Ons soek ’n nuwe nasionale beweging, nie net keffers nie

MAANDAG MET MAX

Ons soek ’n nuwe nasionale beweging, nie net keffers nie

Die DA se geskiedenis is een van verspeelde kanse, skryf MAX DU PREEZ. Hy kry die nasionale uitsaaier ook voor stok omdat dié (alweer) na die ANC se pype dans, en dan is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiedag!

1. Die binnegevegte in die MK Party word net erger hoe nader dit aan die verkiesing kom, het dié party se “leier”, Jacob Zuma, aan 'n groep ondersteuners van MK Interfaith in Durban gesê. Zuma het die stigter van die party, Jabulani Khumalo, en minstens vier ander leiers geskors. Khumalo het Zuma daarop geskors en sê die brief aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie waarin hy kwansuis vra dat sy naam as kandidaat onttrek word, is deur Zuma se dogter, Duduzile, vervals. Duduzile het verlede week in 'n onderhoud gesê sy is dié party se “Nommer Twee”.

2. Die departement van gesondheid het die publiek aangeraai om griepinentings te kry. Minstens vier griepvirus-tipes is nou landwyd gediagnoseer.

3. Oudpres. Thabo Mbeki sê hy het die vernuwing van die ANC as voorvereiste gestel vir sy deelname aan die party se verkiesingsveldtog, en die leierskap het daarmee akkoord gegaan. “We can’t betray the ANC by doing wrong things,” sê hy.

4. Die Institute of International Finance sê dit is waarskynlik dat die ANC en die IVP ná die verkiesing gaan saamwerk en dat dit goed vir die waarde van die Suid-Afrikaanse geldeenheid sal wees.

5. Die Sunday Times het die DA gister in verskeie artikels in die visier gehad. Die adjunk-redakteur, Makhudu Sefara, het die DA onder die opskrif “Burning flag a symptom of a party of white men off the rails” van “wit arrogansie” en “race denialism” beskuldig. Sisanda Mbolekwa skryf in 'n persoonlike stuk dat sy Kaapstad as erg rassisties ervaar. In ses kort onderhoude vertel swart en bruin Kapenaars hoe sleg dit met hulle gaan.

6. Oekraïne waarsku dat die toestand in die noordelike Kharkiv-streek vinnig versleg nadat Russiese magte die naweek nege dorpe oorgeneem het. Intussen blameer Rusland vir Oekraïne nadat 'n ontploffing by 'n woonstelblok in die grensdorp Belgorod dié gebou laat ineenstort het.

7. Die gewese burgemeester van New York en lid van Donald Trump se regspan, Rudy Giuliani, se gereelde program op 'n New Yorkse radiostasie is gekanselleer omdat hy voortgaan om te lieg dat die laaste presidentsverkiesing gesteel is en dat Trump dus eintlik nog die Amerikaanse president behoort te wees.


Dit sal vandag meestal warm wees en buie en donderbuie word regoor die land verwag, met uitsondering van die Wes- en Oos-Kaap. Ligte reën word in dele van die Oos-Kaap verwag en oggendmiskolle in die Wes-Kaap. 

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 25°C • Johannesburg 24°C • Mahikeng 26°C • Mbombela 23°C • Kaapstad 25°C • Durban 23°C • Kimberley 27°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 23°C • Upington 31°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 22°C.


Max du Preez | Die SABC se knieë swik alweer

Die ANC se sweep het geklap, en Aucklandpark se knieë bewe.

Geval 1: Die SABC het 'n TV-advertensie van die DA afgekeur omdat dit beelde bevat waarin die nasionale vlag aan die brand is. Pres. Cyril Ramaphosa het dit as “verraad” beskryf en die SABC sê dit moedig die vernietiging van nasionale simbole aan.

Dit is natuurlik absolute nonsens. Dit was dalk nie die wysste besluit om die advertensie só te maak nie, maar net omdat dit deur die DA se teenstanders verdraai en misbruik sou kon word. Daar is niks verraderlik, beledigend of onpatrioties aan die advertensie nie.

Die SABC se verbod is 'n blatante geval van sensuur en politieke inmenging.

Geval 2: Die raad van die SABC het verlede week besluit om voort te gaan met ontmoetings met 'n “studiegroep” van die ANC. Dié gebruik is deur die vorige raad opgeskort en een van die dienende raadslede, Phathiswa Magopeni, 'n gewese hoof van nuus by die SABC, het nou verklaar dit is onvanpas, aldus 'n berig in die Sunday Times.

'n Gewese raadslid het aan die koerant gesê dié ontmoetings is nie so onskuldig nie: “It became like a bullying session where you would be told, don’t do this, do that.”

Die raad se verskoning dat die ANC ook ander staatsinstellings só ontmoet, is absurd. Die SABC is nie 'n waterraad of 'n sprinkaan-beheerorganisasie nie, dit is die nasionale uitsaaier.

Geval 3: Die SABC het die besluit van die staatsekuriteitagentskap om die hoof van nuus en aktualiteit, Moshoeshoe Monare, aan 'n tweede sekuriteitsklaring en boonop 'n leuenverklikkertoets te onderwerp, verdedig. Monare is 'n gesoute en gerespekteerde joernalis wat tevore 'n senior pos by die Arena-groep beklee het.

Volgens die Committee to Protect Journalists kom dié stap kort op die hakke van Ramaphosa se stelling aan die ANC se verkiesingskomitee dat die ANC se verkiesingsboodskappe op televisie en radio moet domineer.

Die SABC sê dit is standaardpraktyk dat alle groepsbestuurders sekuriteitsklaring moet kry, want die korporasie is 'n “nasionale sleutelpunt-gebied”.

Dit ruik na pure intimidasie van die hoof van nuus by die uitsaaier in die aanloop tot die verkiesing oor 16 dae. Hy is die hoof van die redaksionele inhoud, nie 'n administratiewe pennelekker nie.


Nasionale beweging moet ANC op sy rampspoedige pad stuit

Oor 16 dae stem Suid-Afrika vir 'n nuwe parlement en provinsiale wetgewers, en onregstreeks vir 'n nuwe president.

Gaan die wekroep “2024 is ons nuwe 1994” waar word? Gaan Suid-Afrika ná die verkiesingsuitslag 'n nuwe weg inslaan, of gaan dit maar meer van dieselfde wees?

Daar is eintlik net twee partye wat ons op hulle rekord van regeerkunde kan takseer – die ANC en die DA. En watter belangriker meting van 'n politieke party se geskiktheid om met mag toevertrou te word, kan daar wees?

Lees die volle brief hier.


die etimologie van pyn

in Engels lê pyn se oorsprong
in penalty en punishment
en kan mens daaroor dig
met 'n soort poëtiese noodwendigheid

maar in hierdie taal staan pyn alleen

in hierdie taal is pyn 'n lemma
onthef van fonetiese verwantskap
met boetedoening of straf,
tog tweesnydend deur murg en been
lê dit die lieflike geraamte bloot
wat wrik en kneukel en skarnier
deur Nederlands, Oud-Frans, Grieks, Latyn –
die wéét, in tong en in gebeente,
van pyn.

- Ilse van Staden

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.