Konstruksiemafias ook in Gauteng aan die opmars

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Konstruksiemafias ook in Gauteng aan die opmars

ANESCA SMITH skryf oor ’n uitbraak van onnoselheid in Nederland, WILLEM KEMPEN vind iets om voor dankbaar te wees, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 09 April 2024
  • Daagliks
  • 4 min om te lees

Goeiemôre!

1. Sogenaamde konstruksiemafias in Gauteng bring bouprojekte van sowat R2 biljoen in die provinsie in gedrang, wys 'n ondersoek deur News24. Die tipiese werkswyse is dat groepe wat hulself “besigheidsforums" noem, aandring op subkontrakte ter waarde van 30% van die projek se waarde, en dan met geweld dreig as hulle nie hulle sin kry nie.

2. Dali Mpofu het namens die MK Party in die Verkiesingshof in Johannesburg aangevoer dat Cyril Ramaphosa se kwytskelding van 'n deel van Jacob Zuma se vonnis van 15 maande vir minagting van die hof beteken dat die oudpresident wel 'n kandidaat in die verkiesing mag wees. Die Grondwet diskwalifiseer iemand wat tot meer as 12 maande tronkstraf sonder die keuse van 'n boete gevonnis is, om aan 'n verkiesing deel te neem. Mpofu sê dié uitsluiting is nie van toepassing nie omdat Zuma slegs drie maande van sy vonnis uitgedien het. Uitspraak word vandag verwag.

3. Die Suid-Afrikaanse regering het die afgelope meer as 'n jaar herhaaldelik versuim om te reageer op versoeke om reëlings te tref vir 'n hoëvlak-handelsberaad met die Europese Unie, het Bloomberg berig. Dit laat kommer toeneem dat Suid-Afrika al hoe meer na Rusland en China draai en verhoudinge met die VSA en Europese lande verwaarloos. Die EU is Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en buitelandse belegger.

4. DNS-toetsing dui daarop dat die bloedbevlekte kledingstukke wat verlede maand in 'n oop stuk veld buite Saldanhabaai gevind is, nie dié van die vermiste Joshlin Smith was nie, het Bheki Cele, minister van polisie, aan die SAUK gesê. 

5. Donald Trump het gister sy amptelike standpunt oor aborsie effens versag, vermoedelik omdat die federale verbod wat hy vroeër bepleit het, hom te veel stemme in November se verkiesing sou gekos het. Pleks daarvan het hy gister gesê wetgewing oor aborsie moet op deelstaat-vlak bepaal word.

6. Miljoene mense in Noord-Amerika kon gister 'n totale sonsverduistering meemaak wat op plekke vir langer as vier minute geduur het.

7. Die wêreld se oudste man, die 111-jarige John Alfred Tinniswood van Southport in Engeland, sê die geheim van sy lang lewe is “luck, moderation, and fish and chips every Friday". Hy is verlede week deur Guinness World Records as die nuwe houer van dié titel bevestig ná die dood van die 114-jarige Juan Vicente Pérez van Venezuela. Die wêreld se oudste mens is die 117-jarige Maria Branyas Morera van Spanje.


Daar is waar 'n waarskuwing teen swaar donderbuie en reën wat tot vloede kan lei oor dele van die Wes-en Oos-Kaap, Noordwes, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Buie en donderbuie word egter regdeur die land verwag. Dis ook vandag hoofsaaklik koel.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 20°C • Mahikeng 20°C • Mbombela 25°C • Kaapstad 20°C • Durban 25°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 18°C • Polokwane 24°C • Upington 21°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 24°C.


Willem Kempen | Land van beswaar maak

OM in Suid-Afrika te kan oorleef is 'n vaardigheid wat 'n mens op jou CV behoort te sit, lui 'n grappie wat oor die naweek oral versprei is. Soms voel mens soos Bill Murray se karakter in Groundhog Day; alles gebeur oor en oor met net hier en daar 'n variasie op dieselfde temas.

Iewers het goeters weggespoel of omgewaai of afgebrand. Iewers is nuwe laagtepunte bereik in die krisis met misdaad, munisipale dienslewering of die verval van infrastruktuur. Iewers is Dali Mpofu en Jacob Zuma gesamentlik of afsonderlik besig om 'n hof se tyd te mors. Iewers probeer 'n DA-leier verduidelik wat presies die party se beleid oor koalisies met of sonder die ANC is. Iewers is 'n korporatiewe misbaksel soos die SAL of Transnet of Eskom besig om 'n nuwe baas te soek of die oue afgedank te kry.

Hopelik klink dit nie te desperaat om tussen dít alles 'n silwer randjie te soek nie, maar dankie tog dat selfs die land se grootste uitvaagsels en opportuniste besef hulle kan steeds nie anders as om hulle te hou by wat die howe bevind nie. Kom ons hoop dit bly so.



Entstof-onnoselheid laat oorwonne siektes weer kop uitsteek

’n Onverwagse nasleep van die COVID-19 pandemie het kop uitgesteek in Nederland: ’n uitbraak van onnoselheid.

Mense wat weier dat hulle kinders teen siektes soos masels, polio, kinkhoes, pampoentjies en Duitse masels ingeënt word. Die gevolge? Opeens is daar ’n kommerwekkende styging in hierdie ouwêreldse siektes terwyl dit maklik voorkom kon gewees het. Vier babas het al die afgelope jaar aan kinkhoes gesterf.

Lees die volle brief hier.


Kissing the stomach

Kissing the stomach
kissing your scarred
skin boat. History
is what you've travelled on
and take with you

We've each had our stomachs
kissed by strangers
to the other

and as for me
I'll bless everyone
who kissed you here

– Michael Ondaatje

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.