Ware geluk is wanneer Romeinse priesters opkyk om vir die...

WOENSDAG MET WILLEM

Ware geluk is wanneer Romeinse priesters opkyk om vir die helikopter te waai

WILLEM KEMPEN verlang terug na 'n bietjie magic.

Image: ANGELA TUCK

DIT puzzle my nog altyd waarom Afrikaans dieselfde woord vir die Engelse woorde “luck” en “happiness” het. Of moet ek sê dit intrigeer my?

Ek dink aan dié ding oor ek lees van ’n Italiaanse skoolhoof met die naam Nicolino Lombardi wat al van universiteit se dae af die droom gehad het om eendag ’n groot historiese vonds te maak. Hy was ook ’n entoesiastiese helikoptervlieënier, en een koue oggend in Februarie 2000 vlieg hy oor die Monte San Nicola buite die antieke dorpie Pietravairano in Campania, en sien ’n buitengewone struktuur raak. Lang storie kort: Dit blyk toe, baie tyd en moeite en navorsing later, die ruïnes van ’n amfiteater-tempel uit die Romeinse tyd te wees. Vandag bied die gerestoureerde Teatro Romano di Pietravairano dieselfde skouspelagtige uitsig oor die vallei wat Romeinse priesters 2 000 jaar gelede sou gehad het terwyl hulle daar bo besig was om hulle magic te doen.

Hoekom het Afrikaans nie ’n lekker woord vir “magic” nie? Dalk om soortgelyke redes as dat Engels nie ’n lekker woord vir “lekker” het nie? Ek dink hieraan toe ek lees van ’n groepie Japanse navorsers wat vorendag gekom het met ’n woord vir die wiskundige meting van hoe moeilik dit is om ’n kwantumtoestand na te boots deur ’n nie-kwantumrekenaar te gebruik – hulle noem dit “magic”.

Dalk is hulle bietjie moedswillig om nou weer iets magies aan sulke gevorderde fisika te wil haak, maar aan die ander kant, watter beter woord is daar om te erken dat jy nog nie heeltemal verstaan waarmee jy te doen het nie? Die antieke Romeine en voor hulle die Grieke het die woord “magia” gebruik wanneer hulle wou verwys na ’n buitengewone invloed; net soms het daar ’n element van die okkulte of die bonatuurlike bygekom. Die “wyse manne uit die Ooste” van Mattheus in die Nuwe Testament – “the Magi” – sou nie towenaars of kulkunstenaars gewees het nie, wel invloedryke geleerdes met kennis van die filosofie, wiskunde en astronomie.

In elk geval, die ding met ons eietydse (Verre-)Oosterlinge se magic is dat dit ons dalk kan help verstaan hoe niks minder nie as tyd en ruimte tot ontstaan gekom het. Ons dink gewoonlik aan albei dié konsepte as “fundamenteel”, dit wil sê onderliggende verskynsels waaruit die res van die veelal gevolg het, maar sê nou daar is iets selfs dieper as dit? Iets waaruit tyd en ruimte self ontstaan het? As so iets waar is, kan dit dalk help om te verklaar waarom ander natuurwette as waaraan ons gewoond is klaarblyklik in die vreemde wêreld van kwantummeganika geld. Soos die idee van kwantumverstrengeling, dat fisieke voorwerpe op ’n kwantumvlak mekaar kan beïnvloed sonder dat Newton se wette van toepassing is.

En as verstrengeling in ’n fisieke ruimte moontlik is, sê nou net dit kan ook oor tyd plaasvind? Dan is die 2 000 jaar tussen die Italiaanse skoolhoof in die helikopter en die Romeinse priesters daar bo op die berg dalk glad nie so ’n groot gaping soos ons nog altyd gedink het nie.

Of dalk is alles eintlik nog altyd net magic, wie weet?


Sonbesies

Sonbesies sterf ook soms,
teësinnig, in die hitte van die stryd.
Daagliks daal daar, van hierdie hoë hoekomboom,
tien – selfs elf – soos eggo’s
na die stof.

Skril is die silwer klank
van kaalvoetkinders wat boomseskadu binnehink
en met stompie-vingertjies dubbeltjies
vlym vir vlym uitangel, totdat daar – bebloed –
’n hopie lê.

– Jean Meiring

(Bron: Ou LitNet)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.