Welvaartbelasting vir die rykes; ‘watertenker-mafias’ vir die armes

DINSDAG MET ANESCA SMITH

Welvaartbelasting vir die rykes; ‘watertenker-mafias’ vir die armes

ANESCA SMITH wonder wat die groot steun vir Israel in die Eurovision-sangkompetisie vir die Europese parlementsverkiesing beteken. WILLEM KEMPEN is bevrees “500 jaar" is dalk nog steeds nie genoeg vir sommige politici om vordering te maak nie, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Die Ingenieursraad van Suid-Afrika ondersoek die gebou-ineenstorting in George vir tekens van onreëlmatighede of onbehoorlike gedrag, het Sihle Zikalala, minister van openbare werke, gister bevestig. Die amptelike dodetal het teen gisteraand tot 30 gestyg en minstens 22 mense word nog vermis.

2. Rise Mzansi se beleidsplan vir 'n “nuwe en regverdige ekonomie" maak voorsiening vir 'n welvaartbelasting van R300 biljoen oor drie jaar, sowel as 'n nuwe nasionale groeifonds, skryf Songezo Zibi in Eyewitness News.

3. Sogenaamde “watertenker-mafias" buit die haglike toestand van waterinfrastruktuur in KwaZulu-Natal uit om geld te maak, het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor water en sanitasie, Peter Mashego, gister in die parlement gesê. Dié bendes gaan volgens Mashego so ver as om werkende munisipale watervoorsiening te saboteer sodat hulle nog besigheid kan kry. 

4. Die Australiese myngroep BHP het sy oornamebod vir Anglo American met 10% tot $42,67 biljoen opgestoot. Anglo het egter die hersiene aanbod steeds as “hoogs onaantreklik" vir sy aandeelhouers afgemaak, het Business Day berig.

5. Telkom ondersoek die oorsaak van 'n enorme diensonderbreking wat gister sy internet- en telefoondienste ontwrig het. Die netwerk is later herstel en Telkom het aan sy kliënte 'n koepon met 1GB se data gegee om vir die ongerief om verskoning te vra.

6. Darfoer in Soedan stuur nogmaals op 'n humanitêre ramp af namate gevegte verskerp rondom El Fasher, die laaste stad in die streek wat nie deur die sogenaamde Rapid Support Forces beheer word nie, het The Guardian berig.

7. Israeliese magte het gister dieper in noordelike Gaza inbeweeg, terwyl tenks en troepe in die suide oor 'n snelweg tot in Rafah gevorder het. Van die hewigste gevegte die afgelope weke woed nou in die noorde sowel as die suide, het Reuters berig.


Daar is 'n waarskuwing vir 'n uiters hoë brandgevaar in dele van die Kaapprovinsies. Dis vandag 'n bietjie koeler in die binneland, waar buie en donderbuie weer eens verwag word. Die Vrystaat, Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal kan ook 'n bietjie mis verwag. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 23°C • Johannesburg 22°C • Mahikeng 25°C • Mbombela 22°C • Kaapstad 22°C • Durban 24°C • Bloemfontein 25°C • Polokwane 23°C • Upington 32°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 27°C.


Willem Kempen | Doen waarmee jy goed is

Dis nie maklik om enige plek in Suid-Afrika te regeer nie. Selfs in die ryker dele van die land is plaaslike regerings se inkomste onder druk. Die middelklas en die rykes wat belasting en munisipale heffings wil en kan betaal, word nie meer nie; dus ook nie die geld wat beskikbaar is om dienste vir almal te lewer, salarisse te betaal en infrastruktuur te bou of te onderhou nie.

Maar in baie gevalle het die sukses of mislukking van 'n plaaslike regering meer met goeie basiese projekbestuur te doen as met ideologiese verskille of watter party hulleself met groter sukses as “Pro Poor" aan die kiesers kan verkoop.

In Sondagaand se Carte Blanche het Govan Whittles 'n storie oor Kimberley gedoen. Dis die gewone verhaal van stukkende paaie en sportvelde, probleme met watervoorsiening en riool wat op plekke in die strate loop. Ons sien 'n “gedenkteken" vir Nelson Mandela wat glo R6 miljoen uit die stad se begroting gehap het.

Een van die strate waar die riool oor die teer loop, staan as “ANC Street" bekend, hoor Whittles. Die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, woon ook in daardie straat. Whittles kry dit reg om Saul sommer daar in die pad voor sy huis op kamera aan die praat te kry. In 'n duur pak klere en omring deur lyfwagte in duur swart motors.

“In 30 years, should you have upgraded [that infrastructure] by now?" vra Whittles.

“There's work that took place to upgrade it," antwoord Saul.

“But how much longer do you need, Premier?"

“No-no-no," antwoord die premier. “You can even need 500 years."

Saul is 'n geleerde man. Hy het onder meer 'n meestersgraad in ontwikkelingstudies van die Universiteit van die Vrystaat en werk aan sy tweede doktorsgraad. Hy is bekend as “'n Cyril-man"; hy het al die regte geluide gemaak toe hy in 2017 as premier oorgeneem het, en daar was hoop dat hy die verval en korrupsie sou kon omkeer.

Toe nou nie.

Die ergste van als is, Saul en die ANC gaan waarskynlik ná die verkiesing wéér die Noord-Kaap beheer; volgens sommige peilings selfs met meer as 60% van die steun. Daarenteen gaan die party met die reputasie as die land se beste projekbestuurders – die een waar die leiers hulle met brandende landsvlae besig hou – gelukkig wees as hulle 'n tiende van die ANC se steun in dieselfde provinsie gaan kry.


Is Songfestival skrif aan die muur vir Europese Parlement?

’n Paar keer hoor jy die 65-jarige Nederlandse ondernemer diep sug en sê al wat hy in die lewe wens, is om ’n mooi, gesonde onderneming aan sy kinders na te laat. Dan weet jy al waar Dawid die wortels begrawe het: Pappa gaan voorlopig nêrens nie – à la Logan Roy van Succession.

Aan die woord is Oos Kesbeke, aka Nederland se koning van piekels (ingelegde komkommers), waarmee hy ’n geskatte fortuin van €9 miljoen (sowat R180 miljoen) opgebou het. Maar soos so baie ander familie-ondernemings in Nederland, is syne onder druk van multinationals. Hy is dus bekommerd oor die toekoms.

Ek kyk na ’n TV-reeks oor Kesbeke se onderneming (daar gebeur verrassend veel voor duisende potte piekels oor 'n rolband gly) om my aandag af te lei van die feit dat Nederland Saterdag op die nippertjie uit die 2024 Eurovision Songfestival in Swede geskop is.

Lees die volle brief hier. 


Op ver strande

Malindi, Kenia

Ek het uit die binneland gekom

en 'n Thomson se gaselle

het opgespring en soos 'n dolfyn

in die lugspieëling verdwyn.

Nou duik ek in die warm see

agterna tot by 'n oorhang

in die rif waar dit rondwemel

van steen-, blink- en papegaaivis

so bont soos 'n tropiese lap.

 

Terug op die strand hurk ek neer

en met my vinger teken ek

Christine Barkhuizen le Roux

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.