: Ongeag wie die land regeer, hulle sal steeds 'n funksionele strafregstelsel nodig hê, want die hele nasie het dit nodig. As jy rommel strooi, as jy te vinnig ry, as jy versuim om jou belastingopgawes in te dien en jou belasting betyds te betaal (as jy gelukkig genoeg is om deel te wees van die minderheid wat moet), as jy nie deelneem aan gemeenskapsgroepe wat rommel optel in jou buurt nie, of jy koop daardie “koeldrank” wanneer jy nie jou lisensieskyf betyds hernu het nie, is jy deel van die probleem, nie die oplossing nie. Vra jouself af hoeveel jy regtig omgee vir jou en die volgende generasies se toekoms. Dit sal 'n begin wees. Die antwoord behoort jou te lei om in moeilike tye op te tree. Indien nie, hou op om oor misdaad te praat en leef daarmee saam.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.